Is jou planne in harmonie met God se voorneme?
DIE gryswit sangvoël wat Clark se neutekraker genoem word, word in die woude van westelike Noord-Amerika gevind. Hy maak elke jaar tot 33 000 sade bymekaar en begrawe dit op sowat 2 500 verskillende plekke ter voorbereiding van die ysige wintermaande. Ja, hierdie voël is “instinktief wys” in die manier waarop hy voorsiening maak vir die toekoms.—Spreuke 30:24.
Die mens besit ’n selfs merkwaardiger vermoë. Van al Jehovah se aardse skeppingswerke het die mens ’n ongeëwenaarde vermoë om uit vorige ondervindinge te leer en toe te laat dat hierdie lesse hulle toekomsplanne beïnvloed. “Baie planne is in die hart van ’n man”, het wyse koning Salomo gesê.—Spreuke 19:21.
Maar oor die algemeen kan mense nie juis anders as om hulle planne op veronderstellings oor die toekoms te baseer nie. Jy beplan byvoorbeeld môre se bedrywighede in die veronderstelling dat die son sal opkom en dat jy nog sal lewe. Die eerste veronderstelling is gegrond; die tweede is minder seker. Die Bybelskrywer Jakobus was realisties en het gesê: “Julle [weet nie] wat julle lewe môre sal wees nie.”—Jakobus 4:13, 14.
Jehovah God het nie sulke beperkings nie. Hy weet “van die begin af die uiteinde”. Sy verklaarde voorneme sal vervul word, ongeag wat gebeur. “My besluit sal bly staan”, sê hy, “en alles wat my behaag, sal ek doen” (Jesaja 46:10). Maar wat gebeur wanneer die mens se planne in stryd met God se voorneme is?
Wanneer menseplanne God se voorneme verontagsaam
Sowat 4 000 jaar gelede het die bouers van die Toring van Babel beplan om die verspreiding van die mensdom te keer. “Kom!” het hulle gesê. “Laat ons vir ons ’n stad bou en ook ’n toring met sy spits in die hemel, en laat ons vir ons ’n roemryke naam maak, sodat ons nie oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi raak nie.”—Genesis 11:4.
Maar God het ’n heeltemal ander voorneme vir die aarde gehad. Hy het Noag en sy seuns beveel: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde” (Genesis 9:1). Wat het God omtrent die doelwitte van die opstandige mense van Babel gedoen? Hy het hulle taal verwar sodat hulle nie met mekaar kon kommunikeer nie. Die gevolg? “Jehovah [het] hulle daarvandaan oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi” (Genesis 11:5-8). Babel se bouers is gedwing om ’n waardevolle les te leer. Wanneer menseplanne en God se voorneme verskil, is dit “die raad van Jehovah [wat] sal bly staan” (Spreuke 19:21). Laat jy toe dat sulke lesse uit die verlede jou lewe beïnvloed?
’n Ryk man se dwaasheid
Jy beplan miskien nie om ’n toring te bou nie, maar baie mense beplan vandag om ’n groot bankrekening op te bou en om materiële besittings te vergaar sodat hulle goed kan lewe wanneer hulle aftree. Dit is heel natuurlik dat iemand die vrugte van sy arbeid wil geniet. “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk”, het Salomo geskryf. “Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:13.
Jehovah hou ons aanspreeklik vir die manier waarop ons hierdie gawe gebruik. Byna 2 000 jaar gelede het Jesus ’n illustrasie gebruik om hierdie punt vir sy dissipels te beklemtoon. Hy het gesê: “Die land van ’n sekere ryk man het ’n goeie opbrengs gelewer. Gevolglik het hy by homself begin redeneer en gesê: ‘Wat sal ek doen, noudat ek geen plek het om my oes te versamel nie?’ Toe het hy gesê: ‘Ek sal dít doen: ek sal my voorraadskure afbreek en groteres bou, en daar sal ek al my graan en al my goeie dinge versamel; en ek sal vir my siel sê: “Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik”’” (Lukas 12:16-19). Die ryk man se doelwit klink redelik, nie waar nie? Die man in die illustrasie het skynbaar, soos die voorgemelde voël, Clark se neutekraker, voorsiening gemaak vir sy toekomstige behoeftes.
Daar was egter fout met die man se denke. Jesus het voortgegaan: “Maar God het vir hom gesê: ‘Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?’” (Lukas 12:20). Het Jesus Salomo se verklaring weerspreek dat werk en die goeie dinge wat daaruit voortspruit, gawes van God is? Nee. Wat was Jesus se punt? “So gaan dit”, het Jesus gesê, “met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:21.
Jesus het sy gehoor geleer dat Jehovah wil hê dat ons Hom in aanmerking moet neem wanneer ons planne maak. Die ryk man kon ryk gewees het teenoor God as hy maniere gesoek het om in godvrugtige toegewydheid, wysheid en liefde te groei. Sy woorde openbaar geen belangstelling in hierdie dinge nie en ook geen belangstelling daarin om oesoorblyfsels vir die armes te los of om offergawes vir Jehovah aan te bied nie. Sulke geestelike strewes en onselfsugtige dade was nie deel van die ryk man se lewe nie. Sy planne het uitsluitlik om sy eie begeertes en gerief gedraai.
Het jy al opgemerk dat baie mense vandag soortgelyke prioriteite in die lewe het as die ryk man wat Jesus beskryf het? Hetsy ons ryk of arm is, dit is baie maklik om ’n materialistiese gesindheid te ontwikkel en toe te laat dat die behoeftes en begeertes van die daaglikse lewe geestelike behoeftes verdring. Wat kan jy doen om hierdie strik te vermy?
Planne vir ’n “normale” lewe
In teenstelling met die ryk man van Jesus se illustrasie sukkel jy dalk finansieel. As jy getroud is, beplan jy ongetwyfeld om jou gesin van die lewensnoodsaaklikhede te voorsien en, indien moontlik, te sorg dat jou kinders ’n goeie basiese skoolopleiding kry. As jy ongetroud is, sluit jou planne waarskynlik in om werk te vind of om die werk wat jy het, te behou sodat jy nie ’n las vir ander is nie. Dit is goeie doelwitte.—2 Tessalonisense 3:10-12; 1 Timoteus 5:8.
Maar om te werk, te eet en te drink—om ’n sogenaamd normale lewe te lei—kan ’n mens soms in stryd met God se wil laat optree. Hoe so? Jesus het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37-39.
Voor die Vloed het mense oor die algemeen geniet wat hulle moontlik as ’n normale lewe beskou het. Hulle probleem was egter dat hulle ‘geen ag geslaan het’ op God se voorneme om daardie goddelose wêreld deur middel van ’n wêreldwye vloed uit te wis nie. Hulle het ongetwyfeld gedink dat Noag se lewenswyse abnormaal is. Maar toe die Vloed kom, was dit Noag en sy gesin se lewenswyse wat werklik wys was.
Vandag toon alle beskikbare bewyse dat ons in die tyd van die einde lewe (Matteus 24:3-12; 2 Timoteus 3:1-5). God se Koninkryk sal binnekort die huidige stelsel van dinge “verbrysel en daar ’n einde aan maak” (Daniël 2:44). Onder hierdie Koninkryk sal die aarde in ’n paradys omskep word. Die Koninkryk sal siekte en die dood uit die weg ruim (Jesaja 33:24; Openbaring 21:3-5). Alle skepsele op aarde sal in harmonie lewe en vry van honger wees.—Psalm 72:16; Jesaja 11:6-9.
Maar voordat Jehovah optree, is dit sy voorneme dat die goeie nuus van sy Koninkryk “in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). In harmonie met God se voorneme verkondig ongeveer sewemiljoen Getuies van Jehovah hierdie goeie nuus in 236 lande en in meer as vierhonderd tale.
Vir die wêreld lyk die lewenswyse van Jehovah se Getuies in party opsigte dalk vreemd—selfs belaglik (2 Petrus 3:3, 4). Soos in die geval van die mense wat voor die Vloed gelewe het, is die meeste mense vandag behep met die roetine van die daaglikse lewe. Hulle meen dalk dat iemand ongebalanseerd is as hy weier om ’n lewe te lei wat die samelewing as normaal beskou. Maar uit die oogpunt van diegene wat geloof in God se beloftes stel, is ’n lewe wat om God se diens draai, werklik gebalanseerd.
Hetsy jy ryk of arm of êrens tussenin is, dit is derhalwe wys om jou planne vir die nabye toekoms van tyd tot tyd te hersien. Wanneer jy dit doen, moet jy jou afvra: ‘Is my planne in harmonie met God se voorneme?’
[Prent op bladsy 11]
Wanneer die mens se planne en God se voorneme bots, is dit die raad van Jehovah wat sal bly staan
[Prent op bladsy 12]
Toe die ryk man in Jesus se gelykenis sy planne gemaak het, het hy nie God se voorneme in ag geneem nie