God ‘doen groot dinge’—Hoe ek dit uitgevind het
Soos vertel deur Maurice Raj
Ons gesin, tesame met duisende ander immigrante, het gevlug om aan een van die hewigste aanvalle tydens die Tweede Wêreldoorlog te ontkom. Ons het dae lank deur die digte Birmaanse oerwoud gestap en snags onder die bome geslaap. Ek was nege jaar oud. Al my besittings was in ’n bondeltjie wat op my rug vasgemaak was. Maar dit was net die begin.
DIT was die jaar 1942. Die wêreld was in ’n oorlog gewikkel, en ons het vir die naderende Japannese leër gevlug. Dit het Birma, wat nou Mianmar genoem word, kort tevore ingeval en beheer oor die olievelde van Jenangjaoeng verkry. Voordat ons Indië se grens kon bereik, het Japannese soldate ons ingehaal en ons gedwing om terug te gaan huis toe.
Toe ek ’n kind was, het ons in Jenangjaoeng gewoon, waar my pa vir die Burmah Oil Company gewerk het. Ná die Japannese besetting het die ryk olievelde van Jenangjaoeng die teiken geword van hewige bomaanvalle deur Britse oorlogsvliegtuie. Eenkeer het ons gesin drie dae lank in ’n loopgraaf geskuil terwyl bomme oral om ons ontplof het. Uiteindelik het ons per boot gevlug na Sale, ’n dorpie op die Ajejarwadirivier, oftewel die Irawadirivier. Ons was dankbaar om te lewe en het vir die res van die oorlog daar gebly.
’n Tragedie lei tot die waarheid
My jonger broer is in 1945 gebore, die jaar toe die Tweede Wêreldoorlog geëindig het. My pa was verheug om ’n kind op sy oudag te hê. Maar sy vreugde was van korte duur. My broer is drie maande later dood. My pa het kort daarna van hartseer gesterf.
Vriende, wat my probeer vertroos het, het gesê dat God my pa en broer geneem het om saam met Hom in die hemel te wees. Hoe het ek tog gesmag om saam met hulle te wees! Ons gesin het aan die Katolieke kerk behoort, waar ek my vroeë godsdiensonderrig ontvang het. Ek is geleer dat priesters en nonne reguit hemel toe gaan, terwyl ander ’n ruk lank in die vaevuur moet bly, ’n plek van tydelike foltering waar hulle van hulle sondes gereinig word. Ek was vasbeslote om met my pa en my broer verenig te word, en daarom het ek my voorgeneem om te gaan studeer aan die Katolieke kweekskool in Maymyo, wat nou Pyin U Lwin genoem word, sowat 210 kilometer van waar ons gewoon het.
’n Goeie skoolopleiding was nodig vir toelating tot die kweekskool. As ’n immigrant het ek net twee jaar skool toe gegaan. Toe is al die skole gedurende die oorlog gesluit. Hoewel die skole weer oopgemaak het, was ons gesin brandarm. My ma het nie net vir my en my twee broers gesorg nie, maar ook vir haar oorlede suster se drie jong kinders. Sy kon nie langer bekostig om ons seuns op skool te hou nie.
My ouer broer het gaan werk, maar ek was net 13 jaar oud, en daar was min wat ek kon doen. My pa se broer, Manuel Nathan, het in Chauk gewoon, ’n dorp naby Sale. Ek het geredeneer: ‘As ek nie meer in die huis is nie, sal daar een minder mond wees om voor kos te gee.’ Ek het dus by my oom in Chauk gaan woon.
Ek het nie geweet dat my oom kort tevore met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het en dat hy gretig was om sy nuwe Bybelkennis te deel nie. Hy het my bietjie vir bietjie daarvan vertel en het begin deur die betekenis van die Onse Vader-gebed, soos die Katolieke dit noem, te verduidelik. Dit begin: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”—Matteus 6:9, 10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
“God het dus ’n naam”, het my oom verduidelik. “En daardie naam is Jehovah.” Toe het hy my God se naam in die Bybel gewys. Ek wou meer leer. Maar ek kon nie goed lees nie, selfs nie in my moedertaal Tamil nie, en die Bybel en Bybellektuur wat my oom gehad het, was in Engels, wat ek nie goed geken het nie. Ten spyte van my beperkte skoolopleiding het ek Bybelleringe geleidelik begin verstaan (Matteus 11:25, 26). My oë het oopgegaan, en ek kon sien dat baie van die leerstellings wat ek voorheen geleer is, nie op die Bybel gebaseer is nie. “Oom”, het ek uiteindelik gesê, “dis die waarheid!”
Toe ek 16 was, het ek ander begin vertel van wat ek geleer het. Daar was destyds net 77 Getuies van Jehovah in Mianmar. Kort daarna het Robert Kirk, ’n Getuie-sendeling van die hoofstad, Rangoen, wat nou Jangon genoem word, my oom in Chauk besoek. Ek het vir Robert gesê dat ek my lewe aan Jehovah toegewy het. Ek is dus op 24 Desember 1949 in die Ajejarwadirivier gedoop om my toewyding aan God te simboliseer.
Ek oorkom struikelblokke
Kort daarna het ek na Mandalay getrek om geskikte werk te kry. My doelwit was om ’n pionier te word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Terwyl ek eendag na ’n sokkerwedstryd gekyk het, het ek skielik stuiptrekkings begin kry. Ek het epilepsie ontwikkel en moes teruggaan huis toe sodat my gesin na my kon omsien.
Die stuiptrekkings het agt jaar lank gekom en gegaan. Toe my gesondheid verbeter het, kon ek deeltyds sekulêre werk doen. Hoewel my ma my weens my toestand ontmoedig het om die voltydse bediening na te streef, het ek eendag vir haar gesê: “Ek kan nie langer wag nie. Ek wil ’n pionier wees. Jehovah sal vir my sorg!”
In 1957 het ek na Jangon getrek en begin pionier. Verbasend genoeg het my stuiptrekkings verdwyn en eers weer in 2007, sowat 50 jaar later, teruggekom. Nou word dit deur middel van medikasie onderdruk. In 1958 is ek as ’n spesiale pionier aangestel en het ek elke maand 150 uur aan die predikingswerk bestee.
My eerste toewysing was in Kionsja, ’n dorpie ongeveer 110 kilometer noordwes van Jangon. ’n Groepie daar het ons Bybellektuur gelees en wou meer weet. Toe ek en Robert daar aankom, het ’n groot skare bymekaargekom. Ons het al hulle Bybelvrae beantwoord en vir hulle gewys hoe om Bybelvergaderinge te hou. Party van hulle het weldra die predikingswerk saam met ons begin doen. Ek is gevra om in daardie dorpie aan te bly. Binne ’n paar maande het die groepie ’n florerende gemeente geword. Vandag is daar meer as 150 Getuies in hierdie gebied.
Later is ek as ’n reisende bedienaar aangestel om gemeentes en afgesonderde groepe dwarsoor Mianmar te besoek. Ek het eindelose kilometers op stowwerige paaie bo-op volgelaaide vragmotors afgelê, deur oerwoude gestap, op riviere gevaar en oor bergreekse getrek. Hoewel ek fisies nie sterk was nie, het ek gevoel dat Jehovah my die krag gegee het om voort te gaan.—Filippense 4:13.
“Jehovah sal jou help”
Toe is ek in 1962 na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Jangon oorgeplaas, waar Robert my opgelei het. Maar alte gou het die regeringsowerheid alle buitelandse sendelinge beveel om Mianmar te verlaat, en binne ’n paar weke was hulle weg. Tot my verbasing is ek gevra om oor die takkantoor toesig te hou.
‘Hoe kan ek hierdie werk doen?’ het ek gewonder. ‘Ek is ongeleerd en onervare.’ ’n Hele paar bejaardes wat my besorgdheid opgemerk het, het vir my gesê: “Maurice, moet jou nie bekommer nie. Jehovah sal jou help. En ons almal ondersteun jou.” Hoe gerusstellend was hulle woorde tog! ’n Paar maande later moes ek die jaarverslag van ons predikingsbedrywighede in Mianmar vir die 1967 Yearbook of Jehovah’s Witnesses saamstel. Ek het die volgende 38 jaar die jaarverslag vir die land saamgestel. Verwikkelinge het keer op keer vir my getoon dat Jehovah inderdaad ons bedrywighede rig.
Toe ek byvoorbeeld vroeër om Mianmese burgerskap aansoek gedoen het, het ek nie die 450 kyata gehad om vir my burgerskapsboek te betaal nie, en daarom het ek dit uitgestel. Toe, terwyl ek eendag verby die kantoor loop van die maatskappy waar ek jare tevore gewerk het, het my voormalige werkgewer my gesien. Hy het uitgeroep: “Haai Raj, kom kry jou geld. Jy het vergeet om jou pensioengeld te neem toe jy weg is.” Dit was 450 kyat.
Toe ek by die kantoor uitstap, het ek gedink aan alles wat ek met 450 kyat kan doen. Maar aangesien dit die presiese bedrag was wat ek vir my burgerskapsboek nodig gehad het, het ek gevoel dat dit Jehovah se wil is dat ek dit daarvoor gebruik. En dit was ’n baie goeie besluit. As ’n burger kon ek in die land bly, vryelik reis, lektuur invoer en ander take verrig wat noodsaaklik was vir ons predikingswerk in Mianmar.
’n Streekbyeenkoms in die noorde
Teen 1969 het ons werk in die stad Myitkyina in die noorde van Mianmar vinnig gevorder, en daarom het ons besluit om ’n streekbyeenkoms in hierdie stad te hou. Ons grootste uitdaging was egter om vervoer vir al die Getuies in die suide te voorsien. Ons het gebid en het toe die Mianmese Spoorweë gevra of ons ses passasierswaens kan bespreek. Ons was baie verbaas toe ons versoek goedgekeur is.
Ná verloop van tyd het ons alles gereed gehad vir ons byeenkoms. Op die dag dat die byeenkomsgangers sou opdaag, het ons omtrent twaalfuur die middag na die stasie gegaan omdat ons die trein om halfdrie verwag het. Terwyl ons gewag het, het die stasiemeester vir ons ’n telegram gegee wat gesê het: “Ons het die ses passasierswaens van die Wagtoringgenootskap ontkoppel.” Hy het gesê dat die trein nie die ekstra waens opdraand kon trek nie.
Wat kon ons doen? Ons eerste gedagte was om die byeenkoms uit te stel. Maar dit sou beteken dat ons weer om permitte sou moes aansoek doen, wat weke sou neem! Net toe, terwyl ons vurig tot Jehovah gebid het, het die trein by die stasie ingestoom. Ons kon ons oë nie glo nie—al ses passasierswaens was vol Getuies! Hulle het breed geglimlag en gewaai. Toe ons vra wat gebeur het, het een van hulle verduidelik: “Hulle het wel ses waens ontkoppel, maar nie ons s’n nie!”
Tussen 1967 en 1971 het die aantal Getuies in Mianmar tot byna 600 verdubbel. Toe, in 1978, is die takkantoor na ’n dubbelverdiepinghuis verskuif. Twintig jaar later het die aantal Getuies tot meer as 2 500 toegeneem. Die takfasiliteite is verder uitgebrei, en op 22 Januarie 2000 het John E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, van die Verenigde State af gekom en die toewydingstoespraak gehou vir die kantoor- en woonkompleks met drie verdiepings wat vandag gebruik word.
’n Terugblik op seëninge
Vandag woon en werk 52 vrywilligers hier by die takkantoor in Jangon, en ongeveer 3 500 Getuies dien in die 74 gemeentes en groepe dwarsoor die land. Dit verskaf my vreugde om te sê dat my dierbare ma kort voor haar dood in 1969 ook een van Jehovah se Getuies geword het.
Doris Ba Aje, ’n plaaslike pionierbedienaar, het in die middel-1960’s ’n vertaler by ons takkantoor geword. Vroeër, in 1959, het sy die 32ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon, ’n skool waar sendelinge van Jehovah se Getuies opgelei word. Haar natuurlike skoonheid, vrolike persoonlikheid en diep geestelikheid het my hart gewen. Ons het in 1970 getrou. Ons is vandag nog steeds toegewyd aan Jehovah en aan mekaar.
Ek sien al meer as ses dekades lank God se hand in die predikingswerk wat in hierdie land gedoen word. Ja, hy is groot en baie lofwaardig. Hy ‘doen groot dinge’, soos ek deur my hele lewe gesien het.—Psalm 106:21.
[Voetnoot]
a Destyds gelykstaande aan sowat $95, ’n aansienlike som.
[Prent op bladsy 27]
In die bediening in Rangoen, Birma, omstreeks 1957
[Prent op bladsy 28]
Op pad na ’n streek- byeenkoms in Kalemjo, Birma, laat 1970’s
[Prent op bladsy 29]
Ons pragtige nuwe takfasiliteite, wat in 2000 uitgebrei is
[Prent op bladsy 29]
Vandag, saam met Doris
[Prent op bladsy 29]
Saam in die deur-tot-deur- bediening