Watter soort persoon is God?
Hoe meer ons oor ’n persoon se eienskappe leer, hoe beter ken ons daardie persoon, en dit help ons om ons vriendskap met daardie persoon te versterk. Net so kan ons Jehovah beter leer ken en ons vriendskap met hom versterk as ons meer oor sy eienskappe leer. Van al God se wonderlike eienskappe is daar vier wat uitstaan: sy krag, wysheid, geregtigheid en liefde.
GOD IS KRAGTIG
“O Soewereine Heer Jehovah! Kyk, u het die hemel en die aarde gemaak deur u groot krag.” – JEREMIA 32:17.
Ons kan God se krag in die skepping sien. Byvoorbeeld, wat voel jy op jou vel wanneer jy op ’n warm somersdag buite staan? Die warm strale van die son. Maar wat jy eintlik voel, is die resultaat van Jehovah se skeppingskrag. Hoe kragtig is die son? Die temperatuur by die kern van die son is omtrent 15 miljoen grade Celsius. Die hoeveelheid energie wat die son elke sekonde uitstraal, is gelyk aan die ontploffing van honderdmiljoene atoombomme.
Maar daar is ’n ontelbare hoeveelheid sterre in die heelal waarvan baie groter as die son is. Wetenskaplikes skat dat een van die grootste sterre, wat UY Scuti genoem word, se deursnee omtrent 1 700 keer groter as die son s’n is. As UY Scuti in die plek van die son was, sou dit verby die aarde en selfs verby die wentelbaan van die planeet Jupiter strek. Miskien help hierdie voorbeeld ons om Jeremia se woorde beter te verstaan toe hy gesê het dat Jehovah God die hemel en die aarde, dit wil sê die heelal, met sy groot krag gemaak het.
Hoe help God se krag ons? Ons lewe hang af van God se fisiese skeppingswerke, soos die son en al die wonderlike hulpbronne op die aarde. God gebruik ook sy krag om mense op ’n persoonlike manier te help. Hoe? In die eerste eeu het God vir Jesus die krag gegee om ongelooflike wonderwerke te doen. Ons lees: “Die blindes sien weer, en die kreupeles loop rond, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, en die dooies word opgewek” (Matteus 11:5). En wat van ons dag? Die Bybel sê: “Hy gee die vermoeide [of, “die een wat moeg is”] krag.” Dit sê ook: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry” (Jesaja 40:29, 31). God kan vir ons “krag wat bo die normale is”, gee om ons te help om die probleme van die lewe te hanteer (2 Korintiërs 4:7). Voel jy nie aangetrokke tot ’n God wat op so ’n liefdevolle manier sy onbeperkte krag gebruik om ons te help nie?
GOD IS WYS
“Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak.” – PSALM 104:24.
Hoe meer ons leer oor die dinge wat God gemaak het, hoe groter word ons waardering vir sy wysheid. Daar is selfs ’n studieveld wat biomimetika genoem word waarin wetenskaplikes Jehovah se skeppingswerke ondersoek en dit naboots om hulle eie ontwerpe te verbeter. Dit sluit die ontwerp in van iets so eenvoudig soos gom tot die ontwerp van vliegtuie.
Die mense-oog is een van God se wonderlike skeppingswerke
Die wonderlikste voorbeeld van God se wysheid is die menseliggaam. Kyk byvoorbeeld na hoe ’n baba ontwikkel. Die proses begin by ’n enkele bevrugte sel wat al die nodige genetiese instruksies bevat. Hierdie sel verdeel dan in baie ander selle wat dieselfde lyk. Maar op net die regte tyd begin die selle ander vorms aanneem om honderde verskillende soorte selle te vorm, soos bloedselle, senuselle en beenselle. Dan vorm die organe en begin hulle funksioneer. In net nege maande ontwikkel daardie eerste sel in ’n klein babatjie wat uit miljarde selle bestaan. Die wysheid wat in hierdie ontwerp gesien word, motiveer baie om saam te stem met die Bybelskrywer wat gesê het: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is.” – Psalm 139:14.
Hoe help God se wysheid ons? Die Skepper weet wat ons nodig het om gelukkig te wees. Omdat hy baie kennis en begrip het, kan hy vir ons wyse raad in sy Woord, die Bybel, gee. Dit moedig ons byvoorbeeld aan om ‘aan te hou om mekaar vryelik te vergewe’ (Kolossense 3:13). Is dit wyse raad? Ja. Navorsing wys dat dit jou slaap kan verbeter en jou bloeddruk kan verlaag as jy ander vergewe. Dit kan ook die kanse verminder dat jy aan depressie sal ly en ander gesondheidsprobleme sal kry. God is soos ’n wyse, liefdevolle vriend wat altyd vir ons raad gee wat ons help (2 Timoteus 3:16, 17). Sal jy nie graag so ’n vriend wou hê nie?
GOD IS REGVERDIG
“Jehovah het geregtigheid lief.” – PSALM 37:28.
God doen altyd wat reg is. Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!” (Job 34:10). Hy oordeel altyd op ’n regverdige manier, net soos die psalmskrywer gesê het toe hy met Jehovah gepraat het: “U sal die volke in geregtigheid oordeel” (Psalm 67:4). Jehovah “sien wat die hart is”. Daarom kan iemand wat skynheilig is hom nie bedrieg nie, want hy het die vermoë om altyd te weet wat die waarheid is en om regverdig te oordeel (1 Samuel 16:7). God is ook bewus van al die onregverdigheid en korrupsie op die aarde, en hy het belowe dat die goddeloses binnekort “van die aarde af uitgeroei [sal] word”. – Spreuke 2:22.
God is nie ’n gevoellose regter wat daarna uitsien om ons te straf nie. Hy is genadig wanneer dit nodig is. Die Bybel sê: “Jehovah is barmhartig en genadig”, selfs teenoor goddelose mense as hulle regtig berouvol is. Is dit nie ware geregtigheid nie? – Psalm 103:8; 2 Petrus 3:9.
Hoe help God se geregtigheid ons? Die apostel Petrus het gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Ons vind baat by God se geregtigheid omdat hy nooit partydig is of mense voortrek nie. Ons kan sy goedkeuring kry en sy aanbidders wees, maak nie saak wat ons ras, nasionaliteit of sosiale status is of watter opvoeding ons gehad het nie.
God is onpartydig, en ons vind daarby baat, maak nie saak wat ons ras of sosiale status is nie
God wil hê dat ons sy geregtigheid moet verstaan en daarby moet baat vind, en daarom het hy ons ’n gewete gegee. Die Bybel beskryf die gewete as ’n wet wat in ons “harte geskrywe staan”, en dit help ons om te sien of ons gedrag reg of verkeerd is (Romeine 2:15). As ons gewete reg opgelei is, kan dit ons help om dinge te vermy wat skadelik is en om te doen wat reg is. En as ons ’n fout maak, kan ons gewete ons motiveer om berouvol te wees en om die regte ding te doen. Ja, as ons weet wat God se beskouing van geregtigheid is, help dit ons en kom ons nader aan hom!
GOD IS LIEFDE
“God is liefde.” – 1 JOHANNES 4:8.
God se eienskappe sluit krag, wysheid en geregtigheid in, maar nêrens in die Bybel sê dit dat God krag, wysheid of geregtigheid is nie. Maar dit sê wel dat hy liefde is. Hoekom? Want ons kan sonder twyfel sê dat God se krag hom die vermoë gee om op te tree en dat sy geregtigheid en wysheid die manier rig waarop hy optree. Maar Jehovah se liefde motiveer hom om op te tree. Liefde is die rede vir alles wat hy doen.
Jehovah het niks nodig gehad nie, maar sy liefde het hom beweeg om intelligente skepsele te maak, in die hemel en op die aarde, wat by sy liefde en sorg kan baat vind en dit kan geniet. Hy was onselfsugtig en het die aarde geskep om die ideale plek te wees waar die mens kon bly. Hy hou aan om vir alle mense te wys dat hy hulle liefhet deurdat “hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges”. – Matteus 5:45.
Jehovah is ook “baie teer in geneentheid en [is] barmhartig” (Jakobus 5:11). Hy wys dat hy lief is vir diegene wat stappe doen om hom beter te leer ken en om nader aan hom te kom. God stel persoonlik in sulke mense belang. Die Bybel sê dat “hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie”. – Handelinge 17:27.
Hoe help God se liefde ons? Ons geniet dit om ’n pragtige sonsondergang te sien of om te hoor hoe ’n baba lag. Ons waardeer die liefde van ’n hegte familielid. Hierdie dinge is dalk nie noodsaaklik nie, maar dit dra grootliks by tot ons geluk.
Nog ’n bewys van God se liefde waarby ons baat vind, is gebed. Die Bybel moedig ons aan: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.” Net soos ’n liefdevolle vader wil hy hê dat ons hom moet vra om ons te help met ons diepste bekommernisse. Dan belowe Jehovah dat hy, uit sy onselfsugtige liefde, vir ons “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, sal gee. – Filippense 4:6, 7.
Het hierdie kort bespreking oor God se hoofeienskappe – sy krag, wysheid, geregtigheid en liefde – jou gehelp om te sien watter soort persoon God is? Om jou waardering vir God te vergroot, nooi ons jou om uit te vind wat hy gedoen het en wat hy nog gaan doen om jou te bevoordeel.
WATTER SOORT PERSOON IS GOD? Jehovah is kragtiger, wyser en regverdiger as enigiemand anders. Maar sy liefde is die eienskap wat ons die meeste tot hom aantrek