Die Bybel verander lewens
Wat sou ’n lid van ’n Mexikaanse jeugbende wat die Junior Satans genoem word, beweeg om te verander en om ’n eerlike, hardwerkende burger te word? Waarom sou ’n suksesvolle Japannese sakevrou ophou om rykdom as haar hoofdoel in die lewe na te streef, en hoe voel sy oor die veranderinge wat sy aangebring het? Wat sou ’n Russiese wapenhandelaar beweeg om sy winsgewende maar onwettige bedryf stop te sit? Kom ons kyk wat hierdie persone sê.
PROFIEL
NAAM: ADRIAN PEREZ
OUDERDOM: 30
LAND: MEXIKO
GESKIEDENIS: BENDELID
MY VERLEDE: Toe ek omtrent 13 jaar oud was, het ons gesin na Ecatepec de Morelos, in die staat Mexiko, getrek. Op daardie stadium is die gebied deur jeugmisdaad, vandalisme en dwelmverslawing geteister. Ek het kort voor lank begin om alkohol te misbruik, eiendom te beskadig en ’n onsedelike lewe te lei.
Later het ons teruggetrek na San Vicente, die dorp waar ek gebore is. Maar dwelmverslawing het ook daar ’n groot probleem geword. Dit was algemeen om jongmense dood in die straat te sien lê. Ek het by ’n bende aangesluit wat die Junior Satans genoem is. Ons het gesteel en dwelms misbruik, hoofsaaklik verdunners of gom wat ons gesnuif het. Ek het dikwels nie geweet hoe ek by die huis gekom het nie, en soms het ek bewusteloos in die straat gelê. Party van my vriende het in die tronk beland weens diefstal en moord.
Ten spyte van alles het ek in God geglo. Om my gewete te sus, het ek aan godsdiensseremonies deelgeneem, soos om die kruisweg gedurende die Heilige Week te volg. Maar ná die tyd het ons almal, ook die man wat die rol van Christus vertolk het, ons deelname aan die gebeurtenis gevier deur dronk te word.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In my laat tienerjare het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek het geweet dat my lewe nie werklik ’n doel het nie en dat dinge sleg sou uitdraai as ek so aanhou. Wat my beïndruk het, was die gedagte in Galasiërs 6:8: “Hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai, maar hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai.” Hierdie teks het my laat besef dat ek met ’n oog op die toekoms moet saai as ek wou hê dat dinge vir my goed moet verloop.
Namate ek die Bybel bestudeer het, het ek begin besef dat Jehovah ’n lewende God is wat in my as persoon belangstel, en dat hy bereid is om die sondes te vergewe wat ek in die verlede gedoen het. Ek het uit eie ondervinding geleer dat hy na gebede luister en dit beantwoord.
Dit was nie vir my maklik om veranderinge in my lewe aan te bring nie. Dit was moeilik om die bende te verlaat. Party gebiede het aan sekere bendes behoort, en ek kon nie daardeur gaan nie, al was ek nie meer ’n bendelid nie. Soms moes ek van my gewese vriende wegkruip omdat hulle na my kom soek het om my te probeer kry om na my ou gewoontes terug te keer.
Maar toe ek vergaderinge saam met die Getuies by die Koninkryksaal begin bywoon het, het ek gevind dat die gemeente vriendelik en liefdevol is. Dit het my beïndruk dat hierdie mense werklik oortuig is van wat hulle glo en dat hulle lewe in ooreenstemming is met wat hulle ander leer. Dit was ’n heeltemal ander milieu as die een waaraan ek gewoond was.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is nou al tien jaar lank ’n gedoopte Getuie van Jehovah. Ek probeer hard om Bybelleringe in my lewe toe te pas. Gevolglik het my familie nou meer respek vir my. Hulle ken my nou as ’n vlytige werker, en ek kon hulle selfs al finansieel help. My ma het die Bybel begin studeer en het nou ook een van Jehovah se Getuies geword. My pa is ook besig om veranderinge in sy lewe aan te bring. Die meeste van my familielede is nie Jehovah se Getuies nie, maar nadat hulle gesien het hoe ek verander het, erken hulle dat die Bybel mense kan help om hulle lewe te verbeter.
PROFIEL
NAAM: JAJOI NAGATANI
OUDERDOM: 50
LAND: JAPAN
GESKIEDENIS: SUKSESVOLLE SAKEVROU
MY VERLEDE: Ek het in ’n klein plattelandse dorpie vol vriendelike mense grootgeword. My pa het ’n groot winkel op die dorp gehad met tien mense wat vir hom gewerk het. Ons huis was langs die winkel, en daarom het ek nooit eensaam gevoel nie, al was my pa en ma altyd besig.
Ek is die oudste van drie dogters, en ek is van jongs af opgelei om die familiebesigheid oor te neem. Ek het jonk getrou. My man het sy werk by die bank opgegee en kom help in die familiebesigheid. Ons het drie kinders kort ná mekaar gehad. My ma het na die kinders omgesien terwyl sy die huiswerk gedoen het, en ek het van die oggend tot die aand in die winkel gewerk. Tog het ons vrye tyd gehad om as ’n gesin saam deur te bring.
Toe het die winkels op die dorp ’n ekonomiese krisis beleef, en ons besigheid het daaronder begin ly. In reaksie hierop het ons besluit om ’n hardewarewinkel langs ’n besige hoofpad oop te maak. Op die dag voor die seremonie om met die bouwerk te begin, het my pa, wat die president van ons maatskappy was, skielik ineengestort weens ’n breinkwaal. Dit het sy spraak ernstig aangetas, en daarom was ek vir die nuwe winkel verantwoordelik. My man het by die ou winkel gebly. Ons lewe het baie besig geword.
Ons nuwe winkel was ’n reusesukses. Ek was trots op wat ek bereik het en het ure se slaap opgeoffer om te werk. Al was ek lief vir my kinders, het ek net aan werk gedink. Ek het skaars tyd gehad om met my man te praat, en wanneer ons wel gepraat het, het ons baie gestry. Om die stres te verlig, het ek byna elke aand begin uitgaan om saam met my vriende en sakekennisse te gaan drink. My hele lewe het bestaan uit werk, drink en slaap. Ek was finansieel suksesvol, maar het al hoe ongelukkiger geword, en ek kon nie verstaan waarom nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het drie Bybeltekste ’n baie groot uitwerking op my gehad. Ek het gehuil toe ek die betekenis van Matteus 5:3 verstaan het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.” Hierdie vers het verklaar waarom ek leeg gevoel het, al was ek finansieel suksesvol en het my sakevriende my bewonder. Ek het besef dat ek slegs waarlik gelukkig kon wees as ek bewus is van my geestelike behoefte en dit bevredig.
Op daardie stadium het Japan se ekonomie deur ’n baie slegte tyd gegaan, en ek het die waarheid van 1 Timoteus 6:9 onder my sakevriende gesien: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.” Ek het gevoel dat Jesus se woorde in Matteus 6:24, “julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie”, op my van toepassing is, en ek het dus besluit om sekere veranderinge in my lewe aan te bring.
Ek het besef dat ek my ouers, my man en my kinders verwaarloos. Dit het ook duidelik geword dat ek ’n paar onaangename karaktertrekke ontwikkel het. Ek het arrogant geword. Ek het min geduld met mense gehad. En ek het maklik kwaad geword. Eers het ek gedink dat dit vir my onmoontlik sou wees om te verander en ’n Christen te word. Maar ek was baie lief vir my kinders en het agtergekom dat hulle goed gereageer het wanneer ek die Bybel se raad in my gesinslewe toegepas het. Ek het meer tyd saam met hulle begin deurbring en hulle saam met my na Christelike vergaderinge geneem.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Die feit dat ek geweet het wat die doel van die lewe is en dat ek God kan dien en ’n lewe kan lei wat hom behaag, het my ware vreugde en bevrediging gegee. Ek offer nie meer my gesin op vir werk nie, en daarom kon ek die selfrespek wat ek verloor het, terugwin.
Toe my ma sien hoe my persoonlikheid verbeter namate ek Bybelbeginsels in my lewe toegepas het, het sy die Bybel begin studeer en ’n Christen geword. Gelukkig het nie my pa of my man ons besluit teëgestaan nie. My verhouding met my kinders het veel hegter geword, en ek geniet nou ’n waarlik gelukkige gesinslewe.
PROFIEL
NAAM: MICHAIL ZOEJEF
OUDERDOM: 51
LAND: RUSLAND
GESKIEDENIS: ONWETTIGE WAPENHANDELAAR
MY VERLEDE: My tuisdorp, Krasnogorsk, word deur welige plantegroei omring. Suid daarvan vloei die Moskourivier. Na die weste en die noorde verdwyn die woonbuurte as ’t ware in die woud.
Toe ek nog jonk was, was ek lief daarvoor om met my vuiste te baklei en met wapens te speel. Ek het baie tyd aan liggaamsoefening bestee. Ek het ook onwettige vuurwapens, ammunisie en messe gemaak. Dit het later my besigheid geword. Ek was goed georganiseerd en het my produkte met groot sukses aan misdadigers verkoop.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In die vroeë 1990’s het ek Jehovah se Getuies ontmoet, maar ek het hulle eers nie vertrou nie. Hulle het na my mening te veel vrae gevra.
Eendag het een van hulle Romeine 14:12 vir my gelees: “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee.” Ek het gewonder wat ek vir God sou sê. Hierdie teks het my beweeg om uit te vind wat God van my vereis.
Ek het my ingespan om die Bybel se raad in Kolossense 3:5-10 toe te pas: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is. Weens dié dinge kom die gramskap van God. . . . Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond. Moenie vir mekaar lieg nie. Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid.”
Dit was vir my baie moeilik om hierdie veranderinge aan te bring. My gewese “kliënte” het aangehou om vir my geld in ruil vir wapens aan te bied, en ek het dit moeilik gevind om my te bedwing wanneer mense my beledig het. Nietemin het ek my groot en waardevolle arsenaal vernietig. Namate ek geleer het van die liefde wat God en Christus vir my getoon het, is ek beweeg om hulle lief te kry. Ek het volhard in my persoonlike Bybelstudie, vergaderinge saam met die plaaslike gemeente bygewoon en tot God gebid om hulp.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het stadig maar seker, met groot inspanning en met die hulp van my Christenbroers, ’n beter persoonlikheid ontwikkel. Die wete dat Jehovah God vir elkeen van ons omgee, selfs vir mense wat reeds gesterf het, maak my hart baie bly (Handelinge 24:15). Ek waardeer die opregtheid en openhartigheid wat ek onder Jehovah se Getuies sien. En ek waardeer die opregte belangstelling wat hulle in my getoon het, sowel as hulle lojaliteit teenoor God.
Aan die begin het party van my familie en vriende my nuwe geloof teëgestaan. Maar later het hulle hulle getroos met die gedagte dat dit vir my beter is om by godsdiens betrokke te wees as by georganiseerde misdaad. Ek is bly dat my lewe nie meer om wapenverkope draai nie, maar dat dit daaraan gewy is om ander te help om oor die God van vrede te leer.
[Prent op bladsy 27]
Ek het aan Katolieke seremonies deelgeneem om my gewete te sus
[Prent op bladsy 28]
Ek was finansieel suksesvol maar baie ongelukkig