Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wp19 nr. 1 bl. 4-5
  • Wat is God se naam?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is God se naam?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOEKOM GOD SE NAAM BELANGRIK IS
  • WAT DIE NAAM ONS LEER
  • God se naam
    Ontwaak!—2017
  • Waarom moet ons God se naam gebruik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Die allergrootste naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Eer Jehovah se groot naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
wp19 nr. 1 bl. 4-5

Wat is God se naam?

Die eerste ding wat ons gewoonlik doen wanneer ons iemand wil leer ken, is om te vra: “Wat is jou naam?” As jy God hierdie vraag sou vra, wat sou hy sê?

“Ek is Jehovah. Dit is my naam.” – Jesaja 42:8.

Het jy hierdie naam al ooit gehoor? Heel moontlik nie, want baie Bybelvertalers gebruik God se naam bitter min, of selfs glad nie. Hulle gebruik eerder die titel “HERE”. Maar die feit is, toe die Bybel oorspronklik geskryf is, het God se naam ongeveer 7 000 keer daarin voorgekom. In Hebreeus word die naam met vier letters geskryf wat ooreenstem met die letters JHWH of JHVH, en in Afrikaans word dit gewoonlik as “Jehovah” vertaal.

God se naam in Hebreeus in die Dooie See-rolle

Dooie See-rol van Psalms Eerste eeu HJ, HEBREEUS

God se naam in Engels in Tyndale se vertaling van die Bybel

Tyndale se vertaling 1530, ENGELS

God se naam in Spaans in die Reina-Valera-vertaling van die Bybel

Reina-Valera-vertaling 1602, SPAANS

God se naam in Chinees in die Union Version van die Bybel

Union Version 1919, CHINEES

God se naam kan regdeur die Hebreeuse teks en in baie vertalings gevind word

HOEKOM GOD SE NAAM BELANGRIK IS

Die naam is vir God self belangrik. Niemand het vir God sy naam gegee nie, hy het dit self gekies. Jehovah het gesê: “Dit is ewig my naam, dit is die naam waarmee ek aangeroep moet word van geslag tot geslag” (Eksodus 3:15, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling van 1983). God het baie titels, soos Almagtige, Vader, Here of God. Maar sy naam word meer in die Bybel gebruik as enige van hierdie titels. En dit word ook meer gebruik as enigiemand anders se naam soos Abraham, Moses, Dawid of Jesus s’n. Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat almal sy naam moet ken. Die Bybel sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” – Psalm 83:18.

Die naam is vir Jesus belangrik. In ’n bekende gebed wat die Onse Vader genoem word, het Jesus sy volgelinge geleer om tot God te bid en te sê: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Jesus het ook self tot God gebid: “Vader, verheerlik u naam” (Johannes 12:28). Een van die belangrikste dinge in Jesus se lewe was om God se naam te verheerlik. Daarom kon hy in gebed sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.” – Johannes 17:26.

Die naam is vir dié wat God ken, belangrik. God se knegte het nog altyd verstaan dat hulle beskerming en redding hand aan hand gaan met God se unieke naam. “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm” (Spreuke 18:10). “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Die Bybel wys dat God se knegte aan sy naam uitgeken sal word. “Want wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel . . . vir ewig.” – Miga 4:5; Handelinge 15:14.

WAT DIE NAAM ONS LEER

Die naam wys dat God uniek is. Baie geleerdes stem saam dat die naam Jehovah “Hy laat word” beteken. Jehovah God het ons gehelp om te verstaan wat sy naam beteken. Toe hy met Moses gepraat het, het hy na homself verwys met die woorde: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Hierdie Hebreeuse uitdrukking kan ook vertaal word as “Ek sal word wat ek besluit om te word”. God se naam wys vir ons dat hy die Skepper van alles is. Maar dit sluit ook die idee in dat hy die vermoë het om homself en sy skepping te laat word wat ook al nodig is sodat sy wil kan plaasvind. Hoewel titels God se posisie, gesag of krag kan beskryf, is dit net sy naam, Jehovah, wat regtig vir ons sê wie hy is en wat hy alles kan word.

Die naam wys dat God in ons belangstel. Uit die betekenis van God se naam kan ons sien dat hy vir sy skepping omgee, wat ons insluit. God het vir ons gesê wat sy naam is, selfs nog voordat ons geweet het dat ons daarvoor kon vra. Dit is duidelik, hy wil hê dat ons hom moet leer ken. Party mense dink dat God ’n verborgenheid is, ’n geespersoon wat ver van ons af is. Maar God wil eerder hê dat ons hom moet sien as ’n werklike Persoon met wie ons ’n vriendskap kan hê. – Psalm 73:28.

Deur God se naam te gebruik, wys ons dat ons in hom belangstel. Wanneer jy byvoorbeeld met iemand vriende wil wees, vra jy hom dalk om jou op jou naam te noem. Hoe sou jy voel as daardie persoon aanhoudend weier om jou naam te gebruik? Jy sal seker later begin wonder of die persoon regtig jou vriend wil wees. Dit is dieselfde met God. Jehovah het vir mense gesê wat sy naam is, en hy moedig ons aan om dit te gebruik. As ons dit doen, wys ons vir Jehovah dat ons nader aan hom wil kom. Ja, selfs wanneer iemand “aan sy naam dink”, sien hy dit raak! – Maleagi 3:16.

Die eerste belangrike stap om nader aan God te kom, is om sy naam te leer. Maar dit is nie genoeg nie. Ons moet die Persoon agter die naam leer ken. Ons moet leer watter eienskappe hy het.

WAT IS GOD SE NAAM? God se naam is Jehovah. Hierdie naam leer ons dat God ’n unieke Persoon is wat sy wil kan laat plaasvind

WAAR HET GOD VANDAAN GEKOM?

Dit is iets waaroor baie mense al gewonder het. Dalk het jy ook al daaraan gedink. Ons kan die vraag ook so stel: As die heelal en alles daarin ’n begin of ’n skepper moes gehad het, waar het God dan vandaan gekom?

Die meeste wetenskaplikes stem saam dat die fisiese heelal ’n begin gehad het. Dit kom ooreen met wat in die eerste vers van die Bybel staan: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – Genesis 1:1.

Al die sterre en planete kon nie net vanself ontstaan het nie, dit kon nie net uit die bloute verskyn het nie. As daar voor die begin van die heelal niks bestaan het nie, sou daar vandag niks gewees het nie. Al is dit vir ons moeilik om dit heeltemal te verstaan, moes daar iets of iemand gewees het om die heelal te skep – iemand wat nog altyd bestaan het en wat nie ’n deel van die fisiese heelal is nie. Hierdie Skepper is ’n baie kragtige en wyse gees, en sy naam is Jehovah. – Johannes 4:24.

Die Bybel sê oor God: “Voordat die berge gebore was en u die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is u God” (Psalm 90:2, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Dit is duidelik, God is nie geskep nie, hy het nog altyd bestaan. En dit is Hy wat “in die begin” die fisiese heelal geskep het. – Openbaring 4:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel