Het ons die bewustheid van sonde verloor?
NIE so lank gelede nie het kerkgangers gereeld gehoor hoe hulle predikant van die preekstoel af uitvaar teen die sogenaamde “sewe hoofsondes”—wellus, vraatsug, gierigheid, luiheid, woede, jaloesie en trots. Gewoonlik het die predikant dan die droewige gevolge van sonde beskryf en sy gehoor gemaan om berou te toon. “Nou”, sê een skrywer, “ignoreer die meeste godsdiensboodskappe die ongemaklike werklikheid van sonde en fokus dit eerder op ‘goed-voel-temas’.”
Koerantrubriekskrywers het dieselfde tendens opgemerk. Hier volg ’n paar kommentare uit die pers:
▪ “Die ou kategorieë van sonde, berou en verlossing is uit, en die terapeutiese taal van eiewaarde en eieliefde is in.”—Star Beacon, Ashtabula, Ohio.
▪ “Die pynlike bewustheid van persoonlike sonde het so te sê verdwyn”.—Newsweek.
▪ “Ons vra nie meer: ‘Wat vereis God van my’ nie, maar eerder: ‘Wat kan God vir my doen?’”—Chicago Sun-Times.
In vandag se pluralistiese en verdraagsame samelewing is mense huiwerig om ander op sedelike gebied te veroordeel. Daar word vir ons gesê dat dit polities verkeerd is om dit te doen. Die grootste sonde is blykbaar om iemand anders se optrede te veroordeel. Mense redeneer dus soos volg: ‘Wat jy glo, werk dalk goed vir jou, maar jy moet regtig nie jou denke op enigiemand anders probeer afdwing nie. Deesdae reël mense hulle lewe volgens verskillende stelle waardes. Niemand het die monopolie op sedelike waarheid nie. Ander mense se waardes is net so geldig soos joune.’
Hierdie soort redenasie het ’n verandering in mense se woordeskat teweeggebring. Die woord “sonde” word nou selde in ’n ernstige verband gebruik. Vir baie het dit ’n onderwerp geword waaroor daar grappe gemaak word. Daar word nie meer gesê dat mense “in sonde lewe” nie; hulle “bly net saam”. Hulle is nie meer “egbrekers” nie; hulle “het ’n affair”. Hulle is nie meer “homoseksuele” nie; hulle verkies “’n alternatiewe lewenswyse”.
Dit wat mense bereid is om as “normaal” te aanvaar of as “sonde” te veroordeel, het ongetwyfeld verander. Maar waarom het gesindhede verander? Wat het van sonde geword? En maak dit werklik saak wat jou beskouing is?