Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 4/15 bl. 12-13
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat sê die Bybel oor aborsie?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die lewe—’n kosbare gawe
    Ontwaak!—1993
  • Aborsie
    Ontwaak!—2017
  • Gebore in ’n koue wêreld!
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 4/15 bl. 12-13

Vrae van lesers

Is daar enige hoop op ’n opstanding vir ’n baba wat in die baarmoeder sterf?

Dit kan vir diegene wat nog nooit ’n baba op hierdie manier verloor het nie, moeilik wees om die gevoelens te verstaan van diegene wat dit wel ervaar het. Party ouers treur geweldig oor so ’n verlies. Een ma het vyf kinders voor hulle geboorte verloor. Later was dit vir haar ’n seën om twee gesonde seuns groot te maak. Maar sy het die dood van elke kind onthou. Tot die dag van haar dood het sy geweet presies hoe oud haar babas wat dood gebore is en wat sy deur miskrame verloor het, sou gewees het as hulle gelewe het. Het sulke Christene ’n grondslag vir hoop dat ’n opstanding sal terugbring wat hulle verloor het?

Die eenvoudige antwoord op dié vraag is dat ons nie weet nie. Die Bybel praat nooit regstreeks van ’n opstanding vir babas wat dood gebore of deur ’n miskraam verloor is nie. Maar God se Woord bevat wel beginsels wat met hierdie vraag verband hou en wat ’n mate van vertroosting kan bied.

Kom ons beskou twee verwante vrae. Eerstens, wanneer begin die lewe van ’n mens vanuit Jehovah se standpunt—by bevrugting of by geboorte? Tweedens, hoe beskou Jehovah ’n ongebore kind—as ’n unieke individu of as ’n blote versameling van selle en weefsel in ’n vrou se baarmoeder? Bybelbeginsels verstrek ’n duidelike antwoord op albei vrae.

Die Mosaïese Wet het duidelik getoon dat die lewe nie by geboorte begin nie, maar baie vroeër. Hoe so? Dit het getoon dat iemand wat verantwoordelik was vir die dood van ’n fetus, die doodstraf kon ontvang. Let op hierdie wet: “Jy [moet] gee siel vir siel” (Eks. 21:22, 23).a Die ongebore kind in die baarmoeder lewe dus en is ’n lewende siel. ’n Begrip van hierdie tydlose waarheid het al miljoene Christene gehelp om die gebruik van aborsie te verwerp, in die besef dat dit ’n ernstige sonde teen God is.

Die ongebore kind lewe weliswaar, maar watter waarde heg Jehovah aan hierdie lewe? Die wet wat hierbo aangehaal is, het geëis dat ’n volwassene doodgemaak word as hy die dood van ’n ongebore kind veroorsaak. Dit is derhalwe duidelik dat die lewe van ’n ongebore kind in God se oë van groot waarde is. Verder toon talle gedeeltes in die Skrif dat Jehovah ’n ongebore kind as ’n afsonderlike individu beskou. Koning Dawid is byvoorbeeld geïnspireer om van Jehovah te sê: “U het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. . . . U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe, met betrekking tot die dae toe hulle gevorm is.”—Ps. 139:13-16; Job 31:14, 15.

Jehovah sien ook dat ’n ongebore kind spesifieke eienskappe en moontlik groot potensiaal vir die toekoms het. Terwyl Isak se vrou Rebekka swanger was met ’n tweeling, het Jehovah ’n profesie uitgespreek oor die twee seuns wat in haar baarmoeder geworstel het, wat daarop dui dat hy reeds eienskappe in hulle gesien het wat verreikende gevolge sou hê.—Gen. 25:22, 23; Rom. 9:10-13.

Die geval van Johannes die Doper is ook interessant. Die Evangelieverslag sê: “Toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar moederskoot gespring; en Elisabet is met heilige gees vervul” (Luk. 1:41). In sy beskrywing van hierdie voorval het die geneesheer Lukas ’n Griekse woord gebruik wat na ’n fetus of ’n baba ná sy geboorte kan verwys. Hy het dieselfde woord gebruik waar hy na die baba Jesus in die krip verwys het.—Luk. 2:12, 16; 18:15.

Gee die Bybel oor die algemeen vir ons ’n grondslag om ’n groot onderskeid te tref tussen ’n baba in die baarmoeder en een wat sy eerste asemteug geneem het? Dit lyk nie so nie. En dít stem ooreen met die bevindings van die moderne wetenskap. Navorsers het byvoorbeeld gevind dat ’n baba in die baarmoeder eksterne stimuli kan waarneem en daarop kan reageer. Dit is dus nie verbasend dat ’n verwagtende moeder so ’n hegte band ontwikkel met die kind wat in haar groei nie.

Wanneer die baba uiteindelik gebore word, kan die tyd van die geboorte baie toevallig lyk. Beskou hierdie voorbeeld: Een ma gee voortydig geboorte aan ’n lewende baba, wat ná ’n paar dae sterf. ’n Ander ma dra haar baba die volle termyn, maar die kind sterf net voor die geboorte. Het die eerste ma die hoop dat haar kind opgewek sal word bloot omdat die baba toevallig vroeg gebore is, terwyl die tweede ma glad nie hierdie hoop het nie?

Ter opsomming: Die Bybel leer duidelik dat die lewe by bevrugting begin en dat Jehovah die ongebore baba as ’n unieke en kosbare individu beskou. In die lig van hierdie Bybelwaarhede sal party dit moontlik as inkonsekwent beskou om te redeneer dat daar geen hoop op ’n opstanding is vir ’n ongebore kind wat sterf nie. Ja, hulle voel dalk dat so ’n redenasie ons skriftuurlike standpunt teen aborsie ondermyn, wat grootliks op hierdie einste waarhede gegrond is.

In die verlede het hierdie tydskrif ’n paar praktiese vrae geopper wat blykbaar twyfel wek oor die moontlikheid van ’n opstanding vir kinders wat voor geboorte gesterf het. Byvoorbeeld, sal God in die Paradys ’n gedeeltelik ontwikkelde embrio in die baarmoeder van ’n vrou plaas? Verdere studie en biddende bepeinsing het die Bestuursliggaam egter tot die slotsom laat kom dat sulke oorwegings nie werklik met die opstandingshoop verband hou nie. Jesus het gesê: “By God is alles moontlik” (Mark. 10:27). Jesus se eie ondervinding het die waarheid van hierdie stelling bewys; sy lewe is vanuit die hemel na die baarmoeder van ’n jong maagd oorgeplaas—beslis iets wat vanuit ’n menslike standpunt heeltemal onmoontlik is.

Beteken dit alles dan dat die Bybel leer dat kinders wat voor geboorte sterf, opgewek sal word? Ons moet beklemtoon dat die Bybel hierdie vraag nie regstreeks beantwoord nie; daar is dus geen grondslag vir mense om dogmaties hieroor te wees nie. Hierdie onderwerp kan aanleiding gee tot ’n feitlik eindelose lys vrae. Dit lyk egter of dit die beste is om nie hieroor te bespiegel nie. Wat ons wel weet, is: Die saak berus by Jehovah God, wat oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid (Ps. 86:15). Dit is ongetwyfeld sy hartgrondige begeerte om die dood deur middel van die opstanding ongedaan te maak (Job 14:14, 15). Ons kan die volste vertroue hê dat hy altyd doen wat reg is. Wanneer hy sy Seun uit liefde aansê om “die werke van die Duiwel te verbreek”, sal Hy genesing voorsien vir al die wonde wat die lewe ons in hierdie goddelose stelsel van dinge toegedien het.—1 Joh. 3:8.

[Voetnoot]

a Hierdie gedeelte word soms vertaal op ’n manier wat te kenne gee dat net die dood van die moeder die doodstraf sou meebring. Maar die oorspronklike Hebreeuse teks toon dat die wet gepraat het van ’n besering wat noodlottig was vir die moeder of vir haar ongebore kind.

[Prent op bladsy 13]

Jehovah sal genesing voorsien vir alle pynlike ondervindinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel