Ons lesers vra
Kom alle wonderdadige genesings van God?
Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah God die krag het om te genees nie. En daar bestaan ook geen twyfel dat hy hierdie krag aan sy aanbidders kan gee nie. Byvoorbeeld, gedurende die tyd van die apostels was wonderdadige genesing een van die spesiale gawes van sy heilige gees. Die apostel Paulus skryf: “Die openbaring van die gees word vir ’n nuttige doel aan elkeen gegee. Aan die een word daar byvoorbeeld deur middel van die gees woorde van wysheid gegee, . . . aan ’n ander gawes van genesing deur daardie een gees, . . . aan ’n ander profesie, . . . aan ’n ander verskillende tale.”—1 Korintiërs 12:4-11.
Maar Paulus het ook in dieselfde brief aan die Korintiërs geskryf dat die wonderdadige gawes van God se heilige gees sou ophou. Hy het gesê: “Of daar nou gawes van profesie is—hulle sal weggedoen word; of daar nou tale is—hulle sal ophou; of daar nou kennis is—dit sal weggedoen word.”—1 Korintiërs 13:8.
Gedurende die eerste eeu het Jesus Christus en sy apostels wonderdadige genesings verrig. Gedurende daardie tyd in die Christelike geskiedenis is die gawes van die gees, insluitende die vermoë om genesings te verrig, gegee om God te verheerlik en het dit gedien as ’n teken van Jehovah se goedkeuring en seën op die jong Christengemeente. Maar toe dit eers volwasse of stewig gevestig was, het die Christengemeente nie op spesiale gawes nie, maar op sy betoning van onwankelbare geloof, hoop en liefde gewys as ’n bewys van God se goedkeuring (Johannes 13:35; 1 Korintiërs 13:13). Omstreeks die jaar 100 G.J. het wonderdadige genesings as ’n teken van God se guns dus opgehou.a
Maar jy wonder dalk: ‘Waarom hoor ek dan nog berigte van wonderdadige genesings?’ Een koerantberig het byvoorbeeld vertel van ’n man wat na bewering aan kanker gely het. Hy het gewasse op sy kop, op sy niere en selfs diep in sy beendere gehad. Sy toekoms het maar donker gelyk, tot die dag dat God met hom “gepraat” het. ’n Paar dae later was sy kanker weg, het die berig gesê.
Wanneer jy so ’n storie hoor, kan jy jou gerus afvra: ‘Is hierdie berig feitelik? Is daar gedokumenteerde, kliniese bewyse om die bewering te staaf? En al was daar skynbaar so ’n genesing, leer die Bybel dat God verantwoordelik is vir alle sogenaamde wonderdadige genesings?’
Die antwoord op hierdie laaste vraag is baie belangrik. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Pas op vir die valse profete . . . Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke [wonderwerke] verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:15, 21-23.
Dit is duidelik dat sogenaamde wonderdadige genesings uit ’n ander bron as God kan kom. As ons nie mislei wil word deur diegene wat beweer dat hulle wonderwerke in God se naam doen nie, moet ons juiste kennis van God verkry, ons godgegewe redeneervermoë gebruik en leer hoe om diegene te identifiseer wat sy wil doen.—Matteus 7:16-19; Johannes 17:3; Romeine 12:1, 2.
[Voetnoot]
a Die oordrag van die gawes het klaarblyklik met die dood van die apostels geëindig, en die wonderdadige gawes van die gees het geheel en al opgehou toe dié wat hierdie gawes ontvang het, gesterf het.