Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 3/1 bl. 26-29
  • Eertydse seereise verder as die Middellandse See

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eertydse seereise verder as die Middellandse See
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë reise van die Fenisiërs
  • Piteas vaar noordwaarts
  • Na Bretagne, Brittanje en nog verder
  • Horisonne word verbreed
  • Die opgang en ondergang van “die skepe van Tarsis”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Navigasie met behulp van water, sterre en wind
    Ontwaak!—2003
  • Hoe ver oos kon sendelinge gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Middellandse See—’n ingeslote see met oop wonde
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 3/1 bl. 26-29

Eertydse seereise verder as die Middellandse See

Vandag is dit vir mense niks om op ’n vliegtuig te klim en van een vasteland na ’n ander te vlieg nie. Sou dit jou verbaas om te hoor dat mense selfs in Bybeltye oor lang afstande gereis het?

SOWAT eenduisend jaar voor Christus het koning Salomo ’n vloot skepe gebou wat saam met skepe van die koning van Tirus gevaar het om begeerlike goedere van verafgeleë plekke na Israel te bring (1 Konings 9:26-28; 10:22). In die negende eeu VHJ het die profeet Jona in die Mediterreense hawestad Joppe in Israel aan boord ’n skip gegaan wat op pad na Tarsis was (Jona 1:3).a In die eerste eeu HJ het die apostel Paulus gereis van Sesarea in Israel tot by Puteoli, die hedendaagse Pozzuoli, aan die Golf van Napels, in Italië.—Handelinge 27:1; 28:13.

Geskiedkundiges weet dat koopmanne van die Middellandse See-gebied in Paulus se dag gereeld oor die Rooisee na Indië gereis het en dat party teen die middel van die tweede eeu selfs China bereik het.b Maar wat weet ons omtrent vroeë weswaartse seereise verder as die Middellandse See? Hoe ver wes het eertydse seemanne gereis?

Vroeë reise van die Fenisiërs

Eeue voor Paulus se tyd het seevarende volke handelskolonies in die Weste gestig. Daar word gedink dat die Fenisiërs, wie se tuisland in hedendaagse Libanon was, teen 1200 VHJ die Atlantiese Oseaan bereik het. Hulle het Gadir, wat nou die Spaanse hawestad Cádiz is, omstreeks 1100 VHJ net buite die Straat van Gibraltar gestig. Onder die handelsware wat daar beskikbaar was, was silwer en tin wat plaaslik gemyn is en deur Atlantiese handelaars ingevoer is.

Die Griekse geskiedkundige Herodotus het geskryf dat farao Nego van Egipte in die sewende eeu VHJ ’n flottielje Fenisiese skepe, wat deur Fenisiërs beman is, aan die bo-ent van die Rooisee versamel het. Die doel was om van oos na wes om Afrika te vaar.

Teen daardie tyd het die Fenisiërs al eeue lank die kuslyn van Afrika verken. Maar weens teenwinde en ongunstige seestrome sou seemanne wat suidwaarts al langs die Atlantiese kus van die vasteland gevaar het, nie juis baie ver gekom het nie. Volgens Herodotus het die Fenisiërs die nuwe ekspedisie by die Rooisee begin en die oostelike kus van Afrika suidwaarts gevolg in die Indiese Oseaan in. Teen die middel van die jaar het hulle aan wal gegaan, saad gesaai, lank genoeg aangebly om ’n oes in te samel en toe verder gevaar. In die derde jaar, het Herodotus gesê, het hulle om die hele vasteland gevaar, die Middellandse See binnegegaan en na Egipte teruggekeer.

Herodotus het sy verslag afgesluit deur te sê dat die Fenisiërs vertel het van dinge wat hy nie kon glo nie, insluitende hulle opmerking dat hulle die son aan hulle regterkant gesien het toe hulle om die punt van Afrika gevaar het. Dit sou vir ’n eertydse Griek inderdaad moeilik gewees het om hierdie stelling te glo. Enigeen wat sy hele lewe lank noord van die ewenaar woon, is daaraan gewoond om die son in die suide te sien. Wanneer hy weswaarts reis, is die son dus links van hom. Maar by die Kaap die Goeie Hoop, wat suid van die ewenaar lê, sit die middagson in die noorde—regs van enigeen wat weswaarts vaar.

Herodotus se verslag was eeue lank ’n omstrede onderwerp onder geskiedkundiges. Dit klink vir baie dalk ongelooflik dat seevaarders so lank gelede om Afrika kon vaar. Maar geleerdes glo dat farao Nego wel opdrag gegee het om so ’n ekspedisie uit te voer en dat hierdie reis wel moontlik was met die vaardighede en die kennis van daardie tyd. “So ’n reis is heeltemal uitvoerbaar”, sê die geskiedkundige Lionel Casson. “Daar is geen rede waarom ’n bemanning Fenisiërs dit nie kon voltooi binne die tydsbestek en op die manier wat Herodotus beskryf nie.” Daar kan nie met sekerheid gesê word tot watter mate Herodotus se verslag feitelik is nie. Nietemin gee dit ons ’n idee van die onvermoeide pogings om seevaart so vroeg in die geskiedenis na onbekende streke uit te brei.

Piteas vaar noordwaarts

Die Fenisiërs was nie die enigste vroeë Mediterreense volk wat weswaarts in die rigting van die Atlantiese Oseaan gevaar het nie. Onder die kolonies wat die Griekse seevaarders om die Middellandse See gestig het, was Massalia, nou die Franse stad Marseille. Danksy see- en landhandel het die stad gefloreer. Vanaf Massalia het handelaars Mediterreense wyn, olie en bronsware na die noorde gestuur en weer onverwerkte metale en amber daarvandaan verkry. Die inwoners van Massalia wou ongetwyfeld graag weet waar dié goedere vandaan kom. Daarom het Piteas van Massalia omstreeks 320 VHJ ’n seereis onderneem om self na hierdie verafgeleë noordelike lande te gaan kyk.

Toe Piteas terugkeer, het hy ’n verslag oor sy reise met die titel Oor die Oseaan geskryf. Hoewel die oorspronklike Griekse teks van sy boek nie meer bestaan nie, het ten minste 18 eertydse skrywers daaruit aangehaal. Hierdie aangehaalde gedeeltes dui daarop dat Piteas die seë, getye, geografie en bevolkings van die plekke wat hy besoek het, noukeurig beskryf het. Hy het ook die lengte van die skaduwee wat deur ’n gnomon, of sonwyserpen, gewerp word, gebruik om die hoogtehoek van die middagson op ’n bekende datum te bereken, en met behulp daarvan het hy bepaal hoe ver noord hy gereis het.

Piteas het persoonlik in die wetenskap belanggestel. Maar wetenskaplike verkenning kon nouliks die hoofdoel van sy reis gewees het. Geleerdes het al aan die hand gedoen dat hy eerder die reis aangepak het in opdrag van en met die finansiële steun van mense met handelsbelange in Massalia om ’n seeroete te vind na daardie verafgeleë kusstreke waar hulle geweet het amber en tin verkry kon word. Waarheen het Piteas dus gegaan?

Na Bretagne, Brittanje en nog verder

Dit wil voorkom asof Piteas om Iberië en teen die kus van Gallië op na Bretagne gevaar het, waar hy aan wal gegaan het. Ons weet dit omdat een van sy metings van die son se hoek bo die horison—wat hy heel moontlik op land geneem het—ooreenstem met ’n ligging in Noord-Bretagne.c

Die inwoners van Bretagne was ervare skeepsbouers en seevaarders wat met Brittanje handelgedryf het. Cornwallis, die suidwestelikste punt van Brittanje, was ryk aan tin, ’n noodsaaklike komponent van brons, en dít was waarheen Piteas hierna gereis het. In sy verslag het hy die grootte en min of meer driehoekige vorm van Brittanje beskryf, wat daarop dui dat hy om die eiland moes gevaar het.

Hoewel daar nie met sekerheid gesê kan word presies watter roete Piteas gevolg het nie, het hy heel moontlik tussen Brittanje en Ierland gevaar en aan wal gegaan op die eiland Man, waarvan die breedtegraad ooreenstem met sy tweede meting van die son se hoek. Die derde meting is moontlik geneem op Lewis van die Buite-Hebride, naby die weskus van Skotland. Van daar af het hy waarskynlik verder noord na die Orkney-eilande, noord van die Skotse vasteland, gereis omdat sy verslag, wat deur Plinius die Ouere aangehaal word, sê dat dit uit 40 eilande bestaan.

Ses dae se reis noordwaarts van Brittanje af, het Piteas geskryf, was daar ’n land met die naam Thule. Etlike eertydse skrywers verwys na Piteas se beskrywing van Thule as die land van die middernagson. Nog ’n dagreis verder, het hy geskryf, het ’n mens gebring tot waar die see “gevries” is. Die presiese ligging van die Thule waarna Piteas verwys het, het al heelwat debat ontlok—party sê dit was die Faroëreilande, ander Noorweë en nog ander Ysland. Waar Thule ook al was, eertydse skrywers het geglo dat die ligging daarvan “verder noord as alle ander bekende plekke” was.

Piteas het vermoedelik na Brittanje teruggekeer deur ’n soortgelyke roete te volg as dié waarmee hy gekom het, en toe het hy sy reis om daardie eiland voltooi. Of hy die noordelike kus van Europa verder verken het voordat hy na die Middellandse See teruggevaar het, weet ons nie. Hoe dit ook al sy, Plinius die Ouere haal Piteas aan as ’n gesaghebbende wat amberproduserende streke betref. Eertydse bronne van hierdie kosbare materiaal was in Jutland, deel van hedendaagse Denemarke, en aan die suidkus van die Baltiese See. Piteas kon natuurlik omtrent hierdie gebiede uitgevind het terwyl hy by enige van die hawens in Oos-Brittanje aangedoen het, en sover ons weet, het hy nooit gesê dat hy dit self besoek het nie.

Die volgende bekende Mediterreense reisiger wat oor sy besoek aan Brittanje geskryf het, is Julius Caesar, wat in 55 VHJ in die suidelike deel van hierdie eiland aan wal gegaan het. Teen 6 HJ het ander Romeinse veldtogte die noorde van Jutland bereik.

Horisonne word verbreed

Die Fenisiërs en Grieke het die geleerde wêreld gehelp om nie net groter kennis van die geografie van die Middellandse See te kry nie, maar ook van die Atlantiese Oseaan, tot by die suidelikste dele van Afrika en dele noordwaarts tot by die Noordpoolstreek. Die destydse wêreld het baie verkenningsreise onderneem, handelgedryf, horisonne verbreed, ontsaglike afstande afgelê en gevolglik idees en kennis uitgeruil.

Oorblywende verslae van eertydse ontdekkingsreise verteenwoordig heel moontlik net ’n fraksie van die reise wat dapper seemanne met welslae voltooi het. Hoeveel eertydse seevaarders het na hulle vertrekpunt teruggekeer sonder om ooit te skryf oor waar hulle was? En hoeveel het van hulle tuisland na verafgeleë plekke gevaar sonder om ooit terug te keer? Hierdie vrae bly onbeantwoord. Maar ons kan wel iets leer omtrent die vroeë verspreiding van die Christelike godsdiens.—Sien die venster hierbo.

[Voetnote]

a Hierdie naam word dikwels geassosieer met ’n streek in die suide van Spanje wat Griekse en Romeinse skrywers Tartessus genoem het.

b Vir meer inligting oor reise ooswaarts, sien “Hoe ver oos kon sendelinge gaan?” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2009.

c In moderne terme is dit op die breedtegraad 48°42’ N.

[Venster op bladsy 29]

Die goeie nuus is “verkondig . . . in die hele skepping”

Omstreeks 60-61 HJ het die apostel Paulus geskryf dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Het hy bedoel dat Christene reeds in Indië, die Verre Ooste, Afrika, Spanje, Gallië, Brittanje, die Baltiese streke en in Piteas se Thule gepreek het? Dit is onwaarskynlik, maar ons kan nie met sekerheid sê nie.

Dit is egter ’n onbetwisbare feit dat die goeie nuus wyd versprei het. Jode en proseliete wat die Christelike godsdiens op Pinkster 33 HJ aangeneem het, het byvoorbeeld hulle nuutgevonde geloof ten minste tot by Partië, Elam, Medië, Mesopotamië, Arabië, Klein-Asië, die dele van Libië in die rigting van Sirene, en ook Rome geneem—en dit het die hele wêreld wat aan Paulus se lesers bekend was, omvat.—Handelinge 2:5-11.

[Diagram/Kaart op bladsy 26, 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Herodotus het gesê dat seemanne wat om die punt van Afrika gevaar het, die son aan hulle regterkant gesien het

[Kaart]

AFRIKA

MIDDELLANDSE SEE

INDIESE OSEAAN

ATLANTIESE OSEAAN

[Diagram/Kaart op bladsy 28, 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die lang seereis van die Griekse seevaarder Piteas

[Kaart]

IERLAND

YSLAND

NOORWEË

Noordsee

BRITTANJE

BRETAGNE

IBERIESE SKIEREILAND

NOORDKUS VAN AFRIKA

MIDDELLANDSE SEE

Marseille

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel