Die Bedieningsopleidingskool—’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei
1 Jehovah het deur die profeet Jeremia voorspel: “Ek sal herders oor [my volk] verwek wat hulle sal lei; en hulle sal nie meer bang wees nie, en ook sal hulle geensins met verskrikking vervul word nie, en nie een sal vermis word nie” (Jer. 23:4). Sulke herderswerk word vandag onder mense van alle nasies uitgevoer. Dit word gedoen deur tienduisende gemeentelike ouer manne. Daarbenewens het ’n geselskap van jong manne so talryk soos doudruppels hulle gewillig aangebied in Jehovah se diens (Ps. 110:3). Wat ’n seëning is hierdie nederige broers tog vir die gemeentes van God se volk! Terwyl die geestelike insamelingswerk voortgaan, is daar nog steeds ’n behoefte aan gekwalifiseerde manne om hulle beskikbaar te stel om hulle broers te dien.
2 Die Bedieningsopleidingskool is ’n uitstekende voorsiening om ongetroude ouer manne en bedieningsknegte vir groter verantwoordelikhede op te lei. Meer as 22 000 studente uit sowat 140 lande het al hierdie opleiding ontvang in die 999 klasse wat gehou is vandat die skool in 1987 gestig is. Vir hierdie broers was die skool “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”.—1 Kor. 16:9.
3 Doel van die skool: Die oogmerk van die Bedieningsopleidingskool is om gekwalifiseerde manne op te lei en toe te rus om na verantwoordelikhede om te sien waar daar ook al hulp nodig is in die organisasie. Die skool verbeter hulle vermoë om in die evangelisasiewerk die leiding te neem, as herders oor die kudde toesig te hou en in die gemeente te onderrig. Nadat hulle gegradueer het, word party studente in hulle eie land of in ander lande as spesiale pioniers of reisende opsieners aangestel. Ander ontvang toewysings om in hulle tuisgemeente te dien of in gebiede onder die toesig van die takkantoor waar meer hulp nodig is.
4 Gedurende die kursus van agt weke maak die studente ’n intensiewe studie van die Bybel. ’n Groot verskeidenheid Bybelleringe sowel as die verantwoordelikhede van herders en riglyne oor hoe om probleme in verband met die Christelike lewenswyse te hanteer, word noukeurig ondersoek. Hulle leer ook wat die Skrif oor administratiewe, regterlike en organisatoriese sake sê. Hulle ontvang gespesialiseerde opleiding in die openbare spreekkuns en word persoonlike hulp gegee om hulle geestelike ontwikkeling te bespoedig.
5 Vereistes: Dit is te verstane dat die vereistes om die skool by te woon, hoog is. Diegene wat aansoek doen, moet al ten minste twee jaar lank ononderbroke as ’n ouer man of bedieningskneg dien. Almal moet ongetroud en tussen die ouderdomme van 23 en 50 wees. Diegene wat aansoek doen, moet Engels kan lees, skryf en praat, aangesien die skool in Zambië in Engels gehou word. Hulle moet goeie gesondheid geniet en geen spesiale sorg of dieet nodig hê nie. Voorkeur word aan gewone pioniers gegee.
6 Diegene wat hulle hiervoor aanbied, moet bereid en in staat wees om te dien waar hulle ook al nodig is. Dit verg ’n gees soos dié van die profeet Jesaja, wat hom gretig aangebied het om ’n spesiale werk te verrig en gesê het: “Hier is ek! Stuur my” (Jes. 6:8). Hy het ook sy hele lewe lank nederigheid aan die dag gelê. Diegene wat hulle vir die Bedieningsopleidingskool beskikbaar stel, moet beweeg word deur liefde vir hulle broers en ’n begeerte om hulle te dien, nie deur ’n begeerte na vernaamheid of spesiale status nie. Nadat hulle hierdie goeie opleiding ontvang het, word daar van gegradueerdes verwag om wat hulle geleer het, tot voordeel van ander toe te pas.—Luk. 12:48.
7 Voordele: Gedurende die agt weke van intense opleiding word gegradueerdes “gevoed . . . met die woorde van die geloof en van die goeie leer” (1 Tim. 4:6). Dit rus hulle toe om ander in hulle toegewese gemeente en kring te help en aan te moedig. Op baie plekke waarheen gegradueerdes van die Bedieningsopleidingskool gestuur is, het velddiens toegeneem; is pionierdiens aangemoedig, veral onder jongmense; en is meer persoonlike aandag gegee aan al die nuwelinge wat met God se volk assosieer.
8 Is jy ’n ongetroude ouer man of bedieningskneg tussen die ouderdomme van 23 en 50? Oorweeg dit gerus om aansoek te doen om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Is jy ’n jong broer wat dink aan jou langtermyndoelwitte in Jehovah se diens? Hou dan jou lewe eenvoudig en vry van afleidings sodat jy deur hierdie “groot deur wat tot bedrywigheid lei”, kan gaan. Dit kan vir jou groot vreugde en bevrediging bring. Die Bedieningsopleidingskool is nie net vir die gegradueerdes ’n seën nie, maar beslis ook vir die gemeentes van God se volk oor die hele wêreld.
[Venster op bladsy 3]
Hoe hulle by die opleiding baat gevind het
“Die opleiding het my bediening werklik verryk en my gehelp om herderswerk met groter wysheid met behulp van die Skrif te doen.”
“Die skool het my baie meer selfvertroue gegee om na my verantwoordelikhede in die gemeente om te sien.”
“Dit het amper elke aspek van my lewe verander, onder andere my beskouing van teokrasie en God se organisasie.”
“Die opleiding wat ek ontvang het, het my help besef hoe nodig dit is dat ek my beskikbaar stel om te dien waar dit ook al nodig is.”