Vatikaan wil ’n einde maak aan die gebruik van die goddelike naam
DIE Katolieke hiërargie wil ’n einde maak aan die gebruik van die goddelike naam in hulle kerkdienste. Verlede jaar het die Vatikaan se Kongregasie vir die Gewyde Erediens en die Reëling van die Sakramente instruksies oor hierdie onderwerp aan konferensies van Katolieke biskoppe oor die hele wêreld gestuur. Dié stap is “op gesag” van die pous gedoen.
Hierdie dokument, gedateer 29 Junie 2008, veroordeel die feit dat “die gebruik in onlangse jare ingesluip het om die eienaam van die God van Israel uit te spreek, wat as die heilige of goddelike tetragrammaton bekend staan, geskryf met vier konsonante van die Hebreeuse alfabet in die vorm יהוה, JHWH”, ten spyte van instruksies daarteen. Die dokument noem dat die goddelike naam al as “Yahweh”, “Yahwè”, “Jahweh”, “Jahwè”, “Jave”, “Yehovah”, ensovoorts weergegee is.a Die Vatikaan wil egter met hierdie instruksies weer die tradisionele Katolieke standpunt instel. Dit wil sê, die Tetragrammaton moet met “Here” vervang word. Wat meer is, in Katolieke kerkdienste, gesange en gebede moet God se naam “JHWH nie gebruik óf uitgespreek word nie”.
Ter ondersteuning van hierdie standpunt verlaat die Vatikaan se dokument hom op die gesag van die “eeue oue tradisie” van Katolisisme. Volgens die dokument is die goddelike naam selfs in die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, wat uit voor-Christelike tye dateer, dikwels as Kuʹri·os, die Griekse woord vir “Here”, weergegee. Om dié rede hou dit dus vol dat “ook Christene van die begin af nooit die goddelike tetragrammaton uitgespreek het nie”. Hierdie stelling ignoreer egter duidelike bewys van die teendeel. Vroeë eksemplare van die Septuagint het nie Kuʹri·os nie, maar die goddelike naam in die vorm יהוה bevat. Christus se eerste-eeuse volgelinge het God se naam geken en dit uitgespreek. Jesus self het in gebed tot sy Vader gesê: “Ek het u naam . . . bekend gemaak” (Johannes 17:26). En in sy welbekende modelgebed het Jesus ons leer bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.”—Matteus 6:9.
Dit behoort alle Christene se begeerte te wees om seker te maak dat God se naam geheilig word. Die Vatikaan se pogings om ’n einde te maak aan die gebruik daarvan, strek Jehovah tot oneer, die een wat gesê het: “Dit is my naam vir altyd; by hierdie naam sal ek in alle komende geslagte aangeroep word.”—Eksodus 3:15, The Jerusalem Bible.
[Voetnoot]
a Die vorm “Jehovah” word al eeue lank alom in Engels erken en word in baie Bybelvertalings gebruik.
[Lokteks op bladsy 30]
“Dit is my naam vir altyd.”—Eksodus 3:15, JB
[Prent op bladsy 30]
’n Fragment van die “Septuagint” wat uit die eerste eeu G.J. dateer. Die goddelike naam, soos voorgestel deur die vier Hebreeuse letters wat gewoonlik as JHWH getranslitereer word, is omkring
[Erkenning]
Courtesy of the Egypt Exploration Society