Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 5/1 bl. 29-31
  • Ek vind vreugde ondanks my gebreke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek vind vreugde ondanks my gebreke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek verval in depressie
  • Die lang pad na herstel
  • ’n Nuwe loopbaan
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
  • Ek vind krag in my swakheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • ’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 5/1 bl. 29-31

Ek vind vreugde ondanks my gebreke

Soos vertel deur Paulette Gaspar

Hoewel ek by geboorte amper drie kilogram geweeg het, het die dokter geweet dat iets ernstigs fout is met my. Gedurende die bevalling het van die bene in my liggaam gebreek. Ek ly aan osteogenesis imperfecta, wat algemeen bekend staan as brosbeensiekte. Ek is inderhaas na die teater geneem, maar die dokters het min hoop vir my gehad. Hulle het verwag dat ek binne 24 uur sou sterf.

EK IS op 14 Junie 1972 in Canberra, Australië se hoofstad, gebore. Teen alle verwagting in het ek daardie eerste dag oorleef. Maar toe het ek longontsteking opgedoen. Omdat die dokters gedink het dat ek in elk geval gaan sterf, het hulle my geen medikasie gegee nie en besluit om “die natuur sy gang te laat gaan”. Wel, die natuur het sy gang gegaan, en ek het bly leef.

Ek kan net dink hoe moeilik dit gedurende daardie tyd vir my ouers was. Omdat my kanse op oorlewing so skraal gelyk het, het welmenende mediese personeellede my ouers aangeraai om nie te geheg aan my te raak nie. Om die waarheid te sê, gedurende die eerste drie maande dat ek in die hospitaal was, is my ouers nie eers toegelaat om aan my te raak nie. Ek kon te maklik beseer word. Toe dit duidelik word dat ek sou bly lewe, het dokters voorgestel dat my ouers my in ’n tehuis vir gestremde kinders sit.

My ouers het egter besluit om my huis toe te neem. My ma het kort tevore die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. En wat sy geleer het, het haar pligsgevoel om vir my te sorg, vergroot. Maar dit moes vir haar moeilik gewees het om ’n band met my te smee, aangesien sy al haar emosionele en fisiese krag gebruik het om die intensiewe sorg wat ek nodig gehad het, te voorsien. Ek is dikwels hospitaal toe geneem. My bene het gebreek terwyl sy iets so eenvoudigs gedoen het soos om my te bad. ’n Been het soms gekraak wanneer ek net genies het.

Ek verval in depressie

Terwyl ek grootgeword het, was die rolstoel my permanente metgesel. Om te leer loop, was buite die kwessie. Ondanks struikelblokke het my ouers baie goed na my fisiese behoeftes omgesien.

Boonop het my ma haar bes gedoen om my die Bybel se vertroostende boodskap te leer. Sy het my byvoorbeeld geleer dat God in die toekoms die aarde in ’n paradys sal omskep waarin alle mense volmaakte gesondheid—geestelik, verstandelik en fisies—sal geniet (Psalm 37:10, 11; Jesaja 33:24). Maar my ma het openlik erken dat dit vir haar moeilik is om te dink dat ek hoegenaamd ’n aangename lewe sal hê voordat daardie tyd aanbreek.

Ek het aanvanklik na ’n skool vir gestremdes gegaan. My onderwysers het geen doelwitte vir my gestel nie, en ek het geen doelwitte vir myself gestel nie. Trouens, net om skool te gaan, was ’n groot uitdaging. Baie kinders daar was wreed teenoor my. Later het ek na ’n gewone skool gegaan. Ek het gevind dat dit al my fisiese, emosionele en geestelike krag geverg het om te leer om met ander oor die weg te kom. Ek was nietemin vasbeslote om my 12 jaar van skoolopleiding te voltooi.

Veral gedurende my hoërskooljare het ek gedink aan hoe hopeloos en leeg die lewens van my skoolmaats blykbaar is. Ek het ook gedink aan wat my ma my uit die Bybel geleer het. Ek het geweet dat wat sy gesê het, die waarheid is. Maar Bybelleringe het nie op daardie stadium my hart geraak nie. Ek het besluit om my lewe ’n ruk lank met pret en plesier te vul, sonder om aan die volgende dag te dink.

Toe ek 18 was, het ek my ouerhuis verlaat en in ’n huis saam met ’n groep ander gestremdes ingetrek. Hierdie verandering was opwindend sowel as uitdagend. Nuwe vryhede, onafhanklikheid, vriende en ’n goeie sosiale lewe was alles baie aanloklik. Baie van my vriende het getrou. Ek het ook na ’n huweliksmaat en liefde gesmag. Maar weens my gestremdheid was dit hoogs onwaarskynlik dat ek ’n maat sou vind. Hierdie besef het my hartseer gemaak.

Ek het God egter nooit vir my toestand geblameer nie. Ek het genoeg van God geleer om te weet dat hy nooit iets onregverdigs sal doen nie (Job 34:10). Ek het my lewe probeer aanvaar soos dit is. Nogtans het ek in diep depressie verval.

Die lang pad na herstel

Gelukkig het my ma bewus geword van my toestand en in aanraking gekom met een van die gemeentelike ouer manne wat naby my gewoon het. Hy het my gebel en genooi om Christelike vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon. Daarbenewens het ’n suster in die gemeente ’n weeklikse Bybelstudie met my begin hou.

Namate ek herinner is aan die Bybelwaarhede wat my ma my jare tevore geleer het, het my uitkyk op die lewe begin verbeter. Ek het die geselskap van mede-Christene geniet. Ek het egter vroeër geleer om nie my hart op my mou te dra nie omdat ek bang was dat ek sou seerkry. En ek dink dít het dit vir my moeilik gemaak om innige liefde vir God op te bou. Ek het nietemin geweet dat dit reg is om my lewe aan hom toe te wy. Ek is dus in Desember 1991 gedoop as ’n simbool van my toewyding.

Ek het uit die huis getrek wat ek met my gestremde maats gedeel het en in ’n woonstel op my eie gaan woon. Hierdie verandering het voordele sowel as probleme meegebring. Byvoorbeeld, ek was baie eensaam. En die gedagte aan manlike inbrekers het my bang gemaak. Ek het gou weer in diep depressie verval. Hoewel ek ’n moedige front probeer voorhou het en altyd geglimlag het, het dit nie met my goed gegaan nie. Ek het ’n goeie, bestendige vriendin bitter nodig gehad.

Ek voel dat Jehovah God juis so ’n vriendin voorsien het. Die ouer manne in die plaaslike gemeente het liefdevol gereël dat Suzie, ’n getroude suster, my Bybelstudie voortsit. Suzie was nie net my onderrigter nie. Sy het my boesemvriendin geword vir wie ek baie lief is.

Suzie het my geleer om ander te vertel van wat ek leer—in die deur-tot-deur-bediening sowel as informeel. Toe het ek groter waardering vir God se eienskappe gekry. Maar hoewel ek gedoop was, het ek nog nie innige liefde vir God opgebou nie. Ek het dit eenkeer selfs oorweeg om op te hou om hom te dien. Ek het vir Suzie vertel hoe ek voel, en sy het my deur die krisis gehelp.

Suzie het my ook help besef dat baie van my ongelukkigheid te wyte is aan my assosiasie met persone wat nie ’n sterk liefde vir Jehovah het nie. Ek het dus vriende begin maak met geestelik volwasse mense—veral ouer persone. Boonop was my verhouding met my ma gespanne; gevolglik het ek weer ’n goeie verhouding met haar en ook met my broer begin opbou. Ek was verras om ’n gevoel van geluk te ervaar wat ek nooit tevore gehad het nie. My geestelike broers en susters, my gesinslede en bowenal Jehovah het vir my ’n bron van vreugde en krag geword.—Psalm 28:7.

’n Nuwe loopbaan

Nadat ek ’n byeenkoms bygewoon het waar ek ’n toespraak gehoor het wat die vreugdes beklemtoon het wat baie in die voltydse Christelike bediening ondervind, het ek gedink: ‘Haai, ek kan dit doen!’ Ek het natuurlik besef dat dit fisies ’n groot uitdaging sou wees. Maar nadat ek die saak biddend oorweeg het, het ek besluit om ’n aansoek in te dien om ’n voltydse Bybelonderrigter te word, en in April 1998 het ek my loopbaan as een begin.

Hoe neem ek in my fisiese toestand aan die predikingswerk deel? Ek is van nature baie onafhanklik en haat dit om ’n las vir mense te wees en op hulle staat te maak vir vervoer en ander hulp. Suzie en haar man, Michael, het dus met ’n voorstel gekom: Koop ’n motorfiets! Maar hoe sou ek met ’n motorfiets kon ry? Soos die bygaande foto toon, is my motorfiets spesiaal vir my gemaak. En ek hoef nie eers my lyfie van net 19 kilogram uit die rolstoel te lig nie!

My nuutgevonde onafhanklikheid stel my in staat om mense te gaan besoek en die Bybel met hulle te studeer op tye wat vir my en hulle pas. Ek moet erken dat dit vir my baie lekker is om met my motorfiets te ry en die wind in my gesig te voel—een van die klein plesiertjies in die lewe!

Ek geniet dit om informele gesprekke aan te knoop met mense op straat, wat oor die algemeen beleef en respekvol teenoor my is. Ek geniet dit om ander te help om van die Bybel te leer. Ek onthou een geleentheid toe ek saam met ’n taamlike lang maat aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het. Hy het die huisbewoner gegroet wat net verbaas na my gestaar het en toe vir my maat gevra het: “Kan sy praat?” Ons albei het net uitgebars van die lag. Toe ek klaar vir haar getuig het, het die vrou beslis geweet dat ek werklik kan praat!

Ek geniet die lewe nou en het geleer om Jehovah God lief te hê. Ek is so dankbaar teenoor my ma dat sy my Bybelwaarhede geleer het, en ek sien met vertroue uit na die nabye toekoms wanneer God ‘alles nuut sal maak’, insluitende my klein lyfie.—Openbaring 21:4, 5.

[Lokteks op bladsy 30]

“Ek het my lewe probeer aanvaar soos dit is. Nogtans het ek in diep depressie verval”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel