Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 5/1 bl. 26-29
  • Die Bybel verander lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel verander lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 5/1 bl. 26-29

Die Bybel verander lewens

PRESIES wat het ’n voormalige bendelid en daggaverslaafde gedoen om sy skadelike gewoontes te bowe te kom? Waarom het ’n lid van ’n thrash metal-groep sy lang hare laat sny en sy gesindheid verander teenoor die musiek waarvoor hy lief was? Wat het ’n man wat godsdiens- en regeringsgesag verwerp het, beweeg om ’n godsdiensbedienaar te word? Kyk na wat hierdie mense sê.

‘Ek het my verslawing te bowe gekom.’—Peter Kausanga

OUDERDOM: 32

GEBOORTELAND: NAMIBIË

GESKIEDENIS: BENDELID EN DAGGAVERSLAAFDE

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in die Kehemu, een van die vier groot nedersettings in die dorp Rundu. Die mense daar het ’n bestaan gevoer deur giers, hout en steenkool te verkoop.

My ma het gesterf toe ek net twee jaar oud was, en daarom het my ouma my grootgemaak. Ons het ’n eenvoudige lewe gelei. Ek was nie van nature opstandig nie, maar het weens portuurdruk in die moeilikheid beland. Op skool ek het ’n lid van ’n bende geword. Dit het gelei tot straatgevegte, afknouery, diefstal, diamantsmokkelary en alkohol- en dwelmmisbruik. Ek is twee keer gevang en in die tronk gestop vir diefstal en bedrog.

Ek het in graad tien skool verlaat en uiteindelik weggetrek van my tuisdorp en van die bende. Ek wou ’n nuwe blaadjie omslaan. Maar ek was nog steeds aan dagga verslaaf. Soms het ek kilometers ver geloop net om ’n daggasigaret in die hande te kry.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Vroeg in 1999 het ek ’n paar van Jehovah se Getuies teëgekom waar hulle lektuur aan mense op straat aangebied het. Hulle het my met respek en waardigheid behandel, en dit het my diep getref. Die boodskap in die lektuur wat ek ontvang het, het my oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het. Ek het die Bybel ywerig begin studeer en het gou besef dat ek veranderinge in my lewe moet maak as ek Jehovah God wil behaag.

Ek het ’n datum vasgestel waarop ek sou ophou rook, en toe alles vernietig wat met rook verband hou. Ek het ook vir my vriende gesê dat hulle nie vir my sigarette moet gee nie en hulle gevra om nie naby my te rook nie. Tog het dinge nie volgens plan verloop nie. Ek het twee keer geswig voor my drang na sigarette en dagga. Maar dit het my nie ontmoedig nie. Ek het die beginsel in Spreuke 24:16 in gedagte gehou: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.” Ek het uiteindelik my verslawing te bowe gekom.

Hoe meer ek van Jehovah geleer het, hoe meer wou ek hê dat hy my beste vriend moet word. Een Bybelvers wat my hart geraak het, was Psalm 27:10: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.” In my noukeurige studie van die Bybel het ek gesien hoe waar hierdie woorde is. Ek het gevoel dat Jehovah vir my ’n ware, liefdevolle Vader geword het.

Ek het ook gereeld met Jehovah se Getuies geassosieer. Ek kon onder hulle ’n gees van ware vriendskap en liefde vir mekaar sien. Nog nooit tevore het ek so gevoel nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Met die hulp van Jehovah en mede-Getuies het ek my persoonsversorging, kleredrag, gedrag en spraak verbeter. Noudat ek terugkyk, dink ek dat my lewe verander het net soos ’n lelike ruspe in ’n pragtige skoenlapper verander. My familielede is dankbaar vir hierdie verandering, en ek het nou hulle vertroue gewen. Vandag is ek getroud en probeer ek om ’n liefdevolle man en pa te wees.

‘Ek het ’n ware doel in die lewe gevind.’—MARCOS PAULO DE SOUSA

OUDERDOM: 29

GEBOORTELAND: BRASILIË

GESKIEDENIS: LID VAN ’N THRASH METAL-GROEP

MY VERLEDE: My gesin het in die dorp Jaguariuna, in São Paulo, gewoon. My ouers was streng Katoliek, en ek was ’n altaarknaap toe ek jonk was. As gevolg hiervan het my klasmaats op laerskool my die bynaam Vader gegee. Maar op 15-jarige ouderdom het ek heavy metal-rockmusiek ontdek. Ek het met rocksangers begin assosieer. Ek het my hare laat groei. En in 1996 het my pa my gehelp om my eerste dromstel te koop.

Ek het in 1998 by ’n thrash metal-rockgroep aangesluit. Die musiek wat ons gespeel het, was satanies en vuil. Dit het geweld verheerlik. Die musiek het my denke, gedrag en gesindheid beïnvloed. Ek het al hoe negatiewer en aggressiewer geword.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek het Jehovah se Getuies die eerste keer in 1999 ontmoet. Hulle het aangebied om die Bybel met my te studeer, en ek het die studie aanvaar, hoewel ek nie regtig belanggestel het nie. Maar wat ek uit die Bybel geleer het, het my uitkyk op die lewe verander.

Ek het bekend gestaan as “die langhaar-ou”, “die rock-ster” of “die dromspeler”. Maar ek het begin besef dat dit my egosentries en mededingend gemaak het om in die groep te speel, en ek was nie meer tevrede met my reputasie nie. Ek het agtergekom dat die lewe van die sangers wat ek aanbid het, geen ware doel het nie. Ek het geleidelik verstaan dat ek heavy metal-musiek en die lewe van onsedelikheid en verafgoding wat daarmee gepaardgaan, sou moes laat vaar indien ek Jehovah God wou behaag.

Ek was lief vir my musiek en my lang hare. Ek het gewonder of ek daarsonder sou kon lewe. Ek het ook ’n kwaai humeur gehad en geweet dat ek sou moes leer om dit te beteuel. Maar as gevolg van my Bybelstudie het ek al hoe liewer geword vir Jehovah. Toe ek van God se liefde, geduld en barmhartigheid geleer het, het dit my nader aan hom laat kom. Ek het tot Jehovah gebid vir hulp om te verander, en hy het my gehelp. Ek het self gesien hoe waar die woorde van Hebreërs 4:12 is. Hierdie vers sê: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit.”

Toe ek met Jehovah se Getuies begin assosieer het, het ek gesien dat hulle anders is. Ek het vir die eerste keer in my lewe ware liefde in aksie gesien. Hierdie liefde was besonder duidelik by die groot byeenkomste wat deur die Getuies gehou word. Ek was beïndruk deur die manier waarop ywerige vrywilligers gewerk het om die samekomste aangenamer te maak vir ander.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Met Jehovah se hulp kan ek nou my humeur beteuel. Ek voel dat ek nie meer egosentries en trots is nie.

Ek moet erken dat ek my vorige lewenswyse ’n ruk lank gemis het—maar nie meer nie. Ek het nou ’n ware doel in die lewe gevind. Ek is bly dat ek leer om belang te stel in ander mense en in hulle welsyn.

‘Ek ondervind vreugde omdat ek vir ander omgee.’—GEOFFREY NOBLE

OUDERDOM: 59

GEBOORTELAND: VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

GESKIEDENIS: HET GODSDIENS- EN REGERINGSGESAG VERWERP

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Ipswich, Massachusetts, ’n arbeidersdorp by die kus. As volwassene het ek besluit om in ’n afgeleë deel van Vermont te gaan woon. Volgens Noord-Amerikaanse standaarde het ek en my meisie ’n baie spartaanse bestaan gevoer. Omdat ons nie elektrisiteit gehad het nie, het ons ons huis verhit en ons kos gaargemaak met hout wat ons in die woud gaan optel het. Ons het ’n buitetoilet gehad en was gedurende die grootste deel van die jaar sonder lopende water. Ons het die establishment verwerp, en ons voorkoms het daarvan getuig. Op ’n stadium was ek trots op die feit dat ek my hare ses maande laas gekam het.

Op daardie stadium was die Verenigde State by die Viëtnamoorlog betrokke. Dit het my gesindheid teenoor gesag beïnvloed. Ek het die huigelary in die regering en in godsdiens gesien. Ek het gemeen dat hierdie instellings geen antwoorde het nie en dat elke individu self moet besluit wat reg en verkeerd is. Ek het gedink dat daar niks daarmee fout is om te steel wat ek nodig het nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek en my meisie het die Bybel begin lees, maar kon nie kop of stert daarvan uitmaak nie. Ek het dwelms gebruik, maar tog probeer om daarmee op te hou. My meisie wou trou en kinders hê. Op daardie stadium het een van Jehovah se Getuies ons kom besoek, en sy het die Bybel met ons begin studeer.

Kort voor lank kon ek my slegte gewoontes laat vaar; maar dit was vir my moeiliker om my gesindheid teenoor gesag te verander. Ek het geleer om alles te bevraagteken. Ek het grootgeword met baie min gedragsreëls, en daarom was die idee om volgens iemand anders se reëls te lewe, vir my baie moeilik om te aanvaar.

Ek het nog altyd in ’n Skepper geglo, maar het net ’n vae konsep van hom gevorm. Maar terwyl ek die Bybel bestudeer het, het Jehovah God se persoonlikheid vir my duidelik geword. Ek het gesien dat hy presies uiteengesit het wat hy van my verwag. Daar was niks vaags omtrent sy vereistes nie. Ek het ook geleer dat hy ’n definitiewe voorneme het om die aarde in ’n paradys te omskep (2 Petrus 3:13). Hierdie waarhede het in my die begeerte gewek om te verander, sodat ek aan die vereistes sou voldoen om hom te dien.

Ek was besonder beïndruk omdat Jehovah se Getuies weier om by oorlog betrokke te raak. Geen ander wêreldwye godsdiens waarvan ek geweet het, het by dieselfde Bybelse standaard gebly nie.

Ek het geweet dat ek my voorkoms sou moes verbeter as ek Jehovah wou dien. Aan die begin was dit nie vir my maklik om my by die Getuies se standaard van kleredrag aan te pas nie. Nie ek of my vriende het ’n formele hemp, broek of skoene besit nie. En ek het beslis nie ’n das besit nie! Maar ek het my hare laat sny en my voorkoms verbeter. Nogtans onthou ek die eerste keer dat ek van deur tot deur gegaan het om te preek. Daar was ’n ruit waarin ek ’n weerkaatsing van my nuwe voorkoms kon sien. Ek het gewonder: ‘Wat het ek gedoen?’ Uiteindelik het ek aan my nuwe voorkoms gewoond geraak.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het met my meisie getrou, en ons is nog steeds gelukkig getroud. Ons het dit reggekry om ons drie kinders groot te maak om Jehovah lief te hê en hom te dien. Ek het ook die vreugde ondervind om ander te help om dieselfde Bybelwaarhede te leer wat my gehelp het om my lewe te verander.

Ek was voorheen trots op die feit dat ek nie omgegee het wat ander dink nie. Nou ondervind vreugde omdat ek vir ander omgee en hulle vir my.

[Lokteks op bladsy 26]

‘Ek het kilometers ver geloop net om ’n daggasigaret in die hande te kry’

[Lokteks op bladsy 28]

“Wat ek uit die Bybel geleer het, het my uitkyk op die lewe verander”

[Lokteks op bladsy 29]

‘Dit was nie vir my maklik om my by die Getuies se standaard van kleredrag aan te pas nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel