Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 8/1 bl. 27-29
  • Die Bybel verander lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel verander lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • “Ek was besig om my eie graf te grawe”
    Die Bybel verander lewens
  • Wat moet ek weet omtrent rook?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Wat is God se beskouing van rook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 8/1 bl. 27-29

Die Bybel verander lewens

Wat het ’n man wat dagga en tabak begin rook het toe hy jonk was, die krag gegee om met die gewoonte te breek? Wat het ’n gewelddadige bendelid in staat gestel om sy woede en rassehaat te oorkom? Kyk na wat elkeen van hulle te sê het.

PROFIEL

NAAM: HEINRICH MAAR

OUDERDOM: 38

LAND: KAZAKSTAN

GESKIEDENIS: WAS VERSLAAF AAN DAGGA EN TABAK

MY VERLEDE: Ek is gebore in Suid-Kazakstan, omtrent 120 kilometer van die stad Tasjkent. Die gebied was droog en warm in die somer, en die temperatuur het tot 45 grade Celsius gestyg, maar in die winter het dit tot -10 grade gedaal—ideale toestande om druiwe sowel as dagga te kweek.

My ouers was van Duitse afkoms. Al twee was evangeliese Christene, maar het nie hulle godsdiens beoefen nie. Hulle het my egter geleer om die Onse Vader op te sê. Toe ek 14 was, het my ma en ouer suster die Bybel ’n ruk lank saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Eenkeer het ek toevallig gehoor hoe die twee Getuies wat met my ma gestudeer het, vir haar God se naam, Jehovah, in haar eie ou Bybel wys. Dit het my beïndruk. My ma het die studie gestaak, en my belangstelling in geestelike dinge het nie verder ontwikkel nie. Maar later het ons onderwyseres by die skool allerhande valse stories oorvertel oor die sogenaamde sekte van Jehovah se Getuies. Aangesien ek al ’n paar vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met my suster bygewoon het, het ek vir my onderwyseres gesê dat die dinge wat sy oorvertel, nie waar is nie.

Toe ek 15 geword het, is ek na Leningrad, nou St. Petersburg, Rusland, gestuur om ’n ambag te leer. Ek het my kamermaats vertel van die bietjie wat ek oor Jehovah geleer het. Maar ek het begin rook. Wanneer ek by die huis in Kazakstan gekuier het, kon ek maklik dagga koop, al was dit onwettig. Ek het ook te veel vodka en tuisgemaakte wyn gedrink.

Ek het my ambag voltooi en toe vir twee jaar by die Sowjetleër aangesluit. Daar was nietemin ’n paar dinge wat ek as jongmens uit die Bybel geleer het, wat ek nie vergeet het nie. Wanneer ek die geleentheid gehad het, het ek met my medesoldate oor Jehovah gepraat en die Getuies verdedig wanneer leuens oor hulle vertel is.

Nadat ek my militêre diens voltooi het, het ek na Duitsland getrek. Terwyl ek in ’n kamp vir immigrante was, het ek ’n eksemplaar van ’n Bybelstudiehulp ontvang wat deur die Getuies uitgegee is. Ek het dit met groot entoesiasme gelees en besluit dat wat dit sê, die waarheid is. Maar ek kon nie losbreek van my verslawing aan tabak en dagga nie. Ná ’n tydjie het ek naby die stad Karlsruhe gaan woon. Daar het ek een van Jehovah se Getuies ontmoet, en hy het die Bybel met my begin studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek het al lank gedink dat die Bybel God se Woord is. En nadat ek die Bybelstudiehulp wat ek ontvang het, gelees het, was ek oortuig dat die Bybel al die belangrike vrae in die lewe beantwoord. Dit het my nogtans ’n hele ruk geneem om my gewoontes te verander. Uiteindelik het ek die Bybel se raad in 2 Korintiërs 7:1 ter harte geneem en my voorgeneem om my van “elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig”, wat beteken het dat ek moes ophou om dagga en tabak te gebruik.

Ek kon byna onmiddellik ophou om dagga te rook. Maar dit het ses maande geneem om met die tabakgewoonte te breek. Eendag het die Getuie wat die Bybelstudie met my gehou het, my gevra: “Wat is die doel van jou lewe?” Dit het my werklik laat nadink oor my verslawing aan tabak. Ek het al etlike kere vantevore probeer om op te hou rook. Maar nou het ek besluit om eerder te bid voordat ek ’n sigaret opsteek as om God ná die tyd om vergifnis te vra. In 1993 het ek ’n dag gekies waarop ek sou ophou rook. Met Jehovah se hulp het ek sedertdien nooit weer aan ’n sigaret geraak nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Noudat ek vry is van die duur en skadelike verslawing aan dagga en tabak, het my gesondheid verbeter. Ek geniet tans die voorreg om as ’n vrywillige werker by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland te dien. Ek is so bly dat ek geleer het om die Bybel se wysheid in my lewe toe te pas! Kennis van wat die Bybel leer, het my ’n ware doel in die lewe gegee.

PROFIEL

NAAM: TITUS SHANGADI

OUDERDOM: 43

LAND: NAMIBIË

GESKIEDENIS: GEWELDDADIGE BENDELID

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in ’n plattelandse dorpie in die Ohangwena-streek in Noord-Namibië. Gedurende die oorlog wat in die 1980’s in hierdie streek gewoed het, is mense in my dorpie aangerand en doodgemaak. In my dorpie is ’n seun net as ’n man beskou as hy goed kon baklei en ’n geveg kon wen. Daarom het ek geleer om te baklei!

Ná skool het ek by my oom in die kusdorp Swakopmund gaan woon. Kort nadat ek daar aangekom het, het ek by ’n bende opstandige jong mans aangesluit. Net om ’n bakleiery te begin, het ons na plekke in die dorp gegaan waar swart mans nie welkom was nie, soos hotelle en kroeë. ’n Hele paar keer het ons met veiligheidswagte en die polisie slaags geraak. Ek het elke aand ’n skerp, lang mes of ’n panga saamgeneem sodat ek gereed was om enigiemand wat in my pad staan, aan te val.

Een aand is ek amper doodgemaak in ’n bendegeveg. ’n Lid van die ander bende het van agter af gekom en was op die punt om my kop af te kap toe ’n medebendelid hom katswink geslaan het. Ten spyte van hierdie noue ontkoming het my lewe om geweld bly draai. As ek met enigiemand, ’n man of vrou, ’n woordewisseling gehad het, was ek altyd die eerste een wat handgemeen geraak het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die eerste keer een van Jehovah se Getuies ontmoet het, het die vrou vir my verse uit Psalm 37 gelees en toe vir my vertel dat die Bybelboek Openbaring ander wonderlike beloftes vir die toekoms bevat. Maar aangesien sy nie vir my gesê het waar in die boek hierdie beloftes is nie, het ek ’n Bybel in die hande gekry en daardie nag die hele boek Openbaring gelees. Ek het baie gehou van die belofte wat ek in Openbaring 21:3, 4 gelees het, waar dit sê: “Die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” Toe die Getuies teruggekom het, het ek ’n Bybelstudie aanvaar.

Dit was baie moeilik om my denke en optrede te verander. Maar ek het uit Handelinge 10:34, 35 geleer dat “God nie partydig is nie, maar [dat] in elke nasie . . . die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” is. Ek het my ook daarop toegelê om Romeine 12:18 toe te pas: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”

Ek moes nie net leer om my woede te beteuel nie, maar ek moes ook ’n sterk verslawing aan tabak oorkom. Ek het dikwels met trane in my oë tot Jehovah om hulp gebid. Maar eers het ek die probleem natuurlik verkeerd aangepak, deur te sê dat ek my “laaste” sigaret rook en dan daarna te bid. Die Getuie wat die Bybel met my gestudeer het, het my gehelp om te sien hoe belangrik dit is om te bid voordat ek ’n sigaret vat. Ek moes ook wegbly van ander wat rook. Verder het ek die raad toegepas om met my medewerkers te praat oor hoe skadelik rook is. Dít het my werklik gehelp omdat ek nie meer toegang tot gratis sigarette gehad het nie—die ander rokers by die werk het nie meer vir my sigarette aangebied nie.

Uiteindelik kon ek ophou rook en my vorige lewenswyse laat vaar. Nadat ek ses maande lank Bybelbeginsels geleer en toegepas het, het ek aan die vereistes voldoen om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek die liefde sien wat Jehovah se Getuies teenoor mekaar betoon, ongeag hulle ras of velkleur, het dit my oortuig dat hulle die ware godsdiens beoefen. Selfs voordat ek as ’n Getuie gedoop is, het ’n wit gemeentelid my na sy huis genooi vir ’n maaltyd. Dit was soos ’n droom. Dit was die eerste keer dat ek vreedsaam met ’n wit persoon kon sit en gesels, wat nog te sê in sy huis saam met hom eet. Nou was ek deel van ’n ware internasionale broederskap.

In die verlede het veiligheidswagte en die polisie my probeer dwing om my denke en optrede te verander, maar hulle het nie daarin geslaag nie. Net die Bybel het die krag gehad om my te help om my persoonlikheid te verander en ’n gelukkige man te word.

[Lokteks op bladsy 29]

“Ek het dikwels met trane in my oë tot Jehovah om hulp gebid”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel