Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 9/15 bl. 29-31
  • Aristargus—’n lojale metgesel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aristargus—’n lojale metgesel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van Griekeland na Jerusalem
  • Die reis na Rome
  • Paulus se “medegevangene”
  • “’n Versterkende hulp”
  • Jy kan “’n bron van groot vertroosting” wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Wandel in Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Wees moedig – Jehovah is jou Helper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 9/15 bl. 29-31

Aristargus—’n lojale metgesel

ARISTARGUS was een van die apostel Paulus se talle vertroude medewerkers. Waaraan dink jy wanneer jy sy naam hoor? Enigiets? Sal jy kan sê watter rol hy in die geskiedenis van die vroeë Christene gespeel het? Hoewel Aristargus dalk nie een van die bekendste Bybelkarakters is nie, was hy nietemin by ’n hele aantal insidente betrokke wat in die Christelike Griekse Geskrifte opgeteken is.

Wie was Aristargus dan? Watter soort verhouding het hy met Paulus gehad? Waarom kan daar gesê word dat Aristargus ’n lojale metgesel was? En watter lesse kan ons leer deur sy voorbeeld te ondersoek?

Aristargus se dramatiese intrede in die verslag in die boek Handelinge vind plaas te midde van die geskreeu en verwarring van ’n histeriese skare oproeriges in die stad Efese (Handelinge 19:23-41). Dit was vir Demetrius en ander Efesiese silwersmede ’n winsgewende onderneming om silwertempeltjies van die valse godin Artemis te vervaardig. Toe Paulus se predikingsveldtog in die stad dus daartoe gelei het dat ’n aansienlike aantal mense die onrein aanbidding van hierdie godin versaak het, het Demetrius die ander vakmanne aangehits. Hy het vir hulle gesê dat Paulus se predikingswerk nie alleen vir hulle finansiële sekuriteit ’n bedreiging was nie, maar ook tot gevolg kon hê dat die aanbidding van Artemis tot ’n einde kom.

Die woedende skare kon Paulus nie vind nie en het toe sy metgeselle Aristargus en Gajus met geweld in die teater ingesleep. Aangesien hulle twee in groot gevaar verkeer het, het Paulus se vriende hom dringend versoek “om hom nie in die teater te waag nie”.

Stel jou in daardie situasie voor. Die histeriese skare het sowat twee uur lank bly uitroep: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” Dit was seker vir Aristargus en Gajus ’n waarlik angswekkende ontbering om aan die genade van daardie fanatiese menigte oorgelewer te wees sonder dat hulle eers die geleentheid gehad het om iets ter verdediging van hulleself te sê. Hulle het seker gewonder of hulle ooit lewendig daarvan sou afkom. Gelukkig het hulle. Trouens, die lewendige wyse waarop Lukas se verslag geskryf is, het party geleerdes beweeg om te sê dat hy dit moontlik op die getuienis van ooggetuies gebaseer het, miskien selfs dié van Aristargus en Gajus.

Die stadskrywer het uiteindelik die oproerige skare tot bedaring gebring. Aristargus en Gajus was seker baie verlig toe hulle hoor hoe hy op objektiewe wyse hulle onskuld erken en toe hulle daarna sien hoe die oproeriges om hulle uiteengaan.

Hoe sou jy ná so ’n ondervinding gevoel het? Sou jy tot die gevolgtrekking gekom het dat jy nie ’n sendelingmetgesel van Paulus sal kan wees nie, dat dit te gevaarlik is en dat dit vir jou beter sal wees om ’n rustiger lewe te lei? Nie Aristargus nie! Omdat hy van Tessalonika af was, was hy waarskynlik goed vertroud met die gevare wat die verkondiging van die goeie nuus ingehou het. Toe Paulus net ’n paar jaar tevore in sy stad gepreek het, het daar ook ’n oproer ontstaan (Handelinge 17:1-9; 20:4). Aristargus het lojaal by Paulus gebly.

Van Griekeland na Jerusalem

’n Paar maande ná die silwersmede se opstand was Paulus in Griekeland en het hy op die punt gestaan om na Sirië weg te seil op pad na Jerusalem toe “die Jode ’n komplot teen hom gesmee het” (Handelinge 20:2, 3). Wie was onder hierdie gevaarlike omstandighede by Paulus? Aristargus!

Hierdie nuwe gevaar het daartoe gelei dat Paulus, Aristargus en hulle metgeselle van plan verander het en eers deur Masedonië en toe in skofte langs die kus van Klein-Asië gereis het voordat hulle uiteindelik van Patara na Fenisië geseil het (Handelinge 20:4, 5, 13-15; 21:1-3). Die doel van hierdie reis was blykbaar om die bydraes van die Christene in Masedonië en Agaje by hulle behoeftige broers in Jerusalem af te lewer (Handelinge 24:17; Romeine 15:25, 26). ’n Groot groep het saam gereis, moontlik omdat hierdie verantwoordelikheid deur verskeie gemeentes aan hulle toevertrou is. So ’n groot geselskap sou dit ongetwyfeld ook veiliger maak.

Dit was vir Aristargus ’n groot voorreg om saam met Paulus van Griekeland na Jerusalem te reis. Hulle volgende reis sou hulle egter van Judea af tot in Rome neem.

Die reis na Rome

Hierdie keer was die omstandighede heeltemal anders. Paulus, wat twee jaar lank in aanhouding in Sesarea was, het hom op Caesar beroep en sou in kettings na Rome gestuur word (Handelinge 24:27; 25:11, 12). Probeer jou voorstel hoe Paulus se metgeselle gevoel het. Die reis van Sesarea na Rome sou lank en emosioneel uitputtend wees en sou ’n onvoorspelbare uitkoms hê. Wie kon saam met hom gaan om hom te ondersteun en by te staan? Twee manne is gekies of het hulle as vrywilligers beskikbaar gestel. Hulle was Aristargus en Lukas, die skrywer van Handelinge.—Handelinge 27:1, 2.

Hoe het Lukas en Aristargus dit reggekry om aan boord van dieselfde skip te gaan gedurende die eerste skof van die reis na Rome? Die geskiedkundige Giuseppe Ricciotti sê: “Hierdie twee het as privaat passasiers aan boord gegaan . . . of het, meer waarskynlik, toegang verkry weens die goedhartigheid van die hoofman oor honderd wat voorgegee het dat hy hulle as Paulus se slawe beskou het, aangesien die wet ’n Romeinse burger toegelaat het om deur ’n paar slawe bygestaan te word.” Hoe moes hulle teenwoordigheid en aanmoediging Paulus tog nie versterk het nie!

Lukas en Aristargus het hulle liefde vir Paulus bewys deur persoonlike opofferings te maak en hulle aan gevaar bloot te stel. Trouens, hulle het ’n lewensgevaarlike situasie deurgemaak toe hulle, saam met hulle gevange metgesel, op die eiland Malta skipbreuk gely het.—Handelinge 27:13–28:1.

Paulus se “medegevangene”

Toe Paulus in 60-61 G.J. sy briewe aan die Kolossense en aan Filemon geskryf het, was Aristargus en Lukas nog steeds aan sy sy in Rome. Aristargus en Epafras word Paulus se ‘medegevangenes’ genoem (Kolossense 4:10, 14; Filemon 23, 24). Aristargus was dus blykbaar ’n tyd lank saam met Paulus in die gevangenis.

Hoewel Paulus ten minste twee jaar lank ’n gevangene in Rome was, is hy toegelaat om onder bewaking in sy eie gehuurde huis te woon, waar hy die goeie nuus aan besoekers bekend kon maak (Handelinge 28:16, 30). Aristargus, Epafras, Lukas en ander het Paulus toe bedien deur hom te help en te onderskraag.

“’n Versterkende hulp”

Watter beeld kom by ’n mens op nadat jy die verskillende insidente beskou het waarin Aristargus in die geïnspireerde Bybelverslag genoem word? Volgens die skrywer W. D. Thomas “staan [Aristargus] uit as ’n man wat teenstand kon verduur en deurstaan met ’n onaangetaste geloof en ’n onverswakte voorneme om te dien. Hy staan uit as ’n man wat God nie net in goeie tye gedien het, wanneer die son uit ’n blou hemel geskyn het nie, maar ook wanneer hy bespotting en storms moes verduur.”

Paulus sê dat Aristargus en ander “’n versterkende hulp” (Grieks, pa·re·go·riʹa) vir hom was, met ander woorde ’n bron van vertroosting (Kolossense 4:10, 11). Deur Paulus te vertroos en te versterk was Aristargus dus ’n ware vriend in tye van nood. Dit was sekerlik ’n baie bevredigende en geestelik verrykende ondervinding om die apostel se geselskap en vriendskap oor ’n tydperk van etlike jare te geniet.

Ons omstandighede is dalk nie so dramaties soos dié wat Aristargus ondervind het nie. Almal wat vandag in die Christengemeente is, moet nietemin dieselfde lojaliteit aan Christus se geestelike broers en aan Jehovah se organisasie betoon. (Vergelyk Matteus 25:34-40.) Dit is heel moontlik dat medeaanbidders wat ons ken op die een of ander tyd, miskien weens ’n sterfte, siekte of ander beproewinge teenspoed of benoudheid sal verduur. Deur by hulle te bly en hulp, vertroosting en bemoediging te voorsien, kan ons vreugde vind en bewys dat ons lojale metgeselle is.—Vergelyk Spreuke 17:17; Handelinge 20:35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel