Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w21 Februarie bl. 20-24
  • Jehovah het ‘my paaie gelykgemaak’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het ‘my paaie gelykgemaak’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MY OUERS HELP MY OM DIE REGTE PAD TE VIND
  • EK KIES OM OP JEHOVAH TE VERTROU
  • ONS VERTROUE IN JEHOVAH WORD BELOON
  • ONS KRY ’N NUWE TOEWYSING
  • ONS AVONTURE IN AFRIKA
  • OMSTANDIGHEDE VERANDER
  • Ryklik geseën omdat ons die sendinggees behou het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vasbeslote om Jehovah te dien
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die voltydse bediening​—⁠Die seëninge wat dit vir my meegebring het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
w21 Februarie bl. 20-24
Stephen Hardy.

LEWENSVERHAAL

Jehovah het ‘my paaie gelykgemaak’

SOOS VERTEL DEUR STEPHEN HARDY

’N JONG broer het my eenkeer gevra: “Wat is jou gunstelingteks?” Sonder om twee keer te dink, het ek gesê: “Spreuke 3 vers 5 en 6, wat sê: ‘Vertrou op Jehovah met jou hele hart, en moenie op jou eie begrip staatmaak nie. Neem hom in ag in alles wat jy doen, en hy sal jou paaie gelykmaak.’” Ja, Jehovah het my paaie beslis gelykgemaak. Hoe?

MY OUERS HELP MY OM DIE REGTE PAD TE VIND

My ouers het in die 1920’s die waarheid gekry voordat hulle getrou het. Ek is vroeg in 1939 gebore. Toe ek ’n seuntjie was, het ons in Engeland gebly, en ek het saam met my ouers na die vergaderinge toe gegaan en die Teokratiese Bedieningskool geniet. Tot vandag toe onthou ek hoe ek gevoel het toe ek my eerste toespraak gegee het en bo-op ’n boks moes klim om lank genoeg te wees om oor die podium te sien. Ek was ses jaar oud en baie senuweeagtig om al die grootmense in die gehoor te sien.

Stephen Hardy as a jong seun, preek saam met sy ouers en ander. Hulle hou plakkate vas met die titel van die openbare toespraak wat by ’n byeenkoms gehou gaan word.

Ek doen straatwerk saam met my ouers

My pa het ’n eenvoudige aanbieding op ’n kaartjie vir my getik wat ek in velddiens kon gebruik. Ek was agt jaar oud toe ek vir die eerste keer alleen na ’n deur toe gegaan het. Ek was so bly toe die huisbewoner my kaartjie gelees het en onmiddellik die boek “Laat God waaragtig wees” aanvaar het! Ek het in die straat afgehardloop om vir my pa te sê. Velddiens en die vergaderinge het my baie gelukkig gemaak en het my gehelp om die begeerte te ontwikkel om Jehovah voltyds te dien.

Ek het al hoe liewer vir die Bybel geword nadat my pa vir my ’n intekening op Die Wagtoring gekry het. Ek het elke tydskrif gelees sodra dit gekom het. My vertroue in Jehovah het al hoe sterker geword, en daarom het ek my lewe aan hom toegewy.

In 1950 het ons gesin die “Teokrasie se vermeerdering”-byeenkoms in New York bygewoon. Op Donderdag 3 Augustus was die tema vir die dag “Sendelingsdag”. Daardie dag het broer Carey Barber, wat later op die Bestuursliggaam gedien het, die dooptoespraak gegee. Nadat hy aan die einde van sy toespraak vir die doopkandidate die twee vrae gevra het, het ek opgestaan en “Ja!” gesê. Ek was 11 jaar oud, maar ek het besef dat ek ’n belangrike stap geneem het. Ek was bang om in die water in te gaan, want ek het nog nie geleer hoe om te swem nie. My oom het saam met my na die swembad toe gegaan en my verseker dat alles oukei sou wees. Dit was alles so gou verby dat my voete nie eers aan die onderkant van die swembad geraak het nie. Een broer het my gedoop en ’n ander het my uit die swembad gelig. Vanaf daardie belangrike dag het Jehovah aangehou om my paaie gelyk te maak.

EK KIES OM OP JEHOVAH TE VERTROU

Nadat ek skool klaargemaak het, wou ek pionier, maar my onderwysers het druk op my gesit om universiteit toe te gaan. Ek het ingegee en universiteit toe gegaan, maar ek het gou besef dat ek nie sterk kon bly in die waarheid en op dieselfde tyd op my studies kon fokus nie, en daarom het ek besluit om die universiteit te los. Ek het met Jehovah hieroor gepraat en ’n brief aan my dosente geskryf om te verduidelik dat ek aan die einde van daardie eerste jaar sal ophou met my studies. Ek het ten volle op Jehovah vertrou en dadelik begin pionier.

In Julie 1957 het ek in die dorpie Wellingborough begin pionier. Ek het vir broers by die Bethel in Londen gevra of hulle weet van ’n ervare pionierbroer saam met wie ek kon pionier. Broer Bert Vaisey het my pioniermaat geword, en ek het baie by hom geleer. Hy het baie hard gewerk in die bediening, en hy het my gehelp om ’n goeie velddiensroetine te hê. Die gemeente het bestaan uit ses bejaarde susters en ek en broer Vaisey. Om voor te berei vir die vergaderinge en om daaraan deel te neem, het my baie geleenthede gegee om my vertroue in Jehovah op te bou en om my geloof in woorde uit te druk.

Nadat ek vir ’n kort rukkie in die tronk was omdat ek geweier het om militêre diens te doen, het ek Barbara, ’n spesiale pionier, ontmoet. Ons is in 1959 getroud, en ons was bereid om na enige plek toe te gaan waar ons gestuur sou word. Eers was ons na Lancashire, in die noordweste van Engeland, gestuur. Toe, in Januarie 1961, was ek genooi om ’n maand lange kursus van die Koninkryksbedieningskool by die Bethel in Londen by te woon. Ek was baie verbaas toe ek aan die einde van die kursus gevra is om op die kring te dien. ’n Ervare kringopsiener het my twee weke lank in die stad Birmingham opleiding gegee, en Barbara kon saam met my gaan. Toe het ons teruggegaan na die gebiede van Lancashire en Cheshire.

ONS VERTROUE IN JEHOVAH WORD BELOON

Terwyl ons in Augustus 1962 op vakansie was, het ons ’n brief van die takkantoor gekry. Binne-in was daar aansoekvorms vir die Gileadskool! Nadat ek en Barbara daaroor gebid het, het ons die vorms ingevul en dit so gou as moontlik na die takkantoor teruggestuur. Vyf maande later was ons op pad na Brooklyn, New York, om die 38ste Gileadklas by te woon, ’n tien maande lange kursus van teokratiese opleiding.

By Gilead het ons nie net oor God se Woord en sy organisasie geleer nie, maar ook oor ons broers en susters van regoor die wêreld. Ons was nog in ons middel-20’s en ons het baie by die ander studente in ons klas geleer. Ek het die voorreg gehad om elke dag saam met broer Fred Rusk, een van ons instrukteurs, te werk. Een van die baie belangrike lesse wat hy my geleer het, was om altyd raad te gee wat op die Bybel gebaseer is. Broer Nathan Knorr, Frederick Franz en Karl Klein was van die ervare broers wat vir ons toesprake gegee het. En ons het baie geleer uit die nederige voorbeeld van broer A. H. Macmillan, wat vir ons ’n toespraak gegee het oor hoe Jehovah sy volk gehelp het gedurende die moeilike tyd tussen 1914 en 1919!

ONS KRY ’N NUWE TOEWYSING

Teen die einde van die kursus het broer Knorr vir my en Barbara gesê dat ons nuwe toewysing in Burundi, in Afrika, sou wees. Ons het onmiddellik na die Bethelbiblioteek toe gegaan en in die Jaarboek gaan kyk hoeveel verkondigers daar in Burundi was. Maar ons was verbaas om uit te vind dat Burundi nie eers op die lys in die Jaarboek was nie! Ons sou na ’n gebied in Afrika toe gaan waar niemand nog ooit gepreek het nie, en ons het baie min oor Afrika geweet. Ons was so senuweeagtig! Maar nadat ons gebid het, het ons kalmer gevoel.

In ons nuwe toewysing was alles so anders as enige iets wat ons al ooit ondervind het – die klimaat, die kultuur en die taal. Ons moes toe Frans leer. En ons moes ook blyplek kry. Twee dae nadat ons daar aangekom het, het een van ons Gilead-klasmaats, Harry Arnott, ons kom besoek toe hy op pad terug was na sy toewysing in Zambië. Hy het ons gehelp om ’n woonstel te kry, wat ons eerste sendinghuis geword het. Maar kort voor lank het ons teenstand begin kry van regeringsamptenare wat niks oor Jehovah se Getuies geweet het nie. Net toe ons ons toewysing begin geniet, het die regering vir ons gesê dat ons nie in die land kon bly sonder ’n werkpermit nie. Ongelukkig moes ons die land verlaat en gewoond raak aan ’n nuwe land: hierdie keer Uganda.

Ons was bang om sonder ’n visum Uganda toe te gaan, maar ons het op Jehovah vertrou. ’n Broer van Kanada wat in Uganda gedien het, het ons situasie aan ’n immigrasiebeampte verduidelik. Ons is toegelaat om ’n paar maande lank in die land te bly terwyl ons aansoek gedoen het om ’n permit te kry sodat ons wettig in die land kon bly. Ons het dit gesien as bewyse dat Jehovah ons help.

Ons toewysing in Uganda was baie anders as ons toewysing in Burundi. Die predikingswerk was alreeds aan die gang, al was daar maar net 28 Getuies in die land. In die gebied was daar baie mense wat Engels gepraat het. Maar ons het gou besef dat ons ten minste een van die baie plaaslike tale moes leer as ons belangstellendes wou help om vordering te maak. Ons het in die gebied rondom Kampala begin preek, waar baie mense Luganda gepraat het, en daarom het ons besluit om daardie taal te leer. Dit het ons ’n hele paar jaar gevat om vlot te word, maar dit het so ’n groot verskil gemaak in ons bediening! Ons het beter verstaan hoe ons ons Bybelstudente kon help om geestelik te groei. Toe ons studente sien dat ons regtig in hulle belangstel, het hulle vir ons begin sê hoe hulle voel oor wat hulle leer.

ONS AVONTURE IN AFRIKA

Collage: 1. ’n Kaart van Afrika wat die plekke wys waar Stephen Hardy gedien het. 2. Stephen sit op ’n stoel langs sy kombi. 3. Barbara, Stephen se eerste vrou, was groente in ’n kom.

Op een van ons avonture in Uganda

Ons het dit baie geniet om mense te help om die waarheid te leer. Later is ons gevra om regoor die land kringwerk te doen, en ons het dit selfs meer geniet. Onder die leiding van die Kenia-tak, het ons regoor die land begin reis om na plekke te soek waar spesiale pioniers nodig was. Baie keer was mense ongelooflik gasvry teenoor ons, al het hulle nog nooit Getuies ontmoet nie. Hulle het ons welkom laat voel en selfs vir ons gekook.

Toe begin ons volgende avontuur. Van Kampala af het ek twee dae lank met die trein gery na die hawestad Mombasa in Kenia, en van daar af het ek met die skip na die Seychelle-eilande toe gegaan. Van 1965 tot 1972 het Barbara saam met my na die Seychelle-eilande toe gegaan, en ons het die eilande gereeld besoek. Eers was daar net twee verkondigers daar, maar later het hulle ’n groep en toe ’n gemeente geword. Ek het ook die broers in Eritrea, Etiopië en Soedan besoek.

Die politieke situasie in Uganda het verander nadat ’n militêre groep beheer van die regering oorgeneem het. Die volgende paar jaar was baie moeilik en het my geleer hoe wys dit is om die Bybel se opdrag te gehoorsaam: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” (Mark. 12:17). Op een stadium moes alle buitelanders gaan registreer by die polisiestasie wat die naaste was aan hulle. Ons het dit onmiddellik gedoen. ’n Paar dae later, toe ek en ’n ander sendeling deur Kampala gery het, het polisiemanne na ons toe aangestap gekom. Ons harte het in ons keel geklop! Hulle het gesê dat ons spioene is en het ons na die hoofpolisiestasie toe gevat waar ons verduidelik het dat ons maar net sendelinge was. Ons het vir hulle gesê dat ons alreeds geregistreer het, maar hulle het nie na ons geluister nie. Hulle het ons gearresteer en ons geneem na die polisiestasie wat die naaste was aan die sendinghuis. Ons was so verlig toe die polisieman by die toonbank, wat geweet het dat ons vroeër geregistreer het, ons herken het en vir hulle gesê het om ons te laat gaan.

In daardie dae het militêre padblokkades vir ons baie spanning veroorsaak, veral wanneer soldate, wat te veel gedrink het, ons afgetrek het. Elke keer wanneer ons gebid het en toegelaat was om verder te ry, het ons ’n innerlike kalmte gevoel. Ongelukkig is alle buitelandse sendelinge in 1973 beveel om Uganda te verlaat.

Stephen gebruik ’n mimeograaf.

Ons maak kopieë van Ons Koninkryksbediening by die takkantoor in Abidjan, Côte d’Ivoire

Ons het weer ’n nuwe toewysing gekry. Hierdie keer moes ons in Côte d’Ivoire, Wes-Afrika, dien. Dit was so ’n groot verandering vir ons. Ons moes gewoond raak aan ’n nuwe kultuur, ons moes weer die heeltyd Frans praat en ons moes daaraan gewoond raak om saam met sendelinge van verskillende agtergronde te bly! Maar ons kon duidelik sien hoe Jehovah ons lei toe ons sien hoe baie opregte mense in die veld in die goeie nuus belangstel. Ons altwee het gesien hoe Jehovah ons paaie gelykgemaak het omdat ons op hom vertrou het.

Toe is Barbara skielik met kanker gediagnoseer. Ons het baie keer Europa toe gegaan sodat sy behandeling kon kry, maar in 1983 het ons besef dat ons nie meer in ons toewysing in Afrika kon bly nie. Dit was vir ons so ’n groot teleurstelling!

OMSTANDIGHEDE VERANDER

Barbara se kanker het al hoe erger geword terwyl ons by die Bethel in Londen gedien het, en uiteindelik het sy gesterf. Die Bethelgesin het my baie ondersteun. Daar was veral een paartjie wat my gehelp het om by my nuwe omstandighede aan te pas en om aan te hou om op Jehovah te vertrou. Later het ek ’n suster ontmoet wat deeltyds by Bethel gewerk het en wat vroeër ’n spesiale pionier was en wat baie lief is vir Jehovah. Ek en Ann het in 1989 getrou, en van daardie tyd af dien ons by die Bethel in Londen.

Stephen en Ann Hardy.

Saam met Ann voor die nuwe Bethel in Brittanje

Van 1995 tot 2018 het ek die voorreg gehad om as ’n takverteenwoordiger (vroeër sone-opsiener) te dien, en ek het amper 60 verskillende lande besoek. In elke land het ek bewyse gesien van hoe Jehovah sy knegte seën onder verskillende omstandighede.

In 2017 het ek Afrika weer besoek. Dit was vir my baie lekker om Ann vir die eerste keer Burundi toe te vat, en ons altwee was verstom om te sien hoe die veld daar gegroei het! In die einste straat waar ek in 1964 van huis tot huis gepreek het, is daar nou ’n pragtige Bethelhuis wat meer as 15 500 verkondigers dien.

Ek was so bly toe ek die lys gekry het van die lande wat ek in 2018 moes besoek. Een van die lande was Côte d’Ivoire. Toe ons in Abidjan, die hoofstad, aangekom het, het dit gevoel asof ek huis toe gekom het. Toe ek in die telefoonboek gekyk het, het ek die naam herken van die broer wat langs ons gastekamer by Bethel gebly het. Sy naam was Sossou. Ek het onthou dat hy die stadsopsiener was toe ek in Abidjan was. Maar dit was toe nie hy nie. Dit was ’n ander Sossou – sy seun.

Jehovah het sy belofte gehou. Deur al die moeilike tye het ek geleer dat Jehovah regtig ons paaie gelykmaak wanneer ons op hom vertrou. Nou sien ons daarna uit om die oneindige pad te volg wat al hoe helderder gaan word in die nuwe wêreld. – Spr. 4:18.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel