Hoe om ’n vriend te help wat siek is
HET jy al ooit gevind dat jy na woorde soek wanneer jy met ’n vriend praat wat ernstig siek is? Jy kan seker wees dat jy hierdie uitdaging die hoof kan bied. Hoe? Daar is geen vaste reëls nie. Daar bestaan moontlik kultuurverskille. Mense se persoonlikhede kan ook grootliks verskil. Wat dus een siek persoon beter kan laat voel, help dalk nie ’n ander nie. En omstandighede en gevoelens kan van dag tot dag aansienlik verander.
Die belangrikste is dus dat jy probeer om jou in die persoon se plek te plaas en uit te vind wat hy of sy werklik van jou wil hê en nodig het. Hoe kan jy dit doen? Hier is ’n paar wenke wat op Bybelbeginsels gegrond is.
Wees ’n goeie luisteraar
BYBELBEGINSELS:
“Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.”—JAKOBUS 1:19.
“Daar [is] ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat.”—PREDIKER 3:1, 7.
◼ Wanneer jy ’n vriend besoek wat siek is, moet jy aandagtig en met simpatie luister. Moenie gou wees om raad te gee of voel dat jy altyd met ’n oplossing vorendag moet kom nie. As jy oorhaastig is om jou uit te spreek, sê jy dalk per ongeluk iets wat kan seermaak. Jou siek vriend soek nie noodwendig na antwoorde nie, maar na iemand wat met opregte belangstelling en ’n oop gemoed sal luister.
Laat jou vriend toe om hom vryelik uit te druk. Moet hom nie in die rede val en sy toestand as minder ernstig afmaak deur clichés te gebruik nie. “Ek het fungale meningitis gehad en het uiteindelik my sig verloor”, sê Emílio.a “Soms wanneer ek regtig terneergedruk voel, probeer vriende my vertroos deur te sê: ‘Jy is nie die enigste een met probleme nie. Daar is mense wat slegter daaraan toe is as jy.’ Maar hulle besef nie dat dit my niks help as hulle my toestand as minder ernstig afmaak nie. Dit het eerder ’n negatiewe uitwerking; dit maak my neerslagtig.”
Laat jou vriend toe om sy hart uit te stort sonder die vrees dat jy hom sal kritiseer. As hy vir jou sê dat hy bang is, moet jy sy gevoelens erken en nie net vir hom sê om nie bang te wees nie. “Wanneer ek angstig is oor my toestand en in trane uitbars, beteken dit nie dat ek nie meer op God vertrou nie”, sê Eliana, wat ’n stryd teen kanker voer. Probeer jou vriend sien soos hy is, nie soos jy wil hê hy moet wees nie. Hou in gedagte dat hy dalk nou kwesbaar is en nie sy ou self is nie. Wees geduldig. Luister—selfs al beteken dit dat jy oor en oor dieselfde dinge moet hoor (1 Konings 19:9, 10, 13, 14). Dit is dalk vir hom belangrik om vir jou te vertel wat hy deurmaak.
Betoon empatie en wees bedagsaam
BYBELBEGINSELS:
“Wees bly saam met mense wat bly is; huil saam met mense wat huil.”—ROMEINE 12:15.
“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—MATTEUS 7:12.
◼ Stel jou in jou vriend se posisie. As hy hom vir ’n operasie voorberei, behandeling ondergaan of op toetsuitslae wag, kan hy dalk gespanne en redelik fyngevoelig wees. Probeer dit in ag neem en pas jou by sy gemoedswisselinge aan. Dit is moontlik nie die tyd om te veel vrae te vra nie, veral nie persoonlike vrae nie.
“Laat pasiënte toe om oor hulle siekte te praat wanneer húlle wil en teen hulle eie pas”, sê Ana Katalifós, ’n kliniese sielkundige. “Wanneer hulle bereid is om te praat, moet jy met hulle gesels oor watter onderwerp hulle ook al wil. Maar wanneer hulle nie lus is om te praat nie, kan julle net in stilte sit; dit kan ook wondere verrig om net die persoon se hand vas te hou. Of jy vind dalk dat hulle bloot vertroosting nodig het.”
Respekteer jou vriend se privaatheid. Die skrywer Rosanne Kalick, wat self twee keer kanker gehad het, skryf: “Neem aan dat alles wat vir jou gesê word, vertroulik is. Tensy jy gevra word om die gesin se woordvoerder te wees, moet jy nie aan ander inligting verstrek nie. Vra die pasiënt wat hy wil hê ander moet weet.” Edson, wat kanker oorleef het, sê: “’n Vriend het vir almal vertel dat ek kanker het en nie meer lank sal lewe nie. Moenie vergeet nie, ek het pas tevore ’n operasie ondergaan. Ek het geweet dat ek kanker het, maar ek het gewag op die uitslae van die biopsie. Die kanker het nie versprei nie. Maar die skade was reeds gedaan. My vrou was verpletter deur die ondeurdagte opmerkings en vrae van ander.”
As jou vriend verskillende behandelings oorweeg, moet jy nie gou wees om te sê wat jy in sy of haar situasie sou doen nie. Die skrywer Lori Hope, wat kanker gehad het, sê: “Voordat jy artikels of nuus van watter aard ook al stuur aan ’n kankerpasiënt of iemand wat kanker gehad het, sal dit raadsaam wees om te vra of hulle sulke nuus wil ontvang. Anders kan jou goed bedoelde gebaar jou vriend seermaak, dalk sonder dat jy ooit daarvan weet.” Nie almal wil oorlaai word met ’n klomp inligting oor verskillende soorte mediese behandelings nie.
Selfs al is jy ’n hegte vriend, moet jy nie te lank bly nie. Jou teenwoordigheid is baie belangrik, maar jou vriend sien dalk nie kans om te kuier nie. Hy is dalk moeg en het min energie om lank te praat of selfs te luister. Aan die anderkant moet jy ook nie die indruk skep dat jy haastig is om te gaan nie. Jou vriend verdien dit om te sien hoeveel jy omgee.
Om bedagsaam te wees, behels dat jy gebalanseerd is en goeie oordeel aan die dag lê. Voordat jy byvoorbeeld vir ’n siek vriend ’n maaltyd voorberei of selfs vir hom blomme neem, moet jy dalk eers uitvind of hy enige allergieë het. As jy siek is, dalk ’n verkoue het, sal dit liefdevol wees om te wag totdat jy gesond is voordat jy jou vriend besoek.
Wees opbouend
BYBELBEGINSELS:
“Die tong van die wyses is genesing.”—SPREUKE 12:18.
“Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout.”—KOLOSSENSE 4:6.
◼ As jy ’n positiewe beskouing behou van ’n vriend wat siek is, sal jou woorde en dade dit waarskynlik weerspieël. Dink aan jou vriend as dieselfde persoon met dieselfde eienskappe wat jou in die eerste plek tot hom aangetrokke laat voel het. Sien die persoon, nie sy siekte nie. As jy met jou vriend praat asof hy ’n hulpelose slagoffer is, kan hy hom dalk as een begin beskou. Roberta, wat ’n seldsame genetiese beensiekte het, sê: “Behandel my soos ’n normale persoon. Al is ek gestremd, het ek my opinies en begeertes. Moenie na my kyk asof jy my bejammer nie. Moenie met my praat asof ek dom is nie.”
Onthou dat dit nie net saak maak wat jy sê nie, maar ook hoe jy dit sê. Selfs jou stemtoon kan ’n uitwerking hê. Kort nadat Ernesto met kanker gediagnoseer is, het hy ’n internasionale oproep ontvang van ’n vriend wat gesê het: “Ek kan nie glo jy het kanker nie!” Ernesto sê: “Die manier waarop my vriend ‘jy’ en ‘kanker’ beklemtoon het, het my koue rillings gegee.”
Die skrywer Lori Hope gee nog ’n voorbeeld: “Die vraag: ‘Hoe gaan dit?’ kan baie verskillende dinge vir ’n pasiënt beteken. Afhangende van die persoon se stemtoon, lyftaal, verhouding met die pasiënt, hoe goed hulle mekaar ken en natuurlik tydsberekening, kan dit iemand vertroos, pyn veroorsaak of ’n onderliggende vrees na vore bring.”
’n Vriend wat siek is, wil waarskynlik voel dat iemand vir hom omgee, hom verstaan en hom respekteer. Verseker die persoon dus dat hy of sy vir jou baie belangrik is en dat jy sal help waar jy kan. Rosemary, ’n pasiënt met ’n breingewas, sê: “Wat my werklik bemoedig het, was om my vriende te hoor sê dat hulle lief is vir my en my sal ondersteun, ongeag wat gebeur.”—Spreuke 15:23; 25:11.
Wees behulpsaam
BYBELBEGINSEL:
“Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 JOHANNES 3:18.
◼ Van diagnose tot behandeling sal jou vriend se behoeftes voortdurend verander. Maar gedurende hierdie hele tyd sal hy dalk hulp nodig hê. Pleks van ’n algemene aanbod—“bel my as jy enigiets nodig het”—moet jy probeer om spesifiek te wees. Jy kan op praktiese maniere toon dat jy omgee deur aan te bied om te help met daaglikse bedrywighede soos om kos te maak, skoon te maak, wasgoed te was, te stryk, takies te verrig, inkopies te doen en om jou vriend vir behandeling na en van die kliniek of hospitaal te neem. Wees betroubaar en stiptelik. Kom jou beloftes en jou verpligtinge na.—Matteus 5:37.
“Wat ons ook al doen om die gaping tussen die pasiënt se wêreld van siekte en sy wêreld van gesondheid te oorbrug, hetsy groot of klein, dit sal hom help”, sê die skrywer Rosanne Kalick. Sílvia, wat al twee keer kanker gehad het, stem saam. “Verskillende vriende het my elke dag vir bestraling na ’n ander dorp geneem, en dit was baie ontspannend en vertroostend! Op pad het ons oor allerhande dinge gepraat en ná die behandeling het ons altyd na ’n koffiewinkel gegaan. Dit het my weer normaal laat voel.”
Maar moenie aanneem dat jy weet presies wat jou vriend nodig het nie. “Vra, vra, vra”, stel Kalick voor. Sy voeg by: “Moenie dat jou begeerte om te help, maak dat jy oorneem nie. Dit kan teenproduktief wees. As jy my niks laat doen nie, kry ek dalk die boodskap dat ek niks kan doen nie. Ek moet voel dat ek bevoeg is om iets te doen. Ek moet voel dat ek nie ’n slagoffer is nie. Help my om te doen wat ek kan.”
Dit is waarskynlik belangrik vir jou vriend om te voel dat hy nog in staat is om dinge te doen. Adilson, wat vigs het, sê: “As jy siek is, wil jy nie verwerp word asof jy niks werd is of niks kan doen nie. Jy wil darem van nut wees, selfs al beteken dit dat jy net klein dingetjies doen. Dit is so lekker om te voel dat jy nog iets kan doen! Dit gee jou die motivering om aan te hou lewe. Ek hou daarvan dat mense my toelaat om besluite te neem—en dan my besluite respekteer. As ’n mens siek is, beteken dit nie dat jy nie meer jou rol as pa, ma of iets anders kan vervul nie.”
Behou kontak
BYBELBEGINSEL:
“’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—SPREUKE 17:17.
◼ As jy jou vriend weens afstand of ander omstandighede nie kan besoek nie, kan jy hom bel om sommer net te gesels, ’n brief skryf of ’n e-pos stuur. Waaroor kan jy skryf? Alan D. Wolfelt, ’n rouberader, stel voor: “Praat oor die lekker tye wat julle saam gehad het. Belowe dat jy . . . gou weer sal skryf—en kom dan jou belofte na.”
Moenie dat vrees dat jy iets verkeerds sal sê of foute sal maak, jou daarvan weerhou om ’n siek vriend by te staan nie. In baie gevalle is dit jou teenwoordigheid wat werklik saak maak. In haar boek skryf Lori Hope: “Ons almal sê en doen dinge wat verkeerd opgeneem kan word of iemand per ongeluk kan seermaak. Dit is nie die probleem nie. Die probleem ontstaan wanneer jy so bang is om ’n fout te begaan dat jy wegbly van iemand wat jou nodig het.”
’n Vriend wat ernstig siek is, het jou dalk nou nodiger as ooit. Wees “’n ware metgesel”. Jou pogings om te help, sal dalk nie sy pyn laat verdwyn nie, maar dit kan wel ’n moeilike situasie draagliker maak vir iemand wat jy liefhet.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.