Die Bybel verander lewens
Waarom het ’n man wie se lewe om motorfietse, dwelms en sport gedraai het, besluit om ’n voltydse bedienaar te word? Wat het ’n professionele dobbelaar beweeg om van sy verslawing los te breek en sy gesin deur middel van eerbare werk te onderhou? Wat het ’n jong vrou wat as een van Jehovah se Getuies grootgemaak is, maar van Bybelstandaarde afgewyk het, aangespoor om haar lewenswyse weer in oënskou te neem? Beskou wat hierdie mense te sê het.
PROFIEL
NAAM: TERRENCE J. O’BRIEN
OUDERDOM: 57
GEBOORTELAND: AUSTRALIË
GESKIEDENIS: HET MET DWELMS GEËKSPERIMENTEER, WAS LIEF VIR MOTORFIETSE
MY VERLEDE: Ek het my kinderdae in die besige stad Brisbane, die hoofstad van Queensland, deurgebring. Ons gesin was Katoliek, maar nadat ek agt geword het, het ons opgehou om kerk toe te gaan en het ons nooit oor godsdiens gepraat nie. Toe ek tien was, het ons gesin na die Goudkus in Australië getrek. Ons het naby die strand gewoon, en swem en branderplankry was omtrent al wat ek gedurende my vroeë tienerjare gedoen het.
Nogtans was my kinderjare nie gelukkig nie. My pa het ons gesin verlaat toe ek agt was. My ma het weer getrou, en in ons huis was alkohol en rusies deel van die lewe. Een aand ná ’n besonder hewige rusie tussen my ouers het ek op my bed gesit en ’n gelofte gedoen dat ek, as ek ooit sou trou, nooit met my vrou sou stry nie. Ten spyte van huislike probleme het ons gesin—wat uit ses kinders, my ma en my stiefpa bestaan het—aan mekaar geheg gebly.
In my laat tienerjare het baie van my portuurs teen gesag in opstand gekom. Hulle het met dagga, tabak en ander dwelms geëksperimenteer, en hulle het alkohol misbruik. Ek het dieselfde sorgelose lewe as my portuurs gelei. Ek was ook lief vir motorfietsry. Hoewel ek ’n paar ernstige ongelukke gehad het, was ek nog steeds lief vir motorfietse en het ek besluit om met my motorfiets van die een kant van Australië na die ander kant te ry.
Ondanks al die vryheid wat ek gehad het, het ek dikwels neerslagtig gevoel wanneer ek gedink het aan die toestand van die wêreld en aan hoe min die meeste mense hulle oor die mensdom se probleme kwel. Ek wou baie graag weet wat die waarheid omtrent God, godsdiens en wêreldtoestande is. Maar toe ek my vrae aan twee Katolieke priesters gestel het, was hulle antwoorde baie onbevredigend. Ek het dieselfde onderwerpe met verskeie Protestantse predikante bespreek, maar ek was net so teleurgesteld met hulle antwoorde. Toe het ’n vriend gereël dat ek Eddie, een van Jehovah se Getuies, ontmoet. Ek het vier besprekings met Eddie gehad, en hy het elke keer die Bybel gebruik om my vrae te beantwoord. Van die heel eerste bespreking af het ek geweet dat ek iets besonders gevind het. Maar op daardie stadium het ek nie besef dat ek my lewenswyse enigsins moet verander nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Gedurende my reis deur Australië het ek besprekings gehad met ’n ander Getuie, wat ek op pad ontmoet het. Nadat ek na Queensland teruggekeer het, het ek egter ses maande lank geen verdere kontak met die Getuies gehad nie.
Maar toe ek eendag van die werk af op pad huis toe was, het ek twee netjies geklede mans met aktetasse in die straat sien loop, en ek het vermoed dat hulle Jehovah se Getuies is. Ek het na hulle toe gegaan, my vermoede bevestig en hulle gevra om die Bybel met my te studeer. Ek het onmiddellik die vergaderinge van die Getuies begin bywoon en het selfs ’n groot byeenkoms bygewoon wat in 1973 in Sydney gehou is. Maar toe die res van die gesin—veral my ma—uitvind wat ek doen, was hulle baie ontsteld. Om hierdie en ander redes het ek opgehou om met die Getuies te assosieer. ’n Jaar lank het ek al my tyd en aandag aan my ander groot liefde gewy, krieket.
Maar uiteindelik het ek besef dat ek net waarlik gelukkig was terwyl ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Ek het weer met hulle in aanraking gekom en die vergaderinge begin bywoon. Ek het ook alle bande met my dwelmverslaafde vriende verbreek.
Wat my eintlik beweeg het om hierdie veranderinge aan te bring, was wat ek oor die Bybelkarakter Job geleer het. ’n Liefdevolle maar ferm ouer Getuie met die naam Bill het die Bybel gereeld met my bespreek. Nadat ons die verhaal van Job bestudeer het, het Bill my gevra vir wie anders Satan van halfhartige aanbidding van God beskuldig het (Job 2:3-5). Ek het al die Bybelkarakters opgenoem wat ek geken het, en Bill het geduldig geantwoord: “Ja, ja, hulle ook.” Toe het hy my reg in die oë gekyk en gesê: “Satan sê dit ook van jou!” Ek het byna van my stoel afgeval. Voor daardie studie het ek geweet dat die dinge wat ek leer, waar is. Maar nou het ek verstaan waarom ek moet toepas wat ek leer. Vier maande later is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek sidder wanneer ek dink aan hoe my lewe sou gewees het as ek nie geleer het om volgens Bybelstandaarde te lewe nie. Ek sou heel waarskynlik dood gewees het. Baie van my gewese maats is dood as gevolg van dwelms of drank. Hulle het ook ongelukkige huwelike gehad. Ek kan net dink dat my lewe dieselfde sou gewees het.
Ek is nou getroud, en ek en my vrou, Margaret, dien by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië. Nie een van my familielede het Jehovah al saam met my begin dien nie. Maar deur die jare heen het ek en Margaret die vreugde gesmaak om die Bybel te studeer met ’n aantal individue en egpare wat hulle lewe verander het, net soos ek gedoen het. Sodoende het ons talle wonderlike vriende gemaak. Daarbenewens het Margaret, wat as ’n Getuie grootgemaak is, my gehelp om die gelofte na te kom wat ek byna 40 jaar gelede gedoen het. Ons is nou al meer as 25 jaar gelukkig getroud. Ons stem nie altyd saam nie, maar tot dusver het ons nog nie gestry nie. Ons albei voel dat ons dit aan die Bybel te danke het.
PROFIEL
NAAM: MASAHIRO OKABAJASJI
OUDERDOM: 39
GEBOORTELAND: JAPAN
GESKIEDENIS: DOBBELAAR
MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Iwakoera, ’n betreklike klein dorpie ongeveer ’n halfuur se reis per trein van Nagoja af. My ma en pa was albei baie liefdevolle mense. Maar ek het later uitgevind dat my pa ’n jakoeza, of bendelid, was, wat ons gesin van vyf ’n ruk lank deur middel van bedrog onderhou het. Hy het elke dag straf gedrink, en toe ek 20 jaar oud was, het hy aan lewersirrose gesterf.
My pa was Koreaans, en daarom het die res van die gemeenskap dikwels teen ons gesin gediskrimineer. Hierdie feit en ander probleme het my tienerjare baie ongelukkig gemaak. Hoewel ek my by ’n hoërskool ingeskryf het, het ek net af en toe skool toe gegaan, en ná ’n jaar het ek heeltemal opgehou. Ek het reeds ’n kriminele rekord gehad, en dit sowel as die feit dat ek half-Koreaans is, het dit vir my moeilik gemaak om werk te kry. Ek het uiteindelik werk gekry, maar ek het my knieë beseer en kon toe nie fisiese werk doen nie.
Ek het ’n bestaan begin maak uit patjinko, ’n vorm van dobbelary, waarin ’n apparaat soortgelyk aan ’n spykertafel gebruik word. Teen daardie tyd het ek met ’n meisie saamgelewe wat wou hê dat ek ’n behoorlike werk moes kry en met haar moes trou. Maar ek het baie geld gemaak deur te dobbel, en ek wou nie my lewenswyse verander nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Eendag het een van Jehovah se Getuies na ons deur gekom en die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? by my gelaat. Ek het nooit vantevore aan hierdie vraag gedink nie. Maar nadat ek die boek gelees het, het ek ingestem om meer oor die Bybel te leer. Ek het altyd gewonder wat by die dood gebeur. Die duidelike antwoorde wat ek hieroor en oor ander onderwerpe uit die Bybel gekry het, het my laat voel asof skille van my oë afgeval het.
Ek het besef dat ek moet toepas wat ek uit die Bybel leer. Gevolglik het ek my huwelik gewettig, opgehou rook, my lang, blondgebleikte hare gesny en my voorkoms opgeknap. Ek het ook opgehou dobbel.
Nie een van hierdie veranderinge was vir my maklik nie. Ek kon byvoorbeeld nie in my eie krag ophou rook nie. Maar deur ernstige gebed en vertroue op Jehovah God het ek wel opgehou. Daarbenewens was die eerste werk wat ek gekry het nadat ek patjinko opgegee het, vir my ’n groot uitdaging. Ek het net die helfte verdien van wat ek uit dobbelary gemaak het, en dit was harde en stresvolle werk. ’n Skrifgedeelte wat my deur hierdie moeilike tyd gehelp het, was Filippense 4:6, 7. Dit sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Ek het by talle geleenthede die waarheid van hierdie belofte ondervind.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het, het my vrou nie daarvan gehou nie. Maar toe sy sien watter groot veranderinge ek in my gedrag aanbring, het sy by my studiesessies aangesluit en die vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met my begin bywoon. Nou is ons albei Jehovah se Getuies. Dit is ’n groot seën om God saam te kan dien!
Voordat ek die Bybel bestudeer het, het ek gedink dat ek gelukkig is. Maar nou weet ek wat ware geluk is. Dit is beslis nie maklik om volgens Bybelstandaarde te lewe nie, maar ek is seker dat dit die beste lewenswyse is.
PROFIEL
NAAM: ELIZABETH JANE SCHOFIELD
OUDERDOM: 35
GEBOORTELAND: VERENIGDE KONINKRYK
GESKIEDENIS: HET VIR DIE NAWEKE GELEWE
MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Hardgate, ’n dorpie net buite Glasgow, Skotland. Toe ek sewe was, het my ma, wat een van Jehovah se Getuies geword het, my van die Bybel begin leer. Maar teen die tyd dat ek 17 was, het ek meer daarin belang gestel om tyd saam met my skoolvriende deur te bring—om na nagklubs te gaan, na heavy metal-musiek te luister en alkohol te drink. Geestelike dinge was glad nie vir my belangrik nie. Ek het vir die naweke gelewe. Maar dit alles het verander toe ek 21 was.
Ek het by familielede in Noord-Ierland gaan kuier. Terwyl ek daar was, het ek die Protestantse Oranje-optog gesien. Die intense haat en dweepsug wat ek by dié geleentheid tussen Protestante en Katolieke gesien het, het my geskok. Om die waarheid te sê, dit het my tot besinning gebring. Ek het onthou wat my ma my uit die Bybel geleer het en het geweet dat God nooit diegene sal goedkeur wat sy liefdevolle standaarde ignoreer nie. Toe het ek besef dat ek besig was om my eie belange na te jaag en nie ag geslaan het op hoe God wil hê ek moet lewe nie. Ek het besluit dat ek, wanneer ek na Skotland terugkeer, Bybelleringe ernstig sou ondersoek.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek vir die eerste keer weer ’n vergadering van Jehovah se Getuies in my tuisdorp bygewoon het, het ek ongemaklik en senuweeagtig gevoel. Maar almal het my welkom laat voel. Toe ek die dinge wat ek uit die Bybel geleer het, begin toepas het, het ’n baie goedhartige lid van die gemeente spesiale belangstelling in my getoon. Sy het my werklik gehelp om weer deel van die gemeente te voel. Die vriende met wie ek vroeër geassosieer het, het aangehou om my na nagklubs uit te nooi, maar ek het vir hulle gesê dat ek vasbeslote is om volgens Bybelstandaarde te lewe. Uiteindelik het hulle my uitgelos.
In die verlede het ek gemeen dat die Bybel basies net ’n reëlboek is. Nou het my gesindheid verander. Ek het die Bybelkarakters begin sien as werklike mense wat gevoelens en swakhede gehad het, net soos ek. Hulle het ook foute begaan, maar Jehovah God het hulle vergewe wanneer hulle opreg jammer was. Ek het die vertroue opgebou dat God, hoewel ek my rug op hom gedraai het toe ek jonk was, my sou vergewe en my vorige foute sou vergeet as ek hard probeer om hom te behaag.
My ma se gedrag het my ook diep beïndruk. Hoewel ek God verlaat het, het sy dit nooit gedoen nie. Haar getroue voorbeeld van lojaliteit het my laat besef dat dit die moeite werd is om Jehovah te dien. Toe ek jonk was en saam met my ma in die predikingswerk van deur tot deur gegaan het, het ek dit nooit geniet nie en kon ek my nie voorstel dat ek ooit ure lank vir mense sal kan preek nie. Maar nou het ek besluit om Jesus se belofte in Matteus 6:31-33 op die proef te stel. Hy het gesê: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” Kort nadat ek as een van Jehovah se Getuies gedoop is, het ek my voltydse werk opgegee, ’n deeltydse werk gekry en ’n voltydse bedienaar geword.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek jonger was en net vir die naweke gelewe het, was ek nooit vergenoeg nie. My lewe was leeg. Noudat ek Jehovah heelhartig dien, ervaar ek ’n gevoel van tevredenheid. My lewe is sinvol en doelgerig. Ek is nou getroud, en ek en my man besoek elke week verskillende gemeentes van Jehovah se Getuies en moedig hulle aan. Ek beskou hierdie werk as die grootste voorreg van my lewe. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy my ’n tweede kans gegee het!
[Lokteks op bladsy 27]
“Van die heel eerste bespreking af het ek geweet dat ek iets besonders gevind het. Maar op daardie stadium het ek nie besef dat ek my lewenswyse enigsins moet verander nie”
[Lokteks op bladsy 29]
“Ek kon . . . nie in my eie krag ophou rook nie. Maar deur ernstige gebed en vertroue op Jehovah God het ek wel opgehou”
[Lokteks op bladsy 30]
“In die verlede het ek gemeen dat die Bybel basies net ’n reëlboek is. Nou het my gesindheid verander. Ek het die Bybelkarakters begin sien as werklike mense wat gevoelens en swakhede gehad het, net soos ek”