Lewensverhaal
Ons het ons veranderende omstandighede gebruik om in baie lande te getuig
SOOS VERTEL DEUR RICARDO MALICSI
Toe ek weens my Christelike standpunt oor neutraliteit uit my werk bedank het, het ek en my gesin Jehovah gevra om ons te help om ons toekoms te beplan. In ons gebed het ons ons begeerte uitgespreek om ons bediening uit te brei. Kort daarna het ons met ’n jare lange reis begin wat ons na agt vreemde lande op twee vastelande geneem het. As gevolg daarvan kon ons ons bediening in verafgeleë plekke uitvoer.
EK IS in 1933 in die Filippyne gebore in ’n gesin wat aan die Filippynse Onafhanklike Kerk behoort het. Al 14 lede van ons gesin het aan hierdie kerk behoort. Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het ek God in gebed gevra om my na die ware geloof te lei. Een van my onderwysers het my by ’n godsdiensklas ingeskryf, en ek het ’n vroom Katoliek geword. Ek het elke Saterdag gaan bieg en elke Sondag die mis bygewoon. Maar ek het later skepties en ontevrede begin raak. Vrae oor wat met mense gebeur wanneer hulle sterf en oor die helse vuur en die Drie-eenheid het my gepla. Die antwoorde van godsdiensleiers was leeg en onbevredigend.
Bevredigende antwoorde
Terwyl ek op kollege was, het ek by ’n studentegilde aangesluit; gevolglik het ek begin baklei, dobbel, rook en ander onaanvaarbare dinge begin doen. Een aand het ek die ma van een van my klasmaats ontmoet. Sy was een van Jehovah se Getuies. Ek het haar dieselfde vrae gevra wat ek my godsdiensonderrigters gevra het. Sy het al my vrae uit die Bybel beantwoord, en ek was oortuig dat wat sy gesê het, die waarheid is.
Ek het ’n Bybel gekoop en dit saam met die Getuies begin studeer. Kort voor lank het ek al die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon. Ek het die Bybel se wyse woorde ter harte geneem dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ en van my onsedelike vriende afgesien (1 Korintiërs 15:33). Dit het my gehelp om in my Bybelstudie vooruitgang te maak en om my uiteindelik aan Jehovah toe te wy. Nadat ek in 1951 gedoop is, het ek ’n tydjie lank as ’n voltydse bedienaar (pionier) gedien. In Desember 1953 is ek met Aurea Mendoza Cruz getroud, wat my lewensmaat en getroue medewerker in die bediening geword het.
’n Antwoord op ons gebede
Ons wou baie graag pioniers wees. Maar ons begeerte om meer in Jehovah se diens te doen, is nie onmiddellik verwesenlik nie. Nogtans het ons nie opgehou om Jehovah te vra om vir ons geleenthede in sy diens te skep nie. Maar ons lewe was moeilik. Tog het ons ons geestelike doelwitte in gedagte gehou, en op die ouderdom van 25 is ek aangestel as gemeentekneg, die presiderende opsiener in ’n gemeente van Jehovah se Getuies.
Namate my Bybelkennis toegeneem en ek ’n beter begrip van Jehovah se beginsels gekry het, het ek tot die besef gekom dat my werk strydig was met my gewetensoortuiging as ’n neutrale Christen (Jesaja 2:2-4). Ek het besluit om te bedank. Dit was ’n toets van ons geloof. Hoe sou ek na die behoeftes van my gesin omsien? Weer eens het ons Jehovah God in gebed genader (Psalm 65:2). Ons het hom van ons bekommernisse en vrese vertel, maar ons het hom ook vertel van ons begeerte om te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was (Filippense 4:6, 7). Min het ons geweet hoeveel geleenthede ons sou kry!
Ons begin met ons reis
In April 1965 het ek ’n pos as brandweer-en-reddingshoof by die Vientiane- Internasionale Lughawe, in Laos, aanvaar, en ons het soontoe getrek. In die stad Vientiane was daar 24 Getuies, en ons het die predikingswerk saam met die sendelinge en die paar plaaslike broers geniet. Later is ek na die Udon Thani-Lughawe in Thailand oorgeplaas. Daar was geen ander Getuies in Udon Thani nie. Ons gesinnetjie het al die weeklikse vergaderinge self gehou. Ons het van huis tot huis getuig, herbesoeke gedoen en Bybelstudies begin.
Ons het Jesus se vermaning aan sy dissipels onthou dat hulle moes ‘bly vrug dra’ (Johannes 15:8). Ons het ons dus voorgeneem om hulle voorbeeld na te volg en het voortgegaan om die goeie nuus te verkondig. Ons het sommer gou goeie resultate gehad. ’n Thaise meisie het die waarheid aangeneem en ons geestelike suster geword. Twee Noord-Amerikaners het die waarheid aangeneem en mettertyd Christen- ouer manne geword. Ons het meer as tien jaar lank aangehou om die goeie nuus in Noord-Thailand te verkondig. Hoe bly is ons tog om te weet dat daar nou ’n gemeente in Udon Thani is! Van die saadjies van waarheid wat ons geplant het, dra nog steeds vrug.
Ongelukkig moes ons egter weer trek, en ons het gebid dat “die Heer van die oes” ons sou help om nog steeds ’n aandeel aan die predikingswerk te hê (Matteus 9:38). Ons is verplaas na Teheran, die hoofstad van Iran. Dit was gedurende die Sjah se bewind.
Die predikingswerk in moeilike gebiede
Toe ons in Teheran aankom, het ons onmiddellik ons geestelike broers opgesoek. Ons het met ’n klein groepie Getuies geassosieer wat uit 13 nasionaliteite bestaan het. Ons moes aanpassings maak om die goeie nuus in Iran te verkondig. Hoewel ons nie openlike teenstand ondervind het nie, moes ons versigtig wees.
Weens die werksure van belangstellendes, moes ons Bybelstudies soms middernag of later hou—tot in die vroeë oggendure. Maar hoe gelukkig was ons tog toe ons die vrug van daardie harde werk sien! ’n Aantal Filippynse en Koreaanse gesinne het Christelike waarheid aangeneem en hulle aan Jehovah toegewy.
My volgende werkstoewysing was in Dhaka, Bangladesj. Ons het in Desember 1977 daar aangekom. Ook in hierdie land was dit nie maklik om die predikingswerk te doen nie. Maar ons het altyd in gedagte gehou dat ons bedrywig moet bly. Onder die leiding van Jehovah se heilige gees het ons baie gesinne gevind wat verklaarde Christene was. Van hulle het gedors na die verfrissende waters van waarheid wat in die Heilige Skrif gevind word (Jesaja 55:1). Gevolglik het ons baie Bybelstudies begin.
Ons het altyd onthou dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word” (1 Timoteus 2:4). Gelukkig het niemand vir ons moeilikheid probeer maak nie. Om enige vooroordeel uit die weg te ruim, het ons seker gemaak dat ons ’n baie vriendelike benadering gebruik. Soos die apostel Paulus, het ons probeer om “alles vir alle soorte mense [te] word” (1 Korintiërs 9:22). Wanneer mense ons gevra het wat die doel van ons besoek is, het ons dit verduidelik, en ons het gevind dat die meeste mense redelik vriendelik was.
In Dhaka het ons ’n plaaslike Getuie gevind en haar aangemoedig om ons Christelike vergaderinge saam met ons by te woon en later om die predikingswerk saam met ons te doen. My vrou het die Bybel met ’n gesin gestudeer en hulle na ons vergaderinge genooi. Danksy Jehovah se liefderyke goedhartigheid het die hele gesin in die waarheid gekom. Later het hulle twee dogters gehelp om Bybellektuur in Bengali te vertaal, en baie van hulle familielede het Jehovah ook leer ken. Baie ander Bybelstudente het die waarheid aangeneem. Die meeste van hulle dien nou as ouer manne of pioniers.
Aangesien Dhaka ’n groot bevolking het, het ons van ons familielede genooi om ons met die predikingswerk te kom help. Heelparty het gereageer en ook na Bangladesj toe gekom. Hoe gelukkig en hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah vir die geleentheid wat ons gehad het om die goeie nuus in daardie land te verkondig! Van ’n baie klein begin, met net een persoon, is daar nou twee gemeentes in Bangladesj.
In Julie 1982 moes ons uit Bangladesj trek. Ons het met trane in ons oë van ons broers afskeid geneem. Nie lank daarna nie het ek werk gekry by die Entebbe- Internasionale Lughawe in Uganda, waar ons vier jaar en sewe maande sou bly. Wat sou ons kon doen om Jehovah se groot naam in hierdie land te eer?
Ons dien Jehovah in Oos-Afrika
Toe ons by die Entebbe- Internasionale Lughawe geland het, het ’n bestuurder my en my vrou opgetel en ons na ons blyplek geneem. Terwyl ons die lughawe verlaat het, het ek vir die bestuurder van God se Koninkryk begin vertel. Hy het my gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Toe ek ‘Ja’ antwoord, het die bestuurder gesê: “Een van jou broers werk by die beheertoring.” Ek het hom onmiddellik gevra om my daarheen te neem. Ons het die broer ontmoet, wat baie bly was om ons te sien, en het reëlings getref vir vergaderinge en velddiens.
Op hierdie stadium was daar net 228 Koninkryksverkondigers in Uganda. Saam met ’n paar broers in Entebbe het ons gedurende ons eerste jaar saadjies van waarheid geplant. Aangesien die mense daar dit geniet om te lees, kon ons baie lektuur versprei, onder andere honderde tydskrifte. Ons het broers van Kampala, die hoofstad, genooi om ons oor naweke met die predikingswerk in Entebbe te help. By my eerste openbare toespraak was daar vyf mense—wat my ingesluit het.
Die volgende drie jaar het ons van die gelukkigste oomblikke in ons lewe beleef toe ons sien hoe dié wat ons onderrig het, reageer en vinnig vordering maak (3 Johannes 4). By een kringbyeenkoms is ses van ons Bybelstudente gedoop. Baie van hulle het gesê dat hulle aangespoor is om die voltydse diens na te streef omdat hulle gesien het dat ons as pioniers dien, al het ons voltyds gewerk.
Ons het besef dat ons werksplek ook vrugbare gebied kan wees. By een geleentheid het ek ’n brandweerman op die lughawe genader en hom vertel van die Bybelse hoop van lewe op ’n paradysaarde. Ek het hom in sy eie Bybel gewys dat gehoorsame mense in vrede en eenheid sal lewe en nie meer armoede, ’n gebrek aan behuising, oorlog, siekte of die dood sal verduur nie (Psalm 46:9; Jesaja 33:24; 65:21, 22; Openbaring 21:3, 4). Om dit in sy eie Bybel te lees, het sy belangstelling geprikkel. ’n Bybelstudie is onmiddellik begin. Hy het al die vergaderinge bygewoon. Kort daarna het hy hom aan Jehovah toegewy en is hy gedoop. Later het hy ook by ons in die voltydse bediening aangesluit.
Terwyl ons in Uganda was, was daar twee keer burgerlike onrus, maar dit het ons geestelike bedrywighede nie stopgesit nie. Die afhanklikes van diegene wat vir internasionale agentskappe gewerk het, is vir ses maande na Nairobi, Kenia, gestuur. Dié van ons wat in Uganda agtergebly het, het met ons Christelike vergaderinge en met die predikingswerk voortgegaan, al moes ons verstandig en versigtig te werk gaan.
In April 1988 is my werkstoewysing voltooi en het ons weer getrek. Ons het die gemeente in Entebbe verlaat met ’n gevoel van diepe tevredenheid oor die geestelike groei wat daar plaasgevind het. In Julie 1997 het ons die geleentheid gehad om Entebbe weer te besoek. Teen daardie tyd het sommige van ons vorige Bybelstudente al as ouer manne gedien. Hoe verheug was ons tog om te sien dat 106 die Openbare Vergadering bywoon!
Ons trek na onaangeraakte gebied
Sou daar nuwe geleenthede vir ons wees? Ja, my volgende werkstoewysing was by die Mogadisjoe- Internasionale Lughawe in Somalië. Ons was vasbeslote om goed gebruik te maak van hierdie nuwe geleentheid om in onaangeraakte gebied te dien.
Ons predikingswerk was meestal beperk tot ambassadepersoneel, Filippynse werkers en ander uitlanders. Ons het hulle dikwels op die markplein raakgeloop. Ons het ook vriendelike besoeke by hulle huise gedoen. Deur vernuf, vindingrykheid, omsigtigheid en algehele vertroue in Jehovah aan die dag te lê, kon ons ander van Bybelwaarhede vertel, en dit het onder mense van verskillende nasionaliteite vrug gedra. Ná twee jaar het ons Mogadisjoe verlaat—net voor oorlog daar uitgebreek het.
Die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie het my daarna na Jangon, Mianmar, gestuur. Daar was weer eens goeie geleenthede om opregtes van hart te help om van God se voorneme te leer. Ná Mianmar is ons na Dar es Salaam, Tanzanië, gestuur. Dit was baie makliker om die goeie nuus in Dar es Salaam van huis tot huis te verkondig, want daar was ’n Engelssprekende gemeenskap .
In al die lande waar ons gewerk het, het ons baie min probleme in die uitvoering van ons bediening ondervind, hoewel daar in baie gevalle beperkings op die werk van Jehovah se Getuies was. Weens die status van my werk, wat gewoonlik met staats- of internasionale agentskappe te doen gehad het, het mense nie ons bedrywighede bevraagteken nie.
My sekulêre werk het vereis dat ek en my vrou drie dekades lank rondtrek. Maar ons het my werk bloot as ’n middel tot ’n doel beskou. Ons vernaamste doel was altyd om die belange van God se Koninkryk te bevorder. Ons dank Jehovah dat hy ons gehelp het om goed gebruik te maak van ons veranderende omstandighede en om die wonderlike voorreg te geniet om die goeie nuus wyd en syd te versprei.
Terug waar dit alles begin het
Op 58-jarige leeftyd het ek besluit om vroeg af te tree en na die Filippyne terug te keer. Toe ons teruggekeer het, het ons Jehovah in gebed gevra om ons voetstappe te rig. Ons het in ’n gemeente in Trece Martires-stad, in die provinsie Cavite, begin dien. Toe ons daar aangekom het, was daar net 19 verkondigers van God se Koninkryk. Daaglikse predikingsbedrywighede is gereël, en baie Bybelstudies is begin. Die gemeente het begin groei. Op ’n tyd het my vrou tot 19 tuisbybelstudies gehad, en ek 14.
Kort voor lank was die Koninkryksaal te klein. Ons het tot Jehovah hieroor gebid. ’n Geestelike broer en sy vrou het besluit om ’n stuk grond te skenk, en die takkantoor het ’n lening goedgekeur om ’n nuwe Koninkryksaal te bou. Die nuwe gebou het ’n groot impak op die predikingswerk gehad, en die bywoning het elke week toegeneem. Tans help ons ’n ander gemeente met 17 verkondigers wat meer as ’n uur van ons huis af is.
Ek en my vrou is dankbaar vir die voorreg wat ons gehad het om in soveel lande te dien. Wanneer ons op ons lewe terugkyk, kry ons ’n gevoel van diepe tevredenheid in die wete dat dit op die beste moontlike manier gebruik is—om ander te help om van Jehovah te leer!
[Kaart op bladsy 24, 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TANZANIË
UGANDA
SOMALIË
IRAN
BANGLADESJ
MIANMAR
LAOS
THAILAND
DIE FILIPPYNE
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou, Aurea