Die opgang en ondergang van “die skepe van Tarsis”
“Die skepe van Tarsis het die seë deurkruis vir jou handel.”—ESEGIËL 27:25, THE JERUSALEM BIBLE
DIE skepe van Tarsis het gehelp om koning Salomo ryk te maak. Die mense wat hulle gebou het, het die ontwikkeling van die Griekse en Romeinse alfabet beïnvloed. Hulle het ook ’n stad gestig wat sy naam, Bublos, gegee het aan die invloedrykste boek wat nog ooit gepubliseer is.
Wie het die skepe van Tarsis gebou en gebruik? Hoe het die skepe hulle naam gekry? En hoe bevestig gebeure in verband met hierdie mense en hulle skepe die akkuraatheid van die Bybel?
Heersers van die Middellandse See
Die Fenisiërs het die vaartuie gebou wat later die skepe van Tarsis genoem is. Die Fenisiërs was ongeveer duisend jaar voor Christus reeds ervare seevaarders. Hulle vaderland was ’n smal kusstrook wat min of meer met die hedendaagse Libanon ooreenkom. Ander nasies het die gebiede na die noorde, ooste en suide bewoon. Na die weste het die uitgestrekte Middellandse See gelê. Die Fenisiërs het hulle tot hierdie see gewend om rykdom te verkry.
Die Fenisiese seevaarders het gaandeweg ’n florerende handelsvloot opgebou. Namate die winste toegeneem en die tegnologie gevorder het, het hulle groter skepe gebou wat langer reise kon onderneem. Nadat die Fenisiërs Siprus, Sardinië en die Baleariese Eilande bereik het, het hulle in ’n westelike rigting met die kuslyn van Noord-Afrika langs gevaar totdat hulle Spanje bereik het. (Sien die bygaande kaart.)
Fenisiese skeepsbouers het skepe gebou wat 30 meter lank was. Hierdie seevaartuie is blykbaar “skepe van Tarsis” genoem omdat hulle die 4 000 kilometer lange reis kon onderneem van Fenisië na Suid-Spanje, die moontlike ligging van Tarsis.a
Die Fenisiërs was moontlik nie daarop uit om oor die wêreld te regeer nie, net om geld daaruit te maak. Hulle het dit gedoen deur handelsposte te stig. Maar as handelaars het hulle die heersers van die Middellandse See geword.
Verder as die Middellandse See
In hulle strewe na winste het die Fenisiese ontdekkingsreisigers dit tot in die Atlantiese Oseaan gewaag. Hulle skepe het weer al langs die suidelike kus van Spanje gevaar totdat hulle ’n gebied bereik het wat Tartessus genoem is. Omstreeks die jaar 1100 v.G.J. het hulle ’n stad gestig wat hulle Gadir genoem het. Hierdie hawestad, wat nou bekend staan as Cádiz, Spanje, het een van die eerste groot stede van Wes-Europa geword.
Die Fenisiërs het handel gedryf met sout, wyn, gedroogde vis, sederhout, dennehout, metaalwerk, glas, borduurwerk, fyn linne en materiaal wat die beroemde Tiriese purper gekleur is. Watter rykdom kon Spanje in ruil hiervoor gee?
Suid-Spanje was die rykste bron van silwer en ander kosbare metale in die Mediterreense gebied. Die profeet Esegiël het oor Tirus, die vernaamste hawestad van die Fenisiërs, gesê: “Jy het in Spanje handel gedryf en silwer, yster, tin en lood as betaling vir jou oorvloedige goedere geneem.”—Esegiël 27:12, Today’s English Version.
Die Fenisiërs het ’n skynbaar onuitputlike voorraad van hierdie minerale naby die Guadalquivir-rivier, nie ver van Cádiz af nie, ontdek. Dieselfde minerale word nog steeds in hierdie gebied ontgin, wat nou Río Tinto genoem word. Hierdie myne lewer al ongeveer drieduisend jaar lank erts van hoë gehalte.
Toe die Spaans-Fenisiese skeepvaartlyn goed gevestig was, het die Fenisiërs ’n monopolie van Spaanse silwer gehad. Die silwer het Fenisië en selfs nabygeleë Israel binnegestroom. Koning Salomo van Israel het ’n vennootskap met die Fenisiese koning Hiram aangegaan. Gevolglik is silwer in Salomo se dag as “hoegenaamd niks” geag nie.—1 Konings 10:21.b
Hoewel die Fenisiërs suksesvolle handelaars geword het, kon hulle genadeloos wees. Na bewering het hulle mense soms na hulle skepe gelok onder die voorwendsel dat hulle vir hulle hulle ware gaan wys, en dan het hulle slawe van hulle gemaak. Later het hulle selfs teen hulle voormalige handelsvennote, die Israeliete, gedraai en hulle in slawerny verkoop. Gevolglik het Hebreeuse profete die vernietiging van die Fenisiese stad Tirus voorspel. Dié profesieë is uiteindelik in 332 v.G.J. deur Aleksander die Grote vervul (Joël 3:6; Amos 1:9, 10). Hierdie vernietiging het die einde van die Fenisiese era beteken.
Die Fenisiese erfenis
Soos alle goeie sakemanne het die Fenisiese handelaars hulle ooreenkomste op skrif gestel. Hulle het ’n alfabet gebruik wat baie dieselfde is as Ou Hebreeus. Ander nasies het die voordele van die Fenisiese alfabet ingesien. Met geringe aanpassings het dit die grondslag vir die Griekse alfabet geword, wat weer die voorloper van die Romeinse skrif was, wat vandag een van die algemeenste alfabette is.
Daarbenewens het die belangrike Fenisiese stad Bublos ’n sentrum geword vir die verspreiding van papirus, die voorloper van hedendaagse papier. Die gebruik van papirus as skryfmateriaal het tot die ontwikkeling van boeke gelei. Trouens, die woord vir die boek met die grootste verspreiding ter wêreld, die Bybel, is afgelei van die naam Bublos. Ja, die geskiedkundige verslag van die Fenisiërs en hulle skepe bou vertroue op dat die Bybel stewig op feite gegrond is.
[Voetnote]
a Met verloop van tyd het die term “skepe van Tarsis” verwys na ’n soort skip, een wat lang seereise kon onderneem.
b Salomo se “vloot Tarsisskepe”, wat waarskynlik vanuit Eseon-Geber gevaar en in die Rooi See en nog verder handel gedryf het, het met Hiram se vloot saamgewerk.—1 Konings 10:22.
[Kaart op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FENISIESE HANDELSROETES
SPANJE
TARTESSUS
Guadalquivir-rivier
Gadir
Korsika
Baleariese Eilande
Sardinië
Sisilië
Kreta
Siprus
Bublos
Tirus
MIDDELLANDSE SEE
Eseon-Geber
Rooi See
AFRIKA
[Prent op bladsy 27]
’n Muntstuk wat ’n Fenisiese skip uitbeeld, derde tot vierde eeu v.G.J.
[Prent op bladsy 27]
Ruïnes van ’n Fenisiese nedersetting, Cádiz, Spanje
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Museo Naval, Madrid
[Foto-erkenning op bladsy 27]
Muntstuk: Museo Arqueológico Municipal. Puerto de Sta. María, Cádiz; ruïnes: Yacimiento Arqueológico de Doña Blanca, Pto. de Sta. María, Cádiz, España