Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 8/1 bl. 18-21
  • Die Bybel verander lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel verander lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 8/1 bl. 18-21

Die Bybel verander lewens

HOE het ’n enkelouer in Rusland wat verslaaf was aan dwelms, dit reggekry om met die gewoonte te breek en haar verhouding met haar kinders te verbeter? Hoe het ’n hawelose man wat in Kioto, Japan, gewoon het, die krag en moed gevind om die persoonlike swakhede wat tot sy armoede gelei het, te bowe te kom? Wat het ’n Australiese veedrywer (cowboy) in staat gestel om met sy fuifdrinkery op te hou? Kom ons kyk wat hierdie mense te sê het.

“Ek het geleer dat ek myself moet onderhou.”—NELLI BAIMATOWA

OUDERDOM: 45

GEBOORTELAND: RUSLAND

GESKIEDENIS: DWELMVERSLAAFDE

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Wladikawkaz, die hoofstad van die Republiek van Noord-Ossetië (nou Alanië). My gesin was redelik welaf. Maar ondanks materiële voordele het ek nie ’n gelukkige lewe gelei nie. Teen die tyd dat ek 34 was, het ek alreeds twee mislukte huwelike gehad. Ek was tien jaar lank aan dwelms verslaaf, waarvoor ek twee keer in ’n kliniek behandeling ontvang het. Hoewel ek twee kinders gehad het, het ek nie op daardie stadium enige geneentheid vir hulle gevoel nie; en ek het ook nie ’n normale verhouding met my vriende of familie gehad nie.

My ma het een van Jehovah se Getuies geword, en ek het dikwels gehoor hoe sy oor my huil en Jehovah in gebed vra om my te help. Ek het gedink: ‘My ma is so naïef! Hoe kan Jehovah my help?’ Ek het wel probeer ophou om dwelms te gebruik. Maar ek was nie sterk genoeg om self met die gewoonte te breek nie. Een keer het ek twee dae lank sonder dwelms gebly. Toe het ek besluit dat ek uit die huis uit moet kom, en ek het by die venster uitgespring. Ongelukkig was ek op die eerste verdieping. Weens die val het ek my arm en been gebreek en my rug beseer. Ek was meer as ’n maand lank bedlêend.

Terwyl ek herstel het, het my ma my versorg en my nie verwyt nie. Sy het verstaan dat my emosionele en geestestoestand broos was. Sy het egter ’n paar eksemplare van die Ontwaak!a langs my bed gelos. Ek het die een ná die ander gelees en dit baie interessant en leersaam gevind. Toe het ek besluit om die Bybel saam met die Getuies te studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Een ding wat die Bybel my geleer het, is verantwoordelikheid. Ek het geleer dat dit my plig is om myself en my kinders te onderhou, eerder as om te verwag dat my ma dit doen. Nadat ek so lank gedoen het net wat ek wou, was dit nie vir my maklik om gewoond te raak aan die idee van ’n vaste werk nie.

Die raad in Deuteronomium 6:5-7, wat vir ouers sê om hulle kinders oor God te leer, het my ook baie gehelp. Ek het besef dat ek voor God aanspreeklik is vir hoe ek my twee kinders grootmaak. Daardie feit het my beweeg om tyd saam met hulle te begin deurbring en gepaste liefde vir hulle aan te kweek.

Ek het innig dankbaar gevoel dat Jehovah my toegelaat het om die waarheid omtrent hom te leer. Ek het dus my lewe aan hom toegewy en is as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Omdat ek geleer het om my kwaai humeur te beheers, het my verhouding met my ma verbeter. My verhouding met my kinders is ook beter.

Sedert ek ’n haat vir goddelose dinge ontwikkel het, het baie van die probleme wat deur my vorige lewenswyse veroorsaak is, verdwyn. Dit maak my nou baie gelukkig om ander te help om die waarheid oor ons liefdevolle God, Jehovah, te leer.

“Ek voel dat my lewe letterlik gered is.”—MINOROE TAKEDA

OUDERDOM: 54

GEBOORTELAND: JAPAN

GESKIEDENIS: WAS HAWELOOS

MY VERLEDE: Ek het in die stad Jamagoetsji by my pa en my ouma grootgeword. Ek het nooit my ma geken nie. Toe ek 19 was, is my ouma oorlede, en ek het by my pa gebly. Ek het as ’n kok gewerk, en my pa was ook in die voedselbedryf. Ons het verskillende skofte gewerk en het mekaar dus selde gesien. Ek het in die gewoonte verval om lang ure te werk en saam met my vriende te drink.

Mettertyd het my werk my begin verveel. Ek het met my baas baklei en strawwer begin drink. Uiteindelik, toe ek in my laat 20’s was, het ek besluit om die huis te verlaat en te reis. Toe my geld opraak, het ek in ’n patjinko-, of dobbelhuis, begin werk. Ek het ’n meisie ontmoet, en ons is getroud. Maar ná net twee en ’n half jaar het ons uitmekaargegaan.

Ek was terneergedruk en het min wilskrag gehad en was op die ou end diep in die skuld by geldskieters. Ek het van die skuldinvorderaars gevlug en ’n tyd lank in my tuisdorp by my pa gaan woon, maar ek het vir hom leuens vertel, en dit het ons verhouding versuur. Ek het geld uit sy huis gevat en ’n ruk lank ’n bestaan gemaak deur te dobbel. Uiteindelik het ek in armoede verval en ’n tyd lank in ’n treinstasie gewoon. Ek het na Hakata getrek, toe na Himeji en uiteindelik na Kioto. Ek het ’n paar jaar lank op straat gewoon.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1999 was ek in ’n park naby die Kamogawa-rivier in Kioto toe twee vroue na my toe gekom het. Een van hulle het gevra: “Sou jy daarin belangstel om die Bybel te bestudeer?” Ek het die aanbod aanvaar. Ryp Christene van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het die Bybel met my gestudeer en my gehelp om te sien hoe belangrik dit is om die beginsels daarin toe te pas. Hulle het voorgestel dat ek ’n werk en ’n woonplek probeer vind. Om hulle tevrede te stel, het ek na ’n paar onderhoude gegaan, maar aan die begin het ek nie baie hard probeer nie. Later het ek egter om hulp begin bid en hard na werk gesoek, en uiteindelik het ek werk gekry.

Gebed het my ook deur ’n baie moeilike toets gehelp. Die geldskieters van wie ek gevlug het, het my opgespoor en betaling geëis. Dit was vir my baie stresvol. Toe het ek in my daaglikse Bybellees op die teks in Jesaja 41:10 afgekom. In daardie vers het God sy getroue knegte belowe: “Ek sal jou werklik help.” Daardie belofte het my krag en moed gegee. Ek het my ywerig ingespan en uiteindelik my geldprobleme opgelos. In 2000 het ek aan die vereistes voldoen om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Wat ek uit die Bybel geleer het, het my aangespoor om my verhouding met my pa te probeer herstel, en hy het my vergewe vir hoe ek my in die verlede gedra het. Hy was so bly dat ek geleer het om volgens Bybelstandaarde te lewe. Ek voel dat my lewe letterlik gered is omdat ek Bybelbeginsels begin toepas het.

Wat meer is, ek kan werk om in my materiële behoeftes te voorsien (Efesiërs 4:28; 2 Tessalonisense 3:12). Ek het ook ware vriende in die Christengemeente gevind (Markus 10:29, 30). Ek is innig dankbaar vir wat Jehovah my geleer het.

“Dit was nie vir my maklik om die nodige veranderinge aan te bring nie.”—DAVID HUDSON

OUDERDOM: 72

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: HET TE VEEL GEDRINK

MY VERLEDE: Ek is die 11de kind van my ouers, Willie en Lucy. My gesin het gewoon in ’n Aborigine-gemeenskap genaamd Aurukun, in die verre noordelike deel van Queensland. Aurukun is op die oewers van die skilderagtige Archerrivier gebou,en is naby die see geleë. My ouers het ons kinders geleer om te jag en vis te vang om aan die lewe te bly. Destyds is ons as Aborigines volgens ’n staatsregulering verbied om geld te hanteer, en ons kon net in ’n vasgestelde gebied woon.

My ouers het hulle bes gedoen om goeie eienskappe by my in te skerp en het al hulle kinders geleer om die ouer mense in die gemeenskap te respekteer en om die bietjie wat ons gehad het, te deel. Gevolglik het ons al die bejaardes as ons ma’s, pa’s, tannies en ooms beskou.

My pa is dood toe ek sewe was, en ons het getrek na ’n sendingstasie vir Aborigines by Mapoon, wat omtrent 150 kilometer noord van Aurukun is. Toe ek 12 was, het ek begin leer hoe om met perde en beeste te werk, en ek het tot laat in my 40’s op etlike beesplase as ’n veedrywer (cowboy) gewerk. Dit was ’n rowwe lewe. Ek het dikwels straf gedrink. Dit het tot baie probleme en ontberinge gelei.

Eenkeer toe ek te veel gedrink het, het ek by ’n hotel uitgeslinger en voor ’n motor beland wat te vinnig gery het. Ek het twee jaar lank rehabilitasie en fisioterapie ontvang—en my dae as veedrywer was verby.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Gedurende my tyd in rehabilitasie het een van my vriendinne vir my ’n paar eksemplare van Die Wagtoring en die Ontwaak! gebring om te lees. Ek het egter nie veel skoolopleiding gehad nie, en daarom kon ek nie goed lees nie. Toe, op ’n snikhete dag, het ’n 83-jarige man my besoek. Ek het hom ingenooi en hom ’n glas koue water aangebied. Hy het vir my Bybellektuur gegee en gevra of hy kon terugkeer om vir my te verduidelik wat daarin staan. Uiteindelik het ons die Bybel gereeld saam begin studeer. Ek het begin insien dat ek veranderinge in my persoonlikheid en lewenswyse sou moes aanbring as ek God wou behaag.

Dit was nie vir my maklik om die nodige veranderinge aan te bring nie. Maar wat my ma my geleer het, het gemaak dat ek diep respek gehad het vir die bejaarde man wat die Bybel met my gestudeer het en vir die geestelike insig wat hy my gegee het. Ek het nietemin gehuiwer om my lewe aan God toe te wy. Ek het gedink dat ek alles moes weet wat in die Bybel geskryf staan.

Op die ou end het ’n medewerker my gehelp om my denke oor die saak reg te stel. Hy was een van Jehovah se Getuies en hy het vir my die aanmoedigende woorde in Kolossense 1:9, 10 gewys. Daardie teks sê dat ons moet voortgaan om “toe te neem in die juiste kennis van God”. My medewerker het my gehelp om te verstaan dat ek altyd nuwe dinge sou leer; ek het dus geen rede gehad om toe te laat dat my beperkte kennis my terughou nie.

Ek was veral beïndruk toe ek met Jehovah se Getuies begin assosieer het. Ek het self gesien hoe mense van alle agtergronde verenig is in aanbidding van God. Daardie eenheid het my sonder enige twyfel gelaat dat ek die ware godsdiens gevind het, en daarom is ek in 1985 as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET: My leesvaardighede het verbeter, en nou bestee ek elke week etlike ure daaraan om ander te leer lees en hulle te help om die Bybel te bestudeer. Daarbenewens het die vriendin wat aan die begin vir my die eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gebring het om te lees, ook saam met die Getuies gestudeer, haar laat doop en my liefdevolle vrou geword. Saam put ons ware vreugde daaruit om ander in die Aborigine-gemeenskap te help om van Jehovah God te leer.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 21]

Ek en my vrou put ware vreugde daaruit om ander in die Aborigine-gemeenskap te help om van God te leer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel