Kom nader aan God
Vertroosting vir die gebrokenes van hart
‘JEHOVAH kan my nooit liefhê nie.’ Dit is wat ’n Christenvrou gesê het wat vir ’n groot deel van haar lewe met depressie geworstel het. Sy het haarself oortuig dat Jehovah ver van haar af is. Is Jehovah werklik ver van sy aanbidders af wat depressief is? Die vertroostende antwoord kan in die geïnspireerde woorde van die psalmis Dawid gevind word, wat in Psalm 34:18 opgeteken is.
Dawid het geweet watter uitwerking uiterste benoudheid op ’n getroue aanbidder van Jehovah kan hê. As ’n jong man het Dawid as ’n voortvlugtige gelewe wat genadeloos agtervolg is deur Saul, ’n jaloerse koning wat daarop uit was om hom dood te maak. Dawid het toevlug geneem in wat hy moontlik beskou het as die laaste plek waar Saul hom sou soek—die vyandelike stad Gat, in Filistynse gebied. Maar nadat hy herken is, het Dawid naelskraaps ontsnap deur voor te gee dat hy waansinnig is. Dawid het sy verlossing aan God toegeskryf, en na aanleiding van hierdie ondervinding het hy Psalm 34 geskryf.
Het Dawid geglo dat God ver is van diegene wat in tye van benoudheid terneergedruk raak of wat voel dat hulle Sy aandag nie waardig is nie? Dawid het geskryf: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (vers 18). Kom ons kyk hoe hierdie woorde vertroosting en hoop bied.
“Jehovah is naby.” Een naslaanwerk sê dat hierdie frase “’n beskrywende manier is om te sê dat die Here oplettend en waaksaam is, altyd gereed om sy volk te help en te red”. Dit is gerusstellend om te weet dat Jehovah oor sy volk waak. Hy sien wat hulle in hierdie “kritieke tye” deurmaak, en hy ken hulle diepste gevoelens.—2 Timoteus 3:1; Handelinge 17:27.
“Die gebrokenes van hart.” In party kulture hou ‘’n gebroke hart’ verband met onbeantwoorde liefde. Maar die psalmis se woorde verwys volgens een geleerde na “droefheid en smart in ’n algemener sin”. Ja, selfs getroue aanbidders van God ondervind soms uiterste ontberinge wat hulle hart breek.
“Die verbryseldes van gees.” Diegene wat mismoedig is, kan so ’n lae selfbeeld ontwikkel dat hulle vir ’n oomblik alle hoop verloor. ’n Handleiding vir Bybelvertalers sê dat hierdie uitdrukking weergegee kan word met “diegene wat niks goeds het om na uit te sien nie”.
Hoe tree Jehovah op teenoor “die gebrokenes van hart” en “die verbryseldes van gees”? Bly hy ver van hulle af omdat hy voel dat hulle sy liefde en aandag nie waardig is nie? Glad nie! Soos ’n liefdevolle ouer wat ’n ontstelde kind vashou en vertroos, is Jehovah na aan sy aanbidders wat tot hom om hulp roep. Hy is gretig om hulle gebroke hart en verbryselde gees te vertroos en gerus te stel. Hy kan hulle die nodige wysheid en krag gee om enige beproewing waarvoor hulle te staan kom, die hoof te bied.—2 Korintiërs 4:7; Jakobus 1:5.
Waarom probeer jy nie uitvind hoe jy nader aan Jehovah kan kom nie? Hierdie medelydende God belowe: ‘Ek woon by die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe.’—Jesaja 57:15.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Junie: