Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 11/1 bl. 20-23
  • Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Faktore om in gedagte te hou
  • Wat beteken die woord?
  • Is dit verkeerd om ’n vertaling te gebruik?
  • Jehovah, die God van kommunikasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Studie nommer 8—Voordele van die “New World Translation”
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • New World Translation
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 11/1 bl. 20-23

Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?

DIE grootste deel van die Bybel is oorspronklik in net twee tale geskryf, Hebreeus en Grieks.a Die skrywers wat hierdie tale gebruik het, het dit onder leiding van God se heilige gees gedoen (2 Samuel 23:2). Daar kan dus gesê word dat die boodskap wat hulle opgeteken het, “deur God geïnspireer” is.—2 Timoteus 3:16, 17.

Maar die meeste mense wat vandag die Bybel lees, verstaan nie Hebreeus of Grieks nie. Hulle moet dus ’n vertaling van die Bybel in hulle eie taal gebruik. Jy moet dit waarskynlik ook doen. Aangesien hierdie vertalings nie daarop aanspraak maak dat dit geïnspireer is nie, het jy miskien al gewonder: ‘Kan ek die boodskap van die Bybel ten volle verstaan as ek ’n vertaling gebruik, of moet ek Hebreeus en Grieks probeer leer?’

Faktore om in gedagte te hou

Voordat jy dié vraag beantwoord, moet jy etlike faktore in gedagte hou. Eerstens, ’n blote kennis van Ou Hebreeus of Grieks maak iemand nie op wonderbaarlike wyse meer geneig om die boodskap van die Bybel te verstaan nie. Jesus het met die Joodse mense van sy dag gepraat en gesê: “Julle ondersoek die Skrif, want julle dink dat julle die ewige lewe deur middel daarvan sal hê; en juis dié getuig aangaande my. En tog wil julle nie na my toe kom sodat julle die lewe kan hê nie” (Johannes 5:39, 40). Wat was hulle probleem? Het hulle nie Hebreeus verstaan nie? Nee, hulle het die taal goed geken. Maar Jesus het verder gesê: “Ek weet goed dat julle nie die liefde vir God in julle het nie.”—Johannes 5:42.

Die apostel Paulus het eweneens vir Griekssprekende Christene in die eertydse stad Korinte gesê: “Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid; maar ons verkondig Christus wat aan die paal gehang is, vir die Jode ’n oorsaak van struikeling maar vir die nasies dwaasheid” (1 Korintiërs 1:22, 23). Dit is derhalwe duidelik dat die blote vermoë om Hebreeus of Grieks te praat, nie op sigself daartoe lei dat iemand die boodskap in God se Woord aanneem nie.

’n Tweede faktor is dat moderne Hebreeus of Grieks, hoewel party mense dit vandag praat, grootliks verskil van die Hebreeus en Grieks wat gebruik is om die Bybel te skryf. Vir die meeste Griekssprekende mense van vandag is dit moeilik om Bybelse Grieks korrek te verstaan. Dit is omdat nuwe woorde tot die taal toegevoeg is, wat ouer terme vervang het, en baie woorde wat nog in gebruik is, ’n ander betekenis het. Byvoorbeeld, die woord wat in Handelinge 7:20 en Hebreeus 11:23 met “mooi” vertaal is, beteken in moderne Grieks “koddig”. Boonop was daar omvattende veranderinge in die grammatika en sintaksis van die taal.

Al leer jy moderne Hebreeus of moderne Grieks, sal dit nie noodwendig beteken dat jy die Bybel in die oorspronklike tale akkurater sal verstaan nie. Jy sal nog steeds op woordeboeke en taalboeke moet staat maak om vir jou te toon hoe hierdie tale gebruik is toe die boeke van die Bybel aanvanklik op skrif gestel is.

’n Derde faktor is dat dit baie moeilik kan wees om ’n nuwe taal te leer. Hoewel dit dalk aan die begin redelik maklik is om ’n paar frases in ’n ander taal te leer, kan dit jare van volgehoue inspanning verg om die subtiele nuanses van daardie taal te verstaan. Intussen is die ou gesegde moontlik van toepassing: ’n Bietjie kennis is gevaarlik. Hoe so?

Wat beteken die woord?

Het iemand wat jou taal leer, jou al ooit gevra wat ’n spesifieke woord beteken? Dan weet jy dat dit nie altyd maklik is om ’n antwoord te gee nie. Waarom nie? Omdat ’n woord verskeie betekenisse kan hê. Jy het die persoon dalk gevra om vir jou ’n voorbeeld van die woord in ’n sin te gee. Sonder daardie konteks kan dit vir jou moeilik wees om te bepaal watter betekenis van die woord van toepassing is. Byvoorbeeld, jy word dalk gevra wat die woord “yster” beteken. Hierdie woord kan verskillende betekenisse in verskillende kontekste hê. Dit kan ’n soort metaal, ’n toestel om klere mee te stryk of ’n gholfstok beteken. In ’n ander konteks kan dit na boeie of selfs na ’n dieetaanvulling verwys. Wat is die regte betekenis?

’n Woordeboek gee jou miskien al die moontlike betekenisse van ’n woord. Party woordeboeke gee selfs hulle betekenisse in volgorde van algemene gebruik. Maar dit is die konteks waarin die woord gebruik word wat jou sal help om die spesifieke betekenis te bepaal. Ter toeligting: Gestel jy het ’n bietjie mediese kennis en wil die oorsaak vind van sekere simptome wat jy ervaar. Jy kan ’n mediese woordeboek raadpleeg. Dit sê miskien vir jou dat jou simptome in 90 persent van die gevalle een ding beteken, maar dat dit in 10 persent van die gevalle op iets heeltemal anders dui. Jy sal baie meer kennis nodig hê voordat jy die regte diagnose kan maak. Net so help die feit dat ’n woord in 90 persent van die gevalle ’n sekere betekenis het, jou nie as jy ’n belangrike teks lees waarin ’n sekondêre betekenis van die woord gebruik word nie. Jy moet meer omtrent die konteks weet voordat jy die woord kan verstaan.

Wanneer ’n mens woorde bestudeer wat in die Bybel voorkom, moet jy ook weet in watter konteks die woord verskyn. Byvoorbeeld, die oorspronklike woorde wat gewoonlik met “gees” vertaal word, kan verskillende betekenisse hê, na gelang van die konteks waarin dit gebruik word. Dit kan soms akkuraat vertaal word met “wind” (Eksodus 10:13; Johannes 3:8). In ander kontekste verwys dit na die lewenskrag wat gevind word in alle lewende wesens, mense sowel as diere (Genesis 7:22; Psalm 104:29; Jakobus 2:26). Onsigbare hemelse wesens word ook as geeste beskryf (1 Konings 22:21, 22; Matteus 8:16). God se werkende krag word sy heilige gees genoem (Genesis 1:2; Matteus 12:28). Dieselfde woord word gebruik met verwysing na die krag wat ’n persoon beweeg om ’n sekere gesindheid, houding of emosie te openbaar, sowel as die oorheersende geestesgesindheid wat deur ’n groep mense geopenbaar word.—Josua 2:11; Galasiërs 6:18.

Al gee ’n Hebreeuse of Griekse woordeboek hierdie verskillende betekenisse aan, is dit die konteks wat jou sal help bepaal wat die regte betekenis is.b Dit is die geval of jy nou die Bybel in die oorspronklike tale lees of ’n vertaling in jou taal gebruik.

Is dit verkeerd om ’n vertaling te gebruik?

Party het baie moeite gedoen om Bybelse Hebreeus of Bybelse Grieks of albei te leer. Hoewel hulle besef dat hulle begrip beperk is, geniet hulle dit om die Bybel in die oorspronklike tale te kan lees en voel hulle dat dit alles die moeite werd was. Moet jy mismoedig voel en ophou om na Bybelwaarheid te soek as jý dit nie kan doen nie? Nee, glad nie! Daar is verskeie redes vir hierdie gevolgtrekking.

Eerstens, dit is gepas om ’n vertaling van die Bybel te gebruik. Trouens, die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte, of sogenaamde Nuwe Testament, het dikwels gebruik gemaak van ’n Griekse vertaling wanneer hulle uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het (Psalm 40:6; Hebreërs 10:5, 6).c Hoewel hulle Hebreeus gepraat het en uit die oorspronklike Hebreeuse Geskrifte kon aanhaal, het hulle klaarblyklik nie omgegee om ’n vertaling van hierdie verse te gebruik wat algemener beskikbaar was vir diegene aan wie hulle geskryf het nie.—Genesis 12:3; Galasiërs 3:8.

Tweedens, selfs as iemand Bybeltale kan verstaan, kan hy Jesus se woorde net in ’n vertaalde vorm lees. Dit is omdat die Evangelieskrywers Jesus se woorde wat hy oorspronklik in ’n vorm van die Hebreeuse taal gespreek het, in Grieks opgeteken het.d Enigiemand wat meen dat die vermoë om die woorde van Jehovah se getroue knegte van ouds in die oorspronklike tale te lees, spesiale wysheid oordra, moet dink aan wat die voorgenoemde impliseer. Die feit dat Jehovah deur inspirasie die woorde van sy grootste Kneg slegs in vertaalde vorm laat bewaar het—in ’n taal wat destyds algemeen verstaan is—toon dat die taal waarin ons die Bybel lees, nie belangrik is nie. Wat wel belangrik is, is dat ons die geïnspireerde boodskap daarin lees in ’n vorm wat ons kan verstaan en waarop ons kan reageer.

Derdens, die “goeie nuus” in die Bybel moes aan nederige mense van “elke nasie en stam en taal en volk” beskikbaar gestel word (Openbaring 14:6; Lukas 10:21; 1 Korintiërs 1:27-29). In ooreenstemming hiermee kan die oorgrote meerderheid van die mense vandag van God se voorneme leer uit ’n eksemplaar van die Bybel in hulle eie taal, sonder om ’n ander taal te moet leer. In baie tale is daar ’n aantal vertalings beskikbaar, wat die leser ’n keuse gee.e

Hoe kan jy dan seker maak dat jy die waarheid wat in die Bybel gevind word, verstaan? Jehovah se Getuies het gevind dat ’n studie van die Bybel volgens onderwerpe, met inagneming van die konteks, ’n nuttige manier is om die boodskap in God se Woord te verstaan. Hulle neem byvoorbeeld ’n sekere onderwerp, soos “die huwelik”, en slaan die verse na wat na hierdie onderwerp verwys. Sodoende laat hulle een deel van die Bybel verklaar wat ’n ander deel beteken. Maak gerus gebruik van die gratis tuisbybelstudiekursus wat Jehovah se Getuies vir almal aanbied. Ongeag watter taal jy praat, God wil hê dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4; Openbaring 7:9.

[Voetnote]

a Party dele van die Bybel is in Aramees geskryf, ’n taal wat nou verwant is aan Bybelse Hebreeus. Voorbeelde hiervan word gevind in Esra 4:8 tot 6:18 en 7:12-26, Jeremia 10:11 en Daniël 2:4b tot 7:28.

b Hou in gedagte dat party woordeboeke en leksikons van Bybelwoorde bloot toon hoe die woord in ’n spesifieke Bybelvertaling vertaal is en nie onafhanklike definisies van die woord gee nie.

c Teen die tyd van Jesus Christus en sy apostels kon al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks gelees word. Hierdie vertaling is die Septuagint genoem en is algemeen deur Griekssprekende Jode gebruik. Die meeste van die honderde direkte aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte wat in die Christelike Griekse Geskrifte gevind word, is op die Septuagint gebaseer.

d Daar word gemeen dat die apostel Matteus die Evangelie van Matteus oorspronklik in Hebreeus geskryf het. Maar al is dit ook die geval, het ’n Griekse vertaling van die oorspronklike, wat moontlik deur Matteus self gedoen is, tot vandag behoue gebly.

e Vir ’n bespreking van die verskillende style van vertaling en hoe om ’n akkurate vertaling te kies, sien die artikel “Hoe jy ’n goeie Bybelvertaling kan kies” in die nommer van 1 Mei 2008 van hierdie tydskrif.

[Venster/Prent op bladsy 22]

Die Septuagint

Griekssprekende Jode in die tyd van Jesus en sy apostels het die Griekse Septuagint algemeen gebruik. Dit is ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks. Die Septuagint is nie net merkwaardig omdat dit die eerste bekende poging is om die Heilige Skrif in ’n ander taal te vertaal nie, maar dit is ook indrukwekkend as gevolg van die omvang van die vertaalprojek. ’n Groep vertalers het in die derde eeu VHJ aan die Septuagint begin werk, en die projek is meer as honderd jaar later deur ander voltooi.

Die vroeë Christene het gou die Septuagint doeltreffend begin gebruik om te bewys dat Jesus die Christus, die beloofde Messias, is. Hulle was so suksesvol dat party die Septuagint as ’n “Christelike” vertaling begin beskou het. Dit het daartoe gelei dat dit minder gewild geraak het onder die Jode en dat etlike nuwe vertalings in Grieks voortgebring is. Een van hierdie vertalings is in die tweede eeu HJ deur ’n Joodse proseliet met die naam Aquila gemaak. In ’n bespreking van hierdie vertaling verwys ’n Bybelgeleerde na ’n “heel onverwagte aspek”. Die goddelike naam, Jehovah, soos voorgestel deur Ou Hebreeuse karakters, verskyn deurgaans in Aquila se Griekse vertaling.

[Erkenning]

Israel Antiquities Authority

[Prente op bladsy 23]

Dit is belangrik dat ons die Bybel se geïnspireerde boodskap lees in ’n vorm wat ons kan verstaan en waarop ons kan reageer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel