’n Unieke Reünie ná 30 jaar
IN 1967 het die toeval twee jong mans bymekaargebring. Hulle was kamermaats by die Michiganse Tegniese Universiteit in die Verenigde State. Dennis Sheets, van Lima, Ohio, was toe ’n 18-jarige bosboustudent in sy eerste jaar. Die 20-jarige Mark Ruge het van Buffalo, New York, gekom. Hy was ’n derdejaarstudent in siviele ingenieurswese.
Destyds het dit dalk gelyk of hulle vriendskap kortstondig was. Nie een van die jong mans het hulle universiteitsopleiding voltooi nie; elkeen het sy eie koers ingeslaan. Meer as drie dekades het verbygegaan. Toe, eendag in die Dominikaanse Republiek, het hulle mekaar weer ontmoet. Die toeval het ’n rol gespeel in hierdie onverwagse reünie. Maar daar was nog ’n faktor wat tot die ontmoeting bygedra het. Wat was dit? Kom ons volg hulle afsonderlike lewenspaaie om die antwoord te vind.
Dennis word ’n soldaat
Dennis het ná sy eerste jaar op universiteit teruggegaan huis toe. Toe, in Desember 1967, is hy vir diensplig in die Amerikaanse weermag opgeroep, en in Junie 1968 is hy Viëtnam toe gestuur. Daar het hy die gruwels van oorlog gesien. Ná hy sy diensplig in 1969 voltooi het, het hy na die Verenigde State teruggekeer en uiteindelik by ’n groot maatskappy in Ohio begin werk. Maar hy was nie tevrede nie.
“My droom as kind was om na Alaska te trek en daar te gaan boer”, verduidelik Dennis. In 1971 het hy en ’n hoërskoolvriend dus begin werk maak van daardie droom. Maar in plaas van te boer, het hy ’n paar los werkies gedoen. Hy het ’n ruk lank in ’n tent gebly en as ’n brandwag gewerk. Hy het sy baard laat groei, sy hare lank laat word en dagga begin rook.
In 1972 het Dennis Anchorage verlaat om die Mardi Gras in New Orleans, Louisiana, by te woon. Daarna het hy ’n klein houthuis in die woud in Arkansas gebou. Daar het hy houtrame vir huise gemaak en betonafwerking gedoen. In Junie 1973 het Dennis deur die land geryloop om ’n doel in die lewe te probeer vind.
Mark in die anti-oorlogsbeweging
Mark het nog ’n paar semesters by die universiteit gebly nadat Dennis weg is, maar het toe besluit dat hy nie deel van die stelsel wou word wat die oorlog ondersteun nie. Hy het dus na Buffalo teruggegaan, waar hy ’n ruk lank as ’n voorman by ’n staalfabriek gewerk het. Omdat hy nog steeds ontevrede was met die oorlogspoging, het hy uit sy werk bedank, ’n motorfiets gekoop en oor die land na San Francisco, Kalifornië, gereis. Hoewel hulle dit nie toe besef het nie, was Dennis en Mark ’n tyd lank saam in San Francisco.
Mark het soos Dennis sy baard laat groei, sy hare lank gedra en dagga begin rook. Maar Mark was diep betrokke by die anti-oorlogsbeweging en het aan betogings en optogte deelgeneem. Omdat die FBI hom gesoek het vir dienspligontduiking, het hy ’n paar jaar lank aliasse gebruik om die gereg te ontwyk. In San Francisco het hy soos ’n hippie gelewe. In 1970 het twee van Jehovah se Getuies hom daar besoek.
Mark verduidelik: “Hulle het seker gedink dat ek belangstel en het dus teruggekom. Ek was nie tuis nie, maar hulle het ’n groen Bybel en drie boeke agtergelaat.” Mark was egter so besig met politieke aktivisme en om plesier na te jaag dat hy dit nie gelees het nie. Die FBI was ook op sy spoor. Daarom het hy onder ’n ander alias na Washington, DC, gereis. Sy meisie, Kathi Yaniskivis, wat hy op universiteit ontmoet het, het daar by hom aangesluit.
Uiteindelik, in 1971, het die FBI Mark opgespoor. Twee FBI-agente het hom op ’n vlug van Washington, DC, na New York vergesel en seker gemaak dat hy na Toronto, Kanada, gaan. Blykbaar het die FBI nie gedink dat hy die burgerlike orde bedreig nie; hulle wou hom net uit die land hê. Die volgende jaar het hy en Kathi getrou, en hulle het na Gabriola-eiland, Brits-Columbië, Kanada, verhuis. Hulle wou van die samelewing wegkom, maar hulle het nogtans gevoel dat die lewe betekenisvoller moet wees.
Hulle word Getuies
Jy sal onthou dat Dennis deur die land geryloop het, op soek na ’n doel in die lewe. Hy het uiteindelik in Montana beland, waar hy gedurende die koringoes op ’n plaas buite Chinook werk gekry het. Die boer se vrou en dogter was Jehovah se Getuies. Hulle het vir Dennis ’n Ontwaak! gegee om te lees. Dit was nie lank voordat hy oortuig was dat die Getuies die ware godsdiens beoefen nie.
Dennis het ’n Bybel saam met hom geneem toe hy die plaas verlaat en na Kalispell, Montana, gegaan het. Daar het hy sy eerste vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. By daardie vergadering het hy ’n Bybelstudie gevra. Kort daarna het hy sy hare laat sny en sy baard afgeskeer. In Januarie 1974 het hy vir die eerste keer in die predikingswerk uitgegaan, en op 3 Maart 1974 is hy in ’n watertrog in Polson, Montana, gedoop.
Intussen het Mark en Kathi, wat op Gabriola-eiland gewoon het, besluit dat hulle die Bybel sou ondersoek, aangesien hulle die tyd gehad het. Hulle het die King James Version begin lees, maar het die ou Engels ’n bietjie moeilik gevind om te verstaan. Toe het Mark onthou dat hy nog die Bybel en boeke gehad het wat die Getuies hom jare vroeër gegee het. Mark en Kathi het die Bybel en die boeke Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en Is die Bybel werklik die Woord van God? gelees en is diep beïndruk deur wat hulle geleer het.
Mark verduidelik: “Ek was veral beïndruk deur die feit dat die Waarheid-boek van ’n groep Christene praat wat onder geen omstandighede oorlog sal voer nie. Ek het gevoel dat hulle die ware Christelike godsdiens beoefen.” Kort daarna het Mark en Kathi na Houghton, Michigan, teruggegaan om Kathi se familie te besoek—ondanks die gevaar van inhegtenisname. Daar het hulle ’n vergadering van die Getuies bygewoon, al het hulle nog soos hippies gelyk. Hulle het ’n Bybelstudie aanvaar en gestudeer gedurende die maand wat hulle in Michigan was.
Nadat hulle na Gabriola-eiland teruggekeer het, het hulle ’n Getuie op straat in Nanaimo, Brits-Columbië, ontmoet en verduidelik dat hulle ’n Bybelstudie wou hê. Dieselfde dag het ’n groep Getuies in ’n motor op die veerboot oorgekom om hulle te besoek, en ’n Bybelstudie is begin. Drie maande later het Mark en Kathi aan die predikingswerk begin deelneem. Drie maande daarna, op 10 Maart 1974, is hulle albei gedoop. Dit was een week nadat Dennis gedoop is!
Dennis in die voltydse bediening
Dennis het in September 1974 ’n pionier, of voltydse bedienaar, geword. Hy sê: “Ek het my pionierdiens geniet, maar wou my bediening uitbrei; daarom het ek in Julie 1975 aansoek gedoen om by die wêreldhoofkantoor van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te dien. In Desember is ek daarheen genooi.”
Die eerste toewysing wat Dennis ontvang het, was om die voormalige Towers-hotel in ’n woongebou te help omskep vir die hoofkantoorpersoneel. Hy het etlike jare daar as die opsiener van die teëlspan gewerk. Omdat hy wou trou, het hy later na Kalifornië getrek. In 1984 het hy, terwyl hy as ’n ouer man in die Cathedral City-gemeente gedien het, ’n pionier met die naam Kathy Enz getrou.
Dennis en Kathy was vasbeslote om hulle lewe eenvoudig te hou sodat hulle die belange van God se Koninkryk kon nastreef. Dennis het dus dikwels geleenthede van die hand gewys om baie geld in die florerende Suid-Kaliforniese boubedryf te maak. In 1988 het hy en Kathy aansoek gedoen om met die internasionale bouwerk van Jehovah se Getuies te help. In Desember van daardie jaar het hulle ’n toewysing ontvang om met die bouwerk aan die takkantoor in Buenos Aires, Argentinië, te help.
In 1989 is Dennis en Kathy genooi om permanent op die bouprogram van Jehovah se Getuies te dien. In hierdie spesiale vorm van die voltydse bediening het hulle al twee keer in Suriname en Colombia gedien. Hulle het ook gehelp met die bouwerk aan die takkantore in Ecuador en Mexiko, sowel met ’n soortgelyke projek in die Dominikaanse Republiek.
Mark in die voltydse diens
In 1976 het die Amerikaanse regering amnestie verleen aan Mark, sowel as aan duisende ander jong Amerikaanse mans wat na Kanada gevlug het om diensplig te ontduik. Hy en sy vrou, Kathi, wou ook hulle lewe eenvoudig hou sodat hulle meer tyd aan die bediening kon wy. Mark het dus deeltyds as ’n landmeter gewerk, en hy en Kathi het geleidelik die skuld afbetaal wat hulle voor hulle doop opgehoop het.
In 1978, toe die Getuies in Kanada beplan het om ’n nuwe takkantoorkompleks naby Toronto, Ontario, te bou, was Mark en Kathi in ’n posisie om hulle dienste aan te bied. Aangesien Mark ondervinding as ’n landmeter gehad het, is hulle genooi om met die bouwerk te help. Hulle het aan die projek in Georgetown gewerk totdat dit in Junie 1981 voltooi is. Daarna het hulle teruggekeer na Brits-Columbië en vier jaar lank gehelp om ’n Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies daar te bou. Toe dit voltooi was, is hulle teruggenooi om aan die uitbreiding van die Kanada-takkantoor te werk.
In 1986, ná ’n paar maande in Georgetown, is Mark en Kathi genooi om as permanente lede van die Kanadese takkantoorpersoneel aan te bly. Hulle dien sedertdien by die takkantoor en het ook by baie geleenthede bouwerk in talle ander lande gedoen. Danksy Mark se ondervinding as ’n landmeter is hy ingespan om landmeting te doen by takkantoor- en Byeenkomssaalprojekte van Jehovah se Getuies in Suid- en Sentraal-Amerika en op die Karibiese Eilande.
Oor die jare het hy en Kathi in Venezuela, Nicaragua, Haïti, Guyana, Barbados, die Bahamas, Dominica, die Verenigde State (Florida) en die Dominikaanse Republiek gedien. Danksy hierdie spesiale vorm van die voltydse bediening het Mark en Dennis se lewenspaaie weer gekruis.
Reünie in die Dominikaanse Republiek
Sonder dat Mark en Dennis daarvan geweet het, het hulle aan soortgelyke projekte in die Dominikaanse Republiek gewerk. Eendag het hulle mekaar toevallig raakgeloop by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Santo Domingo. Soos jy jou kan voorstel, was hulle baie bly om mekaar weer te ontmoet. Hulle was op stuk van sake 33 jaar ouer en het baie gehad om oor te gesels. Hulle was verbaas om baie van die dinge oor mekaar uit te vind wat jy tot dusver gelees het. Maar wat hulle die meeste verbaas het—sowel as almal aan wie hulle hulle ondervindinge vertel het—is die talle ooreenkomste in hulle lewe.
Albei was hippies en het na afgeleë plekke gegaan om weg te kom van die materialistiese moderne lewenswyse met al sy sorge. Dennis het ’n meisie met die naam Kathy getrou; Mark het ’n meisie met die naam Kathi getrou. Albei mans het ’n Bybelstudie aanvaar by die eerste vergadering van Jehovah se Getuies wat hulle bygewoon het. Albei is in Maart 1974 gedoop. Albei het by takkantore van Jehovah se Getuies gedien—Dennis in die Verenigde State en Mark in Kanada. Albei het stappe geneem om hulle lewe eenvoudig te hou sodat hulle geestelike doelwitte kon nastreef (Matteus 6:22). Albei het by internasionale bouwerk betrokke geraak en het toewysings in verskeie lande ontvang. Voor hulle toevallige ontmoeting in die Dominikaanse Republiek het nie een van hulle enige ou vriende ontmoet wat Bybelwaarhede aangeneem het nie.
Skryf Mark en Dennis hierdie merkwaardige toevalle aan die noodlot toe? Glad nie. Hulle besef dat, soos die Bybel sê, ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’—soms op baie interessante maniere (Prediker 9:11). Maar hulle besef ook dat iets anders ’n rol in hulle reünie gespeel het: die feit dat hulle albei na ’n doel in die lewe gesoek het en Jehovah God liefhet.
Die verhaal van Dennis en Mark beklemtoon ook ’n paar dinge wat alle opregtes van hart wat Bybelwaarheid leer, in gemeen het. Dennis sê: “Wat met my en Mark gebeur het, toon dat Jehovah bewus is van die situasies waarin mense hulle bevind, en wanneer hulle harte reg is, trek hy hulle na hom.”—2 Kronieke 16:9; Johannes 6:44; Handelinge 13:48.
Mark voeg by: “Ons ondervinding het ons ook waardering geleer vir die feit dat wanneer iemand hom na Jehovah se standaarde skik, sy lewe aan hom toewy en hom beskikbaar stel, Jehovah sy talente en vermoëns kan gebruik om ware aanbidding tot voordeel van sy volk te bevorder.”—Efesiërs 4:8.
Hulle ondervinding toon ook dat Jehovah God die heelhartige diens van sy volk seën. Dennis en Mark voel beslis dat hulle geseën is. Dennis sê: “Dit is ’n voorreg om Koninkryksbelange in spesiale voltydse diens te bevorder. Dit het ons die geleentheid gegee om wedersydse aanmoediging te geniet terwyl ons met Christenbroers en -suster van regoor die wêreld werk.”
Mark sê verder: “Jehovah seën beslis diegene wat sy Koninkryk eerste stel. Vir my is dit ’n spesiale seën om by die Kanadese takkantoor te dien en om aan internasionale bouwerk deel te neem.”
Was dit ’n unieke reünie? Ja, want soos Mark sê: “Die eintlike rede waarom ons ontmoeting so spesiaal was, is omdat ons albei die unieke God, Jehovah, leer ken en liefkry het en hom dien.”
[Prent op bladsy 21]
Dennis, 1966
[Prent op bladsy 21]
Mark, 1964
[Prent op bladsy 23]
Dennis in Suid-Dakota, 1974
[Prent op bladsy 23]
Mark in Ontario, 1971
[Prent op bladsy 24]
Dennis en Mark, saam met hulle vrouens, kort ná hulle toevallige reünie, 2001