Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 6/1 bl. 21-23
  • Verander God van gedagte?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verander God van gedagte?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom het wonderwerke opgehou?
  • Waarom is poligamie toegelaat?
  • Waarom was die Sabbatreëling net tydelik?
  • ’n Betroubare en liefdevolle God
  • Moet jy die weeklikse Sabbat hou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Sabbat
    Redenering uit die Skrif
  • Keur God veelwywery goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Moet Christene die Sabbat onderhou?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 6/1 bl. 21-23

Verander God van gedagte?

DIE Bybel sê van God: “By hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie.” En God self verseker ons: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Jakobus 1:17; Maleagi 3:6). Hoe verskil Jehovah God tog van diegene wat moeilik is om tevrede te stel en nie vertrou kan word nie omdat hulle gedurig van gedagte verander!

Party Bybellesers wonder egter of God wel van gedagte verander het. Byvoorbeeld, Jehovah God het Christene vroeër die krag gegee om wonderwerke te verrig, maar nou doen hy dit nie. In die ou tyd het God poligamie toegelaat, maar nou nie meer nie. Onder die Mosaiese Wet het Jehovah vereis dat die Sabbat onderhou word, maar nou vereis hy dit nie. Toon hierdie voorbeelde nie dat God verander het nie?

In die eerste plek kan ons seker wees dat God nooit sy standaarde van liefde en geregtigheid verander nie. Sy “ewige voorneme” om die mensdom deur middel van sy Koninkryk te seën, het ook nooit verander nie (Efesiërs 3:11). Nietemin verander Jehovah wel in reaksie op veranderende omstandighede, net soos jou beskouing van iemand kan verander as sy gedrag jou aanhoudend teleurstel.

God verander ook sy instruksies aan sy volk na aanleiding van hulle situasie en behoeftes. Dit behoort ons nie te verbaas nie. Dink aan wat ’n bekwame toergids sou doen as hy bewus word van ’n gevaar op die pad vorentoe. Hy sou vir sy groep sê om ’n ander pad te volg, weg van die gevaar af. Maar dit beteken nie dat hy van gedagte verander het oor die bestemming nie, of hoe? Kom ons ondersoek dus die voorgenoemde drie voorbeelde, wat party verwarrend vind.

Waarom het wonderwerke opgehou?

Waarom het God wonderdadige kragte aan party van die eerste-eeuse Christene gegee? Jy weet dalk dat God, toe Israel sy uitverkore volk was, dikwels deur middel van wonderwerke bewys het dat hy met hulle is. Deur middel van Moses het God sy ontsaglike krag gebruik toe hy Israel uit Egipte verlos en hulle deur die wildernis in die Beloofde Land ingelei het. Ongelukkig het die Israeliete se reaksie keer op keer van ’n gebrek aan geloof getuig. Toe Jehovah Israel uiteindelik verwerp het en die Christengemeente gestig het, het hy wonderdadige kragte aan die apostels en ander gegee. Die apostels Petrus en Johannes het byvoorbeeld ’n man genees wat van geboorte af kreupel was, en Paulus het ’n dooie man opgewek (Handelinge 3:2-8; 20:9-11). Die wonderwerke wat hulle verrig het, het gehelp om die Christelike geloof in baie lande te vestig. Waarom het wonderwerke dan opgehou?

Die apostel Paulus het deur middel van ’n illustrasie verduidelik: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê” (1 Korintiërs 13:11). Net soos ouers ’n klein kindjie anders behandel as ’n volwasse seun, het die manier waarop Jehovah met die Christengemeente gehandel het, verander toe dit nie meer “’n klein kindjie” was nie. Die apostel Paulus het verduidelik dat wonderdadige gawes soos die vermoë om in vreemde tale te praat of te profeteer, “weggedoen [sal] word”.—1 Korintiërs 13:8.

Waarom is poligamie toegelaat?

Jesus het getoon dat God die standaard vir die huwelik gestel het toe Hy vir die eerste mensepaar gesê het: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees” (Matteus 19:5). Die huwelik moes ’n blywende band tussen twee persone wees. Maar teen die tyd dat God die Israeliete in ’n nasie georganiseer het en hulle die Wet gegee het, was poligamie ’n algemene gebruik. Hoewel God dus nie poligamie ingestel of aangemoedig het nie, het hy wette voorsien om dit te reguleer. Toe die Christengemeente gestig is, het God se Woord poligamie uitdruklik verbied.—1 Timoteus 3:2.

Jehovah God duld sekere dinge totdat sy tyd aanbreek om dit reg te stel (Romeine 9:22-24). Jesus het getoon dat Jehovah verkeerde huweliksgebruike tydelik as ’n “toegewing” toegelaat het weens die “hardheid van [die Israeliete se] harte”.—Matteus 19:8; Spreuke 4:18.

Waarom was die Sabbatreëling net tydelik?

God het die viering van ’n weeklikse Sabbat ingestel nadat hy die Israeliete uit Egipte verlos het. Hy het dit later deel van die nasie se Wet gemaak (Eksodus 16:22-30; 20:8-10). Die apostel Paulus het verduidelik dat Jesus homself as ’n offerande aangebied het en “die Wet van gebooie wat in verordeninge bestaan, tot niet gemaak” en “die handgeskrewe dokument . . . uitgewis” het (Efesiërs 2:15; Kolossense 2:14). Dit wat “tot niet gemaak” en “uitgewis” is, het die Sabbatwet ingesluit, want die Bybel sê verder: “Laat niemand julle dan in verband met eet en drink of met betrekking tot ’n fees of ’n viering van die nuwemaan of van ’n sabbat oordeel nie” (Kolossense 2:16). Waarom het God in die eerste plek die Wet, insluitende die Sabbat, gegee?

Die apostel Paulus het geskryf: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het.” Hy het toe bygevoeg: “Noudat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie” (Galasiërs 3:24, 25). God het nie van gedagte verander nie, maar het die Sabbat eerder as ’n tydelike reëling gebruik om mense te leer dat hulle gereeld tyd opsy moet sit om oor geestelike dinge te peins. Hoewel die Sabbatwet tydelik was, het dit vooruitgewys na die tyd wanneer die mensdom blywende rus van fisiese en geestelike kwale sal vind.—Hebreërs 4:10; Openbaring 21:1-4.

’n Betroubare en liefdevolle God

Die Bybelse voorbeelde wat hierbo bespreek word, toon dat Jehovah God wel verskillende riglyne en instruksies op verskillende tye gegee het. Maar dit beteken nie dat hy van gedagte verander het nie. Hy het eerder gereageer op die behoeftes van sy volk na gelang van veranderende omstandighede, en hy het dit vir hulle eie beswil gedoen. Dit is ook vandag die geval.

Omdat Jehovah nie sy standaarde verander nie, weet ons altyd wat ons moet doen om hom te behaag. Bowendien kan ons seker wees dat alles wat God belowe het, verwesenlik sal word. Jehovah sê: “Alles wat my behaag, sal ek doen . . . Ek het daaraan vorm gegee, ek sal dit ook doen.”—Jesaja 46:10, 11.

[Lokteks op bladsy 21]

God verander nooit sy standaarde van liefde en geregtigheid nie

[Lokteks op bladsy 22]

Paulus het verduidelik dat wonderdadige gawes mettertyd “weggedoen [sal] word”

[Lokteks op bladsy 23]

Die huwelik moes ’n blywende band tussen twee persone wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel