Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 6/1 bl. 16-17
  • ‘Ek sal dit vanaand by die kampvuur sit en lees’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ek sal dit vanaand by die kampvuur sit en lees’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beplanning
  • Na die Agterveld
  • “Vanaand by die kampvuur”
  • Huis toe
  • Die Vlieënde Dokter red lewens in die Australiese binneland
    Ontwaak!—1990
  • Die soeke na verdienstelikes in Australië se Agterveld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ’n Kroegbaas bring verkwikking na die agterveld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jehovah het my gehelp om vir hom my beste te gee
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 6/1 bl. 16-17

’n Brief uit Australië

‘Ek sal dit vanaand by die kampvuur sit en lees’

DIE Agterveld van Australië laat ’n mens dink aan dorre woestyne, versengende hitte en uitgestrekte leë ruimtes. Maar sowat 180 000 mense, ongeveer 1 persent van die land se bevolking, woon in hierdie binnelandse streek.

Toe ek ’n kind was, het my ouers, wat Jehovah se Getuies is, my saam met hulle geneem om in die Agterveld te gaan preek. Die uitgestrektheid en ruwe skoonheid van die gebied het my verbeelding aangegryp. Ek het ook lief geword vir die geharde, sorgelose mense wat in die streek gewoon het. Noudat ek ’n jong gesin het, wou ek hê dat my vrou en ons twee kinders, 10 en 12 jaar oud, ook daardie ondervinding moes hê.

Beplanning

Ons het eers gaan sit en die koste bereken. Hoe ver kon ons bekostig om te reis? Hoe lank kon ons daar bly? ’n Egpaar en twee voltydse bedienaars in ons gemeente het aangebied om saam met ons te kom. Ons het besluit wanneer ons sou gaan—gedurende die skoolvakansie in die middel van die jaar. Toe het ons aan die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies in Sydney geskryf om ’n gebiedstoewysing aan te vra. Ons is gevra om ’n afgeleë gebied te dek naby Goondiwindi, ’n klein plattelandse dorpie sowat 400 kilometer wes van Brisbane, waar ons woon.

Ons het uitgevind dat daar ’n klein gemeentetjie van Jehovah se Getuies in Goondiwindi is. Dit was ’n bykomende seën. Om Christenmanne en -vroue te ontmoet, sou ’n hoogtepunt van ons besoek wees. Ons het met die gemeente in verbinding getree om hulle van ons besoek te laat weet. Hulle geesdriftige reaksie het ons laat besef dat hulle uitsien na ons koms.

Kort voor ons vertrek het ons groepie bymekaargekom om te bespreek hoe ons die goeie nuus van God se Koninkryk in die Agterveld sou verkondig. Ons wou in die besonder respek toon vir die kultuur en gebruike van enige Aborigines wat ons dalk sou ontmoet. Party stamme beskou hulle grond byvoorbeeld as hulle gemeenskaplike woning. Om sommer ongenooid daar op te daag, sou onbeleefd wees.

Na die Agterveld

Uiteindelik het die groot dag aangebreek. Ons het met twee gesinsmotors, swaar gelaai met mense en alles wat ons nodig gehad het, in die pad geval. Landerye het gou plek gemaak vir grasvlaktes met hier en daar ’n bloekomboom. Die warm wintersonnetjie het helder uit ’n wolklose hemel geskyn. Ure later het ons in Goondiwindi aangekom en ons vir die nag tuisgemaak in gehuurde hutte in ’n karavaanpark.

Die volgende dag, Sondag, was sonnig en vars—volmaakte weer vir die predikingswerk. Somertemperature hier is dikwels hoër as 40 grade Celsius! Ons eerste stop was ’n Aborigine-gemeenskap sowat 30 kilometer daarvandaan. Ons is na Jenny, ’n bejaarde gryskopdame en gemeenskapsleier, gestuur. Sy het aandagtig na ons skriftuurlike aanbieding geluister en het met graagte die boek Leer by die Groot Onderwysera geneem. Toe het sy ons genooi om vir die mense in die gemeenskap te getuig.

Plaaslike kinders het voor ons uit gehardloop om ons besoek aan te kondig. Elke huisbewoner wat ons ontmoet het, het met respek na ons boodskap geluister en Bybellektuur geneem. Ons lektuur was gou op, en dit was tyd om na die dorp terug te gaan vir die gemeentelike vergadering. Voordat ons daar weg is, het ons belowe om terug te kom sodat ons met dié kon praat by wie ons nie uitgekom het nie.

Daardie middag het die Koninkryksaal gegons van vreugdevolle gesprekke terwyl nuwe kennisse gou vriende geword het. Die 25 plaaslike Getuies verkondig die Koninkryksboodskap getrou aan sowat 11 000 mense wat oor 30 000 vierkante kilometer versprei is. “Dankie dat julle die moeite gedoen het om ons te kom help”, het een dankbare Getuie gesê. Ná ’n lewendige vergadering het ons almal verdaag vir verversings. Voordat ons daardie aand gaan slaap het, het ons die buidelrotte gevoer wat in ons karavaanpark rondgeloop het.

“Vanaand by die kampvuur”

Oor die volgende twee dae het ons twee motorgroepe afgeleë plase besoek langs die grens tussen Queensland en Nieu-Suid-Wallis. Die landskap het hoofsaaklik bestaan uit droë bloekombosse op plat, oop grasvelde waar skape en beeste gewei het. Op ons pad het ons etlike kangaroes gesien wat hulle ore gespits het wanneer ons nader gekom het. Statige emoes het doer in die verte in ’n stowwerige veekraal rondgeloop.

Dinsdagmiddag het ons ’n groot trop beeste gekry wat stadig met die pad af loop. Kontrakveedrywers jaag al lank vee deur hierdie gebied aan, veral in tye van droogte. Kort voor lank het ons by ’n veedrywer op sy perd aangekom. Ons het stilgehou, ek het uit die motor geklim en hom gegroet. “G’day mate”, het hy geantwoord. Die bejaarde man met sy veedrywershond aan sy sy het gestop om te gesels.

Nadat ons ’n rukkie oor die droogte gesels het, het ek oor ons boodskap begin praat. “Goeiste, ek het laas toe ek ’n kind was, iets van die Bybel gehoor!” het die man uitgeroep. Hy het godsdiensleiers verantwoordelik gehou vir die sedelike verval in die wêreld. Nogtans het hy ’n diep respek vir die Bybel gehad. Ná ’n aangename skriftuurlike gesprek het ek die boek Wat leer die Bybel werklik?b vir hom aangebied. Hy het dit stewig vasgevat, dit in sy hempsak gesit en gesê: “As dit vir my vertel wat die Bybel leer, sal ek dit vanaand by die kampvuur sit en lees.”

Huis toe

Daardie aand het ons ons geestelike broers en susters by die Koninkryksaal van ons ondervindinge vertel. Hulle het belowe om die belangstellendes wat ons ontmoet het, weer te besoek. Ná die vergadering was dit moeilik om totsiens te sê. ’n Hartlike band van liefde het tussen ons ontwikkel. Ons het almal verryk gevoel deur die wedersydse geestelike aanmoediging.—Romeine 1:12.

Die volgende dag het ons teruggegaan huis toe. Toe ons oor ons reis gesels het, het ons saamgestem dat Jehovah ons pogings ryklik geseën het. Ons het geestelik verkwik gevoel. Toe ons by die huis kom, het ek die kinders gevra: “Waarheen wil julle gaan vir ons volgende vakansie? Berge toe?” “Nee, Pa”, het hulle geantwoord, “kom ons gaan preek weer in die Agterveld.” My vrou het saamgestem: “Ja, kom ons doen dit. Dit was die beste vakansie wat ons nog gehad het!”

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel