Belowe God jou rykdom?
‘God wil hê dat jy ryk moet wees—motors in die garage, ’n florerende sakeonderneming. Glo net in hom, haal jou beursie uit en gee hom alles wat jy kan.’
DIT is die boodskap wat sekere godsdiensgroepe in Brasilië verkondig, volgens ’n koerant wat daar gedruk word. Dit is ’n boodskap wat baie mense glo. Aangaande ’n opname onder verklaarde Christene in die Verenigde State berig die tydskrif Time: “’n Hele 61% het geglo God wil hê dat mense voorspoedig moet wees. En 31% . . . het saamgestem dat God jou met meer geld sal seën as jy jou geld vir hom gee.”
Sulke opvattings, wat dikwels welvaartsteologie genoem word, wen veral veld in Latyns-Amerikaanse lande, soos Brasilië, en mense stroom na kerke wat belowe dat hulle materiële seëninge van God af sal kry. Maar belowe God werklik rykdom aan diegene wat hom dien? Was al God se knegte van die ou tyd ryk?
Dit is waar dat ons dikwels in die Hebreeuse Geskrifte vind dat God se seën met materiële voorspoed verbind word. Ons lees byvoorbeeld in Deuteronomium 8:18: “Jy moet aan Jehovah jou God dink, want dit is hy wat jou krag gee om rykdom te verwerf.” Dit het die Israeliete verseker dat God hulle ’n voorspoedige nasie sou maak as hulle hom gehoorsaam.
Wat van individue? Die getroue man Job was baie ryk, en nadat Satan hom in armoede laat verval het, het Jehovah Job se rykdom “in dubbele mate” herstel (Job 1:3; 42:10). Ook Abraham was ryk. Genesis 13:2 sê dat hy “baie ryk aan vee en silwer en goud” was. Toe die gesamentlike leërs van vier Oosterse konings Abraham se broerskind Lot gevange geneem het, het Abraham “sy geoefende manne bymekaargeroep, driehonderd-en-agtien slawe wat in sy huis gebore is” (Genesis 14:14). Met 318 “geoefende manne” wat oorlog kon voer, was Abraham se huishouding ongetwyfeld baie groot. Die feit dat hy so ’n groot familie kon onderhou, toon dat hy ’n skatryk man was, met groot kuddes vee.
Ja, baie van God se getroue knegte van die ou tyd—Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Salomo, om maar net ’n paar te noem—was ryk. Maar beteken dit dat God almal wat hom dien, sal laat ryk word? Beteken dit aan die ander kant dat iemand wat arm is, nie God se seën geniet nie? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.