’n Skool waarvan die gegradueerdes mense wêreldwyd bevoordeel
IN MEER as 98 000 gemeentes van Jehovah se Getuies in oor die 200 lande word mense uit alle lewensterreine deur God geleer. Die vernaamste handboek is die Bybel, en die doel van hierdie onderrigting is om mense te help om geestelike vooruitgang te maak deur te leer wat God se wil is en hoe om daarvolgens te lewe. Diegene wat hierdie onderrigting aanvaar, word grootliks bevoordeel. Wat hulle leer, deel hulle ook aan ander mee, in ooreenstemming met Jesus Christus se opdrag om dissipels te maak.—Matteus 28:19, 20.
Benewens die voortdurende onderrigtingsprogram in hulle gemeentes, het Jehovah se Getuies ’n aantal gespesialiseerde skole gestig. Een daarvan is die Bedieningsopleidingskool. Dit is in Oktober 1987 in Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, begin. Die eerste klas het uit 24 Engelssprekende studente bestaan. Sedertdien is die kursus in 21 tale in 43 lande aangebied. Tot dusver is ongetroude ouer manne en bedieningsknegte uit meer as 90 lande in die skool opgelei. Ná die kursus van agt weke word gegradueerdes gestuur om te dien waar hulp nodig is, hetsy in hulle eie land of in ander lande. Teen die einde van 2005 het meer as 22 000 Christenbedienaars die kursus voltooi. Hulle nederige pogings om Koninkryksbelange te bevorder en ander te bevoordeel, is ryklik geseën.—Spreuke 10:22; 1 Petrus 5:5.
Reëlings om die skool by te woon
Die meeste studente moet verlof vra van hulle deeltydse of voltydse sekulêre werk om die Bedieningsopleidingskool te kan bywoon. Dit is partykeer ’n uitdaging. In Hawaii moes twee Christenmans wat genooi is om die skool by te woon, verlof vra van hulle werk as onderwysers. In geloof het hulle hulle aansoeke ingedien en verduidelik waarom hulle die skool wou bywoon en hoe hulle daarby sou baat vind. Albei het verlof gekry.
In ’n aantal gevalle is daar vir Getuies wat verlof gevra het, gesê dat hulle nie ’n werk sal hê wanneer hulle terugkom nie. Hulle het verkies om deur Jehovah se organisasie opgelei te word, al het dit beteken dat hulle hulle werk sou verloor. Party van hierdie persone is later deur hulle werkgewers gevra om na hulle werk toe terug te kom nadat hulle die skool voltooi het. Hierdie vasbeslotenheid om die skool by te woon, kan só opgesom word: Dien jou aansoek in, bid vir Jehovah se hulp en laat die res aan hom oor.—Psalm 37:5.
“Deur Jehovah geleer”
Die skool se kursus van agt weke sluit ’n deeglike studie van die Bybel in. Studente leer hoe Jehovah se volk georganiseer is om God se wil te doen en hoe hulle die Bybel op bekwamer wyse kan gebruik in hulle veldbediening, by gemeentelike vergaderinge en by byeenkomste.
Een waarderende gegradueerde het die volgende aan ’n student geskryf wat nog nie die skool bygewoon het nie: “Glo my, die beste en leersaamste ondervinding wat jy ooit sal hê, wag op jou. Die teks wat sê dat ’n mens ‘deur Jehovah geleer word’, neem regtig meer betekenis aan. Die hele ondervinding vorm en louter die hart en persoonlikheid sodat dit in groter mate ooreenstem met die voorbeeld van Christus Jesus. Dit sal die wonderlikste ondervinding van jou lewe wees.”—Jesaja 54:13.
Evangeliedienaars, herders en onderrigters
Broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, dien tans in 117 lande. Dit sluit eilande in die Atlantiese Oseaan, Karibiese See en Stille Oseaan in, sowel as die meeste lande waar daar takkantore van Jehovah se Getuies is. Takke berig dat die goeie opleiding wat die studente ontvang het, gesien kan word in hulle bedrywighede as evangeliedienaars, herders en onderrigters. Hulle opleiding rus hulle toe om die Bybel beter te gebruik in die veldbediening (2 Timoteus 2:15). Wanneer hulle huisbewoners se vrae beantwoord, maak hulle ook dikwels gebruik van die boek Redenering uit die Skrifa, en hulle lei ander Koninkryksverkondigers op om dieselfde te doen. Die ywer van die gegradueerdes is aansteeklik, en hulle werk versterk gemeentes.
Gemeentelike ouer manne het die voorreg om “as herders toesig [te hou] oor die kudde” en te help om na die geestelike behoeftes van ander om te sien (1 Petrus 5:2, 3). Een ouer man het van die reëling gesê: “Ons waardeer die feit dat die takkantoor goed opgeleide broers uitstuur om ons te help met die werk om as herders oor die kudde van God toesig te hou.” ’n Tak in die Verre-Ooste het ook opgemerk: “Die gegradueerdes is baie medelydend. Hulle werk hard en verwerf die respek van die gemeente. Hulle nederigheid, hartlikheid en gretigheid is welbekend en word grootliks waardeer. Hulle gee gewillig van hulleself en gaan met graagte na gemeentes wat herders nodig het” (Filippense 2:4). Sulke manne verkwik hulle medegelowiges en verdien lof.—1 Korintiërs 16:18.
Instrukteurs by die Bedieningsopleidingskool help studente om onder andere hulle vaardigheid as openbare sprekers te verbeter. Deur die wenke en raad wat hulle ontvang, toe te pas, kan baie van die gegradueerdes kort voor lank op kring- en streekbyeenkomsprogramme gebruik word. Een kringopsiener het opgemerk dat die gegradueerdes “uitstekende toesprake [hou] en die materiaal toepas deur van goeie redenering gebruik te maak”.—1 Timoteus 4:13.
Die gehalte van onderrigting by gemeentelike vergaderinge het baie verbeter in ’n Afrikaland nadat die Bedieningsopleidingskool daar gehou is en gegradueerdes in die veld uitgestuur is. Ouer manne wat van die skool af uitgestuur is, help met die evangelisasie-, herders- en onderrigtingswerk, waardeur die gemeentes geestelik opgebou word.—Efesiërs 4:8, 11, 12.
Beter toesig oor die gemeentes
In baie plekke is meer ouer manne en bedieningsknegte nodig. Party gemeentes sou hoegenaamd geen ouer manne gehad het as ’n gegradueerde van die Bedieningsopleidingskool nie na hulle toe gestuur is nie. Baie gegradueerdes word dus gestuur om te dien waar daar sulke behoeftes is.
’n Aantal takke berig dat hierdie manne “organisatoriese reëlings goed ken”, “hulle verantwoordelikhede ernstig opneem”, “ander help om Jehovah se organisasie te waardeer en te respekteer” en “tot die hartlikheid en geestelikheid van hulle gemeentes bydra”. Dit is omdat dié wat aan die skool gegradueer het, volg wat in God se Woord opgeteken staan en nie op hulle eie begrip steun of in hulle eie oë wys word nie (Spreuke 3:5-7). Sulke manne word geestelike seëninge in die gemeentes waarheen hulle gestuur word.
Diens in afgesonderde gebiede
Party gegradueerdes wat as spesiale pioniers aangestel word, help afgesonderde groepe om gemeentes te word. ’n Ouer man in ’n afgeleë gebied van Guatemala het waardering uitgespreek vir hulle hulp en gesê: “Ek was 20 jaar lank bekommerd oor hoe hierdie enorme gebied gedek gaan word. Ek het dikwels oor die saak gebid. Die broers van die Bedieningsopleidingskool is goed opgelei in die spreekkuns sowel as in organisatoriese sake, en ek is dankbaar om te sien dat die gebied nou liefdevolle aandag kry.”
Gegradueerdes het geleer hoe om doeltreffende werk te doen in gebiede waar hulle groot afstande in bergagtige gebied moet aflê om verspreide gehuggies te bereik. Daar vestig en organiseer hulle binne ’n kort tydjie afgesonderde groepe, selfs waar ander dit nie kon regkry nie. ’n Ouer man in Niger het byvoorbeeld die hulp van gegradueerdes gevra omdat hy gevoel het dat hulle uitstekende werk sou kon doen in die gebied waar hy woon. Veral in afgeleë gebiede is dit dalk vir ongetroude mans makliker om as spesiale pioniers en kringopsieners te dien. Soos die apostel Paulus kry hulle te doen met ‘gevare van riviere en struikrowers, gevare in die wildernis’ en persoonlike ongerief sowel as besorgdheid oor die gemeentes wat hulle bedien.—2 Korintiërs 11:26-28.
Voordele vir jongmense
Die Skrif spoor jongmense aan om aan hulle Skepper te dink (Prediker 12:1). Ywerige broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, is uitstekende voorbeelde vir Christenjongmense. Nadat twee gegradueerdes in een gemeente in die Verenigde State aangekom het, het die totale hoeveelheid tyd wat die broers in die bediening deurgebring het, verdubbel. Daarbenewens het die aantal gewone pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers, van 2 tot 11 toegeneem. Dit is tipies van wat in baie gemeentes gebeur het.
Gegradueerdes spoor ook jonger manne aan om dit te oorweeg om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Dit het party wat nog nie as bedieningsknegte dien nie, aangespoor om daardie voorreg na te streef. Die tak in Nederland noem broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, “lewende voorbeelde vir jonger manne wat probeer besluit wat om met hulle lewe te doen”.
Diens in anderstalige gemeentes
In baie lande word pogings verskerp om mense in hulle moedertaal van die goeie nuus te vertel. Broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, leer dikwels ander tale en dien in gebiede waar daar groot immigrantebevolkings is. In België is daar byvoorbeeld meer Koninkryksverkondigers in die Albanese, Persiese en Russiese veld nodig.
Anderstalige gemeentes en groepe in Brittanje, Duitsland, Italië, Mexiko, die Verenigde State en ander lande word reeds grootliks bevoordeel deur reisende opsieners, ouer manne en bedieningsknegte wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het. Die tak in Korea berig dat “meer as 200 gegradueerdes ’n vername rol speel om anderstalige gemeentes en groepe te help”.
Nederige diens in ander hoedanighede
Buiten dat hulle saam met anderstalige groepe en gemeentes dien, kan dié wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, as ouer manne, bedieningsknegte en reisende opsieners dien. Party aanvaar toewysings in ander lande en voorsien moontlik in ’n dringende behoefte in die Diensafdeling by ’n takkantoor. Diegene wat bouvaardighede geleer het, kan aan die Koninkryksaalbouprogram deelneem.
Die wêreldwye toename in die aantal gemeentes en kringe beteken dat meer reisende opsieners voortdurend nodig is. Om in hierdie behoefte te help voorsien, ontvang gekose broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, tien weke van opleiding in die reisende werk en dien dan as ’n waarnemende of permanente kringopsiener. Omtrent 1 300 gegradueerdes dien tans in 97 lande as reisende opsieners. In een Afrikaland het 55 persent van die reisende opsieners aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer. In ’n ander Afrikaland is die syfer 70 persent.
In Australië, Europa, Kanada, die Verenigde State en die Verre-Ooste is honderde broers wat aan die skool gegradueer het, uitgestuur om in spesifieke behoeftes in ander lande te voorsien. Op hierdie manier het die voordele van die skool wêreldwyd versprei.
Deur sy Seun, Jesus Christus, het Jehovah evangeliedienaars, herders, onderrigters en ander geroep wat Koninkryksbelange in hierdie laaste dae bevorder. Is daar vooruitsigte vir verdere toename onder God se volk? Beslis! Daar is dus ’n steeds toenemende behoefte aan toegewyde manne om groter verantwoordelikhede na te streef (Jesaja 60:22; 1 Timoteus 3:1, 13). Die Bedieningsopleidingskool gee ouer manne en bedieningsknegte ’n geleentheid om toegerus te word sodat hulle hulle bediening kan uitbrei, waardeur hulle sowel as ander in die wêreldwye veld grootliks bevoordeel word.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prente op bladsy 10]
Die Bedieningsopleidingskool bevorder Koninkryksbelange wêreldwyd
[Prente op bladsy 13]
Hoop jy om jou aan die Bedieningsopleidingskool in te skryf en ander te bevoordeel?