Dit is nou die tyd vir daadwerklike optrede
“Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink?”—1 KONINGS 18:21.
1. Waarom verskil ons tyd van die verlede?
GLO jy dat Jehovah die enigste ware God is? En glo jy dat Bybelprofesieë op ons tyd wys as “die laaste dae” van Satan se goddelose stelsel? (2 Timoteus 3:1). Dan sal jy sekerlik saamstem dat daadwerklike optrede nou, meer as ooit tevore, nodig is. Nooit tevore in die mensegeskiedenis was soveel lewens op die spel nie.
2. Wat het gedurende die bewind van koning Agab in die tienstammeryk van Israel gebeur?
2 In die tiende eeu v.G.J. moes die nasie Israel ’n baie ernstige besluit neem. Wie sou hulle dien? Koning Agab het, onder die invloed van sy heidense vrou, Isebel, Baälaanbidding in die tienstammeryk van Israel bevorder. Baäl was ’n vrugbaarheidsgod wat veronderstel was om reën en goeie oeste te voorsien. Baie Baälaanbidders het moontlik ’n soen gegooi vir ’n beeld van hulle god of daarvoor neergebuig. Om Baäl te oorreed om hulle oeste en vee te seën, het sy aanbidders deelgeneem aan seksorgieë met tempelprostitute. Hulle het ook die gebruik gehad om hulle te sny om bloed te laat vloei.—1 Konings 18:28.
3. Watter invloed het Baälaanbidding op God se volk gehad?
3 ’n Oorblyfsel van ongeveer 7 000 Israeliete het geweier om aan hierdie afgodiese, onsedelike, gewelddadige vorm van aanbidding deel te neem (1 Konings 19:18). Hulle het lojaal gebly by hulle verbondsverhouding met Jehovah God, en as gevolg hiervan is hulle vervolg. Koningin Isebel het byvoorbeeld baie van Jehovah se profete vermoor (1 Konings 18:4, 13). Weens hierdie beproewende toestande het die meeste van die Israeliete geloofsvermenging beoefen en Jehovah sowel as Baäl probeer behaag. Maar dit was afvalligheid as ’n Israeliet hom van Jehovah afgekeer en ’n valse god aanbid het. Jehovah het belowe dat hy die Israeliete sou seën as hulle hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam. Maar hy het hulle gewaarsku dat hulle verdelg sou word as hulle versuim om hom “uitsluitlike toegewydheid” te gee.—Deuteronomium 5:6-10; 28:15, 63.
4. Wat het Jesus en sy apostels voorspel sou onder Christene gebeur, en hoe is dit vervul?
4 ’n Soortgelyke situasie bestaan vandag in die Christendom. Kerklidmate beweer dat hulle Christene is, maar hulle feesdae, gedrag en opvattings bots met Bybelleringe. Soos Isebel, neem die Christendom se geestelikes die voortou in die vervolging van Jehovah se Getuies. Die Christendom se geestelikes het ook ’n lang geskiedenis van ondersteuning van oorloë en is dus verantwoordelik vir die dood van tallose miljoene kerklidmate. Volgens die Bybel is hierdie ondersteuning wat godsdiens aan wêreldregerings gee, geestelike hoerery (Openbaring 18:2, 3). Daarbenewens raak die Christendom al hoe verdraagsamer teenoor letterlike hoerery, selfs onder sy geestelikes. Jesus Christus en sy apostels het hierdie groot afvalligheid voorspel (Matteus 13:36-43; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1, 2). Wat sal die uiteinde wees vir die meer as eenmiljard aanhangers van die Christendom? En watter verantwoordelikheid het ware aanbidders van Jehovah teenoor hierdie mense en ander wat deur valse godsdiens mislei is? Ons kry ’n duidelike antwoord op hierdie vrae deur die dramatiese gebeure te ondersoek wat tot die ‘verdelging van Baäl uit Israel’ gelei het.—2 Konings 10:28.
God se liefde vir sy eiesinnige volk
5. Hoe het Jehovah liefdevolle besorgdheid oor sy eiesinnige volk getoon?
5 Jehovah God skep geen behae daarin om diegene te straf wat ontrou aan hom word nie. As ’n liefdevolle Vader wil hy hê dat die goddeloses hulle bekeer en tot hom terugkeer (Esegiël 18:32; 2 Petrus 3:9). Ons sien bewys hiervan in die feit dat Jehovah in die dae van Agab en Isebel baie profete gebruik het om Sy volk oor die gevolge van Baälaanbidding te waarsku. Elia was een van hierdie profete. Ná ’n ernstige droogte, wat vooraf aangekondig is, het Elia vir koning Agab gesê om die Israeliete en Baälprofete op die berg Karmel te laat bymekaarkom.—1 Konings 18:1, 19.
6, 7. (a) Hoe het Elia die grondoorsaak van Israel se afvalligheid geïdentifiseer? (b) Wat het die Baälprofete gedoen? (c) Wat het Elia gedoen?
6 Die byeenkoms het plaasgevind op die plek waar ’n altaar van Jehovah “afgebreek was”, waarskynlik om Isebel te behaag (1 Konings 18:30). Ongelukkig was die Israeliete wat daar teenwoordig was, nie seker wie in die beste posisie was om die broodnodige reën te bring nie—Jehovah of Baäl. Baäl is deur 450 profete verteenwoordig, terwyl Elia die enigste profeet was wat Jehovah verteenwoordig het. Elia het die grondoorsaak van die probleem geïdentifiseer en die volk gevra: “Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink?” Toe het hy die geskil in selfs eenvoudiger woorde voor hulle gestel: “As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom.” Om die besluitelose Israeliete te beweeg om uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee, het Elia ’n toets van Godheid voorgestel. Twee bulle moes as ’n offerande geslag word, een vir Jehovah en die ander vir Baäl. Die ware God sou sy offerande met vuur verteer. Die Baälprofete het hulle offerande gereedgemaak, en toe het hulle ure lank aanhoudend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Toe Elia die spot met hulle begin dryf, het hulle hulle gesny totdat bloed gevloei het, en hulle het so hard geroep as wat hulle kon. Maar daar was geen antwoord nie.—1 Konings 18:21, 26-29.
7 Toe was dit Elia se beurt. Hy het eers die altaar van Jehovah herstel en die stukke van die jong bul daarop gesit. Daarna het hy beveel dat vier groot kruike water op die offerande uitgegooi word. Dit is drie keer gedoen totdat die sloot om die altaar vol water was. Toe het Elia gebid: “O Jehovah, die God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat u God in Israel is en dat ek u kneg is en dat ek deur u woord al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, o Jehovah, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat u, Jehovah, die ware God is en dat u hulle hart laat terugkeer het.”—1 Konings 18:30-37.
8. Hoe het God op Elia se gebed gereageer, en wat het die profeet gedoen?
8 Die ware God het gereageer deur die offerande sowel as die altaar met vuur uit die hemel te verteer. Daardie vuur het selfs die water in die sloot om die altaar verteer! Stel jou die uitwerking op die Israeliete voor. “Hulle [het] onmiddellik op hulle gesig geval en gesê: ‘Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!’ ” Elia het weer eens daadwerklik opgetree en die Israeliete beveel: “Gryp die profete van Baäl! Moenie één van hulle laat ontsnap nie!” Al 450 Baälprofete is toe aan die voet van die berg Karmel tereggestel.—1 Konings 18:38-40.
9. Hoe is ware aanbidders verder getoets?
9 Op daardie selfde onvergeetlike dag het Jehovah vir die eerste keer in drie en ’n half jaar reën op die land laat val! (Jakobus 5:17, 18). Jy kan jou voorstel hoe die Israeliete op pad huis toe onder mekaar gepraat het; Jehovah het sy Godheid geregverdig. Maar die Baälaanbidders het nie tou opgegooi nie. Isebel het haar veldtog voortgesit om Jehovah se knegte te vervolg (1 Konings 19:1, 2; 21:11-16). Die onkreukbaarheid van God se volk is dus weer getoets. Sou hulle uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gee wanneer sy oordeelsdag teen Baälaanbidders aanbreek?
Tree nou daadwerklik op
10. (a) Wat het gesalfde Christene in hedendaagse tye gedoen? (b) Wat beteken dit om die bevel in Openbaring 18:4 te gehoorsaam?
10 Gesalfde Christene het in hedendaagse tye ’n werk soos dié van Elia gedoen. Hulle het mense van al die nasies binne en buite die Christendom mondelings en deur gedrukte lektuur gewaarsku oor die gevaar van valse godsdiens. Gevolglik het miljoene daadwerklik opgetree om hulle lidmaatskap van valse godsdiens te beëindig. Hulle het hulle lewe aan Jehovah toegewy en gedoopte dissipels van Jesus Christus geword. Ja, hulle het ag geslaan op God se dringende versoek in verband met valse godsdiens: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie.”—Openbaring 18:4.
11. Wat is nodig om Jehovah se goedkeuring te hê?
11 Miljoene ander word aangetrek deur die Bybelboodskap wat Jehovah se Getuies versprei, maar hulle is nog onseker oor wat hulle moet doen. Party van hulle kom af en toe na Christelike vergaderinge, soos die viering van die Here se Aandmaal of sessies van ’n streekbyeenkoms. Ons spoor al hierdie mense aan om noukeurig na te dink oor Elia se woorde: “Hoe lank sal julle op die draad sit?” (1 Konings 18:21, The New English Bible). Hulle moenie talm nie, maar moet eerder nou daadwerklik optree en ywerig daarna streef om toegewyde, gedoopte aanbidders van Jehovah te word. Hulle vooruitsigte op ewige lewe is op die spel!—2 Tessalonisense 1:6-9.
12. In watter gevaarlike toestand het party gedoopte Christene verval, en wat moet hulle doen?
12 Ongelukkig het party gedoopte Christene ongereeld of onbedrywig in hulle aanbidding geword (Hebreërs 10:23-25; 13:15, 16). Party het hulle ywer verloor as gevolg van vrees vir vervolging, die sorge om ’n bestaan te voer, pogings om ryk te word of die najaging van selfsugtige genot. Jesus het gewaarsku dat hierdie dinge party van sy volgelinge sou laat struikel, laat verstik en hulle sou verstrik (Matteus 10:28-33; 13:20-22; Lukas 12:22-31; 21:34-36). Sulke persone moenie as ’t ware ‘op twee gedagtes hink’ nie, maar moet eerder ‘ywerig wees en berou toon’ deur daadwerklik op te tree om hulle toewyding aan God na te leef.—Openbaring 3:15-19.
Valse godsdiens se skielike einde
13. Beskryf die situasie in Israel toe Jehu as koning gesalf is.
13 Die rede waarom dit nóú dringend is dat mense daadwerklik optree, kan gesien word in wat in Israel gebeur het omtrent 18 jaar nadat die geskil oor Godheid op die berg Karmel beslis is. Jehovah se oordeelsdag teen Baälaanbidding het skielik en onverwags gedurende die bediening van Elia se opvolger, Elisa, gekom. Koning Agab se seun Joram het in Israel regeer, en Isebel het nog as die koningin-moeder gelewe. Elisa het stilletjies sy dienaar gestuur om Israel se leërhoof, Jehu, as die nuwe koning te salf. Op daardie tydstip was Jehu aan die oostekant van die Jordaan by Ramot-Gilead, waar hy die leër in ’n oorlog teen Israel se vyande aangevoer het. Koning Joram was by Jisreël, in die valleivlakte naby Megiddo, waar hy besig was om van ’n oorlogswond te herstel.—2 Konings 8:29–9:4.
14, 15. Watter opdrag het Jehu ontvang, en hoe het hy gereageer?
14 Jehovah het Jehu soos volg beveel: “Jy moet die huis van jou heer Agab uitroei, en ek sal die bloed van my knegte, die profete, en die bloed van al die knegte van Jehovah op die hand van Isebel wreek. En die hele huis van Agab sal vergaan; . . . die honde sal Isebel opeet op die stuk land by Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie.”—2 Konings 9:7-10.
15 Jehu was ’n man van aksie. Hy het onmiddellik in sy strydwa geklim en na Jisreël gejaag. ’n Wag in Jisreël het Jehu se manier van ry herken en koning Joram gaan vertel, waarop Joram in sy strydwa geklim en sy leërhoof tegemoetgegaan het. Toe hulle ontmoet, het Joram gevra: “Is dit vrede, Jehu?” Jehu het geantwoord: “Hoe kan daar vrede wees solank die hoererye van jou moeder Isebel en haar baie towerye nog daar is?” Voordat koning Joram kon vlug, het Jehu sy boog gespan en Joram om die lewe gebring met ’n pyl wat sy hart deurboor het.—2 Konings 9:20-24.
16. (a) Voor watter situasie het Isebel se hofbeamptes skielik te staan gekom? (b) Hoe is Jehovah se woord oor Isebel vervul?
16 Jehu het sonder versuim in sy strydwa na die stad gejaag. Die swaar gegrimeerde Isebel het uit ’n venster afgekyk en Jehu met ’n uitdagende dreigement gegroet. Jehu het haar geïgnoreer en ondersteuning gesoek: “Wie is met my? Wie?” Isebel se dienaars moes nou daadwerklik optree. Twee of drie hofbeamptes het hulle kop by die venster uitgesteek. Hulle lojaliteit is onmiddellik op die proef gestel. “Gooi haar af!” het Jehu beveel. Die beamptes het Isebel in die straat afgegooi, waar sy deur Jehu se perde en strydwa vertrap is. So het die aanstigter van Baälaanbidding in Israel aan haar verdiende einde gekom. Voordat sy begrawe kon word, het die honde haar vlesige dele opgeëet, net soos voorspel is.—2 Konings 9:30-37.
17. God se oordeel oor Isebel moet ons geloof in watter toekomstige gebeurtenis versterk?
17 Die simboliese hoer met die naam “Babilon die Grote” sal aan net so ’n skokkende einde kom. Die hoer stel die valse godsdienste van Satan se wêreld voor, wat hulle oorsprong in die eertydse stad Babilon het. Ná valse godsdiens se einde sal Jehovah God sy aandag op alle mense vestig wat die sekulêre dele van Satan se wêreld uitmaak. Hulle sal ook vernietig word, wat die weg vir ’n regverdige nuwe wêreld sal baan.—Openbaring 17:3-6; 19:19-21; 21:1-4.
18. Wat het ná Isebel se dood met Baälaanbidders in Israel gebeur?
18 Ná Isebel se dood het koning Jehu geen tyd verspil om al Agab se nakomelinge en vername ondersteuners tereg te stel nie (2 Konings 10:11). Maar baie Israeliete wat Baälaanbidders was, het in die land oorgebly. In verband met hulle het Jehu daadwerklik opgetree om te toon dat hy “geen mededinging teen Jehovah duld nie” (2 Konings 10:16). Jehu het gemaak of hy self ’n Baälaanbidder is en het ’n groot fees gereël by die tempel van Baäl wat Agab in Samaria gebou het. Al die Baälaanbidders in Israel het na die fees toe gekom. Hulle was vasgekeer in die tempel en is almal deur Jehu se manne doodgemaak. Die Bybel sluit die verslag af met die woorde: “So het Jehu Baäl uit Israel verdelg.”—2 Konings 10:18-28.
19. Watter wonderlike vooruitsig het die “groot menigte” lojale aanbidders van Jehovah?
19 Baälaanbidding is uit Israel uitgewis. Net so seker sal hierdie wêreld se valse godsdiens tot ’n skielike, skokkende einde kom. Aan wie se kant sal jy gedurende daardie groot oordeelsdag wees? Tree nou daadwerklik op, en jy sal moontlik die voorreg hê om ingesluit te word by die “groot menigte” mense wat “die groot verdrukking” sal oorleef. Dan sal jy met vreugde kan terugkyk en God kan loof omdat hy oordeel voltrek het aan “die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het”. In eendrag met ander ware aanbidders sal jy die opwindende woorde beaam wat hemelse stemme sing: “Loof Jah, want Jehovah ons God, die Almagtige, het as koning begin heers.”—Openbaring 7:9, 10, 14; 19:1, 2, 6.
Vrae vir bepeinsing
• Hoe het eertydse Israel hulle aan Baälaanbidding skuldig gemaak?
• Watter groot afvalligheid het die Bybel voorspel, en hoe is dié profesie vervul?
• Hoe het Jehu Baälaanbidding uitgeroei?
• Wat moet ons doen om God se oordeelsdag te oorleef?
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Sogo
Afek
Helkat
Jokneam
Megiddo
Taänag
Dotan
SAMARIA
En-Dor
Sunem
Ofra
Jisreël
Jibleam (Gat-Rimmon)
Tirsa
Bet-Semes
Bet-Sean (Bet-San)
Jabes-Gilead?
Abel-Mehola
Huis van Arbel
Ramot-Gilead
Mountain Peaks
Berg Karmel
Berg Tabor
More
Berg Gilboa
[Watermassas]
Middellandse See
See van Galilea
[River]
Jordaanrivier
[Spring and well]
Put Harod
[Erkenning]
Based on maps copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel
[Prente op bladsy 26]
Gereelde deelname aan die Koninkrykspredikingswerk en bywoning van Christelike vergaderinge is noodsaaklike aspekte van ware aanbidding
[Prent op bladsy 28, 29]
Soos Jehu, moet almal wat Jehovah se dag wil oorlewe, daadwerklik optree