Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w12 9/15 bl. 13-17
  • Teokratiese Skole—’n Bewys van Jehovah se liefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Teokratiese Skole—’n Bewys van Jehovah se liefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VIND BAAT BY TEOKRATIESE OPLEIDING
  • Die opleiding van Koninkryksbedienaars
    God se Koninkryk regeer!
  • Vind jy ten volle baat by die onderrigting wat Jehovah voorsien?
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • Hoe word Jehovah se Getuies vir hulle bediening opgelei?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Maniere om jou bediening uit te brei
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
w12 9/15 bl. 13-17

Teokratiese Skole—’n Bewys van Jehovah se liefde

JEHOVAH is ons “Grootse Onderrigter” (Jes. 30:20). Liefde beweeg hom om ander te onderrig en op te lei. Byvoorbeeld, innige liefde beweeg Jehovah om “alles wat hy self doen”, vir Jesus te wys (Joh. 5:20). Liefde vir ons, sy Getuies, beweeg Jehovah om ons “die tong van dié wat geleer is”, te gee wanneer ons alles in ons vermoë doen om hom te eer en ander te help.—Jes. 50:4.

In navolging van Jehovah se voorbeeld van liefde gebruik die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam tien teokratiese skole om diegene op te lei wat die begeerte sowel as die omstandighede het om dit by te woon. Beskou jy hierdie skole as ’n bewys van Jehovah se liefde?

Hier volg ’n oorsig van die huidige teokratiese skole en die opmerkings van party wat dit bygewoon het. Terwyl jy daardeur lees, vra jou af: ‘Hoe kan ek by hierdie goddelike onderrigting baat vind?’

VIND BAAT BY TEOKRATIESE OPLEIDING

As “die God van liefde” voorsien Jehovah opleiding wat ons lewe sinvoller maak, ons voorberei om uitdagings die hoof te bied en ons help om groot vreugde uit ons bediening te put (2 Kor. 13:11). Soos die eerste-eeuse dissipels, is ons goed toegerus om ander te help deur ‘hulle te leer om alles te onderhou’ wat ons beveel is.—Matt. 28:20.

Hoewel ons dalk nie al hierdie skole kan bywoon nie, kan ons by een of meer daarvan baat vind. En ons kan die Bybelse onderrigting toepas wat deur hierdie skole voorsien word. Ons kan ook bekwamer word in die bediening as ons saam met goed opgeleide knegte van Jehovah werk.

Vra jou af: ‘Laat my omstandighede my toe om enige van hierdie skole te probeer bywoon?’

Jehovah se aanbidders beskou dit as ’n voorreg om hierdie waardevolle skole te ondersteun en daar onderrig te word. Mag die opleiding wat jy ontvang, jou nader aan God laat kom en jou toerus om jou verantwoordelikhede voor hom na te kom, veral die dringende opdrag om die goeie nuus te verkondig.

OORSIG VAN TEOKRATIESE SKOLE

Teokratiese Bedieningskool

Doel: Om verkondigers op te lei om bekwame predikers en onderrigters van die goeie nuus te wees.

Tydsduur: Aaneenlopend.

Plek: Plaaslike Koninkryksaal.

Kwalifikasies: Almal wat gereeld met die gemeente assosieer, met die leringe van die Bybel saamstem en in ooreenstemming met Christelike beginsels lewe.

Hoe om aan te sluit: Praat met die opsiener van die Teokratiese Bedieningskool.

Sharon, wat verlam is as gevolg van amiotrofiese laterale sklerose (ALS), sê: “Die Teokratiese Bedieningskool het my geleer om navorsing te doen en om inligting logies oor te dra. Ek het ook geleer om aandag te skenk aan die geestelike behoeftes van ander—nie net aan my eie nie.”

Arnie, wat al lank as ’n reisende opsiener dien, sê: “As ’n jong man het ek gehakkel en gesukkel om oogkontak met ander te maak. Hierdie skool het my gehelp om my selfvertroue en eiewaarde op te bou. Met Jehovah se hulp deur middel van hierdie opleiding het ek asemhalings- en konsentrasietegnieke geleer. Ek is baie dankbaar dat ek die vermoë het om God in die gemeente en in my bediening te loof.”

Bethelintreeskool

Doel: Om nuwelinge by Bethel te help om ’n sukses van hulle diens te maak.

Tydsduur: 45 minute per week oor ’n tydperk van 16 weke.

Plek: Bethel.

Kwalifikasies: Moet ’n permanente lid van die Bethelgesin wees of ’n tydelike vrywilliger wat goedgekeur is om ’n jaar of langer by Bethel te dien.

Hoe om aan te sluit: Nuwe lede van die Bethelgesin word outomaties ingeskryf.

Demetrius, wat hierdie skool in die 1980’s bygewoon het, sê: “Hierdie kursus het my studiegewoontes verbeter en gehelp om my voor te berei vir ’n lang Bethelloopbaan. Die instrukteurs, leerplan en praktiese raad het my oortuig van Jehovah se liefdevolle besorgdheid en sy begeerte om my te help om suksesvol te wees in my Betheldiens.”

Kaitlyn sê: “Dit het my gehelp om te fokus op wat die belangrikste is—om ’n geestelike mens te wees. Die Intreeskool het my waardering vir Jehovah, sy huis en sy organisasie vergroot.”

Koninkryksbedieningskool

Doel: Om reisende opsieners, ouer manne en soms bedieningsknegte op te lei om na hulle verantwoordelikhede as opsieners en organiseerders om te sien (Hand. 20:28). Huidige situasies, tendense en die onmiddellike behoeftes van die gemeentes word behandel. Hierdie skool word elke paar jaar gehou, soos deur die Bestuursliggaam besluit word.

Tydsduur: In onlangse jare was hierdie skool twee tot twee en ’n half dae vir reisende opsieners, een en ’n half dag vir ouer manne en een dag vir bedieningsknegte.

Plek: Gewoonlik by ’n Koninkryksaal of ’n Byeenkomssaal.

Kwalifikasies: Moet ’n reisende opsiener, ’n ouer man of ’n bedieningskneg wees.

Hoe om aan te sluit: Ouer manne en bedieningsknegte ontvang ’n uitnodiging van die kringopsiener. Die takkantoor nooi reisende opsieners.

“Hoewel die skool kort en bondig is, versterk dit ouer manne en help dit hulle om hulle vreugde te behou en ‘hulle soos manne te gedra’ in Jehovah se diens. Ouer manne wat kort tevore aangestel is sowel as dié wat al lank dien, leer om bekwame herders te wees en om paslik verenig te wees in ‘dieselfde gedagtegang’.”—Quinn (onder).

“Hierdie opleiding het presies die regte balans getref—dit het ons geestelike waardering opgebou, ons teen gevare gewaarsku en ons van praktiese wenke voorsien om vir die kudde te sorg. Hoe goedhartig is Jehovah tog om ons te help.”—Michael.

Pionierdiensskool

Doel: Om pioniers te help om hulle ‘bediening ten volle uit te voer’.—2 Tim. 4:5.

Tydsduur: Twee weke.

Plek: Die takkantoor besluit; gewoonlik by ’n Koninkryksaal.

Kwalifikasies: Moet al ’n jaar of langer as ’n gewone pionier dien.a

Hoe om aan te sluit: Pioniers wat aan die vereistes voldoen, word outomaties ingeskryf en deur die kringopsiener daarvan in kennis gestel.

“Hierdie skool het my gehelp om uitdagings in die bediening en in my lewe die hoof te bied”, sê Lily (regs). “Die manier waarop ek studeer, onderrig en die Bybel gebruik, het baie verbeter. Ek is beter voorbereid om ander te help, die ouer manne te ondersteun en tot die groei van die gemeente by te dra.”

Brenda, wat die skool twee keer bygewoon het, sê: “Dit het my in staat gestel om my geheel en al in geestelike dinge te verdiep, my gewete te versterk en my daarop toe te lê om ander te help. Jehovah is beslis vrygewig!”

a As daar nie genoeg nuwe pioniers is om ’n vol klas te vorm nie, kan pioniers wat dit meer as vyf jaar tevore bygewoon het, weer genooi word.

Skool vir Gemeentelike Ouer Manne

Doel: Om ouer manne te help om na hulle gemeentelike verantwoordelikhede om te sien en hulle geestelikheid te versterk.

Tydsduur: Vyf dae.

Plek: Die takkantoor besluit; gewoonlik by ’n Koninkryksaal of ’n Byeenkomssaal.

Kwalifikasies: Moet ’n aangestelde ouer man wees.

Hoe om aan te sluit: Die takkantoor nooi ouer manne.

Kyk na die opmerkings van party wat die 92ste klas in die Verenigde State bygewoon het:

“Ek het baie baat gevind by die skool; dit het my gehelp om selfondersoek te doen en te sien hoe ek vir Jehovah se skape kan sorg.”

“Ek is gereed om meer aanmoedigend teenoor almal te wees deur die hoofgedagtes in die Bybel te beklemtoon.”

“Hierdie opleiding sal my vir die res van my lewe bybly.”

Skool vir Reisende Opsieners en hulle Vrouens

Doel: Om kring- en streekopsieners te help om gemeentes op doeltreffender wyse te dien terwyl hulle “hard werk in woord en onderrigting”.—1 Tim. 5:17; 1 Pet. 5:2, 3.

Tydsduur: Twee maande.

Plek: Die takkantoor besluit.

Kwalifikasies: Die broer moet ’n kring- of streekopsiener wees.

Hoe om aan te sluit: Die takkantoor nooi reisende opsieners en hulle vrouens.

“Ons waardering vir Jesus se hoofskap oor die organisasie is vergroot. Ons het besef hoe belangrik dit is dat ons die broers by wie ons besoek aflê, moet aanmoedig en die eenheid van elke gemeente moet versterk. Die kursus het beklemtoon dat die reisende opsiener wel raad en soms selfs teregwysing gee, maar dat sy vernaamste doel is om die broers te help sien dat Jehovah hulle liefhet.”—Joel, 1ste klas, 1999.

Bybelskool vir Ongetroude Broers

Doel: Om ongetroude ouer manne en bedieningsknegte voor te berei om na bykomende verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie om te sien. Baie van die gegradueerdes sal ’n toewysing in hulle eie land ontvang, waar daar ook al hulp nodig is. Ander sal moontlik ’n toewysing in ’n ander land ontvang as hulle hulle beskikbaar stel. Party gegradueerdes sal dalk as tydelike spesiale pioniers aangestel word om die predikingswerk in afgeleë en afgesonderde gebiede aan die gang te kry en uit te brei.

Tydsduur: Twee maande.

Plek: Die takkantoor besluit; gewoonlik by ’n Koninkryksaal of ’n Byeenkomssaal.

Kwalifikasies: Ongetroude broers tussen die ouderdomme van 23 en 62 met goeie gesondheid en wat wil dien waar daar ook al hulp nodig is (Mark. 10:29, 30). Hulle moet ten minste twee jaar lank gewone pioniers wees en ten minste twee jaar onafgebroke as ’n ouer man of ’n bedieningskneg dien.

Hoe om aan te sluit: ’n Vergadering word by die kringbyeenkoms gehou om inligting te voorsien aan diegene wat belangstel.

“Omdat ek my in hierdie kursus verdiep het, kon Jehovah se gees diepgaande veranderinge in my aanbring”, sê Rick, wat die 23ste klas in die Verenigde State bygewoon het. “Wanneer Jehovah jou ’n toewysing gee, ondersteun hy jou in daardie toewysing. Ek het geleer dat God my sal versterk as ek op sy wil fokus en nie op myself nie.”

“Dit het my help besef dat God se organisasie ’n hedendaagse wonderwerk is”, sê Andreas, wat in Duitsland dien. “Die opleiding het gehelp om my voor te berei vir die werk wat voorlê. En talle Bybelvoorbeelde het my hierdie grondwaarheid geleer: As ek my broers en Jehovah dien, bring dit ware geluk mee.”

Bybelskool vir Christenegpare

Doel: Om egpare van gespesialiseerde opleiding te voorsien sodat hulle in groter mate deur Jehovah en sy organisasie gebruik kan word. Baie gegradueerdes sal gestuur word om te dien waar daar hulp in hulle eie land nodig is. Party sal moontlik ’n toewysing in ’n ander land ontvang as hulle hulle beskikbaar stel. Gegradueerdes sal dalk as tydelike spesiale pioniers aangestel word om die predikingswerk in afgeleë en afgesonderde gebiede aan die gang te kry en uit te brei.

Tydsduur: Twee maande.

Plek: Hierdie skool word in die Verenigde State gehou, en vanaf September 2012 sal dit ook in die gebiede van gekose takkantore regoor die wêreld gehou word, gewoonlik by ’n Koninkryksaal of ’n Byeenkomssaal.

Kwalifikasies: Egpare tussen die ouderdomme van 25 en 50 met goeie gesondheid, wie se omstandighede hulle toelaat om te dien waar daar ook al hulp nodig is en wat die gesindheid het: “Hier is ek! Stuur my” (Jes. 6:8). Hulle moet ten minste twee jaar lank getroud wees en ten minste twee jaar onafgebroke in die voltydse diens wees. Die broer moet al ten minste twee jaar onafgebroke as ’n ouer man of ’n bedieningskneg dien.

Hoe om aan te sluit: ’n Vergadering word by die streekbyeenkoms gehou om inligting te voorsien aan diegene wat belangstel. As daar geen vergadering by die streekbyeenkomste in julle land is nie en julle aansoek wil doen, kan julle aan julle takkantoor skryf vir verdere inligting.

“Hierdie agt weke het ons lewe verander en is ’n wonderlike geleentheid vir egpare wat meer wil doen! Ons is vasbeslote om ’n gebalanseerde lewe te lei, wat ons in staat sal stel om ons tyd wyslik te gebruik.”—Eric en Corina (onder), 1ste klas, 2011.

Wagtoring-Bybelskool Gilead

Doel: Om studente op te lei om te dien as veldsendelinge in digbevolkte gebiede, as reisende opsieners of as Betheliete. Die doelwit is om veld- en takkantoororganisasie te verbeter en te stabiliseer.

Tydsduur: Vyf maande.

Plek: Wagtoring-onderrigsentrum, Patterson, New York, VSA.

Kwalifikasies: Egpare wat reeds in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens is—dit wil sê veldsendelinge wat die skool nog nie bygewoon het nie, spesiale pioniers, reisende opsieners of Betheliete. Hulle moet ten minste drie jaar onafgebroke saam in hierdie vorm van diens wees. Hulle moet Engels vlot kan praat, lees en skryf.

Hoe om aan te sluit: Egpare sal deur hulle Takkomitee genooi word om aansoek te doen.

Lade en Monique van die Verenigde State dien nou in Afrika. “Die Gileadskool het ons voorberei om na enige plek in die wêreld te gaan, ons moue op te rol en saam met ons dierbare broers te werk”, sê Lade.

Monique voeg by: “Wanneer ek toepas wat ek uit God se Woord geleer het, put ek groot vreugde uit my toewysing. Ek beskou hierdie vreugde as ’n verdere bewys van Jehovah se liefde.”

Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens

Doel: Om broers wat op Takkomitees dien, te help om oor Bethelhuise toesig te hou, aandag te skenk aan diensaangeleenthede rakende gemeentes en oor kringe en streke toesig te hou. Hulle leer ook omtrent die vertaling, druk en versending van lektuur.

Tydsduur: Twee maande.

Plek: Wagtoring-onderrigsentrum, Patterson, New York, VSA.

Kwalifikasies: Die broer moet reeds ’n lid van ’n Takkomitee of Landskomitee wees of as sodanig aangestel word.

Hoe om aan te sluit: Die Bestuursliggaam nooi broers en hulle vrouens.

Lowell en Cara, van die 25ste klas, dien in Nigerië. “Ek is daaraan herinner dat geestelikheid noodsaaklik is om Jehovah te behaag, ongeag hoe besig ek is of watter werk ek gegee is”, sê Lowell. “Die kursus het ook beklemtoon dat ons in ons handelinge met ander die liefde moet weerspieël wat Jehovah aan sy knegte betoon.”

“Ek het al baie nagedink oor die volgende punt”, voeg Cara by. “As ek iets nie op ’n eenvoudige wyse kan verduidelik nie, moet ek die onderwerp bestudeer voordat ek ander probeer leer.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel