Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 3/15 bl. 10-15
  • Ons lewe nie langer vir onsself nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons lewe nie langer vir onsself nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Doeltreffende teenmiddel!
  • Ons kan nie twee here dien nie
  • Wie se liefde dring ons?
  • Dien Jehovah met ’n selfopofferende gees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Volg Jesus voortdurend
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Wat sal jy gee om te bly lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Kom word my volgeling”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 3/15 bl. 10-15

Ons lewe nie langer vir onsself nie

“[Christus] het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie.”—2 KORINTIËRS 5:15.

1, 2. Watter skriftuurlike bevel het Jesus se eerste-eeuse volgelinge beweeg om selfsug te bowe te kom?

DIT was Jesus se laaste aand op aarde. Oor net ’n paar uur sou hy sy lewe gee ten behoewe van almal wat geloof in hom sou beoefen. Jesus het daardie aand vir sy getroue apostels talle belangrike dinge gesê. Een daarvan was ’n bevel in verband met ’n eienskap wat ’n identifiserende kenmerk van sy volgelinge sou wees. “Ek gee julle ’n nuwe gebod”, het hy gesê, “dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.

2 Ware Christene moet selfopofferende liefde aan mekaar betoon en die behoeftes van hulle medegelowiges bo hulle eie stel. Hulle moenie huiwer om selfs ‘van hulle siel afstand te doen ten behoewe van hulle vriende’ nie (Johannes 15:13). Hoe het die vroeë Christene op hierdie nuwe gebod gereageer? In sy welbekende werk Apologie het die tweede-eeuse skrywer Tertullianus ander aangehaal wat van die Christene gesê het: ‘Kyk hoe lief het hulle mekaar en hoe bereid is hulle om selfs vir mekaar te sterf.’

3, 4. (a) Waarom moet ons selfsug teëwerk? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ook ons moet ‘aanhou om mekaar se laste te dra en só die wet van die Christus vervul’ (Galasiërs 6:2). Maar selfsug is een van die grootste struikelblokke wat verhinder dat ons die wet van die Christus gehoorsaam en ‘Jehovah ons God met ons hele hart, siel en verstand liefhet, en ons naaste soos onsself’ (Matteus 22:37-39). Omdat ons onvolmaak is, is ons geneig om egosentries te wees. Voeg hierby die druk van die daaglikse lewe, die mededingende atmosfeer by die skool of by die werk en die stryd om die pot aan die kook te hou, en hierdie natuurlike neiging word sterker. Hierdie neiging tot selfsug is nie aan die afneem nie. Die apostel Paulus het gewaarsku: “In die laaste dae . . . sal mense heeltemal egosentries word.”—2 Timoteus 3:1, 2, Phillips.

4 Na aan die einde van sy aardse bediening het Jesus sy dissipels ’n proses bestaande uit drie stappe gegee wat hulle kon help om selfsug te bowe te kom. Wat was dit, en hoe kan ons by sy instruksies baat vind?

’n Doeltreffende teenmiddel!

5. Wat het Jesus aan sy dissipels onthul terwyl hy in die noorde van Galilea gepreek het, en waarom was dit vir hulle skokkend?

5 Jesus het naby Sesarea-Filippi in die noorde van Galilea gepreek. Hierdie vreedsame, skilderagtige gebied het moontlik meer gepas gelyk vir ontspanning as vir selfverloëning. Maar terwyl Jesus daar was, het hy vir sy dissipels begin toon dat “hy na Jerusalem moet gaan en baie dinge van die ouer manne en hoofpriesters en skrifgeleerdes moet ly en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word” (Matteus 16:21). Dit was ongetwyfeld ’n skokkende onthulling vir Jesus se dissipels, want tot op daardie stadium het hulle verwag dat hulle Leier sy Koninkryk op die aarde sou oprig!—Lukas 19:11; Handelinge 1:6.

6. Waarom het Jesus Petrus streng bestraf?

6 Petrus het Jesus onmiddellik “opsy geneem en hom begin bestraf en gesê: ‘Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.’” Hoe het Jesus gereageer? “Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: ‘Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.’” Hoe het die twee sienswyses tog nie verskil nie! Jesus het die selfopofferende weg wat God vir hom vasgestel het—’n weg wat binne ’n paar maande tot sy dood aan ’n folterpaal sou lei—gewillig aanvaar. Petrus het ’n gemaklike weg aanbeveel. “Wees goed vir uself”, het hy gesê. Petrus het ongetwyfeld goeie bedoelings gehad. Jesus het hom nietemin bestraf omdat Petrus by daardie geleentheid toegelaat het dat Satan hom beïnvloed. Petrus het “nie God se denke nie, maar dié van mense” gehad.—Matteus 16:22, 23; voetnoot in NW.

7. Watter weg het Jesus vir sy volgelinge uiteengesit, soos opgeteken in Matteus 16:24?

7 Woorde soos dié van Petrus aan Jesus kan ook vandag gehoor word. Die wêreld spoor ’n mens oor die algemeen aan om ‘goed te wees vir jouself’ of om ‘die maklikste weg te volg’. Jesus het daarenteen ’n heeltemal ander geestesgesindheid aanbeveel. Hy het vir sy dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). “Hierdie woorde is nie ’n uitnodiging aan buitestanders om dissipelskap te aanvaar nie”, sê The New Interpreter’s Bible, “maar [’n uitnodiging] aan diegene wat reeds op Christus se oproep gereageer het, om oor die betekenis van dissipelskap te peins.” Die drie stappe wat Jesus uiteengesit het, soos opgeteken in hierdie teks, moet deur gelowiges geneem word. Kom ons kyk na elkeen van die stappe afsonderlik.

8. Verduidelik wat dit beteken om jouself te verloën.

8 Eerstens, ons moet onsself verloën. Die Griekse woord vir “verloën jouself” dui op ’n bereidwilligheid om nee te sê vir selfsugtige begeertes of persoonlike gerief. Om onsself te verloën, beteken nie net dat ons ons af en toe sekere genietinge ontsê nie; dit beteken ook nie dat ons asketies of selfvernietigend word nie. Ons ‘behoort nie langer aan onsself nie’ in die sin dat ons ons hele lewe en alles daarin gewillig aan Jehovah oorgee (1 Korintiërs 6:19, 20). Ons lewe draai nie meer om onsself nie, maar om God. Om onsself te verloën, dui op ’n vasbeslotenheid om God se wil te doen, al druis dit dalk in teen ons onvolmaakte neigings. Ons toon ons uitsluitlike toegewydheid aan God wanneer ons ons aan hom toewy en ons laat doop. Dan streef ons daarna om ons toewyding vir die res van ons lewe na te leef.

9. (a) Wat het ’n folterpaal voorgestel toe Jesus op aarde was? (b) In watter opsig neem ons ons folterpaal op?

9 Die tweede stap is dat ons ons folterpaal moet opneem. In die eerste eeu het ’n folterpaal lyding, skande en die dood voorgestel. Gewoonlik is net misdadigers aan ’n folterpaal tereggestel of is net húlle lyke aan ’n paal gehang. Met hierdie uitdrukking het Jesus getoon dat ’n Christen bereid moet wees om vervolging, minagting of selfs die dood te aanvaar, aangesien hy geen deel van die wêreld is nie (Johannes 15:18-20). Ons Christelike standaarde maak ons opvallend anders, en daarom sal die wêreld ons dalk “smaad” (1 Petrus 4:4). Dit kan by die skool, by die werk of selfs in die gesin gebeur (Lukas 9:23). Ons is nietemin bereid om die wêreld se minagting te verduur omdat ons nie langer vir onsself lewe nie. Jesus het gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:11, 12). Ja, die belangrikste ding is om God se guns te hê.

10. Wat behels dit om Jesus voortdurend te volg?

10 Derdens, Jesus Christus het gesê dat ons hom voortdurend moet volg. Volgens An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, beteken ‘om te volg’ om ’n metgesel te wees—“iemand wat in dieselfde rigting gaan”. Eerste Johannes 2:6 sê: “Hy wat sê dat hy in eenheid met [God] bly, staan onder verpligting om self ook te bly wandel net soos hy [Christus] gewandel het.” Hoe het Jesus gewandel? Jesus se liefde vir sy hemelse Vader en vir sy dissipels het geen plek gelaat vir selfsug nie. “Die Christus het homself nie behaag nie”, het Paulus geskryf (Romeine 15:3). Selfs wanneer Jesus moeg of honger was, het hy die behoeftes van ander bo sy eie gestel (Markus 6:31-34). Jesus het hom ook kragtig ingespan in die Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk. Moet ons hom nie navolg terwyl ons ons opdrag ywerig uitvoer om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het’ nie? (Matteus 28:19, 20). In dit alles het Christus vir ons ’n voorbeeld gelaat, en ons moet ‘sy voetstappe noukeurig volg’.—1 Petrus 2:21.

11. Waarom is dit belangrik dat ons onsself verloën, ons folterpaal opneem en Jesus Christus voortdurend volg?

11 Dit is noodsaaklik dat ons onsself verloën, ons folterpaal opneem en ons Voorbeeld voortdurend volg. As ons dit doen, werk dit selfsug teë—’n gewisse struikelblok wanneer dit by die betoning van selfopofferende liefde kom. Boonop het Jesus gesê: “Elkeen wat sy siel wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel ter wille van my verloor, sal dit vind. Want van watter nut sal dit vir ’n mens wees as hy die hele wêreld wen, maar sy siel inboet? Of wat sal ’n mens in ruil vir sy siel gee?”—Matteus 16:25, 26.

Ons kan nie twee here dien nie

12, 13. (a) Waarin het die jong heerser wat Jesus om raad gevra het, belanggestel? (b) Watter raad het Jesus die jong man gegee, en waarom?

12 Enkele maande nadat Jesus beklemtoon het hoe belangrik dit is dat sy dissipels hulleself verloën, het ’n ryk jong heerser na hom toe gekom en gesê: “Leermeester, watter goeie dinge moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Jesus het vir hom gesê: “Hou aan om die gebooie te bewaar” en toe ’n paar daarvan opgenoem. Die jong man het gesê: “Ek het dit alles nagekom.” Die man was blykbaar opreg en het sy bes gedoen om die gebooie van die Wet te gehoorsaam. Daarom het hy gevra: “Wat kom ek nog kort?” In antwoord hierop het Jesus ’n unieke uitnodiging aan die jong man gerig en gesê: “As jy volmaak [“volkome”, New American Standard Bible] wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling.”—Matteus 19:16-21.

13 Jesus het gesien dat die jong man ontslae moes raak van die groot afleiding in sy lewe—sy materiële rykdom—as hy Jehovah heelhartig wou dien. ’n Ware dissipel van Christus kan nie twee here dien nie. Hy “kan nie God én Rykdom as [slaaf] dien nie” (Matteus 6:24). Hy moet ’n ‘eenvoudige oog’ hê wat op geestelike dinge gevestig is (Matteus 6:22). Om van jou besittings ontslae te raak en dit vir die armes te gee, is ’n daad van selfopoffering. In ruil vir hierdie materiële opoffering het Jesus vir die jong heerser die kosbare voorreg aangebied om ’n skat in die hemel op te gaar—’n skat wat vir hom die ewige lewe sou beteken en tot die vooruitsig sou lei om uiteindelik saam met Christus in die hemel te regeer. Die jong man was nie bereid om homself te verloën nie. “Hy [het] bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (Matteus 19:22). Ander volgelinge van Jesus het egter anders gereageer.

14. Hoe het vier vissers gereageer op Jesus se uitnodiging om hom te volg?

14 Ongeveer twee jaar vroeër het Jesus ’n soortgelyke uitnodiging aan vier vissers gerig, naamlik Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Twee van hulle was by daardie geleentheid besig om vis te vang, en die ander twee was besig om hulle nette heel te maak. Jesus het vir hulle gesê: “Kom agter my aan, en ek sal julle vissers van mense maak.” Al vier het uiteindelik hulle vissersonderneming agtergelaat en Jesus vir die res van hulle lewe gevolg.—Matteus 4:18-22.

15. Hoe het ’n hedendaagse Getuie van Jehovah opofferings gemaak om Jesus te volg?

15 Baie Christene van vandag het eerder die voorbeeld van die vier vissers gevolg as dié van die ryk jong heerser. Hulle het rykdom en geleenthede in hierdie wêreld prysgegee sodat hulle Jehovah kan dien. “Toe ek 22 was, moes ek ’n groot besluit neem”, sê Deborah. Sy verduidelik: “Ek het die Bybel toe al omtrent ses maande lank gestudeer, en ek wou my lewe aan Jehovah toewy, maar my familie het my kwaai teëgestaan. Hulle was multimiljoenêrs en het gemeen dat dit vir hulle ’n sosiale verleentheid sou wees as ek ’n Getuie word. Hulle het my 24 uur gegee om te besluit wat ek verkies—’n weelderige lewe of die waarheid. As ek nie alle kontak met die Getuies verbreek nie, sou my familie my onterf. Jehovah het my gehelp om die regte besluit te neem en het my die krag gegee om dit deur te voer. Ek het die afgelope 42 jaar in die voltydse diens deurgebring, en ek is nie spyt oor enigiets nie. Deur ’n selfsugtige, plesiergeoriënteerde lewenstyl die rug toe te keer, het ek die doelloosheid en verdriet vrygespring wat ek onder my familielede sien. Tesame met my man het ek meer as honderd mense gehelp om die waarheid te leer ken. Hierdie geestelike kinders is vir my baie kosbaarder as enige materiële rykdom.” Miljoene ander Getuies van Jehovah voel net soos sy. Wat van jou?

16. Hoe kan ons toon dat ons nie langer vir onsself lewe nie?

16 Die begeerte om nie langer vir hulleself te lewe nie, het duisende Getuies van Jehovah beweeg om as pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers, te dien. Ander, wie se omstandighede hulle nie toelaat om aan die voltydse bediening deel te neem nie, kweek die pioniergees aan en ondersteun die Koninkrykspredikingswerk na die beste van hulle vermoë. Ouers toon ’n soortgelyke gees wanneer hulle baie van hulle tyd asook persoonlike belange opoffer om hulle kinders geestelik op te voed. Ons almal kan op die een of ander manier toon dat ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel.—Matteus 6:33.

Wie se liefde dring ons?

17. Wat beweeg ons om opofferings te maak?

17 Dit is nie altyd maklik om selfopofferende liefde te betoon nie. Maar dink aan wat ons dring om dit te doen. Paulus het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het . . . En hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). Dit is die liefde van die Christus wat ons dring om nie langer vir onsself te lewe nie. Wat ’n kragtige beweegrede is dit tog! Voel ons nie sedelik verplig om vir Christus te lewe, aangesien hy vir ons gesterf het nie? Dankbaarheid vir die innige liefde wat God en Christus aan ons betoon het, het ons immers beweeg om ons lewe aan God toe te wy en dissipels van Christus te word.—Johannes 3:16; 1 Johannes 4:10, 11.

18. Waarom is ’n selfopofferende weg die moeite werd?

18 Is dit die moeite werd om nie langer vir onsself te lewe nie? Nadat die ryk jong heerser Christus se uitnodiging van die hand gewys en weggegaan het, het Petrus vir Jesus gesê: “Kyk! Ons het alles verlaat en u gevolg; wat sal daar dan vir ons wees?” (Matteus 19:27). Petrus en die ander apostels het hulleself waarlik verloën. Wat sou hulle beloning wees? Jesus het eers gepraat van die voorreg wat hulle sou hê om saam met hom in die hemel te regeer (Matteus 19:28). By dieselfde geleentheid het Jesus verwys na die seëninge wat al sy volgelinge kan geniet. Hy het gesê: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig kry . . . , en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe” (Markus 10:29, 30). Ons ontvang baie meer as wat ons opgeoffer het. Is ons geestelike vaders, moeders, broers, susters en kinders nie baie kosbaarder as enigiets waarvan ons afstand gedoen het ter wille van die Koninkryk nie? Wie het die lonendste lewe gehad—Petrus of die ryk jong heerser?

19. (a) Waarvan hang ware geluk af? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Deur sy woorde en dade het Jesus getoon dat ’n mens gelukkig is wanneer jy gee en ander dien, nie wanneer jy selfsugtig is nie (Matteus 20:28; Handelinge 20:35). As ons nie langer vir onsself lewe nie maar Christus voortdurend volg, put ons nóú groot bevrediging uit die lewe en het ons die vooruitsig op ewige lewe in die toekoms. Wanneer ons onsself verloën, word Jehovah natuurlik ons Eienaar. Ons word dus slawe van God. Waarom is hierdie slawerny lonend? Hoe raak dit die besluite wat ons in die lewe neem? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

Onthou jy?

• Waarom moet ons ons selfsugtige neigings teëwerk?

• Wat beteken dit om onsself te verloën, ons folterpaal op te neem en Jesus voortdurend te volg?

• Wat beweeg ons om nie langer vir onsself te lewe nie?

• Waarom is dit die moeite werd om ’n selfopofferende lewe te lei?

[Prent op bladsy 11]

“Wees goed vir uself, Here”

[Prent op bladsy 13]

Wat het die jong heerser verhinder om Jesus te volg?

[Prente op bladsy 15]

Liefde dring Jehovah se Getuies om as ywerige Koninkryksverkondigers te dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel