“Let voortdurend op die bediening wat jy in die Here aanvaar het”
“Let voortdurend op die bediening wat jy in die Here aanvaar het, dat jy dit vervul.”—KOL. 4:17.
1, 2. Watter verantwoordelikheid het Christene teenoor die mensdom?
ONS het ’n ernstige verantwoordelikheid teenoor die mense om ons. Die besluite wat hulle nou neem, sal gedurende “die groot verdrukking” die lewe of die dood beteken (Op. 7:14). Die geïnspireerde skrywer van die boek Spreuke het gesê: “Verlos dié wat weggeneem word na die dood; en dié wat na die slagting wankel, hou hulle tog terug.” Inderdaad treffende woorde! Versuim om die verantwoordelikheid te aanvaar om mense te waarsku van die keuse wat hulle het, kan ons bloedskuldig maak. Trouens, dieselfde gedeelte sê verder: “As jy sê: ‘Kyk! Ons het dit nie geweet nie’—sal hy wat die harte toets, dit dan nie bemerk, en hy wat let op jou siel, dit dan nie weet en die mens beslis volgens sy optrede vergeld nie?” Dit is duidelik dat Jehovah se knegte nie kan sê dat hulle ‘nie weet’ van die gevaar waarin mense verkeer nie.—Spr. 24:11, 12.
2 Lewe is kosbaar vir Jehovah. Hy spoor sy knegte aan om alles in hulle vermoë te doen om soveel lewens as moontlik te help red. Elke bedienaar van God moet die lewensreddende boodskap in God se Woord bekend maak. Ons taak is soortgelyk aan dié van ’n wag wat ’n waarskuwing gee wanneer hy ’n naderende gevaar sien. Ons wil nie hê dat die bloed van dié wat gevaar loop om te vergaan, op ons hoof moet wees nie (Eseg. 33:1-7). Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat ons volhard in ons pogings om ‘die woord te verkondig’!—Lees 2 Timoteus 4:1, 2, 5.
3. Watter onderwerpe sal hierdie en die volgende twee artikels bespreek?
3 Hierdie artikel sal bespreek hoe jy struikelblokke in jou lewensreddende bediening kan oorkom en hoe jy moontlik baie meer mense kan help. Die volgende artikel sal ondersoek hoe jy die kuns kan aanleer om lewensbelangrike waarhede aan ander te leer. Die derde studieartikel sal party van die bemoedigende resultate meld wat wêreldwyd deur Koninkryksverkondigers behaal word. Maar voordat ons hierdie onderwerpe bespreek, sal dit goed wees om te hersien presies waarom ons tye so kritiek is.
Waarom baie sonder hoop is
4, 5. Wat ondervind die mensdom, en hoe reageer baie mense?
4 Wêreldgebeure dui aan dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe en dat die einde baie naby is. Die mensdom ondervind die gebeure en toestande wat Jesus en sy dissipels gesê het “die laaste dae” sou kenmerk. “Weë van benoudheid”, insluitende oorloë, voedseltekorte, aardbewings en ander rampspoede, teister die mensdom. Wettelose, selfsugtige en goddelose gesindhede is baie algemeen. Selfs vir mense wat volgens Bybelstandaarde probeer lewe, is dit ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’.—Matt. 24:3, 6-8, 12; 2 Tim. 3:1-5.
5 Die oorgrote meerderheid van die mensdom is egter onbewus van die ware betekenis van wêreldgebeure. Gevolglik is baie angstig oor hulle eie veiligheid en dié van hulle gesin. Die dood van geliefdes of ander persoonlike tragedies laat baie wanhopig voel. Sonder juiste kennis van waarom sulke dinge gebeur en wat die oplossing is, is hierdie mense sonder hoop.—Ef. 2:12.
6. Waarom was “Babilon die Grote” nie in staat om haar volgelinge te help nie?
6 “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, het die mensdom min vertroosting gebied. Trouens, deur middel van “die wyn van haar hoerery” het sy menigtes in geestelike verwarring laat rondsteier. Daarbenewens het valse godsdiens, deur soos ’n hoer op te tree, “die konings van die aarde” verlei en beheer, en sy het die mensemassa deur middel van valse leerstellings en spiritistiese gebruike in gedweë onderdanigheid aan hulle politieke meesters gehou. Valse godsdiens het sodoende mag en invloed verkry, maar terselfdertyd het sy godsdienswaarheid heeltemal verwerp.—Op. 17:1, 2, 5; 18:23.
7. Watter vooruitsig het die grootste deel van die mensdom, maar hoe kan party moontlik gehelp word?
7 Jesus het geleer dat die grootste deel van die mensdom op die breë pad is wat na vernietiging lei (Matt. 7:13, 14). Party mense is op daardie breë pad omdat hulle ’n doelbewuste keuse gemaak het om te verwerp wat die Bybel leer, maar baie ander is daar omdat hulle mislei is, of in die duister gehou is, oor wat Jehovah werklik van hulle vereis. Dalk sal party hulle lewenswyse verander as hulle grondige skriftuurlike redes gegee word om dit te doen. Maar diegene wat in Babilon die Grote bly en aanhou om Bybelstandaarde te verwerp, sal nie deur “die groot verdrukking” heen bewaar word nie.—Op. 7:14.
Hou aan om “sonder ophou” te preek
8, 9. Hoe het eerste-eeuse Christene gereageer toe hulle teenstand ondervind het, en waarom?
8 Jesus het gesê dat sy dissipels die goeie nuus van die Koninkryk sou verkondig en dissipels sou maak (Matt. 28:19, 20). Ware Christene het deelname aan die predikingswerk dus nog altyd as ’n saak van lojaliteit teenoor God en as ’n basiese vereiste van hulle geloof beskou. Gevolglik het Jesus se vroeë volgelinge selfs tydens teenstand volhard. Hulle het op Jehovah vertrou vir krag en gebid dat hy hulle in staat sou stel om sy “woord met alle vrymoedigheid te bly spreek”. In reaksie hierop het Jehovah hulle met heilige gees vervul, en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.—Hand. 4:18, 29, 31.
9 Het Jesus se volgelinge gewankel in hulle vasbeslotenheid om die goeie nuus te verkondig toe die teenstand gewelddadig geword het? Glad nie. Die Joodse godsdiensleiers, wat geïrriteerd was deur die apostels se predikingswerk, het die apostels in hegtenis geneem, hulle gedreig en hulle geslaan. Nogtans het die apostels “sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak”. Hulle het duidelik verstaan dat hulle “eerder aan God as heerser gehoorsaam [moet] wees as aan mense”.—Hand. 5:28, 29, 40-42.
10. Voor watter uitdagings kom Christene vandag te staan, maar wat kan hulle goeie gedrag tot gevolg hê?
10 Die meeste van God se hedendaagse knegte is nog nooit geslaan of in die tronk gegooi weens hulle predikingsbedrywighede nie. Maar alle ware Christene kom voor toetse of beproewinge van die een of ander aard te staan. Jou Bybelopgeleide gewete kan jou byvoorbeeld beweeg om ’n weg te volg wat ongewild is of wat jou opvallend anders maak. Kollegas, skoolmaats of bure dink miskien dat jy eienaardig is omdat jy jou besluite op Bybelbeginsels grond. Nietemin moet hulle negatiewe reaksie jou nie afskrik nie. Die wêreld verkeer in geestelike duisternis, maar Christene moet “as ligte . . . skyn” (Fil. 2:15). Sommige opregte mense sal dalk jou goeie werke sien en waardeer en as gevolg daarvan heerlikheid gee aan Jehovah.—Lees Matteus 5:16.
11. (a) Hoe sal sommige miskien op die predikingswerk reageer? (b) Met watter soort teenstand het die apostel Paulus te kampe gehad, en hoe het hy daarop gereageer?
11 Moed is nodig as ons wil aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig. Sommige mense, selfs familielede, sal jou miskien spot of jou op ’n ander manier probeer ontmoedig (Matt. 10:36). Die apostel Paulus is meer as een keer geslaan omdat hy sy bediening getrou uitgevoer het. Let op hoe hy op sulke teenstand gereageer het: “Nadat ons . . . eers gely het en minagtend behandel is”, het hy geskryf, “[het ons] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek” (1 Tess. 2:2). Dit was ongetwyfeld moeilik vir Paulus om aan te hou om die goeie nuus te spreek nadat hy gegryp, sy klere van hom afgeskeur, hy met stokke geslaan en in die tronk gegooi is (Hand. 16:19-24). Wat het hom die moed gegee om voort te gaan? Sy oorheersende begeerte om sy godgegewe predikingsopdrag uit te voer.—1 Kor. 9:16.
12, 13. Met watter uitdagings het party te kampe, en hoe het hulle dit te bowe probeer kom?
12 Dit kan ook ’n uitdaging wees om ywerig te bly in gebiede waar mense selde tuis is of waar daar min reaksie op die Koninkryksboodskap is. Wat kan ons in sulke omstandighede doen? Ons sal dalk meer as die gewone vrymoedigheid moet bymekaarskraap om vir mense in informele omstandighede te getuig. Ons sal moontlik ook ons rooster moet aanpas of ons daarop moet toespits om in gebiede te getuig waar ons meer mense kan ontmoet.—Vergelyk Johannes 4:7-15; Handelinge 16:13; 17:17.
13 Ander probleme waarmee baie te kampe het, is bejaardheid en swak gesondheid, wat dalk beperk wat hulle redelikerwys in die predikingswerk kan doen. Moenie mismoedig wees as dit met jou die geval is nie. Jehovah is alte bewus van jou beperkings en waardeer wat jy kan doen. (Lees 2 Korintiërs 8:12.) Ongeag watter soort teëspoed jy ondervind—teenstand, onverskilligheid of swak gesondheid—doen alles wat jou omstandighede jou toelaat om te doen om die goeie nuus aan ander bekend te maak.—Spr. 3:27; vergelyk Markus 12:41-44.
‘Let voortdurend op jou bediening’
14. Watter voorbeeld het die apostel Paulus vir mede-Christene gestel, en watter raad het hy gegee?
14 Die apostel Paulus het sy bediening baie ernstig opgeneem, en hy het medegelowiges aangemoedig om dit ook te doen (Hand. 20:20, 21; 1 Kor. 11:1). Iemand wat Paulus uitgesonder het vir spesiale bemoediging was ’n eerste-eeuse Christen met die naam Argippus. In sy brief aan die Kolossense het Paulus geskryf: “Sê . . . vir Argippus: ‘Let voortdurend op die bediening wat jy in die Here aanvaar het, dat jy dit vervul’” (Kol. 4:17). Ons weet nie wie Argippus was of wat sy omstandighede was nie, maar hy het blykbaar ’n bediening aanvaar. As jy ’n toegewyde Christen is, het jy ook ’n bediening aanvaar. Let jy voortdurend op die bediening sodat jy dit kan vervul?
15. Wat behels Christelike toewyding, en watter vrae laat dit ontstaan?
15 Voor ons doop het ons in hartgrondige gebed ons lewe aan Jehovah toegewy. Dit het beteken dat ons vasbeslote was om sy wil te doen. Dit sal dus goed wees as ons ons nou afvra: ‘Is die uitvoering van God se wil werklik die belangrikste ding in my lewe?’ Ons het dalk verskeie verantwoordelikhede wat Jehovah verwag dat ons moet nakom—soos om vir ons gesin te sorg (1 Tim. 5:8). Maar hoe gebruik ons die res van ons tyd en energie? Wat is ons prioriteit in die lewe?—Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.
16, 17. Watter moontlikhede kan jong Christene of diegene met redelik min verantwoordelikhede oorweeg?
16 Is jy ’n jong toegewyde Christen wat jou vereiste skoolopleiding voltooi het of binnekort gaan voltooi? Jy het waarskynlik nog nie groot gesinsverantwoordelikhede nie. Wat beplan jy dus om met jou lewe te doen? Watter besluite sal jou in die beste posisie plaas om jou belofte na te kom om Jehovah se wil te doen? Baie het hulle sake so gereël dat hulle kan pionier, en hulle het gevolglik groot vreugde en bevrediging gesmaak.—Ps. 110:3; Pred. 12:1.
17 Miskien is jy ’n jong volwassene. Jy het ’n voltydse sekulêre werk, maar min verantwoordelikhede, behalwe om vir jouself te sorg. Jy geniet dit ongetwyfeld om aan gemeentelike bedrywighede deel te neem in die mate dat jou rooster dit toelaat. Kan jy dalk selfs groter vreugde smaak? Het jy dit al oorweeg om meer in die bediening te doen? (Ps. 34:8; Spr. 10:22). In party gebiede moet baie werk nog gedoen word om almal met die lewegewende boodskap van waarheid te bereik. Kan jy aanpassings in jou lewe maak, dalk om in ’n gebied te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?—Lees 1 Timoteus 6:6-8.
18. Watter aanpassings het ’n jong egpaar gemaak, en wat was die gevolge?
18 Beskou die voorbeeld van Kevin en Elena van die Verenigde State.a Soos die meeste jong pasgetroudes in hulle gebied, het hulle gevoel dat hulle ’n huis moet koop. Albei het voltyds gewerk en kon ’n gerieflike lewenstyl handhaaf. Maar weens hulle werkrooster en die takies wat hulle by die huis moes doen, het hulle min tyd vir velddiens gehad. Hulle het besef dat hulle amper al hulle tyd en energie aan hulle besittings wy. Maar toe hulle die eenvoudige lewenstyl van ’n gelukkige pionieregpaar sien, het Kevin en Elena besluit om hulle prioriteite te verander. Nadat hulle Jehovah se leiding in gebed gevra het, het hulle hulle huis verkoop en in ’n woonstel ingetrek. Elena het deeltyds begin werk en ’n pionier geword. Kevin is so aangemoedig deur die ondervindinge wat sy vrou gehad het, dat hy sy voltydse werk opgegee het en begin pionier het. ’n Ruk later het hulle na ’n Suid-Amerikaanse land verhuis om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. “Ons het nog altyd ’n gelukkige huwelik gehad”, sê Kevin, “maar toe ons geestelike doelwitte begin nastreef het, het ons selfs groter geluk gesmaak.”—Lees Matteus 6:19-22.
19, 20. Waarom is die verkondiging van die goeie nuus die belangrikste werk wat vandag gedoen word?
19 Die verkondiging van die goeie nuus is die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word (Op. 14:6, 7). Dit dra by tot die heiliging van Jehovah se naam (Matt. 6:9). Die Bybel se boodskap verbeter die lewe van die derduisende mense wat dit elke jaar aanneem, en dit kan tot hulle redding lei. Maar “hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” het die apostel Paulus gevra (Rom. 10:14, 15). Ja, hoe sal hulle hoor? Wees vasbeslote om alles in jou vermoë te doen om jou bediening te vervul.
20 Nog ’n manier waarop jy mense kan help om die belangrikheid van hierdie kritieke tye te verstaan, sowel as die gevolge van die besluite wat hulle neem, is deur jou onderrigvermoë te verbeter. Die volgende artikel sal bespreek hoe jy dit kan doen.
[Voetnoot]
a Die name is verander.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter verantwoordelikheid het Christene teenoor die mensdom?
• Hoe moet ons struikelblokke in ons predikingswerk die hoof bied?
• Hoe kan ons die bediening vervul wat ons aanvaar het?
[Prent op bladsy 5]
Moed is nodig om tydens teenstand te preek
[Prent op bladsy 7]
Wat kan jy doen as jy in gebiede preek waar mense selde tuis is?