Wandel in Jehovah se weë
“Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel.”—PS. 128:1.
1, 2. Waarom kan ons daarvan seker wees dat geluk binne ons bereik is?
GELUK—almal wil dit hê. Maar jy sal ongetwyfeld saamstem dat die begeerte na geluk en selfs die strewe daarna nie dieselfde is as om dit te smaak nie.
2 Tog is geluk binne ons bereik. “Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel”, sê Psalm 128:1. Ons kan gelukkig wees as ons God eerbiedig en in sy weë wandel deur sy wil te doen. Watter uitwerking kan dit op ons gedrag hê en op die eienskappe wat ons aan die dag lê?
Toon dat jy betroubaar is
3. Hoe hou betroubaarheid verband met ons toewyding aan God?
3 Diegene wat Jehovah vrees, is betroubaar, net soos hy. Jehovah het elke belofte vervul wat hy aan eertydse Israel gemaak het (1 Kon. 8:56). Ons toewyding aan God is die belangrikste belofte wat ons ooit kan maak, en gereelde gebed sal ons help om dit te hou. Ons kan bid soos die psalmis Dawid: “U, o God, het na my geloftes geluister. . . . Ek [sal] vir ewig u naam met melodieë besing, sodat ek dag na dag my geloftes kan betaal” (Ps. 61:5, 8; Pred. 5:4-6). Om God se vriende te wees, moet ons betroubaar wees.—Ps. 15:1, 4.
4. Hoe het Jefta en sy dogter die gelofte beskou wat hy aan Jehovah gedoen het?
4 In die dae van Israel se rigters het Jefta ’n gelofte gedoen dat hy, as Jehovah hom die oorwinning oor die Ammoniete gee, die eerste een wat hom tegemoetkom wanneer hy van die geveg terugkeer, as “’n brandoffer” sou bring. Dit was toe Jefta se dogter—sy enigste kind. Met geloof in Jehovah het Jefta sowel as sy ongetroude dogter sy gelofte nagekom. Hoewel daar in Israel groot waarde geheg is aan die huwelik en kinders, het Jefta se dogter gewillig ongetroud gebly en die voorreg geniet om heilige diens by Jehovah se heiligdom te verrig.—Rigt. 11:28-40.
5. In watter opsig was Hanna betroubaar?
5 Die godvrugtige vrou Hanna was betroubaar. Sy het saam met haar Levitiese man, Elkana, en sy ander vrou, Peninna, in die bergstreek van Efraim gewoon. Peninna het etlike kinders gebaar en die onvrugbare Hanna getart, veral wanneer die gesin na die tabernakel gegaan het. By een van hierdie geleenthede het Hanna ’n gelofte gedoen dat sy, as sy ’n seun baar, hom aan Jehovah sou gee. Sy het kort daarna swanger geraak en geboorte geskenk aan ’n seun wat Samuel genoem is. Nadat Samuel gespeen is, het Hanna hom in Silo vir God aangebied en hom “al die dae van sy lewe” aan Jehovah geleen (1 Sam. 1:11). So het sy haar gelofte nagekom, al het sy nie geweet dat sy met verloop van tyd nog kinders sou hê nie.—1 Sam. 2:20, 21.
6. Hoe het Tigikus getoon dat hy betroubaar is?
6 Die eerste-eeuse Christen Tigikus was ’n betroubare man en ’n “getroue dienaar” (Kol. 4:7). Tigikus het saam met die apostel Paulus van Griekeland af deur Masedonië tot in Klein-Asië gereis, en dalk verder tot by Jerusalem (Hand. 20:2-4). Hy was miskien “die broer” wat Titus help omsien het na die gawe vir behoeftige medegelowiges in Judea (2 Kor. 8:18, 19; 12:18). Toe Paulus die eerste keer ’n gevangene in Rome was, het hy die betroubare boodskapper Tigikus briewe na medegelowiges in Efese en Kolosse laat neem (Ef. 6:21, 22; Kol. 4:8, 9). Gedurende sy tweede gevangenskap in Rome het Paulus Tigikus na Efese gestuur (2 Tim. 4:12). As ons betroubaar is, sal ons ook seëninge in Jehovah se diens geniet.
7, 8. Waarom kan ons sê dat Dawid en Jonatan ware vriende was?
7 God verwag dat ons betroubare vriende moet wees (Spr. 17:17). Koning Saul se seun Jonatan het met Dawid vriende gemaak. Toe Jonatan hoor dat Dawid vir Goliat doodgemaak het, “het die siel van Jonatan aan die siel van Dawid verkleef geraak, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel” (1 Sam. 18:1, 3). Jonatan het Dawid selfs gewaarsku toe Saul hom wou doodmaak. Nadat Dawid gevlug het, het Jonatan ’n ontmoeting met hom gereël en ’n verbond met hom gesluit. Toe Jonatan met Saul oor Dawid gepraat het, het dit hom byna sy lewe gekos, maar die twee vriende het weer ontmoet en hulle vriendskapsband bevestig (1 Sam. 20:24-41). Tydens hulle laaste ontmoeting het Jonatan Dawid se hand “met betrekking tot God” versterk.—1 Sam. 23:16-18.
8 Jonatan het gesterf in die geveg teen die Filistyne (1 Sam. 31:6). Dawid het in ’n klaaglied gesing: “Ek is ontsteld oor jou, my broer Jonatan, jy was vir my baie lieflik. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue” (2 Sam. 1:26). Hierdie liefde was geneentheid tussen vriende en het geen seksuele ondertoon gehad nie. Dawid en Jonatan was ware vriende.
Wees altyd “nederig van verstand”
9. Hoe toon Rigters hoofstuk 9 dat nederigheid belangrik is?
9 Om God se vriende te wees, moet ons “nederig van verstand” wees (1 Pet. 3:8; Ps. 138:6). Rigters hoofstuk 9 toon hoe belangrik nederigheid is. Gideon se seun Jotam het gesê: “Eenkeer het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf.” Die olyfboom, die vyeboom en die wingerdstok is genoem. Hulle het verdienstelike persone voorgestel wat nie daarna gestreef het om oor hulle mede-Israeliete te regeer nie. Maar die doringstruik—wat net geskik is as brandhout—het die koningskap van die trotse Abimeleg voorgestel, ’n moordenaar wat gretig was om ander te oorheers. Hoewel hy “drie jaar lank die vors oor Israel gespeel” het, het hy ’n vroeë dood gesterf (Rigt. 9:8-15, 22, 50-54). Hoeveel beter is dit tog om “nederig van verstand” te wees!
10. Wat het jy geleer uit die feit dat Herodes versuim het om ‘die heerlikheid aan God te gee’?
10 In die eerste eeu G.J. het daar spanning ontstaan tussen die trotse koning Herodes Agrippa van Judea en die inwoners van Tirus en Sidon, wat graag vrede met hom wou maak. Toe Herodes by een geleentheid ’n openbare toespraak gehou het, het hulle uitgeroep: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” Herodes het nie hierdie vleiery verwerp nie, en Jehovah se engel het hom getref sodat hy ’n verskriklike dood gesterf het “omdat hy nie die heerlikheid aan God gegee het nie” (Hand. 12:20-23). Gestel ons is ’n redelik goeie spreker of onderrigter van Bybelwaarhede. Laat ons God dan die eer gee vir wat hy ons toelaat om te doen.—1 Kor. 4:6, 7; Jak. 4:6.
Wees moedig en sterk
11, 12. Hoe toon Henog se ondervinding dat Jehovah sy knegte moed en krag gee?
11 As ons nederig in Jehovah se weë wandel, sal hy ons moed en krag gee (Deut. 31:6-8, 23). Henog, die sewende man in die geslagslyn van Adam af, het moedig met God gewandel deur ’n regskape weg te midde van sy goddelose tydgenote te volg (Gen. 5:21-24). Jehovah het Henog versterk om ’n kragtige boodskap aan hulle oor te dra weens hulle goddelose woorde en dade. (Lees Judas 14, 15.) Het jy die nodige moed om God se oordele bekend te maak?
12 Jehovah het tydens die wêreldwye Vloed van Noag se dag oordeel voltrek aan die goddeloses. Henog se profesie is egter vir ons bemoedigend, want goddelose mense van ons dag sal binnekort deur God se heilige tienduisende vernietig word (Op. 16:14-16; 19:11-16). In antwoord op ons gebede gee Jehovah ons moed om sy boodskap te verkondig, hetsy dit handel oor sy oordele of oor seëninge onder Koninkryksheerskappy.
13. Waarom kan ons seker wees dat God ons die nodige moed en krag kan gee om ontmoedigende probleme die hoof te bied?
13 Ons het godgegewe moed en krag nodig om ontmoedigende probleme die hoof te bied. Toe Esau met twee Hetitiese vroue getrou het, was hulle “vir [sy ouers] Isak en Rebekka ’n bron van bitterheid van gees”. Rebekka het selfs bedroef gesê: “Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het. As [ons seun] Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het soos dié uit die dogters van die land, watter nut het die lewe dan vir my?” (Gen. 26:34, 35; 27:46). Isak het iets omtrent die saak gedoen en Jakob weggestuur om ’n vrou onder die aanbidders van Jehovah te vind. Al kon Isak en Rebekka nie verander wat Esau gedoen het nie, het God hulle die wysheid, moed en krag gegee om aan Hom getrou te bly. As ons vir die nodige hulp bid, sal Jehovah dieselfde vir ons doen.—Ps. 118:5.
14. Hoe het ’n Israelitiese meisietjie moed aan die dag gelê?
14 Eeue later het ’n Israelitiese meisietjie wat deur ’n rowerbende gevange geneem is, ’n diensmeisie geword in die huis van die Siriese leërhoof Naäman, ’n man wat melaats was. Omdat die meisietjie gehoor het van die wonderwerke wat God deur die profeet Elisa verrig het, het sy moedig vir Naäman se vrou gesê: ‘As my heer na Israel gaan, sal Jehovah se profeet hom van sy melaatsheid genees.’ Naäman het toe na Israel gegaan, en hy is wonderdadig genees (2 Kon. 5:1-3). Wat ’n goeie voorbeeld is hierdie meisietjie tog vir jongmense wat op Jehovah vertrou vir die moed om vir onderwysers, skoolmaats en ander te getuig!
15. Hoe het Obadja, die bestuurder van Agab se huishouding, moedig opgetree?
15 Godgegewe moed help ons om tydens vervolging te volhard. Dink aan Obadja, die bestuurder van koning Agab se huishouding en ’n tydgenoot van die profeet Elia. Toe koningin Isebel beveel het dat God se profete doodgemaak moet word, het Obadja 100 van hulle “vyftig-vyftig in ’n grot” weggesteek (1 Kon. 18:13; 19:18). Sal jy vervolgde mede-Christene moedig help, soos Obadja Jehovah se profete gehelp het?
16, 17. Hoe het Aristargus en Gajus op vervolging gereageer?
16 As ons vervolg word, kan ons seker wees dat Jehovah met ons sal wees (Rom. 8:35-39). Paulus se medewerkers Aristargus en Gajus het in die opelugteater in Efese te staan gekom voor ’n oproerige skare wat waarskynlik duisende getel het. Die silwersmid Demetrius het ’n oproer aangeblaas. Hy en medevakmanne het silwertempeltjies van die godin Artemis gemaak, en hulle winsgewende bedryf is bedreig omdat Paulus se predikingswerk baie van die stadsbewoners afgodediens die rug laat toekeer het. Die oproerige skare het vir Aristargus en Gajus in die teater ingesleep en bly skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” Aristargus en Gajus het waarskynlik gedink dat hulle gaan sterf, maar die stadskrywer het die skare tot bedaring gebring.—Hand. 19:23-41.
17 Sou jy, as jy so ’n ondervinding gehad het, ’n makliker lewe gesoek het? Daar is geen aanduiding dat Aristargus of Gajus moed verloor het nie. Aangesien Aristargus van Tessalonika afkomstig was, het hy geweet dat die verkondiging van die goeie nuus tot vervolging kon lei. ’n Ruk vroeër het ’n oproer ontstaan toe Paulus daar gepreek het (Hand. 17:5; 20:4). Omdat Aristargus en Gajus in Jehovah se weë gewandel het, het hulle godgegewe krag en moed gehad om tydens vervolging te volhard.
Hou ’n oog op ander se belange
18. Hoe het Prisca en Aquila ‘’n oog gehou’ op die belange van ander?
18 Hetsy ons op die oomblik vervolg word of nie, ons moet oor mede-Christene besorg wees. Prisca en Aquila het ‘’n oog gehou’ op die belange van ander. (Lees Filippense 2:4.) Hierdie voorbeeldige egpaar het moontlik verblyf aan Paulus voorsien in Efese, waar die silwersmid Demetrius die voorgemelde oproer aangeblaas het. Hierdie situasie het Aquila en Prisca dalk beweeg om ‘hulle nekke te waag’ vir Paulus (Rom. 16:3, 4; 2 Kor. 1:8). Vandag maak besorgdheid oor ons vervolgde broers ons “versigtig soos slange” (Matt. 10:16-18). Ons voer ons werk versigtig uit en weier om hulle te verraai deur hulle name of ander inligting aan vervolgers te onthul.
19. Watter goeie dinge het Dorkas vir ander gedoen?
19 Ons kan op verskillende maniere ’n oog op die belange van ander hou. Daar is party Christene wat behoeftes het, en ons kan miskien in daardie behoeftes voorsien (Ef. 4:28; Jak. 2:14-17). In die eerste-eeuse gemeente in Joppe was daar ’n vrygewige vrou met die naam Dorkas. (Lees Handelinge 9:36-42.) Dorkas “was oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes”, wat blykbaar ingesluit het dat sy klere vir behoeftige weduwees gemaak het. Haar dood in 36 G.J. het groot droefheid onder die weduwees veroorsaak. God het die apostel Petrus gebruik om Dorkas op te wek, en sy het heel waarskynlik die res van haar lewe op aarde gebruik om met vreugde die goeie nuus te verkondig en goeie dinge vir ander te doen. Hoe bly is ons tog om vandag sulke onselfsugtige Christenvroue in ons midde te hê!
20, 21. (a) Hoe hou aanmoediging verband daarmee om ’n oog op ander se belange te hou? (b) Wat kan jy doen om aanmoedigend te wees?
20 Ons hou ons oog op die belange van ander deur hulle aan te moedig (Rom. 1:11, 12). Paulus se medewerker Silas was ’n bron van aanmoediging. Nadat daar omstreeks 49 G.J. oor die besnydeniskwessie besluit is, het die bestuursliggaam in Jerusalem verteenwoordigers uitgestuur om ’n brief na gelowiges op ander plekke te neem. Silas, Judas, Barnabas en Paulus het dit na Antiogië geneem. Daar het Silas en Judas “die broers met baie toesprake aangemoedig en versterk”.—Hand. 15:32.
21 Later is Paulus en Silas in Filippi in die tronk gegooi, maar hulle is as gevolg van ’n aardbewing bevry. Hoe goed was dit tog vir hulle om ’n getuienis te gee en die tronkbewaarder en sy huisgenote gelowiges te sien word! Voordat hulle hierdie stad verlaat het, het Silas en Paulus die broers aangemoedig (Hand. 16:12, 40). Soos Paulus en Silas, moet jy ander deur jou kommentare, toesprake en ywerige velddiens probeer aanmoedig. En wanneer jy ’n “woord van aanmoediging” het, “spreek dit dan”.—Hand. 13:15.
Hou aan om in Jehovah se weë te wandel
22, 23. Hoe kan ons werklik baat vind by verslae in die Bybel?
22 Hoe dankbaar moet ons tog wees vir die ware verhale wat opgeteken is in die Woord van Jehovah, die “God van alle aanmoediging”! (2 Kor. 1:3, Byington). As ons by hierdie ondervindinge wil baat vind, moet ons die Bybel se lesse in ons lewe toepas en toelaat dat God se heilige gees ons lei.—Gal. 5:22-25.
23 Bepeinsing oor verslae in die Bybel sal ons help om godvrugtige eienskappe aan die dag te lê. Dit sal ons verhouding versterk met Jehovah, wat ons “wysheid en kennis en blydskap” gee (Pred. 2:26). Ons kan op ons beurt God se liefdevolle hart bly maak (Spr. 27:11). Mag ons vasbeslote wees om dit te doen deur aan te hou om in Jehovah se weë te wandel.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan jy toon dat jy betroubaar is?
• Waarom moet ons “nederig van verstand” wees?
• Hoe kan verslae in die Bybel ons help om moedig te wees?
• Op watter maniere kan ons ’n oog op die belange van ander hou?
[Prent op bladsy 8]
Die betroubare Jefta en sy dogter het sy gelofte nagekom, al was dit moeilik
[Prent op bladsy 10]
Jongmense, wat het julle by die Israelitiese meisietjie geleer?
[Prent op bladsy 11]
Hoe het Dorkas in die behoeftes van mede-Christene voorsien?