Noag en die Vloed—Feit, nie fiksie nie
SMAG jy na ’n beter wêreld—’n wêreld waar mense in vrede met mekaar lewe? ’n wêreld waarin daar geen oorlog, misdaad of onderdrukking is nie? Indien wel, sal ’n geskiedkundige verslag wat jy dalk goed ken, moontlik vir jou aanmoedigend wees. Dit is die verslag van Noag, ’n waarlik goeie man wat ’n ark gebou het waarin hy en sy gesin deur ’n aardwye vloed heen behoue gebly het, terwyl die goddeloses omgekom het.
Daar is min verhale wat so bekend is. Die verhaal van wat met Noag gebeur het, kan gevind word in die Bybelboek Genesis, hoofstukke 6 tot 9, en dit word in die Koran en in die legendes van tallose volke regoor die wêreld oorvertel. Het die Vloed werklik plaasgevind, of is dit bloot ’n allegorie om mense aan te moedig om te doen wat reg is? Teoloë en wetenskaplikes debatteer al eeue lank oor hierdie vraag. Maar die Bybel, die Woord van God, laat geen ruimte vir twyfel aangaande hierdie verslag nie—dit is feit, nie fiksie nie. Dink hieraan:
Die Genesisverslag gee ons die presiese jaar, maand en dag waarop die Vloed begin het, wanneer en waar die ark tot ruste gekom het en wanneer die water van die aarde af opgedroog het. Besonderhede in verband met die ark is ook spesifiek—die uitleg, die afmetings en die boumateriale wat gebruik is. In teenstelling hiermee is beskrywings in fabels gewoonlik vaag.
Twee geslagslyste in die Bybel getuig dat Noag ’n werklike persoon was (1 Kronieke 1:4; Lukas 3:36). Beide Esra en Lukas, wat hierdie geslagslyste saamgestel het, was noukeurige navorsers. Lukas het Jesus Christus se geslagslyn tot Noag teruggevoer.
Die profete Jesaja en Esegiël sowel as die Christenapostels Paulus en Petrus het na Noag of die Vloed verwys.—Jesaja 54:9; Esegiël 14:14, 20; Hebreërs 11:7; 1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:5.
Jesus Christus het na die Vloed verwys en gesê: “Net soos dit in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook in die dae van die Seun van die mens wees: hulle het geëet, hulle het gedrink, manne het getrou, vroue is in die huwelik gegee, tot op daardie dag toe Noag in die ark ingegaan het en die vloed gekom en hulle almal vernietig het” (Lukas 17:26, 27). As die Vloed nie plaasgevind het nie, sou Jesus se stelling oor “die dae van die Seun van die mens” sinloos gewees het.
Die apostel Petrus het voorspel dat daar “spotters” sou kom wat sou spot met wat die Bybel sê. “Ooreenkomstig hulle wens”, het Petrus geskryf, “ontgaan hierdie feit hulle aandag, dat . . . die wêreld van [Noag se] tyd vernietig [is] toe dit met water oorstroom is.” Moet ons toelaat dat “hierdie feit” ons aandag ontgaan? Allermins! Petrus het verder gesê: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê en word . . . bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:3-7.
Weer eens sal God die goddeloses vernietig, en weer eens sal daar oorlewendes wees. As ons Noag se voorbeeld in ons lewe navolg, kan ons onder die regverdiges wees wat gered sal word en in ’n beter wêreld sal woon.