“Die dood is vir ewig verswelg”
STEL jou voor dat jy eerder die opskrif hierbo in ’n koerant lees as om te lees van ’n dogtertjie wat selfmoord gepleeg het. Geen koerant kon natuurlik al ooit so iets sê nie. Maar die woorde hierbo kom wel voor in ’n boek wat duisende jare oud is—die Bybel.
Die dood word goed verduidelik in die Skrif. Wat meer is, die Bybel openbaar nie net waarom ons sterf nie, maar verduidelik ook wat die toestand van die dooies is en bied hoop vir ons afgestorwe geliefdes. Laastens praat dit van ’n merkwaardige tyd wanneer dit moontlik sal wees om te berig: “Die dood is vir ewig verswelg.”—1 Korintiërs 15:54.
Die Bybel verduidelik die dood met maklik verstaanbare woorde, nie duistere woorde nie. Dit vergelyk die dood byvoorbeeld herhaaldelik met slaap en sê dat mense wat sterf, “ontslaap” (Psalm 13:3; 1 Tessalonisense 4:13; Johannes 11:11-14). Die dood word ook ’n “vyand” genoem (1 Korintiërs 15:26). Nog belangriker, die Bybel help ons om te verstaan waarom die dood soos ’n slaap is, waarom die dood die mensdom teister en hoe hierdie vyand uiteindelik oorwin sal word.
Waarom sterf ons?
Die eerste boek van die Bybel vertel hoe God die eerste mens, Adam, geskep en hom in ’n paradystuiste geplaas het (Genesis 2:7, 15). Nadat Adam geskep is, is hy werkstoewysings sowel as een streng verbod gegee. God het oor ’n sekere boom in die tuin van Eden vir hom gesê: “Daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:17).a Adam het dus verstaan dat die dood nie onvermydelik was nie. Dit was die regstreekse gevolg van die oortreding van een van God se wette.
Ongelukkig was Adam en sy vrou, Eva, ongehoorsaam. Hulle het gekies om die wil van hulle Skepper te verontagsaam, en hulle het die gevolge gedra. “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”, het God vir hulle gesê toe hy die gevolge van hulle sonde uiteengesit het (Genesis 3:19). Hulle het onvolmaaktheid—’n ernstige gebrek—oor hulleself gebring. Hulle onvolmaaktheid, of sondigheid, sou tot hulle dood lei.
Hierdie gebrek—sonde—is ook aan Adam en Eva se nageslag, die hele mensdom, oorgedra. In sekere sin was dit soos ’n oorerflike siekte. Adam het nie net die geleentheid verbeur om ’n lewe sonder die teistering van die dood te lei nie, maar hy het ook onvolmaaktheid aan sy nageslag oorgedra. Die mensdom het gyselaars van sonde geword. Die Bybel sê: “Daarom, net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde, en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.
‘Sonde het in die wêreld ingekom’
Hierdie oorgeërfde gebrek, of sonde, kan nie onder ’n mikroskoop gesien word nie. “Sonde” verwys na ’n sedelike en geestelike gebrek wat ons eerste ouers aan ons oorgedra het, en dit het fisiese gevolge. Maar die Bybel openbaar dat God ’n geneesmiddel voorsien het. Die apostel Paulus verduidelik: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). In sy eerste brief aan die Korintiërs het Paulus ’n versekering bygevoeg wat vir hom baie betekenisvol was: “Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.”—1 Korintiërs 15:22.
Dit is duidelik dat Jesus Christus ’n sleutelrol in die uitwissing van sonde en die dood speel. Hy het gesê dat hy aarde toe gekom het “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Die situasie kan met ’n ontvoering vergelyk word, waarin die vrylating van die gyselaar net deur die betaling van ’n bepaalde bedrag verkry kan word. In hierdie geval is die losprys wat ons van sonde en die dood kan bevry, Jesus se volmaakte menselewe.b—Handelinge 10:39-43.
God het die losprys voorsien deur Jesus na die aarde toe te stuur om sy lewe op te offer. “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, . . . die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Voordat Christus ’n offerdood gesterf het, het hy ‘van die waarheid getuig’ (Johannes 18:37). En tydens sy openbare bediening het hy van sekere gebeurtenisse gebruik gemaak om die waarheid oor die dood te openbaar.
“Die dogtertjie . . . slaap”
Jesus het met die dood te doen gekry terwyl hy op die aarde was. Hy het die droefheid daarvan ervaar om mense om hom te verloor, en hy het goed geweet dat hy self ’n ontydige dood sou sterf (Matteus 17:22, 23). Klaarblyklik het Jesus se goeie vriend Lasarus ’n paar maande voor Jesus se teregstelling gesterf. Daardie gebeurtenis gee ons insig in Jesus se beskouing van die dood.
Kort nadat Jesus van Lasarus se dood vertel is, het hy gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” Die dissipels het aangeneem dat Lasarus beter sou word as hy bloot rus. Jesus het dus reguit gesê: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11-14). Dit is duidelik dat Jesus verstaan het dat die dood soos slaap is. Hoewel dit dalk vir ons moeilik is om die dood te begryp, verstaan ons wel wat slaap is. Terwyl ons ’n goeie nagrus geniet, is ons nie bewus van die verloop van tyd en van wat om ons aangaan nie, want ons is in ’n toestand van tydelike onbewustheid. Dit is presies hoe die Bybel die toestand van die dooies verduidelik. Prediker 9:5 sê: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”
Jesus het die dood ook met slaap vergelyk omdat mense uit die dood wakker gemaak kan word, danksy die krag van God. By een geleentheid het Jesus die huis besoek van ’n bedroefde gesin wie se dogtertjie kort tevore gesterf het. “Die dogtertjie het nie gesterf nie, maar sy slaap”, het Jesus gesê. Toe het hy na die dooie dogtertjie toe gegaan en haar hand geneem, en sy het “opgestaan”. Met ander woorde sy het uit die dood opgestaan.—Matteus 9:24, 25.
Jesus het ook sy vriend Lasarus uit die dood opgewek. Maar voordat hy daardie wonderwerk verrig het, het hy Marta, Lasarus se suster, vertroos deur te sê: “Jou broer sal opstaan.” Sy het vol vertroue geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:23, 24). Sy het blykbaar verwag dat al God se knegte die een of ander tyd in die toekoms opgewek sal word.
Wat beteken ’n opstanding presies? Die Griekse woord vir “opstanding” (a·naʹsta·sis) beteken letterlik “om op te staan”. Dit dui op ’n opstanding uit die dood. Dit klink miskien vir party ongelooflik, maar nadat Jesus gesê het dat die dooies sy stem sal hoor, het hy gesê: “Moet julle nie hieroor verwonder nie” (Johannes 5:28). Die opstandings wat Jesus op die aarde verrig het, bou ons vertroue op in die Bybel se belofte dat die dooies wat in God se geheue is, uit hulle lang “slaap” wakker sal word. Openbaring 20:13 voorspel: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades [die mensdom se gemeenskaplike graf] het die dooies in hulle gegee.”
Sal hierdie dooies opgewek word om net weer oud te word en te sterf, soos met Lasarus die geval was? Dit is nie God se voorneme nie. Die Bybel verseker ons dat die tyd sal aanbreek wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’; niemand sal dus oud word en dan sterf nie.—Openbaring 21:4.
Die dood is ’n vyand. Die mensdom het baie ander gemeenskaplike vyande, soos siekte en bejaardheid, wat ook baie lyding veroorsaak. God belowe om al hierdie vyande te oorwin en uiteindelik oor die mensdom se grootste vyand vonnis uit te spreek. “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.”—1 Korintiërs 15:26.
Wanneer daardie belofte nagekom is, sal mense volmaakte lewe geniet, wat nie deur sonde en die dood bederf sal word nie. Intussen kan ons vertroosting put uit die wete dat ons afgestorwe geliefdes rus, en as hulle in God se geheue is, sal hulle op sy bestemde tyd opgewek word.
’n Begrip van die dood help om die lewe sinvol te maak
’n Duidelike begrip van die dood en die hoop vir die dooies kan ons lewensbeskouing verander. Ian, wat in die vorige artikel genoem is, was in sy twintigerjare toe hy geleer het wat die Bybel se verduideliking van die dood is. “Ek het altyd ’n vae hoop gehad dat my pa iewers is”, sê hy. “Toe ek uitvind dat hy net in die dood slaap, het ek dus eers terneergedruk gevoel.” Maar toe Ian lees van God se belofte om die dooies op te wek, was hy verheug om te weet dat hy sy vader weer kan sien. “Ek het vir die eerste keer in my lewe gerus gevoel”, vertel hy. ’n Juiste begrip van die dood het hom gemoedsrus gegee wat sy gees gekalmeer het.
Clive en Brenda het hulle 21-jarige seun, Steven, verloor in die noodlottige botsing wat in die vorige artikel genoem is. Hoewel hulle geweet het wat die Bybel oor die dood sê, was hulle nogtans ontroosbaar ná hulle skielike verlies. Die dood is immers ’n vyand, en sy angel veroorsaak pyn. Hulle skriftuurlike kennis oor die toestand van die dooies het hulle droefheid geleidelik versag. Brenda sê: “Ons begrip van die dood het ons in staat gestel om met ons lewe voort te gaan. Daar gaan natuurlik nie ’n dag verby waarin ons nie dink aan die tyd wanneer Steven uit sy diep slaap wakker sal word nie.”
“Dood, waar is jou angel?”
Dit is duidelik dat ’n begrip van die toestand van die dooies ons kan help om ’n gebalanseerde lewensbeskouing te hê. Die dood hoef nie ’n raaisel te wees nie. Ons kan die lewe geniet sonder ’n sieklike vrees vir hierdie vyand wat ons bedreig. En die besef dat die dood nie noodwendig ons lewe vir ewig hoef te beëindig nie, verwyder enige drang om vir plesier te lewe in die oortuiging dat “die lewe so kort is”. Die wete dat ons afgestorwe geliefdes wat in God se geheue is, in die dood slaap en vir ’n opstanding wag, kan ons vertroos en ons begeerte aanwakker om met die lewe voort te gaan.
Ja, ons kan vol vertroue uitsien na die toekoms wanneer Jehovah God, die Lewegewer, die dood vir ewig sal begrawe. Wat ’n seën sal dit tog wees wanneer ons tereg kan vra: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”—1 Korintiërs 15:55.
[Voetnote]
a Dit is die eerste verwysing na die dood in die Bybel.
b Die losprys was ’n volmaakte menselewe, want dit is wat Adam verloor het. Sonde het alle mense besmet, en gevolglik kon geen onvolmaakte mens as ’n losprys dien nie. Daarom het God sy Seun uit die hemel gestuur (Psalm 49:7-9). Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien hoofstuk 7 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 5]
Adam en Eva se ongehoorsaamheid het tot die dood gelei
[Prent op bladsy 6]
Jesus het die dooie dogtertjie se hand geneem, en sy het opgestaan
[Prent op bladsy 7]
Baie wag vir die tyd wanneer hulle afgestorwe geliefdes wakker sal word, soos Lasarus