Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 6/1 bl. 3-4
  • Die soeke na ’n praktiese gids

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soeke na ’n praktiese gids
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe prakties is selfhelpboeke?
  • Die soeke na die regte antwoorde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wat ons oor die tydskrifte kan sê
    Ons Koninkryksbediening—2009
  • Hoekom moet ons raad soek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Hoe om raad te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 6/1 bl. 3-4

Die soeke na ’n praktiese gids

AS DIT raad is waarna jy soek, is dit oral beskikbaar. Die selfhelpbedryf is een van die snelgroeiendste bedrywe ter wêreld. In plekke so uiteenlopend soos Brittanje, Latyns-Amerika, Japan en die Verenigde State, is boeke oor selfverbetering topverkopers. Video’s, seminare en TV-programme wat selfhelpraad bied, word ook al hoe gewilder. Dit vind byval by mense omdat dit die idee bevorder dat ’n mens jou probleme self kan aanpak, sonder om ’n sielkundige, ’n huweliksberader of ’n geestelike te raadpleeg. Watter onderwerpe word deur hierdie bronne gedek?

Selfvervulling, bevredigende liefdesverhoudings en die grootmaak van kinders is onder die gewildste temas. Ander algemene onderwerpe is hoe om depressie, droefheid en die gevolge van ’n egskeiding die hoof te bied. Baie mense wil ook raad hê oor hoe om oormatige etery, rook en strawwe drinkery te oorkom. Is die raad prakties? Soms is dit, maar dikwels is dit nie. Dit is dus verstandig om na te dink oor die Bybel se waarskuwing: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.

Selfhelpboeke verskil grootliks van handleidings wat mense ’n vaardigheid soos fotografie, rekenkunde of ’n taal leer. Sulke handleidings kan ’n doeltreffende en goedkoop alternatief wees vir ’n spesiale kursus. Selfhelpboeke—hetsy oor sakeaangeleenthede, die huwelik, ouerskap of geestesgesondheid—is anders. Hulle beveel gewoonlik ’n lewenswyse aan of bevorder sekere filosofieë. Dit is dus verstandig om te vra: ‘Wie gee die raad? Waar kry hy sy inligting?’

Deskundiges baseer dalk nie altyd hulle menings op noukeurig nagevorste bewyse nie. Sommige sal dalk die raad gee wat die beste verkoop omdat hulle weet dat ’n mens baie geld kan maak deur vir mense te sê wat hulle wil hoor. Trouens, in net een land maak die selfhelpbedryf elke jaar byna R75 miljard!

Hoe prakties is selfhelpboeke?

Wanneer jy jou tot selfhelpboeke wend, verwag jy om praktiese raad te vind. Maar soms is die raad oppervlakkig en abstrak. Sulke boeke sê gewoonlik vir jou: ‘As jy net positief dink, sal jy sekerlik suksesvol wees. Wat jy ook al wil hê, hetsy dit geld, gesondheid of ’n bevredigende verhouding is, jy sal dit kry as jy positief dink.’ Is hierdie soort raad prakties? Sal dit jou help om die werklikhede en teleurstellings van die lewe die hoof te bied?

Neem byvoorbeeld boeke oor verhoudings en die huwelik, wat onder die gewildstes is. Help dit mense om gelukkige, stabiele gesinne te bou? Nie altyd nie. Volgens een resensent leer die skrywer van selfhelpboeke oor die liefde wat ’n kitssukses in Latyns-Amerika was, “lesers hoe om gesonde verhoudings en hulle selfbeeld op te bou”. Die skrywer beweer dat ’n mens in ’n sekere sin ontrou is aan jouself as jy in ’n verhouding bly wat nie werk nie. Die onderliggende boodskap is dat dit belangriker is om te doen wat jou goed laat voel, as om jou probleme te erken en dit te probeer oplos.

Soms bevat selfhelpboeke wel goeie raad. Maar hulle kan ook skadelike raad gee. ’n Deskundige kan nuttige wenke gee oor een onderwerp, terwyl sy raad oor ’n ander onderwerp dinge eintlik net kan vererger. Dit sou onmoontlik wees om al die verskillende, en dikwels teenstrydige, menings wat hierdie boeke bevat, te ondersoek. Wie se raad kan jy vertrou? Vra jou af: ‘Is die raad noukeurig nagevors, of is dit maar net die skrywer se persoonlike mening? In watter mate het die najaging van rykdom of aansien die skrywer se integriteit beïnvloed?’

Een gids wat die toets van die tyd deurstaan het, is die Bybel. Dit bied praktiese raad oor baie van die onderwerpe wat in selfhelpboeke bespreek word, en nog meer. Dit het miljoene beweeg om die volgende raad toe te pas: “Word [vernuwe] in die krag wat julle verstand aandryf . . . [Beklee] julle met die nuwe persoonlikheid” (Efesiërs 4:23, 24). Die Bybel gee ons wyse insig in die oorsake van ons probleme en leer ons hoe om dit die hoof te bied. Die belangrikste is dat dit kragtige en praktiese motivering voorsien om te doen wat reg is. Die volgende artikel sal verduidelik hoe die Bybel dit doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel