Is Jesus die almagtige God?
Algemene antwoorde:
▪ “Ja, Jesus is die almagtige God.”
▪ “Jesus was die openbaring van God in die vlees.”
Wat het Jesus gesê?
▪ “As julle my liefgehad het, sou julle bly wees dat ek na die Vader toe gaan, want die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Jesus het gesê dat hy en sy Vader nie gelykes is nie.
▪ “Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God” (Johannes 20:17). Jesus het nie van homself as God gepraat nie, maar het van God as ’n aparte Persoon gepraat.
▪ “Ek het nie op eie ingewing gespreek nie, maar die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek” (Johannes 12:49). Jesus se leringe het nie van hom af gekom nie; dit het van die Vader af gekom.
JESUS het gesê dat hy die Seun van God is, nie God die Almagtige nie. As Jesus God was, tot wie het hy dan gebid toe hy op aarde was? (Matteus 14:23; 26:26-29). Jesus het tog sekerlik nie net gemaak asof hy met iemand anders praat nie!
Toe twee van Jesus se dissipels hom gevra het of hulle spesiale posisies in sy Koninkryk kon beklee, het hy geantwoord: “Om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie dit deur my Vader berei is” (Matteus 20:23). Het Jesus ’n leuen vertel toe hy gesê het dat hy nie die gesag het om hulle versoek toe te staan nie? Beslis nie! Hy het eerder nederig erken dat net God die gesag het om sulke besluite te neem. Jesus het selfs verduidelik dat daar party dinge is wat nie hy of die engele weet nie, maar net sy Vader.—Markus 13:32.
Was Jesus slegs ondergeskik aan God terwyl hy ’n mens hier op aarde was? Nee. Selfs ná sy dood en opstanding word Jesus in die Bybel as ondergeskik aan God beskryf. Die apostel Paulus herinner ons: “God is bo Christus” (1 Korintiërs 11:3, Today’s English Version). Die Bybel sê die volgende oor wat Christus in die toekoms gaan doen: “Wanneer alles aan hom onderwerp is, dan sal die Seun self hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees”.—1 Korintiërs 15:28.
Dit is duidelik dat Jesus nie God die Almagtige is nie. Dit is waarom hy van sy Vader as “my God” gepraat het.—Openbaring 3:2, 12; 2 Korintiërs 1:3, 4.a
[Voetnoot]
a Vir verdere inligting oor hierdie onderwerp, sien bladsye 201-204 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 7]
Jesus het gesê dat daar party dinge is wat nie hy of die engele weet nie, maar net sy Vader