Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w15 5/1 bl. 6-8
  • Is die einde naby?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die einde naby?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N KRITIEKE TYDPERK IN WÊRELDGESKIEDENIS
  • Wanneer sal die einde kom? Wat Jesus gesê het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
  • God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Die goeie nuus wat hulle wil hê jy moet hoor
    Jehovah se Getuies—Wie is hulle? Wat glo hulle?
  • Vier vrae oor die einde word beantwoord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
w15 5/1 bl. 6-8

VOORBLADONDERWERP

Is die einde naby?

Sal God toelaat dat mense voortgaan om mekaar te oorheers en om die toekoms van die mensdom te bedreig? Nee, soos ons gesien het, sal hy ingryp en ’n einde maak aan eeue van lyding en onderdrukking. Die Skepper van die mens en die aarde wil hê dat jy moet weet dat sy tyd om op te tree, naby is. Hoe openbaar hy hierdie lewensbelangrike kennis?

Dink aan die volgende illustrasie: Wanneer jy per motor êrens reis, sal jy dalk eers die Internet, kaarte of ander bronne raadpleeg om ’n roete uit te werk. Wanneer jy dan tekens en landmerke sien wat met die aanwysings ooreenstem, verseker dit jou dat jy jou bestemming nader. Net so het God ons sy Woord gegee, wat treffende wêreldgebeure beskryf. Hierdie gebeure is soos landmerke op die wêreldtoneel, en terwyl dit ontvou, word ons oortuig dat ons in die tyd net voor die einde lewe.

Die Bybel verduidelik dat daar ’n unieke, kritieke tydperk in die wêreldgeskiedenis sou wees wat ’n hoogtepunt sal bereik wanneer die einde kom. Gedurende hierdie tydperk sou daar wêreldwyd ’n sameloop van gebeure en omstandighede wees wat sou verskil van enige ander tydperk in die mensdom se geskiedenis. Kyk na ’n paar van die kenmerke wat in God se Woord genoem word.

1. WÊRELDWYE BEROERINGE ’n Profesie wat in Matteus hoofstuk 24 opgeteken is, noem gebeure op die aarde wat ’n saamgestelde teken uitmaak. Hierdie teken sou “die voleinding van die stelsel van dinge” kenmerk en die tyd inlei wanneer “die einde [sou] kom” (vers 3, 14). Aspekte van die teken sluit groot oorloë in, sowel as voedseltekorte, aardbewings in die een plek ná die ander, ’n toename in wetteloosheid, ’n gebrek aan liefde asook listige pogings deur godsdiensleiers om mense te mislei (vers 6-26). Sulke dinge gebeur natuurlik al eeue lank op ’n kleiner skaal. Maar in die moeilike tydperk voor die einde, sou al hierdie verskynsels terselfdertyd voorkom. En dit sou met die volgende drie waarskuwingstekens gepaardgaan.

2. DIE GESINDHEID VAN MENSE Die Bybel sê dat die gesindheid van mense in “die laaste dae”—die tydperk voor die einde—baie sou versleg. Ons lees: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-4). Ja, ’n gebrek aan respek vir ander is nie iets nuuts nie, maar dit is net in “die laaste dae” dat hierdie gees so erg sou word dat die tydperk heel tereg beskryf kon word as “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”. Het jy hierdie agteruitgang in mense se gesindheid opgemerk?

3. DIE VERDERWING VAN DIE AARDE Die Bybel sê dat God “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). Op watter maniere sou mense die aarde verderf? Die tydperk waarin Noag gelewe het, is op ’n soortgelyke wyse beskryf: “Die aarde het verdorwe geraak voor die oë van die ware God en die aarde het vol geweld geraak. Toe het God die aarde gesien, en kyk! dit was verdorwe.” God het dus van daardie verdorwe gemeenskap gesê: “Ek [gaan hulle] verdelg” (Genesis 6:11-13). Het jy opgelet hoe daar al hoe meer bewyse is dat die aarde met geweld gevul word? Wat meer is, vandag het die mensdom ’n unieke stadium in die wêreldgeskiedenis bereik: Hulle het die vermoë om die aarde letterlik te verderf deur alle menselewe daarop uit te wis. Hulle het die wapens tot hulle beskikking. En die aarde word op nog ’n manier verderf. Die dinge wat lewe op die aarde moontlik maak—die lug wat ons inasem, die dier-en-plant-ekosisteme, die oseane—word geleidelik vernietig omdat mense dit nie reg bestuur nie.

Vra jou af: ‘Het die mens ’n eeu gelede die vermoë gehad om homself uit te wis?’ Hierdie vermoë word nou gebruik om gesofistikeerde wapens op te gaar en die omgewing te verwoes. Die vooruitgang in die tegnologie vind blykbaar so vinnig plaas dat die mens nie die gevolge daarvan kan verstaan of beheer nie. Maar die toekoms van die aarde is nie aan die mens oorgelaat nie. Voordat alle lewe op hierdie aarde uitgewis word, sal God intree om die verderwers van die aarde te vernietig. Dit is sy belofte!

4. ’N WÊRELDWYE PREDIKINGSWERK Nog ’n deel van die teken van die einde is dat ’n ongeëwenaarde werk gedoen sou word: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Hierdie predikingsveldtog sou heeltemal verskil van die meeste evangelisasiewerk wat deur die eeue heen gedoen is. Gedurende die laaste dae sou ’n spesifieke boodskap, “hierdie goeie nuus van die koninkryk”, beklemtoon word. Weet jy van enige godsdiensgroep wat hierdie spesifieke boodskap beklemtoon? En al lyk dit asof party hierdie boodskap verkondig, is hulle ’n plaaslike groep of verkondig hulle hierdie goeie nuus “in die hele bewoonde aarde . . . as ’n getuienis vir al die nasies”?

Twee van Jehovah se Getuies preek by die see; hulle lees vir ’n man ’n Bybelteks

God se Koninkryk word wêreldwyd in honderde tale verkondig

Die webwerf www.pr2711.com vestig die aandag op “hierdie goeie nuus van die koninkryk”. Die webwerf bevat publikasies wat hierdie boodskap in meer as 700 tale verduidelik. Weet jy van enige ander organisasie wat die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd bekend maak? Lank voordat die Internet beskikbaar was, was Jehovah se Getuies al bekend vir hulle pogings om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Sedert 1939 verskyn die woorde “Kondig Jehovah se Koninkryk aan” op die voorblad van elke nommer van Die Wagtoring. ’n Boek oor godsdiens het gesê dat geen ander evangelisasiewerk met soveel ywer en op so ’n groot skaal gedoen word as die predikingswerk van Jehovah se Getuies nie. Hierdie predikingswerk beklemtoon die goeie nuus dat God se Koninkryk binnekort “die einde” sal bring.

’N KRITIEKE TYDPERK IN WÊRELDGESKIEDENIS

Het jy opgelet dat al vier van die Bybel se waarskuwingstekens wat in hierdie artikel bespreek word, duidelik sigbaar is in jou leeftyd? Hierdie tydskrif voorsien al meer as honderd jaar lank inligting oor wêreldgebeure aan sy lesers om hulle te help om self te bevestig dat die einde nader kom. Party wat skepties is, stem natuurlik nie saam nie. Hulle beweer dat mense feite en statistieke kan vertolk soos hulle wil en dit kan manipuleer. Volgens hulle lyk dit maar net asof wêreldtoestande versleg, aangesien wêreldwye kommunikasie aanhou verbeter. Nietemin is daar toenemende bewyse dat ons die einde van ’n unieke tydperk in die mensegeskiedenis bereik het.

Sommige deskundiges meen dat groot veranderinge binnekort op die aarde gaan plaasvind. Byvoorbeeld, in 2014 het die Raad vir Wetenskap en Veiligheid van The Bulletin of the Atomic Scientists die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gewaarsku oor faktore wat ’n groot bedreiging vir die mensdom se bestaan inhou. Daardie wetenskaplikes het gesê: “’n Noukeurige hersiening van hierdie bedreigings laat ons tot die slotsom kom dat die risiko van ’n tegnologiese ramp wat die [bestaan van die mens] in gevaar stel, baie hoog is.” Baie mense word meer en meer daarvan oortuig dat ons ’n kritieke tydperk in die wêreldgeskiedenis bereik het. Die uitgewers en baie van die lesers van hierdie tydskrif is vas oortuig dat hierdie unieke tydperk werklik die laaste dae is en dat die einde naby is. Moenie bang wees vir die toekoms nie; wees eerder bly oor die uitkoms. Waarom? Want jy kan die einde oorleef!

DOEMPROFETE?

Jehovah se Getuies is nie doemprofete nie. Hulle verkondig al meer as honderd jaar lank ’n positiewe boodskap oor die toekoms. Byvoorbeeld, ’n toespraak by die “God se Koninkryk heers—Is die wêreld se einde naby”-byeenkoms wat in 1958 gehou is, het verduidelik: “God se Koninkryk kom nie om hierdie aarde te vernietig nie, maar om Satan se wêreld te vernietig. God se Koninkryk kom nie om hierdie aarde te verbrand nie, maar om God se wil hier op die aarde sowel as in die hemel te laat geskied. Daarom is dit die moeite werd om die aarde as God se skepping te bewaar; en God sal dit vir ewig bewaar.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel