Wat ons by Jesus leer
Oor hoe om ander te behandel
Waarom moet ons goedhartig wees?
Is jy goedhartig selfs wanneer ander nie goedhartig teenoor jou is nie? As ons Jesus wil navolg, moet ons goedhartig wees selfs teenoor dié wat ons haat. Jesus het gesê: “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter verdienste het julle dan? Want selfs die sondaars het dié lief wat hulle liefhet. . . . Hou daarenteen aan om julle vyande lief te hê . . . , en julle sal kinders van die Allerhoogste wees, want hy is goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses.”—Lukas 6:32-36; 10:25-37.
Waarom moet ons vergewensgesind wees?
Wanneer ons foute maak, wil ons hê dat God ons moet vergewe. Jesus het geleer dat dit gepas is om vir God se vergifnis te bid (Matteus 6:12). Maar Jesus het ook gesê dat God ons net sal vergewe in die mate waarin ons ander vergewe. Hy het gesê: “As julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe; maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.”—Matteus 6:14, 15.
Hoe kan gesinne gelukkig wees?
Al het Jesus nooit getrou nie, kan ons baie by hom leer oor hoe om die gesinslewe gelukkig te maak. Deur sy woorde sowel as deur sy dade het hy vir ons ’n voorbeeld gestel wat ons kan navolg. Kyk na die volgende drie punte:
1. ’n Man moet sy vrou liefhê soos sy eie liggaam. Jesus het die voorbeeld vir mans gestel. Hy het vir sy dissipels gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê.” Tot watter mate? “Net soos ek julle liefgehad het”, het hy gesê (Johannes 13:34). Die Bybel pas hierdie beginsel op mans toe en sê: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het . . . Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.”—Efesiërs 5:25, 28, 29.
2. Huweliksmaats moet getrou wees aan mekaar. Geslagsomgang buite die huwelik is ’n sonde teen God en vernietig gesinne. Jesus het gesê: “Het julle nie gelees [nie] . . . ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie. . . . Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg.”—Matteus 19:4-9.
3. Kinders moet onderdanig wees aan hulle ouers. Hoewel Jesus volmaak en sy ouers onvolmaak was, was hy as kind gehoorsaam aan hulle. Die Bybel sê van Jesus toe hy 12 jaar oud was: “Hy het saam met hulle [sy ouers] afgegaan en in Nasaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly.”—Lukas 2:51; Efesiërs 6:1-3.
Waarom moet ons hierdie beginsels toepas?
Jesus het aangaande die lesse wat hy sy dissipels geleer het, gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:17). Om ware Christene te wees, moet ons die raad toepas wat Jesus ons gegee het oor hoe om ander te behandel. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 16, 17]
Jesus se gelykenis van die verlore seun leer ons die belangrikheid van goedhartigheid en vergewensgesindheid.—Lukas 15:11-32
[Prent op bladsy 17]
Huweliksmaats moet getrou wees aan mekaar