Gaan alle goeie mense hemel toe?
JESUS het ná sy laaste maaltyd saam met sy apostels op die aand voor sy teregstelling belowe dat hy hulle met ’n plek in die hemel sal beloon. Hy het gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. Anders sou ek vir julle gesê het, want ek gaan om vir julle ’n plek te berei” (Johannes 14:2). Waarom sou Jesus hulle ’n plek in die hemel gee? Wat gaan hulle daar doen?
Jesus het ’n spesiale toewysing vir sy dissipels in gedagte gehad. Gedurende daardie selfde aand het hy gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (Lukas 22:28, 29). God het Jesus belowe dat hy die Koning sou wees wat in een van die mensdom se grootste behoeftes sou voorsien—’n goeie regering. Jesus sal mense van ellende red en sal diegene wat hulle bedrieg, verbrysel. Hoewel Jesus onderdane “tot aan die eindes van die aarde” sal hê, sal sy troon in die hemel wees.—Psalm 72:4, 8; Daniël 7:13, 14.
Maar Jesus sal nie alleen regeer nie. Daarom het hy sy apostels ’n plek in die hemel belowe. Hulle is die eerstes wat gekies is om “as konings oor die aarde [te] heers”.—Openbaring 5:10.
Hoeveel mense gaan hemel toe? Soos in enige regering, is die heersers in God se hemelse Koninkryk min in vergelyking met al die mense wat onder die gesag daarvan lewe. Jesus het aan diegene wat saam met hom gaan regeer, gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Daardie “klein kuddetjie” sal uiteindelik uit 144 000 bestaan (Openbaring 14:1). Hierdie getal is klein in vergelyking met die miljoene wat eindelose lewe op aarde as lojale onderdane van die Koninkryk gaan geniet.—Openbaring 21:4.
Nie alle goeie mense gaan dus hemel toe nie. Die apostel Petrus het uitdruklik van die goeie koning Dawid gesê: “Dawid het . . . nie na die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:34). Johannes die Doper was ’n goeie man. En tog het Jesus aangedui dat hy nie verhef sou word om as ’n koning in die hemel te regeer nie. “Onder dié wat uit vroue gebore is”, het Jesus gesê, “is daar niemand groter as Johannes die Doper verwek nie; maar iemand wat ’n mindere in die koninkryk van die hemele is, is groter as hy.”—Matteus 11:11.
Sal jy die beloning vir goeie mense ontvang?
Wat moet ’n mens doen om die beloning te ontvang om vir ewig op die aarde te lewe? Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Let op dat God se liefde vir die wêreld hom beweeg om die ewige lewe aan almal beskikbaar te stel, maar slegs diegene wat ‘geloof beoefen’, sal in werklikheid daardie beloning ontvang.
Geloof moet op juiste kennis gegrond wees (Johannes 17:3). Jy kan bewys dat jy ’n goeie persoon is deur meer te leer omtrent Jehovah se voorneme met die mens. Stel geloof in wat jy leer, en tree daarvolgens op. En wees verseker dat dit werklik vir jou moontlik is om vir ewig te lewe.
[Venster op bladsy 7]
Wat sê die Bybel?
Vraag:
Wat gebeur met goeie mense wanneer hulle sterf?
Antwoord:
“Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”—PREDIKER 9:5.
Vraag:
Watter hoop het goeie mense vir die toekoms?
Antwoord:
“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—JOHANNES 5:28, 29.
Vraag:
Waar sal die meeste goeie mense woon?
Antwoord:
“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—PSALM 37:29.