Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 10/1 bl. 11-14
  • Is dit moontlik om geloof op te bou in ’n Skepper?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit moontlik om geloof op te bou in ’n Skepper?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiens se mislukking
  • Beter af sonder God?
  • Verdere oorsake van ongeloof
  • Wat het hulle gehelp om geloof in ’n Skepper op te bou?
  • Die mensdom se Skepper en jy
  • Wat sal jy vir ’n ateïs sê?
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • Waarom aanvaar baie evolusie?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Is evolusie versoenbaar met die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Skepping of evolusie?—Deel 1: Waarom moet ek aan God glo?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 10/1 bl. 11-14

Is dit moontlik om geloof op te bou in ’n Skepper?

“TOE ek gedink het aan die moontlikheid dat daar ’n Skepper bestaan, het dit my kwaad gemaak om te dink dat iemand dalk die mag het om menselyding te voorkom, maar nie bereid is om dit te gebruik nie!” Dit is wat ’n voormalige ateïs gesê het wat familielede in die Nazi-slagting verloor het. Hy was beslis nie die enigste een wat so gevoel het nie.

Wanneer mense voor gruweldade te staan kom, vind baie dit moeilik om in God te glo of soek hulle vertroosting in die idee dat God nie bestaan nie. Wat is die vernaamste redes waarom party nie glo nie? Sal die mensdom beter vaar sonder God of godsdiens, soos sommige dink? Is dit moontlik vir ’n ateïs om geloof in ’n liefdevolle Skepper op te bou?

Godsdiens se mislukking

Ironies genoeg, godsdiens is ’n groot oorsaak van ateïsme. Die geskiedskrywer Alister McGrath verduidelik: “Mense word bowenal deur ’n afkeer van die gruweldade en mislukkings van georganiseerde godsdiens tot ateïsme gedryf.” Godsdiens word dikwels beskou as ’n bydraende faktor tot oorloë en geweld. ’n Ateïs en filosoof met die naam Michel Onfray wonder hoe dit moontlik is dat dieselfde godsdiensboek twee soorte mense kan begeester, een “wat heiligheid nastreef” en ’n ander “wat ’n daad van onmenslike wreedheid pleeg”—naamlik terrorisme.

Baie mense het onaangename herinneringe aan hulle betrokkenheid by godsdiens. Bertil, ’n jong Sweedse man, het gedurende sy militêre diens gehoor hoe die kapelaan geweld regverdig deur te verwys na Jesus se waarskuwing dat diegene wat die swaard opneem, deur die swaard sal vergaan. Die kapelaan het geredeneer dat daar iemand moet wees wat daardie swaard gebruik en dat die soldaat dus ’n kneg van God is!—Matteus 26:52.a

Bernadette, wie se pa gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Frankryk gesterf het, onthou hoe woedend sy was toe die priester by haar driejarige niggie se begrafnis gesê het: “God het hierdie kind geroep om ’n engel te wees.” Bernadette het later geboorte gegee aan ’n gestremde baba en het selfs toe geen vertroosting van die kerk ontvang nie.

Ciarán, wat in die geweldgeteisterde Noord-Ierland grootgeword het, het die leerstelling oor die helse vuur afstootlik gevind. Hy het altyd gesê dat hy enige God haat wat vir sulke boosheid verantwoordelik is en het God uitgedaag om hom dood te maak as Hy bestaan. Ciarán is nie alleen in sy afkeer van sulke wrede kerkleringe nie. Trouens, kerkdogma het moontlik gehelp om die weg te baan vir die evolusieteorie. Volgens Alister McGrath was dit Darwin se “diepe afkeer” van die leerstelling oor die helse vuur—nie sy geloof in evolusie nie—wat hom oor die bestaan van God laat begin twyfel het. McGrath meld ook Darwin se “diepe droefheid oor die dood van sy dogter”.

Vir party mense is die beoefening van godsdiens sinoniem met verstandeloosheid en fanatisme. Irina, wat afgestoot is deur betekenislose godsdienspreke en herhalende smeekbedes, sê: “Dit het vir my gelyk asof godsdienstige mense nie dink nie.” Louis, wat gewalg is deur die barbaarse dade van godsdiensfanatici, het ’n drastieser standpunt ingeneem: “Nadat ek jare lank godsdiens se vervelige sy gesien het, het ek nou die afstootlike sy daarvan gesien. Ek het alle godsdiens aggressief begin teëstaan.”

Beter af sonder God?

Dit is dus nie verbasend dat baie mense godsdiens as ’n hindernis tot die mens se vooruitgang en vrede beskou nie. Party het selfs gewonder of die mensdom beter af sou wees sonder God en godsdiens. Maar sal so ’n algehele verwerping van godsdiensdenke nie sy eie probleme oplewer nie?

Die 18de-eeuse filosoof Voltaire het heftig beswaar gemaak teen die misbruike van die verdorwe kerk van sy tyd. Nogtans het hy die bestaan van ’n Opperwese as uiters noodsaaklik vir ons sedelikheidsgevoel beskou. Later het die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche bekend geword vir sy verklaring dat God dood is, maar hy was bekommerd oor die sedelike leemte en moontlike skade wat ’n ateïstiese denkwyse tot gevolg kon hê. Was hierdie vrese geregverdig?

Die skrywer Keith Ward sê dat barbaarsheid nie afgeneem het toe die mensdom die moderne era betree het nie, maar dat dit eerder “nuwe hoogtes bereik het wat voorheen ondenkbaar was”. Eksperimente met ateïsme het die mensdom ook nie bevry van die swakhede van die menslike natuur, soos korrupsie en onverdraagsaamheid nie. Hierdie feite het talle denkende mense, selfs ateïste, laat besef dat geloof in God sedelike waarde het.

Keith Ward beklemtoon die heilsame invloed van geloof in God: “Met geloof kom ’n dwingende sedelike eis, ’n verantwoordelikheid om vir die wêreld wat God geskep het, om te gee.” Talle onlangse studies het aan die lig gebring dat daar ’n hoër vlak van altruïsme onder godsdienstige mense is. Altruïsme bring op sy beurt gewoonlik ’n mate van bevrediging mee. Sulke bevindings beklemtoon die waarde van die beginsel wat Jesus uiteengesit het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Een voormalige ateïs, ’n maatskaplike werker, is beïndruk deur die Bybel se vermoë om lewens te beïnvloed. Hy het gesê: “Nadat ek jare lank, met baie min sukses, mense probeer help het om gedrag af te leer wat vir hulle en vir ander skadelik is, was dit vir my merkwaardig om te sien watter drastiese veranderinge mense ten goede kon maak. Ek het ook gesien dat die veranderinge permanent was.”

Maar volgens party ateïste het geloof in God baie meer slagtings en konflikte as goedheid en altruïsme tot gevolg gehad. Hulle erken dalk dat geloof ’n goeie uitwerking op party mense het, maar self bly hulle uiters skepties. Waarom?

Verdere oorsake van ongeloof

Baie mense word geleer dat evolusie ’n vasstaande feit is. Neem byvoorbeeld Anila wat in die ateïstiese Albanië skoolgegaan het. “Op skool is ons geleer dat dit naïef en agterlik is om in God te glo”, vertel sy. “Ek het gereeld wonderlike dinge oor plante en organiese lewe geleer, maar ek het alles aan evolusie toegeskryf, want dan het dit gelyk asof ons in ooreenstemming met wetenskaplike denke was.” Sy erken vandag dat die “bewyse wat voorsien is, blindelings aanvaar moes word”.

’n Gevoel van bitterheid kan vir party ’n struikelblok wees. Jehovah se Getuies kry dikwels met hierdie gesindheid te doen wanneer hulle van deur tot deur gaan om vir ander hoop uit die Bybel te bied. Bertil, wat vroeër genoem is, het so ’n besoek van ’n jong Getuie ontvang. Bertil onthou hoe hy by homself gesê het: ‘Arme fanatikus. Jy is by die verkeerde plek!’ Hy sê: “Ek het hom ingenooi en toe my woede oor God, die Bybel en godsdiens gelug.”

Gus, van Skotland, was besorg oor ongeregtigheid. Hy was aanvanklik baie stryerig en uitdagend tydens besprekings met Jehovah se Getuies. Hy het soortgelyke vrae as dié van die Hebreeuse profeet Habakuk gevra, wat vir God gesê het: “Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie?”—Habakuk 1:3.

God se oënskynlike onverskilligheid teenoor goddeloosheid kwel mense ook al lank (Psalm 73:2, 3). Simone de Beauvoir, ’n Franse skrywer, het eenkeer gesê: “Dit was vir my makliker om aan ’n wêreld sonder ’n skepper te dink as aan ’n skepper wat verantwoordelik is vir al die teenstrydighede van die wêreld.”

Maar beteken die onvermoë van baie godsdienste om sulke teenstrydighede te verklaar, dat daar geen verklaring is nie? Gus het gesê dat hy uiteindelik “’n bevredigende verklaring gevind het oor waarom die almagtige Skepper menselyding ’n tyd lank moet toelaat”. Dít, het hy gesê, “was ’n belangrike stap vir my”.b

Party mense wat sê dat hulle ateïste is, het heel moontlik twyfelgedagtes oor evolusie en besef miskien dat hulle ’n geestelike behoefte het en bid dalk selfs. Kom ons kyk wat party ateïste en agnostici dieper oor die onderwerp laat nadink het en uiteindelik ’n hegte verhouding met hulle Skepper laat aankweek het.

Wat het hulle gehelp om geloof in ’n Skepper op te bou?

Die jong man wat Bertil besoek het, het ’n logiese benadering gebruik en vir hom gewys dat daar ’n ontsaglike verskil is tussen die ware Christelike godsdiens en die godsdiens wat naamchristene beoefen. Bertil verduidelik wat hom meer beïndruk het as selfs argumente ten gunste van die bestaan van ’n Skepper: “Ek het sy geduld met my hardkoppigheid bewonder. . . . Hy het baie kalm gebly, en hy het altyd lektuur vir my gehad en was goed voorbereid.”c

Swetlana, wat deur evolusie en Kommunisme beïnvloed is, was oortuig dat net die sterkste oorleef. Hierdie wrede lewensbeskouing het haar nietemin gekwel. Wat sy by die mediese fakulteit geleer is, het tot haar verwarring bygedra: “Gedurende klasse oor ateïsme het ons van die oorlewing van die sterkste geleer. Maar in mediese kursusse is ons geleer dat ons die swakkes moet help.” Sy het ook gewonder waarom mense, wat veronderstel is om ’n evolusionêre verbetering op ape te wees, emosionele probleme ondervind wat ape nie het nie. Die verduideliking vir hierdie teenstrydighede het uit ’n onverwagte bron gekom: “My ouma het vir my uit die Bybel verduidelik dat ons onvolmaaktheid die oorsaak van negatiewe emosies is.” Swetlana was ook verheug om uit te vind wat die Bybel se antwoord is op vrae soos waarom eerlike mense ly.

Leif, van Skandinawiese afkoms, het vas geglo aan evolusie en het die Bybel as ’n boek met feëverhale beskou. Maar eendag het ’n vriend sy oortuigings bevraagteken: “Besef jy dat jy net herhaal wat ander gesê het sonder dat jy enigiets van die Bybel af weet?” Leif verduidelik watter uitwerking daardie woorde op hom gehad het en sê: “Ek het besef dat ek evolusie nooit bevraagteken het nie, maar dit vir soetkoek opgeëet het. . . . Ek dink dat kennis van Bybelprofesieë en die vervulling daarvan een van die dinge is wat ’n ateïs aan die dink kan sit.”—Jesaja 42:5, 9.

Ciarán, wat vroeër gemeld is, was ontnugter deur jare se betrokkenheid by die politiek. Toe hy oor die lewe nagedink het, het hierdie gedagte by hom opgekom: Slegs ’n magtige en liefdevolle God kan die probleme oplos wat die aarde teister en vir hom toon wat die oplossing vir sy eie ellende is. ‘Ag, hoe wens ek tog dat ek so ’n God kan vind’, het hy gesug. In uiterste benoudheid het hy gebid: “As u daar is om my te hoor, wys dit vir my op een of ander manier en wys my wat die oplossing is vir my eie ellende en die mensdom se pyn.” ’n Paar dae later het een van Jehovah se Getuies aan sy deur geklop. Die Getuie het verduidelik wat die Bybel leer oor die goddelose invloed agter menseregerings (Efesiërs 6:12). Hierdie verduideliking het bevestig wat Ciarán self al gesien het en het sy nuuskierigheid geprikkel. Ná verdere Bybelstudie het sy geloof in ’n liefdevolle Skepper sterker begin word.

Die mensdom se Skepper en jy

Godsdienshuigelary, ateïstiese leringe soos evolusie en die algemeenheid van goddeloosheid het baie laat twyfel of selfs ontken dat ’n Skepper bestaan. Maar as jy die Bybel net toelaat, kan dit bevredigende antwoorde op jou vrae voorsien. Dit openbaar ook God se gedagtes, “gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee” (Jeremia 29:11). Vir Bernadette, wat ’n gestremde baba gehad het en getwyfel het of ’n Skepper bestaan, was hierdie hoop soos strelende salf op die wonde van haar lyding.

Die Bybel se verduideliking oor waarom God lyding toelaat, het al die verstand en hart van baie voormalige ateïste geraak. As jy tyd opsysit om die Bybel se antwoord op hierdie belangrike vrae te vind, sal dit jou dalk ook daarvan oortuig dat daar ’n God is wat in werklikheid “nie ver van elkeen van ons af is nie”.—Handelinge 17:27.

[Voetnote]

a Om vas te stel of ware Christene by oorlog betrokke moet raak of nie, sien die artikel “Is oorlog versoenbaar met die Christelike godsdiens?” op bladsye 29-31.

b Vir ’n breedvoerige verduideliking oor waarom God goddeloosheid toelaat, sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 106 tot 114.

c Vir argumente ter ondersteuning van die skepping, sien die Ontwaak! van September 2006, “Is daar ’n Skepper?”, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 13]

Vrae wat evolusie nie kon beantwoord nie

• Hoe kon lewe uit iets leweloos ontstaan?—PSALM 36:9.

• Waarom plant diere en plante net volgens hulle soorte voort?—GENESIS 1:11, 21, 24-28.

• As mense van laer ape afstam, waarom het nie eens een hoër aapmens behoue gebly nie?—PSALM 8:5, 6.

• Hoe kan altruïsme deur die teorie van die oorlewing van die sterkste verklaar word?—ROMEINE 2:14, 15.

• Het die mensdom enige ware hoop vir die toekoms?—PSALM 37:29.

[Prente op bladsy 12, 13]

Hoe kon ’n liefdevolle God ’n wêreld skep waarin kinders ly?

Godsdienshuigelary het veroorsaak dat baie hulle van God afkeer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel