Het jy geweet?
Waarom sê mense “amen” aan die einde van ’n gebed?
Die woord “amen”, in Afrikaans sowel as Grieks, is ’n transliterasie van die Hebreeuse woord ʼa·menʹ. Die uitdrukking, wat gewoonlik saam geuiter word deur diegene wat na ’n gebed, eed, seën of vervloeking geluister het, beteken basies “laat dit so wees”, of “beslis”. Deur dit te sê, toon ’n persoon dat hy saamstem met die gedagtes wat pas tevore geuiter is. Volgens een naslaanwerk “het die woord die konnotasie van sekerheid, waaragtigheid, betroubaarheid en die afwesigheid van twyfel”. In Bybeltye het die uitdrukking iemand wat dit gebruik het ook onder wetlike verpligting geplaas ten opsigte van ’n eed of ’n verbond en die gevolge daarvan.—Deuteronomium 27:15-26.
In sy predikings- en onderrigtingswerk het Jesus party van sy stellings met die woord “amen” ingelei. Sodoende het hy die absolute betroubaarheid beklemtoon van wat hy op die punt was om te sê. In hierdie gevalle word die Griekse woord a·menʹ met “voorwaar” vertaal (Matteus 5:18; 6:2, 5). Wanneer hy die woord twee keer gebruik het, soos hy deurgaans in Johannes se Evangelie gedoen het, word Jesus se uitdrukking vertaal as “voorwaar, voorwaar” (Johannes 1:51). Daar word gesê dat hierdie wyse waarop Jesus amen gebruik het, uniek is in gewyde literatuur.
In die Christelike Griekse Geskrifte word die titel “Amen” op Jesus toegepas om te toon dat sy getuienis ‘getrou en waaragtig’ is.—Openbaring 3:14.
Wat was die Urim en die Tummim?
Dit wil voorkom of die Urim en die Tummim in eertydse Israel gebruik is om Jehovah se wil te onderskei in aangeleenthede waarby die nasie of sy leiers betrokke was. Hierdie voorwerpe is aan die hoëpriester toevertrou en is in die sak van die “borsstuk van regspraak” gehou (Eksodus 28:15, 16, 30). Hoewel die Skrif nooit hierdie voorwerpe of hulle presiese gebruik beskryf nie, gee verskillende Skrifgedeeltes te kenne dat dit gebruik is om die lot te werp wat tot ’n positiewe of negatiewe of geen antwoord van God af sou lei nie.
Een voorbeeld van hierdie gebruik was toe Dawid vir Abjatar gevra het om wat waarskynlik die hoëpriester se efod was en waarin die Urim en die Tummim gehou is, na hom toe te bring. Dawid het Jehovah twee vrae gevra: ‘Sal Saul my agternasit?’ en ‘Sal die grondeienaars van Kehila my in sy hand oorlewer?’ Die antwoord op albei vrae was ja, wat dit vir Dawid moontlik gemaak het om gepaste besluite te neem.—1 Samuel 23:6-12.
Vroeër het koning Saul die Urim en die Tummim gebruik om eerstens te bepaal of die skuld by die volk of by hom en Jonatan gelê het, en tweedens of hy of sy seun die oortreder was (1 Samuel 14:40-42). Later, toe Saul God se guns verloor het, het God hom nie meer enige leiding gegee nie, “nie deur drome of deur die Urim of deur die profete nie”.—1 Samuel 28:6.
Volgens Joodse tradisie het die gebruik van die Urim en die Tummim opgehou toe Jehovah se tempel in 607 v.G.J. vernietig is.
[Prent op bladsy 27]
“Amen”, Openbaring 3:14. Die Codex Alexandrinus, 5de eeu G.J.