Hulle was lief vir die Woord van God
BELANGRIKE boodskappe word dikwels in baie tale vertaal om seker te maak dat dit deur soveel mense as moontlik verstaan kan word. Die Bybel, wat die Woord van God is, bevat ’n belangrike boodskap. Hoewel die dinge wat in die Bybel staan, lank gelede neergeskryf is, is dit “tot ons onderrigting geskryf” en gee dit ons vertroosting en ’n hoop vir die toekoms.—Romeine 15:4.
Dit is dus net redelik dat die Bybel, wat die belangrikste boodskap bevat wat nog ooit neergeskryf is, in baie tale beskikbaar sou wees. Deur die geskiedenis heen het mense hulle ingespan om die Bybel te vertaal ten spyte van ernstige siekte, regeringsverbooie of selfs die gevaar van teregstelling. Waarom? Omdat hulle lief was vir die Woord van God. Die volgende verslag gee ons ’n kykie in die merkwaardige geskiedenis van Bybelvertaling.
“Die Engelse leer Christus se wet die beste in Engels”
In omtrent 1330, toe John Wycliffe gebore is, is kerkdienste in Engeland in Latyn gehou. Maar vir die gewone mense was Engels die omgangstaal. Hulle het met hulle bure Engels gepraat en selfs in Engels tot God gebid.
Wycliffe, ’n Katolieke priester, kon Latyn vlot praat. Maar hy het gevoel dat dit verkeerd is om mense die Skrif te leer in Latyn, wat hy as ’n taal vir die elite beskou het. “Mense moet die kennis van God se wet geleer word”, het hy geskryf, “in die taal wat hulle die maklikste verstaan, want wat hulle geleer word, is die woord van God.” Wycliffe en sy metgeselle het dus ’n span saamgestel om die Bybel in Engels te vertaal. Dit het sowat 20 jaar geneem.
Die Katolieke Kerk het nie die idee van ’n nuwe vertaling verwelkom nie. The Mysteries of the Vatican verduidelik waarom die kerk daarteen gekant was: “Die lekedom kon nou die eenvoud van die vroeë Christelike geloof vergelyk met die Katolisisme van hulle tyd . . . Vir die eerste keer het dit baie opvallend geword hoe groot die verskil werklik was tussen die lering van die Stigter van die Christelike geloof en sy selfaangestelde verteenwoordiger [die pous].”
Pous Gregorius XI het vyf amptelike edikte uitgevaardig wat Wycliffe veroordeel het. Maar die vertaler was onverskrokke. Hy het geantwoord: “Die Engelse leer Christus se wet die beste in Engels. Moses het God se wet in sy eie taal gehoor, en so ook Christus se apostels.” Omstreeks die jaar 1382, kort voor Wycliffe se dood, is die eerste Engelse uitgawe van die hele Bybel deur Wycliffe se span vrygestel. Ongeveer tien jaar later het een van sy metgeselle ’n hersiene uitgawe vrygestel wat makliker was om te lees.
Aangesien drukperse nog nie uitgevind was nie, moes elke manuskrip sorgvuldig met die hand oorgeskryf word, ’n taak wat tot tien maande kon neem! Maar die feit dat die Bybel versprei sou word, het die Kerk so bekommer dat ’n aartsbiskop gedreig het om enigiemand wat dit lees, te ekskommunikeer. Meer as 40 jaar ná Wycliffe se dood is sy liggaam op bevel van ’n pouslike konsilie deur geestelikes opgegrawe, sy beendere verbrand en sy as in die Swift-rivier gegooi. Opregte waarheidsoekers het nogtans probeer om Wycliffe se Bybel in die hande te kry. Professor William M. Blackburn het vertel: “Tallose afskrifte van Wyclif se Bybel is gemaak, oral versprei en vir die volgende geslagte nagelaat.”
’n Bybel vir die seun agter die ploeg
Binne 200 jaar het die Engels wat Wycliffe gebruik het, feitlik in onbruik geraak. ’n Jong predikant naby Bristol was gefrustreerd omdat so min mense die Bybel kon verstaan. By een geleentheid het die predikant, William Tyndale, ’n geleerde man hoor sê dat dit beter sou wees om sonder God se wet te wees as sonder die pous s’n. Tyndale het geantwoord dat indien God hom toelaat, hy kort voor lank seker sou maak dat selfs die seun agter die ploeg meer Bybelkennis sou hê as die geleerde man.
Wycliffe het uit die Latynse Vulgaat vertaal en die Skrif met die hand oorgeskryf. Tyndale het in 1524, nadat hy van Engeland na Duitsland getrek het, direk uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks begin vertaal en toe van ’n drukpers in Keulen gebruik gemaak om eksemplare te druk. Tyndale se vyande het gou van die vertaling te wete gekom en die Senaat van Keulen oorreed om te beveel dat al die eksemplare gekonfiskeer moet word.
Tyndale het na die stad Worms, Duitsland, gevlug en sy werk hervat. Kort daarna is eksemplare van Tyndale se vertaling van die Griekse Geskrifte in Engels in die geheim per skip na Engeland gestuur. Binne ses maande is soveel eksemplare verkoop dat ’n noodvergadering van biskoppe byeengeroep is en daar beveel is dat die Bybels verbrand moet word.
Om hierdie entoesiasme oor Bybellees en Tyndale se vermeende kettery stop te sit, het die biskop van Londen vir sir Thomas More die opdrag gegee om Tyndale skriftelik aan te val. More was veral ontstoke oor Tyndale se gebruik van die woord “gemeente” pleks van “kerk”, en “senior” of “ouderling” eerder as “priester”. Hierdie woorde het die gesag van die pous en die onderskeid tussen die geestelikes en die leke in twyfel getrek. Thomas More het ook Tyndale se weergawe van die Griekse woord a·gaʹpe veroordeel, wat hy vertaal het met “liefde” en nie “welwillendheid” nie. “Ook dit was ’n gevaarlike begrip vir die Kerk”, sê die boek If God Spare My Life, “omdat daar klaarblyklik minder klem geplaas is op welwillendheid, en dít ’n nadelige uitwerking kon hê op die ruimhartige bydraes, aflaatgeld en erflatings wat gelowiges oorreed is om te gee om hulle weg tot die hemel te baan.”
Thomas More het die verbranding van “ketters” voorgestaan, wat daartoe gelei het dat Tyndale in Oktober 1536 verwurg is en sy liggaam op die brandstapel verbrand is. Thomas More is self later onthoof nadat hy in die koning se slegte boeke beland het. Maar hy is in 1935 deur die Rooms-Katolieke Kerk tot heilige verklaar, en in die jaar 2000 het pous Johannes-Paulus II More as die beskermheilige van politici vereer.
Tyndale het glad nie sulke erkenning ontvang nie. Nogtans het Tyndale se vriend Miles Coverdale die dele van sy vertaling voor sy dood in ’n volledige Bybel saamgevoeg—die eerste Engelse vertaling uit die oorspronklike tale! Elke seun agter die ploeg kon nou God se Woord lees. Wat van Bybelvertalings in ander tale as Engels?
“Prakties onmoontlik”
Ten spyte van die besware van familielede en vriende, het die Britse sendeling Robert Morrison in 1807 na China geseil met net een doel voor oë, naamlik om die hele Bybel in Chinees vry te stel. Sy werk as vertaler was nie maklik nie. “Die taak was prakties onmoontlik”, het Charles Grant, ’n destydse direkteur van die Oos-Indiese Kompanjie gesê.
Toe Morrison daar aangekom het, het hy uitgevind dat die Chinese op straf van die dood verbied is om hulle taal aan uitlanders te leer. Om homself en diegene wat ingestem het om hom die taal te leer, te beskerm, het Morrison ’n ruk lank binnenshuis gebly. Een verslag sê dat “hy ná twee jaar se studie Mandaryns en meer as een dialek kon praat en [die taal] ook kon lees en skryf”. Intussen het die keiser ’n verordening uitgevaardig wat die druk van Christelike boeke ’n misdaad gemaak het wat strafbaar was met die dood. Ondanks hierdie gevaar het Morrison sy vertaling van die hele Bybel in Chinees op 25 November 1819 voltooi.
Teen 1836 is ongeveer 2 000 volledige Bybels, 10 000 eksemplare van die Griekse Geskrifte en 31 000 afsonderlike gedeeltes van die Skrif in Chinees gedruk. Liefde vir God se Woord het moontlik gemaak wat “prakties onmoontlik” was.
’n Bybel in ’n kussing
Twee weke ná hulle troue in Februarie 1812 het die Amerikaanse sendeling Adoniram Judson en sy vrou, Ann, op ’n lang reis vertrek en hulle uiteindelik in 1813 in Birma gevestig.a Hulle het hulle onmiddellik daarop toegelê om Birmaans, een van die moeilikste tale ter wêreld, te leer. Nadat hulle die taal ’n paar jaar lank studeer het, het Judson geskryf: “Ons leer ’n taal wat gepraat word deur mense aan die ander kant van die aarde, wie se denkpatrone hemelsbreed van ons s’n verskil . . . Ons het geen woordeboek en geen tolk om ’n enkele woord te verduidelik nie.”
Ondanks die uitdagings van die taal het Judson nie tou opgegooi nie. Hy het sy Birmaanse vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Junie 1823 voltooi. Later is Birma in oorlog gedompel. Judson is as ’n vermeende spioen in die tronk gegooi, met drie paar ysterboeie vasgeketting en aan ’n lang paal vasgemaak om te keer dat hy beweeg. “Een van die eerste dinge waaroor mnr. Judson gevra het, toe hy en mev. Judson toegelaat is om mekaar te sien en in Engels met mekaar te praat, was die manuskripvertaling van die Nuwe Testament”, het Francis Wayland in 1853 in ’n boek oor Judson se lewe geskryf. Omdat Ann bang was dat die manuskrip deur vogtigheid en muf vernietig sou word waar dit onder die huis begrawe was, het sy dit in ’n kussing toegewerk en dit vir haar man in die tronk gebring. Ten spyte van baie moeilike omstandighede het die manuskrip behoue gebly.
Ná baie maande in die tronk is Judson vrygelaat. Maar sy vreugde was van korte duur. Later daardie selfde jaar het Ann siek geword met ’n hoë koors en binne ’n paar weke is sy oorlede. Net ses maande later is sy dogter Maria, wat skaars twee jaar oud was, ook dood aan ’n ongeneeslike siekte. Hoewel Judson verpletter was, het hy sy werk voortgesit. Die hele Bybel is uiteindelik in 1835 voltooi.
Is jy lief vir God se Woord?
Die liefde wat hierdie vertalers vir God se Woord getoon het, is niks nuuts nie. In eertydse Israel het die psalmis tot Jehovah God gesing: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit” (Psalm 119:97). Die Bybel is meer as net ’n indrukwekkende literêre werk. Dit bevat ’n belangrike boodskap. Toon jy dat jy lief is vir God se Woord deur dit gereeld te lees? As jy dit doen en daarna streef om toe te pas wat jy leer, kan jy seker wees dat jy ‘gelukkig sal wees deurdat jy dit doen’.—Jakobus 1:25.
[Voetnoot]
a Birma en die Birmaanse taal staan nou bekend as Mianmar.
[Lokteks op bladsy 8]
“Die Engelse leer Christus se wet die beste in Engels.”—JOHN WYCLIFFE
[Prente op bladsy 9]
William Tyndale en ’n bladsy uit die Tyndale-Bybel
[Erkenning]
Tyndale: From the book The Evolution of the English Bible
[Prente op bladsy 10]
Robert Morrison en sy vertaling van die Bybel in Chinees
[Erkennings]
In the custody of the Asian Division of the Library of Congress
Robert Morrison, engraved by W. Holl, from The National Portrait Gallery Volume IV, published c.1820 (litho), Chinnery, George (1774-1852) (after)/Private Collection/Ken Welsh/The Bridgeman Art Library International
[Prente op bladsy 11]
Adoniram Judson en sy Birmaanse vertaling van die Bybel
[Erkenning]
Judson: Engraving by John C. Buttre/Dictionary of American Portraits/Dover
[Foto-erkennings op bladsy 8]
Wycliffe: From the book The History of Protestantism (Vol. I); Bybel: Courtesy of the American Bible Society Library, New York