Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 12/1 bl. 4-6
  • Visioene van die geesteryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Visioene van die geesteryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Visioene van die ware God
  • Vyande van God en die mens
  • Ná die dood—Hemelse lewe?
  • Visioene van diegene in die onsigbare hemele
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Opstand in die geesteryk
    Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? bestaan hulle werklik?
  • Ons beste vriend is in die geesteryk
    Ontwaak!—1996
  • Wie lewe in die geesteryk?
    Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 12/1 bl. 4-6

Visioene van die geesteryk

JY KAN in die lug staar so lank as wat jy wil, maar jy sal nie ’n geespersoon sien nie. Jy kan luister, maar jy sal nie een hoor nie. Tog kan jy seker wees dat geeste bestaan. Hulle is hoogs intelligent en magtig en het verskillende name en persoonlikhede. Party help ons; ander wil ons leed aandoen. Hulle almal stel in ons belang.

Die ware God is self ’n Gees (Johannes 4:24). Hy het ’n unieke naam wat hom van al die valse gode onderskei. Sy naam is Jehovah (Psalm 83:18). Die psalmis het geskryf: “Jehovah is groot en baie lofwaardig. Hy is vreesinboesemend bo alle ander gode. Want al die gode van die volke is waardelose gode; maar wat Jehovah betref, hy het die hemele gemaak. Waardigheid en prag is voor hom; sterkte en sieraad is in sy heiligdom.”—Psalm 96:4-6.

Visioene van die ware God

“Geen mens het God ooit gesien nie”, sê die Bybel vir ons (Johannes 1:18). Sy voorkoms en sy luisterrykheid is ver bo ons begrip, soos kleure vir iemand wat blind gebore is. Maar net soos ’n goeie onderwyser ingewikkelde dinge aan leerlinge verduidelik in terme van dinge wat hulle kan verstaan, beskryf God, in sy Woord, die Bybel, dinge wat ons nie kan sien nie, deur middel van dinge wat ons kan sien. Deur geïnspireerde visioene wat aan getroues van die ou tyd gegee is, help Jehovah ons sodat ons ons die hemelse voorhowe kan voorstel en ons verhouding ten opsigte van dié wat daar woon, kan verstaan.

Byvoorbeeld, ’n visioen wat aan die profeet Esegiël gegee is, verbind die glorie van Jehovah met vuur, glans, saffiersteen en ’n reënboog. In ’n ander visioen sien die apostel Johannes Jehovah op sy troon en sê hy dat God “in sy voorkoms soos ’n jaspissteen en ’n kosbare rooikleurige steen [is]”, en hy voeg by: “Rondom die troon is daar ’n reënboog wat in sy voorkoms soos ’n smarag is.” Sulke beskrywings sê vir ons dat Jehovah se teenwoordigheid gekenmerk word deur unieke en skitterende prag, lieflikheid en kalmte.—Openbaring 4:2, 3; Esegiël 1:26-28.

Die profeet Daniël het ook ’n visioen van Jehovah gehad, waarin hy “tienduisend maal tienduisend” engeleskepsele gesien het wat “reg voor [Jehovah] bly staan” (Daniël 7:10). Wat ’n skouspel moes dit tog gewees het! Om een engel, selfs in ’n visioen, te sien, sal ontsagwekkend wees, maar probeer jou tienduisende volmaakte engeleskepsele voorstel!

Engele word byna 400 keer in die Bybel gemeld, en hulle geledere sluit serafs en gerubs in. Die Griekse en Hebreeuse woorde wat in die Bybel met “engel” vertaal word, beteken albei “boodskapper”. Engele kan dus met mekaar kommunikeer, en hulle het in die verlede met mense gekommunikeer. Die engele is nie afgestorwe mense wat voorheen op die aarde gewoon het nie. Jehovah het hierdie geeswesens geskep lank voordat hy die mens geskep het.—Job 38:4-7.

In Daniël se visioen het menigtes engele bymekaargekom om ’n merkwaardige gebeurtenis te aanskou. Toe het Daniël “iemand soos ’n seun van die mens” Jehovah se troon sien nader om “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk [te ontvang], sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien” (Daniël 7:13, 14). Die “seun van die mens”, ’n hooffiguur in die geesteryk, is die verrese Jesus Christus, aan wie heerskappy oor die aarde gegee word. Sy heerskappy sal binnekort alle menseregerings vervang en ’n einde maak aan siekte, droefheid, onderdrukking, armoede en selfs die dood.—Daniël 2:44.

Jesus se kroning het sekerlik groot vreugde verskaf aan die menigte getroue engele, wat die beste vir die mensdom wil hê. Maar ongelukkig het nie alle geesskepsele so gevoel nie.

Vyande van God en die mens

Heel aan die begin van die mensegeskiedenis het een van die engele, gedryf deur ’n verterende begeerte om aanbid te word, teen Jehovah gedraai en homself Satan gemaak, wat “Teenstander” beteken. As die absolute verpersoonliking van boosheid, staan Satan Jehovah, die verpersoonliking van liefde, verbete teë. Ander engele het by Satan aangesluit in sy opstand. Die Bybel noem hulle demone. Soos Satan, het die demone wrede vyande van die mensdom geword. Baie van die lyding op die aarde, die ongeregtigheid, die siekte, die armoede en die oorloë is die gevolg van hulle invloed.

Hoewel dit in baie kerke van die Christendom as ouderwets beskou word om oor Satan te praat, voorsien die Bybelboek Job insig in die karakter en beweegredes van hierdie opstandige engel. Dit sê: “En die dag het aangebreek waarop die seuns van die ware God ingekom het om hulle plek voor Jehovah in te neem, en selfs Satan het tussen hulle ingekom.” In die gesprek wat gevolg het, het Satan die vermetele aantyging gemaak dat die man Job God net dien vir wat hy daaruit kry. In ’n poging om sy beskuldiging te bewys, het Satan groot verdrukking oor Job gebring deur sy vee en al tien sy kinders om die lewe te bring. Daarna het hy Job met kwaadaardige swere getref wat sy hele liggaam bedek het. Ondanks al sy aanvalle kon Satan nie sy punt bewys nie.—Job 1:6-19; 2:7.

Daar is goeie redes waarom Jehovah Satan so lank geduld het, maar hy sal dit nie vir altyd doen nie. Die Duiwel sal binnekort uit die weg geruim word. Die eerste stappe is reeds gedoen en word beskryf in die boek Openbaring, waar die gordyn oopgeskuif word om nog ’n belangrike gebeurtenis in die geesteryk te openbaar waarvan ons andersins nooit sou geweet het nie. Ons lees: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael [die verrese Jesus Christus] en sy engele het teen die draak [Satan] geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar vir hulle geen plek meer in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.”—Openbaring 12:7-9.

Let op dat dit sê dat Satan “die hele bewoonde aarde mislei”. Hy mislei mense deur godsdiensleuens te bevorder om hulle van Jehovah en sy Woord af te keer. Een van hierdie leuens is dat almal ná die dood na die geesteryk gaan. Daar is baie weergawes van hierdie idee. In Afrika en Asië glo baie byvoorbeeld dat mense ná die dood na ’n geestewêreld gaan wat deur hulle voorouers bewoon word. Die leerstellings van die vaevuur en die hel is ook gegrond op die idee dat ’n persoon ná die dood voortleef.

Ná die dood—Hemelse lewe?

Maar wat van die opvatting wat wêreldwyd deur miljoene gehuldig word dat alle goeie mense hemel toe gaan? Party goeie mense gaan wel soontoe, maar hulle is min in vergelyking met die miljarde wat al gesterf het. Die Bybel openbaar dat 144 000 mense “van die aarde gekoop” sal word en as “priesters” en “konings oor die aarde” sal dien (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3). Tesame met die Seun van die mens, Jesus Christus, sal hulle ’n hemelse regering, God se Koninkryk, uitmaak. Daardie regering sal ’n einde aan Satan en sy demone maak en sal die aarde in ’n paradys omskep. Die meeste van dié wat gesterf het, sal in die toekoms opgewek word, met die vooruitsig om vir ewig in daardie Paradys op aarde te lewe.—Lukas 23:43.

Ter opsomming: ’n Menigte wesens woon in die geesteryk. Die allerhoogste onder hulle is Jehovah God, die Skepper van alle lewe. Tienduisende engele dien hom getrou. Ander engele, onder leiding van Satan, het teen Jehovah gedraai en probeer hard om mense te mislei. Daarbenewens is ’n beperkte aantal mense van die aarde “gekoop”, of uitgekies, om spesiale verantwoordelikhede in die hemel na te kom. Laat ons nou, in die lig hiervan, bespreek met wie ons in die geesteryk in aanraking kan kom en hoe ons dit moet doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel