“My hulp is van Jehovah”
Gesinne wat deur die kennis van God versterk word
DIE “Berlynse Muur”. Dit is wat ’n egpaar in Argentinië ’n letterlike muur genoem het wat hulle gebou het om hulle huis in twee te verdeel! Hulle het onversoenlike verskille gehad; hulle kon mekaar eenvoudig nie verdra nie.
Ongelukkig is die situasie van hierdie egpaar nie uniek nie. Baie gesinne word deur twis, ontrou en openlike vyandigheid geteister. Dit is betreurenswaardig, aangesien die gesin ’n instelling is wat deur God self begin is (Genesis 1:27, 28; 2:23, 24). Hierdie gawe van God skep ’n ideale omgewing om innige liefde te betoon (Rut 1:9). As gesinslede hulle godgegewe verpligtinge nakom, kan hulle eer aan Jehovah bring en ’n seën vir mekaar wees.a
Aangesien God die gesinsreëling ingestel het, moet ons toelaat dat sy beskouing ons begrip beïnvloed van hoe gesinne moet funksioneer. Sy Woord voorsien heelwat praktiese raad wat gesinne sal help om suksesvol te wees, veral wanneer probleme ontstaan. Wat die rol van die man betref, sê die Bybel: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam.” Wanneer die man aan hierdie vereiste voldoen, is dit vir sy vrou ’n genot om “diep respek vir haar man [te] hê”.—Efesiërs 5:25-29, 33.
Aangaande die verhouding tussen ouers en hulle kinders het die apostel Paulus geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Dít sal dan ’n hartlike gesinsatmosfeer skep wat dit makliker vir kinders sal maak om hulle ouers te gehoorsaam.—Efesiërs 6:1.
Die voorgaande punte lig toe watter goeie raad die Bybel oor die gesinslewe bevat. Baie geniet ’n gelukkige gesinslewe omdat hulle goddelike beginsels toepas. Neem die voorbeeld van die egpaar in Argentinië wat aan die begin gemeld is. Nadat hulle die Bybel drie maande lank saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het al twee die Bybel se wyse raad oor die huwelik begin toepas. Hulle het hulle daarop toegelê om hulle kommunikasie te verbeter, om mekaar se behoeftes in ag te neem en om vergewensgesind te wees (Spreuke 15:22; 1 Petrus 3:7; 4:8). Hulle het geleer om hulle humeur te beteuel en om hulle tot God om hulp te wend wanneer dit lyk asof dinge handuit ruk (Kolossense 3:19). Die “Berlynse Muur” het gou verbrokkel!
God kan ’n gesin opbou
Die kennis en toepassing van God se standaarde kan ’n gesin versterk om druk te weerstaan. Dit is noodsaaklik, want daar is voorspel dat die gesinsreëling in ons dag ernstig aangeval sal word. Paulus het ook die huidige verval van sedes en agteruitgang van die mensegemeenskap voorspel. Hy het gesê dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur dislojaliteit, ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” en ongehoorsaamheid aan ouers, selfs onder diegene wat “’n vorm van godvrugtige toegewydheid het”.—2 Timoteus 3:1-5.
Ons pogings om God te behaag, kan ons help om sulke skadelike invloede op die gesin teë te werk. Baie gesinne het gevind dat ’n geestelike oplossing nodig is om hulle te help om baie van die uitdagings in hulle lewe die hoof te bied. As gesinslede ’n goeie verhouding met God wil handhaaf, moet hulle in die eerste plek Bybelbeginsels toepas en besef dat ‘as Jehovah nie die huis bou nie, die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk het’ (Psalm 127:1). Die beste manier om gesinsgeluk te bevorder, is om God eerste in die gesin te stel.—Efesiërs 3:14, 15.
In Hawaii het ’n man met die naam Dennis geleer hoe waar dit is. Hoewel hy ’n verklaarde Christen was, het vloektaal en gevegte deel van sy lewe geword. Nadat hy militêre diens gedoen het, was hy selfs aggressiewer en gemener. “Ek het altyd baklei”, sê hy. “Ek het nie omgegee wat met my gebeur nie, en ek was nie bang om dood te gaan nie. Die vloekery en bakleiery het voortgeduur. My vrou, wat een van Jehovah se Getuies is, het my aangemoedig om die Bybel te studeer.”
Dennis het sy vrou se pogings teëgestaan. Haar Christelike gedrag het egter sy negatiewe gesindheid versag. Dennis het uiteindelik saam met sy vrou en kinders na ’n Christelike vergadering gegaan. Daarna is ’n Bybelstudie met hom begin, en hy het goeie vordering gemaak. Hy het ’n rookgewoonte van 28 jaar opgegee en opgehou om met vriende om te gaan wat betrokke was by al die dinge wat hy probeer oorkom het. Met dankbaarheid teenoor Jehovah het Dennis gesê: “My gesinslewe het verbeter. Ons het as ’n gesin saam vergaderinge toe gegaan en aan die bediening deelgeneem. My twee kinders was nie meer bang vir my nie, want ek het geleer om my humeur te beteuel en het opgehou vloek. Ons kon gesels en Bybelbesprekings hê. As dit nie vir Bybelwaarheid was nie, sou ek nie vandag hier wees nie; so humeurig was ek.”
Gesinne kan geluk vind wanneer hulle hulle inspan om Jehovah se wil te doen. Ondervinding het getoon dat dit die situasie verbeter as selfs net een gesinslid Bybelbeginsels toepas. Om ’n Christenhuis op te bou, is harde werk, wat vaardigheid en tyd verg. Maar lede van sulke gesinne het die versekering dat Jehovah hulle pogings om die gesin op te bou, met sukses sal bekroon. Hulle kan dan net soos die psalmis sê: “My hulp is van Jehovah.”—Psalm 121:2.
[Voetnoot]
a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2005, Mei/Junie.
[Lokteks op bladsy 9]
Aan God het “elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke”.—EFESIËRS 3:15
[Venster op bladsy 8]
JEHOVAH BESKOU DIE GESINSREËLING AS IETS KOSBAARS
“God [het] hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.’”—Genesis 1:28.
“Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees . . . Jou vrou sal soos ’n vrugdraende wingerdstok in die binneste vertrekke van jou huis wees.”—Psalm 128:1, 3.