Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 11/15 bl. 17-19
  • Jehovah luister na die hulpgeroep van die geringe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah luister na die hulpgeroep van die geringe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Woord op die regte tyd”
  • Hulp deur Christelike vergaderinge
  • “Bid onophoudelik”
  • Vertroosting vir die gebrokenes van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Jehovah, ons ‘vesting in tye van benoudheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hulp van ‘die God van vertroosting’
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 11/15 bl. 17-19

Jehovah luister na die hulpgeroep van die geringe

SOOS die wyse koning Salomo van eertydse Israel gesê het, tref “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse [ons] almal” (Pred. 9:11). ’n Tragiese gebeurtenis of ’n moeilike beproewing kan ons lewe heeltemal ontwrig. Die skielike dood van ’n nabye familielid kan byvoorbeeld emosioneel verpletterend wees. In die daaropvolgende weke en maande kan die droefheid en wanhoop oorweldigend wees. Die bedroefde persoon kan so verward raak dat hy onwaardig voel om Jehovah in gebed te nader.

In so ’n situasie het ’n mens aanmoediging, bedagsaamheid en liefde nodig. Die psalmis Dawid het die volgende gerusstellende woorde gesing: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is” (Ps. 145:14). Die Bybel sê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kron. 16:9). Hy is met “die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe” (Jes. 57:15). Hoe voorsien Jehovah ondersteuning en vertroosting aan die verbryselde en nederige van gees?

“’n Woord op die regte tyd”

Een van die maniere waarop Jehovah hulp op die regte tyd voorsien, is deur die Christenbroederskap. Christene word vermaan: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele” (1 Tess. 5:14). Wanneer die woorde van medelydende broers en susters van liefde en besorgdheid getuig, kan dit ’n stabiliserende uitwerking op ’n persoon hê gedurende sy tyd van benoudheid en hartseer. Vertroostende woorde in selfs ’n kort gesprek kan baie doen om die gees van iemand wat neergeboë is, te laat herlewe. Sulke bedagsame woorde kan van iemand kom wat al soortgelyke verstandelike en emosionele pyn verduur het. Of dit kan insigryke opmerkings wees van ’n vriend wat baie lewenservaring het. Jehovah kan op hierdie baie praktiese maniere die gees van ’n geringe laat herlewe.

Kyk na die geval van ’n pas getroude Christen- ouer man met die naam Alex, wat onverwags sy vrou aan die dood afgestaan het omdat sy aan ’n ongeneeslike siekte gely het. ’n Reisende opsiener wat empatie gehad het, het ’n punt daarvan gemaak om vertroostend met Alex te praat. Hy het ook sy vrou aan die dood afgestaan, maar is sedertdien weer getroud. Die reisende opsiener het beskryf hoe sy eie brose emosies hom oorweldig het. Hy het goed gevoel wanneer hy saam met ander in die bediening en by gemeentelike vergaderinge was. Maar wanneer hy in sy kamer ingegaan en die deur toegemaak het, het hy baie eensaam gevoel. “Watter verligting was dit tog om te weet dat my gevoelens normaal is en dat ander dit ook al ervaar het”, sê Alex. Ja, “’n woord op die regte tyd” kan ’n mens gedurende benoudheid vertroos en onderskraag.—Spr. 15:23.

’n Ander Christen- ouer man, wat ’n hele paar persone geken het wat hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan het, is beweeg om bemoedigend met Alex te praat. Hy het meegevoel getoon en liefdevol daarop gewys dat Jehovah weet hoe ons voel en wat ons nodig het. “As jy in die komende maande en jare ’n metgesel nodig kry”, het die broer gesê, “is Jehovah se liefdevolle voorsiening in hierdie tyd dat ’n mens weer kan trou.” Dit is natuurlik nie vir almal wat ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het en later weer wil trou, moontlik om dit te doen nie. Maar met die broer se woorde in gedagte het Alex gesê: “As iemand jou daaraan herinner dat dit Jehovah se voorsiening is, bevry dit jou van enige negatiewe gedagtes dat jy ontrou sal wees aan jou maat of aan Jehovah se huweliksreëling as jy in die toekoms weer trou.”—1 Kor. 7:8, 9, 39.

Die psalmis Dawid, wat self baie beproewinge en ontberinge deurgemaak het, het gesê: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Ps. 34:15). Jehovah kan beslis die hulpgeroep van die geringe op die regte tyd verhoor deur middel van die insigryke en oordeelkundige woorde van medelydende en geestelik volwasse mede-Christene. Hierdie voorsiening is kosbaar sowel as prakties.

Hulp deur Christelike vergaderinge

’n Neerslagtige persoon is vatbaar vir negatiewe gedagtes wat kan veroorsaak dat hy hom afsonder. Maar Spreuke 18:1 waarsku: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.” Alex het erken: “Wanneer jy jou huweliksmaat verloor, is jou kop vol negatiewe gedagtes.” Hy onthou dat hy hom afgevra het: “‘Kon ek enigiets beter gedoen het? Kon ek meer bedagsaam en simpatiek gewees het?’ Ek wou nie alleen wees nie. Ek wou nie ongetroud wees nie. Dit is baie moeilik om hierdie denkwyse stop te sit omdat jy elke dag daaraan herinner word dat jy alleen is.”

Iemand wat verbryseld van gees is, het meer as ooit tevore opbouende omgang nodig. Dit is geredelik beskikbaar by gemeentelike vergaderinge. In hierdie omgewing stel ons ons aan God se positiewe en opbouende gedagtes bloot.

Christelike vergaderinge help ons om ons situasie vanuit die regte oogpunt te beskou. Wanneer ons na Bybelgedeeltes luister en daaroor peins, rig ons ons gedagtes op die sake wat werklik van belang is—die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam—nie net ons eie lyding nie. Wat meer is, ons word gedurende hierdie tye van geestelike onderrigting versterk deur die wete dat Jehovah beslis verstaan hoe ons voel, selfs wanneer ander nie van ons benoudheid weet of nie ons gevoelens verstaan nie. Hy weet dat daar “weens die pyn van die hart . . . ’n verslae gees” is (Spr. 15:13). Die ware God wil ons help, en dít beweeg en versterk ons om aan te hou.—Ps. 27:14.

Toe koning Dawid weens sy vyande onder hewige druk verkeer het, het hy tot God uitgeroep: “My gees versmag in my; in my binneste is my hart lam” (Ps. 143:4). Teëspoed ontneem ’n mens dikwels van fisiese en emosionele krag en verlam selfs die hart. Beproewinge kan oor ons kom in die vorm van siekte of langdurige fisiese gebreke. Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ons sal help om te volhard (Ps. 41:1-3). Hoewel God vandag niemand wonderdadig genees nie, gee hy wel die een wat ly die nodige wysheid en krag om sy toestand te verduur. Hou in gedagte dat Dawid hom tot Jehovah gewend het toe hy onder beproewinge gebuk gegaan het. Hy het gesing: “Ek het gedink aan dae van lank gelede; ek het gepeins oor al u dade; ek het die werk van u hande graag oordink.”—Ps. 143:5.

Die feit dat hierdie geïnspireerde gedagtes in God se Woord opgeteken is, toon dat Jehovah verstaan hoe ons voel. Sulke woorde is ’n waarborg dat hy na ons smekinge luister. As ons Jehovah se hulp aanvaar, ‘sal hy ons onderskraag’.—Ps. 55:22.

“Bid onophoudelik”

Jakobus 4:8 sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Een manier om nader aan God te kom, is deur gebed. Die apostel Paulus vermaan ons: “Bid onophoudelik” (1 Tess. 5:17). Al sukkel ons om ons gevoelens in woorde uit te druk, pleit “die gees self . . . vir ons met onuitgesproke kreuninge” (Rom. 8:26, 27). Jehovah verstaan beslis hoe ons voel.

Monika, wat so ’n hegte verhouding met Jehovah geniet, sê: “Gebed, Bybellees en persoonlike studie help my om te voel dat Jehovah my beste Vriend is. Hy het vir my so werklik geword dat ek sy hand voortdurend in my lewe kan sien. Dit is vertroostend om te weet dat hy my verstaan selfs wanneer ek nie kan verduidelik hoe ek voel nie. Ek weet dat sy goedheid en seëninge eindeloos is.”

Laat ons dus beslis die liefdevolle en vertroostende woorde van mede-Christene aanvaar, die vriendelike raad en geloofversterkende herinneringe toepas wat ons by Christelike vergaderinge hoor en ons hart in gebed voor Jehovah uitstort. Hierdie tydige voorsienings is Jehovah se manier om ons te wys dat hy vir ons omgee. Alex praat uit persoonlike ondervinding en sê: “As ons ons deel doen om by te hou met alles wat Jehovah God voorsien sodat ons geestelik sterk kan bly, sal ons ‘die krag wat bo die normale is’, hê om enige beproewing waarvoor ons te staan kom, te verduur.”—2 Kor. 4:7.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Vertroosting vir die geringe

In die psalms is daar baie oor menslike emosies geskryf en word ons herhaaldelik verseker dat Jehovah wel luister na die hulpgeroep van ’n geringe wat deur emosionele druk oorweldig word. Kyk na die volgende verse:

“In my benoudheid het ek Jehovah bly aanroep, en tot my God het ek om hulp bly roep. Uit sy tempel het hy my stem gehoor, en my hulpgeroep voor hom het toe in sy ore gekom.”—Ps. 18:6.

“Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Ps. 34:18.

“Hy [Jehovah] genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke.”—Ps. 147:3.

[Prent op bladsy 17]

Hoe vertroostend kan “’n woord op die regte tyd” tog in die dag van benoudheid wees!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel