Vrae van lesers
Kan ons tot die slotsom kom dat koning Salomo van eertydse Israel nie ’n opstanding sal kry nie, aangesien hy in sy ouderdom ontrou aan God geword het?—1 Konings 11:3-9.
Hoewel die Bybel party manne en vroue van geloof by name noem wat ongetwyfeld opgewek sal word, sê dit nie spesifiek wat elke persoon wat daarin gemeld word, se vooruitsigte met betrekking tot ’n opstanding is nie (Hebreërs 11:1-40). In die geval van Salomo kan ons egter ’n idee kry van God se oordeel deur wat met hom by sy dood gebeur het, te vergelyk met wat met sekere getroue mense by hulle dood gebeur het.
Die Skrif praat van net twee moontlikhede vir die dooies—die tydelike toestand van niebestaan en die toestand van ewige dood. Diegene wat nie ’n opstanding waardig geag word nie, word in “Gehenna”, of “die poel van vuur”, gewerp (Matteus 5:22; Markus 9:47, 48; Openbaring 20:14). Dit sluit in die eerste mensepaar, Adam en Eva, die verraaier Judas Iskariot en sekeres wat gesterf het toe God oordeel aan hulle voltrek het, soos die mense in Noag se dag en die inwoners van Sodom en Gomorra.a Diegene wat met ’n opstanding begunstig sal word, gaan by hulle dood na die gemeenskaplike graf van die mensdom—Sjeool, of Hades. Die Bybel sê aangaande hulle toekoms: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en elkeen van hulle is volgens hulle dade geoordeel.”—Openbaring 20:13.
Die getroues na wie daar in Hebreërs hoofstuk 11 verwys word, is dus in Sjeool, of Hades, waar hulle op ’n opstanding wag. Onder hulle is God se lojale knegte Abraham, Moses en Dawid. Kyk nou wat die Bybel van hulle sê waar dit van hulle dood praat. “Wat jou betref”, het Jehovah vir Abraham gesê, “jy sal in vrede na jou voorvaders gaan; jy sal op ’n goeie ouderdom begrawe word” (Genesis 15:15). Jehovah het vir Moses gesê: “Kyk! Jy ontslaap met jou voorvaders” (Deuteronomium 31:16). Aangaande Salomo se vader, Dawid, sê die Bybel: “Dawid [het] met sy voorvaders ontslaap, en hy is in die Stad van Dawid begrawe” (1 Konings 2:10). Die uitdrukking ‘met jou voorvaders ontslaap’ is dus ’n ander manier om te sê dat die persoon na Sjeool gegaan het.
Wat het met Salomo gebeur toe hy gesterf het? Die Bybel antwoord: “Die dae dat Salomo in Jerusalem oor die hele Israel regeer het, was veertig jaar. Toe het Salomo met sy voorvaders ontslaap, en hy is in die Stad van Dawid, sy vader, begrawe” (1 Konings 11:42, 43). Dit lyk dus redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat Salomo in Sjeool, of Hades, is, waaruit hy opgewek sal word.
Hierdie gevolgtrekking impliseer dat ander van wie die Skrif spesifiek sê dat ‘hulle met hulle voorvaders ontslaap het’, moontlik ’n opstanding sal kry. Om die waarheid te sê, hierdie uitdrukking word gebruik in verband met baie van die konings wat Salomo opgevolg het, hoewel hulle ontrou was. Dit is nie ondenkbaar nie, aangesien “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Eers nadat “almal wat in die gedenkgrafte is”, ’n opstanding gekry het, sal ons natuurlik vir seker weet wie met ’n opstanding begunstig is (Johannes 5:28, 29). Ons moet dus nie dogmaties wees oor die opstanding van enigiemand van die ou tyd nie, maar eerder wag en vertroue stel in Jehovah se volmaakte besluit.
[Voetnoot]