Bied die Goeie Nuus Aan—Met ’n positiewe gesindheid
1 As draers van die goeie nuus van die Koninkryk moet ons ’n positiewe gesindheid teenoor ons bediening aankweek en behou. Waarom? Omdat hierdie wêreld, onder Satan se invloed, daarop uit is om dit vir ons moeilik te maak om God se wil te doen. Dit is waarom Paulus Christene aangespoor het om ‘dieselfde gesindheid te hê wat Christus Jesus gehad het’ (Rom. 15:5, NW). Hoewel hy baie teenkanting verduur het, het hy altyd ’n positiewe gesindheid behou. Hy het met oortuiging gepraat en sy woorde op die gesag van God se Woord gebaseer (Matt. 7:28, 29). Hy het nie gehuiwer om van elke geleentheid gebruik te maak om die Koninkrykshoop met ander te deel nie. Hy het diegene om hom geestelik versterk en hulle aangespoor om sy voetstappe na te volg. Kan ons vandag dieselfde positiewe gesindheid teenoor ons predikingswerk openbaar?
2 Soms voel ons dalk negatief oor ons toegewese gebied omdat dit onvrugbaar lyk. As ons aarsel om te preek, toon dit ’n ongeërgde gesindheid. Hoewel Jesus besef het dat baie min op die goeie nuus sou ag slaan, het hy steeds “innig jammer gevoel” vir diegene vir wie hy gepreek het. Terwyl hy met vrymoedigheid aangehou preek het, het hy sy dissipels opdrag gegee om die Vader te versoek om meer “arbeiders in sy oes” uit te stuur (Matt. 9:36-38). Jesus was altyd optimisties. Hy was vasbeslote om ander te help.
3 In al hoe meer huise werk sowel die man as die vrou voltyds om hulle gekose lewenstandaard te handhaaf of net die pot aan die kook te hou. Dikwels is niemand tuis wanneer ons aan die deur klop nie. ’n Positiewe gesindheid kan ons beweeg om aanpassings in ons rooster te maak wat beter resultate sal oplewer. Het jy al daaraan gedink om tyd af te staan om in die aand te getuig? Party het al uitstekende resultate gehad deur besoek af te lê kort na aandete wanneer huisbewoners gewoonlik ontspanne en in ’n beter gemoedstemming is.
WEES POSITIEF SAAM MET ANDER
4 Dit verskaf groot vreugde om saam met ander in die bediening te werk. Dit is veral so wanneer ons gesprek ’n positiewe gesindheid openbaar. Dit is altyd ontmoedigend wanneer ons lug gee aan negatiewe gevoelens. In die tyd van eertydse Israel het tien ongelowige verkenners byvoorbeeld “slegte gerugte” versprei wat die hele nasie vreesbevange gemaak het (Num. 13:32-14:3). Salomo het daarenteen geskryf: “Goeie tyding maak die gebeente vet” (Spr. 15:30). As ons goeie ondervindinge vertel, versterk ons ander en help ons hulle om in ywerige diens te volhard.
5 Is ons met tye geneig om ’n persoon se belangstelling gering te ag, selfs as ons ’n goeie Skriftuurlike gesprek gevoer het? ’n Pessimistiese houding verhoed party dalk om terug te gaan omdat hulle dink dat die belangstelling nie genoeg of opreg was nie. Hou in gedagte dat ‘die woord van God lewend en kragtig is’ (Hebr. 4:12). Ons broers het al tallose ondervindinge vertel waar opregte individue beïndruk is deur ’n eenvoudige gedagte of deur slegs een artikel in ’n tydskrif. Met daardie moontlikheid voor oë moet ons vasbeslote wees om behoorlike opvolgwerk te doen op enige belangstelling wat ons vind.
6 Jesus het ’n positiewe gesindheid gehandhaaf omdat hy vas oortuig was dat hy die waarheid gehad het wat mense kon vrymaak (Joh. 8:32). Hy het sy bediening vervul ten spyte van alle struikelblokke, onder meer die ongeloof van ander, onverskilligheid en selfs vervolging. Die wonderlike resultate wat hy bereik het, asook die versekering dat hy altyd met ons sal wees, moet ons vasbeslote maak om voort te gaan met ’n positiewe gesindheid in die wete dat ons ook ons bediening met Jehovah se hulp kan vervul.—Matt. 28:20; 2 Tim. 4:5.