Die lewe en tye van eerste-eeuse Christene
Reise na die mees afgeleë deel van die aarde
“Die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek. En nadat hulle die goeie nuus aan daardie stad bekend gemaak en ’n hele paar dissipels gemaak het, het hulle na Listra en na Ikonium en na Antiogië teruggekeer.”—HANDELINGE 14:20, 21.
DIE koel oggendlug vul die reisiger se longe. Hy steek sy moeë voete in verslete sandale in. Nog ’n volle dag se loop lê voor.
Met die vroeë oggendson op sy rug volg hy die stowwerige pad verby die wingerd, deur ’n olyfboord en teen die steil heuwel op. Langs die pad kom hy ander reisigers teë—boere wat na hulle landerye loop, handelaars wat swaarbelaaide diere aandryf en pelgrims op pad na Jerusalem. Die reisiger en sy metgeselle praat met almal wat hulle teëkom. Hulle doelwit? Om Jesus se opdrag uit te voer om getuies van hom te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”.—Handelinge 1:8.
Hierdie reisiger kan die apostel Paulus of Barnabas of enigeen van die geharde eerste-eeuse sendelinge wees (Handelinge 14:19-26; 15:22). Hulle was taai, vasberade mense. Dit was moeilik om te reis. In ’n beskrywing van sy beproewinge op see het die apostel Paulus geskryf: “Drie keer het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek in die see deurgebring.” Dit was net so moeilik om oor land te reis. Paulus het gesê dat hy dikwels “in gevare van riviere” en “in gevare van struikrowers” was.—2 Korintiërs 11:25-27.
Hoe sou dit gewees het om saam met hierdie sendelinge te reis? Hoe ver sou jy in ’n dag reis? Wat sou jy saam met jou moes neem, en waar sou jy oornag?
Reise oor land Teen die eerste eeu het die Romeine ’n uitgebreide padnetwerk gebou wat vername sentrums in die ryk verbind het. Daardie paaie was noukeurig ontwerp en goed gebou. Baie was 4,5 meter breed, met klip geplavei, het randstene gehad en was van mylstene voorsien. Op so ’n pad kon ’n sendeling soos Paulus ongeveer 32 kilometer per dag loop.
Maar in Palestina was die meeste paaie gevaarlike grondpaaie met geen skeiding tussen die pad en landerye en klowe nie. ’n Reisiger kon wilde diere of rowers teëkom; om die waarheid te sê, die pad kon heeltemal versper wees.
Wat sou ’n reisiger by hom hê? Van die noodsaaklikhede was ’n staf vir beskerming (1), ’n slaaprol (2), ’n geldbeurs (3), ’n ekstra paar sandale (4), ’n kossak (5), ’n stel klere (6), ’n opvoubare leeremmer om water uit ’n put op te trek (7), ’n waterfles (8) en ’n groot leersak vir persoonlike artikels (9).
Die sendelinge sou beslis reisende handelaars teëgekom het wat goedere aan plaaslike markte voorsien het. Hierdie handelaars het op die vasvoetige donkie staatgemaak. Dit het geen gelyke op die steil en klipperige paaie gehad nie. Daar word gesê dat ’n sterk donkie, ondanks ’n swaar vrag, tot 80 kilometer per dag kon aflê. Ossewaens was stadiger en kon net tussen 8 en 20 kilometer aflê. Maar osse kon swaarder vragte trek en was ideaal vir kort afstande. ’n Reisiger kon ’n kameel- of donkiekaravaan teëkom, wat bestaan het uit tientalle diere belaai met goedere van regoor die wêreld. ’n Koerier sou dalk op ’n perd verbyjaag, met korrespondensie en koninklike verordeninge vir ’n buitepos van die ryk.
Wanneer dit donker geword het, het reisigers langs die pad in haastig voorbereide kampe geslaap. Party het moontlik oornag by ’n karavaanherberg, ’n ommuurde stuk grond met ongemeubileerde kamers wat om ’n binneplaas gebou is. Hierdie vuil, onaangename plekke het net beperkte beskerming teen die elemente of diewe gebied. Wanneer dit ook al moontlik was, het reisende sendelinge waarskynlik by familie of medegelowiges oorgebly.—Handelinge 17:7; Romeine 12:13.
Reise op see Bootjies het goedere en mense langs die kus en oor die See van Galilea vervoer (Johannes 6:1, 2, 16, 17, 22-24). Talle groter skepe het die Middellandse See deurkruis en goedere na en van vergeleë hawestede vervoer. Hierdie skepe het Rome van kos voorsien en het staatsamptenare en korrespondensie na die verskillende hawestede geneem.
Seemanne het genavigeer volgens wat hulle kon sien—bedags met behulp van landmerke, snags met behulp van die sterre. Daarom was seereise net van Mei tot die middel van September, wanneer die weer waarskynlik kalmer sou wees, betreklik veilig. Skepe het dikwels vergaan.—Handelinge 27:39-44; 2 Korintiërs 11:25.
Mense het nie gekies om op see te reis omdat dit aangenamer was as om oor land te reis nie. Op ’n vragskip, die vernaamste vervoermiddel op see, was die gerief van die passasiers nie van groot belang nie. Reisigers het in allerhande weersomstandighede op die dek gelewe en geslaap. Die droë ruimte onder die dek was vol kosbare goedere. Passasiers het kos geëet wat hulle saamgebring het. Net drinkwater is voorsien. Soms was die weer baie wispelturig. Meedoënlose storms en ’n onstuimige see het mense seesiek gemaak, dikwels dae lank.
Ondanks die ontberinge van land- en seereise het sendelinge soos Paulus die “goeie nuus van die koninkryk” wyd en syd in die destyds bekende wêreld versprei (Matteus 24:14). Net 30 jaar nadat Jesus vir sy dissipels gesê het om van hom te getuig, kon Paulus skryf dat die goeie nuus verkondig word “in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.