Wat ons by Jesus leer
Oor die gesinslewe
Watter beskouing van die huwelik maak gesinne gelukkig?
Die huwelik is ’n heilige verbintenis. Toe daar vir Jesus gevra is of egskeiding toelaatbaar is, het hy gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie. . . . Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, [pleeg] egbreuk” (Matteus 19:4-6, 9). Wanneer ’n egpaar Jesus se raad volg en aan mekaar getrou is, gee dit almal in die gesin ’n gevoel van veiligheid en is hulle gelukkig.
Waarom maak liefde vir God gesinne gelukkig?
Jesus het gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.” Wat is die tweede grootste gebod? Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste [insluitende dié wat die naaste aan jou is—jou gesin] liefhê soos jouself” (Matteus 22:37-39). Die sleutel tot gesinsgeluk is dus ’n goeie verhouding met God, want liefde vir hom beweeg ons om mekaar lief te hê.
Hoe kan ’n man en vrou mekaar gelukkig maak?
Mans maak hulle vrouens gelukkig wanneer hulle Jesus se voorbeeld volg. Hy het selfopofferende liefde teenoor sy figuurlike vrou, die gemeente, betoon (Efesiërs 5:25). Jesus het gesê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien” (Matteus 20:28, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Jesus het nooit soos ’n diktator of hardvogtig teenoor dié onder sy sorg opgetree nie, maar hy was vir hulle ’n bron van verkwikking (Matteus 11:28). Mans moet dus hulle gesag uitoefen op ’n liefdevolle manier wat almal in die gesin tot voordeel strek.
Vrouens kan ook by Jesus se voorbeeld baat vind. “God is die hoof van die Christus”, sê die Bybel. Dit sê ook: “Die man is die hoof van die vrou” (1 Korintiërs 11:3). Jesus het dit nie as benede hom geag om onderdanig aan God te wees nie. Hy het diep respek vir sy Vader gehad. “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag”, het Jesus gesê (Johannes 8:29). ’n Vrou wat haar uit liefde en respek vir God aan haar man se hoofskap onderwerp, dra grootliks tot die geluk van haar gesinslewe by.
Wat kan ouers uit Jesus se beskouing van kinders leer?
Jesus het tyd saam met kinders deurgebring en het in hulle gedagtes en gevoelens belanggestel. Die Bybel sê: “Jesus het . . . die kindertjies na hom toe geroep en gesê: ‘Laat die jong kinders na my toe kom’” (Lukas 18:15, 16). By een geleentheid het mense seuns gekritiseer wat oor hulle geloof in Jesus gepraat het. Maar Jesus het die seuns geprys en vir dié wat hulle gekritiseer het, gesê: “Het julle nooit gelees nie: ‘Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei’?”—Matteus 21:15, 16.
Wat kan kinders by Jesus leer?
Jesus het ’n uitstekende voorbeeld vir kinders gestel wanneer dit kom by belangstelling in geestelike dinge. Toe hy 12 jaar oud was, is hy “in die tempel gevind, waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het”. Met watter gevolg? “Almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde” (Lukas 2:42, 46, 47). Jesus se kennis het hom egter nie hoogmoedig gemaak nie. Dit het hom eerder beweeg om sy ouers te respekteer. Die Bybel sê: “Hy het aan hulle onderdanig gebly.”—Lukas 2:51.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.